Rabbedoe en rissiepit. Ettie Bierman
ETTIE BIERMAN
Rabbedoe en rissiepit
Jasmyn
1
“Bog! Snert! Twak!” roep Nell se pa uit. “Waar het jy van ’n meisiekind gehoor wat ’n motorwerktuigkundige wil word?”
“Daar’s vrouedokters, vroueprokureurs, vroueingenieurs, selfs vroupredikante. Hoekom nie motorwerktuigkundiges nie?” hou Nell vol. “Ek kan ’n band net so goed soos enige man omruil, ’n battery vervang en ’n motor se olie aftap. Beter as wat ek kan tik en kwitansies uitskryf.”
“Jy kry volgende maand verhoging by jou werk. Jy kan nie nou wil bedank om in die gramadoelas te gaan ghriesbobbejaan speel nie,” sê haar pa beslis. “Jy is skoon mal … jy en daardie agterstevoor oupa van jou; hy om so ’n onsinnige idee voor te stel en jy om dit enigsins te oorweeg. Reg vir die groendakkies, dis wat julle albei is.”
Nell se ma is praktieser. “Kuilvlei is meer as honderd kilometer van die naaste dorp af. Waar gaan jy klere koop en alles wat jy nodig het? Waar gaan jy bly, Nell? Al wat oupa Tewis het, is daardie armsalige rondawel van hom. Op Kuilvlei is nie woonstelle, ’n hotel of selfs ’n losieshuis nie.”
“Klere was nog nooit vir my belangrik nie, Mams. Solank ek ’n paar jannas en hempies het, is ek tevrede. Maar daar is mos darem ’n winkel en Oupa sê hy het nog ’n rondawel laat bou, vir die vorige werktuigkundige wat hom in die steek gelaat het. Die plek het ’n bed, ’n wasbak, ingeboude kaste én ’n gasstoof. Wat wil ek meer hê? Buitendien, dis tyd dat iemand na oupa Tewis omsien. Hy word nie jonger nie en hy is seker baie eensaam ná Ouma se dood.”
Haar pa kyk oor sy koerant na sy stroom-op-dogter – ’n swartkop met bruin oë, soos haar ma. Mooi en fyn gebou. Maar tot hul verdriet ’n rabbedoe wat van kleins af liewer met motorkarretjies en trekkers wou speel as met poppe, liewer langbroeke as rokke dra. ’n Tyd lank het hy en haar ma gevrees sy wil eendag huursoldaat of brandweerman word. Motorwerktuigkundige is dan nog die aanvaarbaarste.
“Hoe lank beplan jy om daar tussen die kakkerlakke en vlermuise te gaan woon?” wil hy weet.
“Daar is nie kakkerlakke nie. Net jakkalse en hiënas wat in die nag tjank. Maar dis mooi, dis pure bosveld. Ek is mos nie ’n stadsmens nie. As ek nou lid van die uitverkore geslag was, het ek aansoek gedoen as veldwagter in die Krugerwildtuin. Maar Pa, ek weet nie hoe lank ek op Kuilvlei gaan wees nie. Miskien net tot ek as motorwerktuigkundige kan kwalifiseer. Dan kom ek terug Pretoria toe. Maar intussen sal arme oupa Tewis nie so alleen wees nie. Hy sal darem iemand hê wat vir hom kosmaak en na sy wasgoed omsien.”
Meneer Strydom weet nie wat Nell se geliefde oupa gisteraand oor die telefoon kwytgeraak het nie, maar hy het gewis op sy kleindogter se gevoel gespeel en haar roekeloos en onbesonne gemaak. Hy ag dit sy plig om wal te gooi, om te probeer keer dat sy jongste dogter ’n mislukking van haar lewe maak.
“Wasgoed en skottelgoed, vergassers en uitlaatpype en ’n ou man van naby tagtig as geselskap. Is dit ’n lewe vir ’n jong meisie van skaars een-en-twintig? Wat van daardie gawe assuransie-agent oor wie jy so in vervoering was? Anton, wat jou nou die aand vir ete uitgeneem het?”
“Anton?” sy frons. “Anton wie? Ek kan nie eens meer sy van onthou nie. Hy is so opwindend soos laasweek se koerant. Dit help nie Pa soek vir my ’n man nie. Ek wil nie nou al trou nie. Eers wil ek nog allerhande dinge doen. Eendag wanneer ek in ’n ouetehuis sit, wil ek my nie verwyt omdat ek kanse gehad het wat ek nie benut het nie. Ná Kuilvlei wil ek Gough-eiland toe gaan. Daarna valskermspronge doen of lugwaardin word.”
“Ek gaan slaap,” kondig Nell se pa ergerlik aan. Hopelik sal ’n vroeë nagrus jou ook goed doen en môre nugterder laat voel.”
