Rabbedoe en rissiepit. Ettie Bierman
beskawing uit of hoor weer ’n ander mens se stem nie.
Die lamp swaai soekend heen en weer. “Waar is julle?”
“Hier!” antwoord Nell. “En dis net ekke.”
’n Oomblik lank verbeel Nell haar dat die lig huiwer en toe vassteek. Die stem antwoord nie.
Ja, natuurlik weer ’n verdekselse vroumens, dink Dewald ergerlik waar hy met moeite deur die drif en die modder ’n sypad baan. Hy moes dit verwag het. Net ’n ellendige vroumens sal onnosel genoeg wees om dit in hierdie weer en tussen diere deur ’n vol spruit te waag. As hy dít geweet het, het hy lekker droog en warm in sy sitkamer voor die televisie bly sit, die motorligte geïgnoreer en haar aan haar genade oorgelaat. Geen vroumens is ’n natreën, modderbesmeerde klere en al die ergernis werd nie; dit het hy in die verlede uit dure ondervinding geleer.
“Ekke?” herhaal hy, nie meer heeltemal so besorg soos voorheen nie, maar hy draai nie om nie. Hy hoort darem seker na die meisiemens om te sien en haar te help … “Wie is ‘ekke’? Oom Joop van Biesiesfontein se dogter? Wat die naweek kom kuier?”
Nell hoor nie mooi nie. “Oom Joop wie?”
Dewald Muller maak ’n ongeduldige gebaar wat Nell gelukkig nie sien nie. Wat maak dit saak oom wie? Sy is heel duidelik nie sy dogter nie. Selfs Annelize wat agtien en eerstejaar op universiteit is, of Lezette in standerd nege sal meer verstand hê as om dit in so ’n storm uit plaas toe te waag.
“Waar is jy?” vra Dewald kortaf.
Nell vergeet haar gretigheid om haar weldoener uit dankbaarheid om die nek te val. Te oordeel aan die koel stemtoon sal hy haar summier in die spruit gooi as sy so iets durf waag.
“Onder die boom,” antwoord sy in ’n klein stemmetjie.
Dewald kyk om hom na die veld vol bome en struike. “Watter boom?” vra hy met ’n goeie nabootsing van geduld.
In die donker beskou Nell die stam, die takke en die blare. “Ek weet nie …” aarsel sy. “Ek kan nie mooi sien nie. Dit kan ’n maroela of dalk ’n hardekool wees. Die blare lyk baie eenders.”
Dewald onderdruk ’n antwoord wat die meisiekind nie graag sou wou hoor nie. ‘Die blare lyk eenders …’ Waar dink sy is sy? In ’n botaniese tuin of by ’n boomskou? Hy wil maar net weet hoe om haar so gou moontlik te bereik.
Dewald vertrou nie op verdere aanwysings van Nell nie. Hy loop in die rigting van waar haar stem gekom het.
’n Oomblik later skyn die straal van die skietlamp op haar waar sy bedremmeld, sopnat, modderbespat en met ’n bloedstreep oor haar voorkop aan die boomstam vasklou.
Die eienaar van die kortaf en kritiese stem is lank en breedgeskouer met donker hare. Volgens wat Nell van hom kan uitmaak, besonder manlik en aantreklik.
“Is jy beseer?” wil hy weet.
Nell roer ondersoekend haar arms en albei bene. Alles is nog heel.
“Ek makeer niks nie.”
Die lig skyn in haar gesig. “En die bloed aan jou kop? Waar kom dit vandaan?”
Toe Nell haar hand lig om dit weg te vee, voel sy weer die steekpyn deur haar arm. Sy sê egter niks nie, want sy het die man reeds te veel ergernis veroorsaak.
“Dis niks. Net ’n skraap.”
“Ek glo nie. Jou skouer het ook seergekry. Jy moet liewer saamkom huis toe sodat ek daarna kan kyk.” Hy klink teësinnig. Dis duidelik dat hy slegs uit plig hulp aanbied.
“Nee dankie,” antwoord Nell styf. “Ek wil jou nie moeite aandoen nie.”
Dewald is deurnat en nie lus om in die reën te staan en stry nie. Hy is ook haastig om te gaan kyk watter lot die jongste toevoeging tot sy stoetery getref het. Dit moes die Afrikanerbul gewees het wat hy saam met die harde slag gehoor bulk het. In hierdie kamp loop net die bul … wat die vroumens blykbaar raakgery het. Waaroor sy nie juis jammer of verskonend lyk nie.
“Dis meer moeite as ons al twee longontsteking kry of as jy jou doodbloei of omkap.” Hy neem Nell aan haar gesonde arm. “Kom!”
Sy rem weg