Nell het lank wakker gelê, op hierdie en daardie sy gedraai en uiteindelik slapeloos voor haar kamervenster gaan staan om oor haar besluit na te dink. Die volgende oggend is sy vroeg op, moeg en met ’n spanningshoofpyn, maar sekerder as ooit dat sy nie die res van haar lewe tikster wil wees nie. Nie klerk, ontvangsdame of winkelassistente nie. Nie ’n nege-tot-vyf mens, in ’n kantoor tussen vier mure vasgekluister nie.
“Pa, Kuilvlei in die Laeveld is nie die uithoek van die aarde nie,” probeer sy weer die volgende môre aan ontbyttafel. “As Paps-hulle siek is of my nodig het, kan ek binne ses uur hier wees.”
Haar pa stoot sy bord graanvlokkies opsy. “Ek dink aan jóú, nie aan ons nie. Hoekom is jy nie soos jou suster nie? Sy het haar in die bank boontoe gewerk tot teller, ’n man met goeie vooruitsigte getrou en kinders gekry. Vir wat wil jy in die boendoes gaan infoeter en met enjins peuter?”
“Ek bewonder Susan,” erken Nell. “Sy het ’n ryk man, ’n spoghuis en slim kinders. Maar ek kan nie soos sy wees nie. Ek het ’n jaar in die bank uitgehou en elke oomblik gehaat. Die assuransiemaatskappy is nie veel beter nie. Pa praat van ’n verhoging. Dis dalk ’n afdanking omdat ek te veel foute maak. Ek het Hout- en Metaalwerk op skool gehad. Wat baat ’n tegniese Matriek as ek dit nie benut nie, as ek nie werk doen waarvoor ek opgelei is nie?”
“Dit was in die eerste plek verkeerd om jou tegniese skool toe te laat gaan. Dis waar jy jou dwars idees gekry het. Ek het my deur jou en jou ma laat ompraat. Nou sit ek met die gevolge …” Haar pa soek sy baadjie en motorsleutels.
Nell is die middag ’n halfuur vroeër tuis. “Oupa Tewis kan nie alleen die motorhawe behartig nie,” sit sy die gesprek voort. “Nie sonder hulp nie, al is dit ek wat nog baie te leer het. ’n Dom êppie wat darem familie en geselskap is, is beter as niks.”
Haar ouers het ook tyd gehad om te dink, besluit om maar die beste van die saak te probeer maak. Nell is nog jonk. Miskien wanneer sy terugkom, is sy meer volwasse en bereid om gevestig te raak.
Haar pa brom iets van “as sy die dag verdrink, sal hy haar stroomop gaan soek”. Maar haar ma is die eerste een om toe te gee.
“As jy gaan, wanneer wil jy vertrek?”
“Die einde van die maand,” antwoord Nell. “Ek is net tydelik by die Assuransieplek, dus hoef ek net vier-en-twintig uur kennis te gee.”
Tien dae is min tyd om haar klere reg te kry en agterstallige kantoorwerk af te handel. Nell het nooit daarop geroem dat sy ’n wafferse kok is nie, maar sy spoor ’n maklike resep op en bak twee blikke vol karringmelkbeskuit. Vir haar en oupa Tewis … Motorhawens maak soggens vroeg oop en daar sal miskien nie altyd tyd vir ontbyt wees nie. Haar ma bak kleinkoekies en koop berge kruideniersware sodat die twee die eerste maand darem nie honger sal ly nie.
Die dag voor sy ry, koop Nell se ma vir haar ’n nuwe rok en twee paar sykouse.
“Vir kerk,” sê sy. “Kyk of jy jou heidense oupa kan oorreed om saam te gaan. Wat eendag van sy siel gaan word, weet geen mens nie. Maar jy moet tog maar die reguit pad loop, my kind.”
Nell druk haar styf vas. “Ek sal. Ek gaan verlang …”
Sy wou nege-uur ry om vroegmiddag op Kuilvlei te wees, uit te pak en tuis te raak voor sy die volgende môre douvoordag met haar nuwe werk inval. Maar ’n vriendin van die kantoor het oplaas gou weer kom groet, haar suster het gebel en op die tippie is haar ma skielik in trane, opnuut vol vrese en bedenkings.
“Wat as jy ’n ongeluk maak? Verdwaal? Of ’n spoedkaartjie kry?”
“Ek sal nie, Mams. Ek sal versigtig ry. Ek belowe.”
“Het jy die lakens, die handdoeke en gordyne? Jou bankboekie? Seëls? ’n Waslap en kam?”
“Ja. Alles wat Mams op die lysie geskryf het.”
“Moet ek nie vir jou nog ’n bietjie vleis of groente insit nie?”
Ter wille van hulle albei wil Nell nie die groetery uitrek nie. Enige afskeid is hartseer, al het ’n mens opwindende vooruitsigte om na uit te sien. En netnou begin sy ook huil. Sy hou haar stem opsetlik lig.
“Moeder, al kry ek op Witbank die mooiste ou in die hele wêreld wat duimgooi, is hier nie ’n plekkie vir hom in die motor nie, ook nie eens vir ’n krieseltjie maalvleis of ’n ertjie nie. Ons sal nie honger ly nie. Die Handelshuis hou glo kruideniersware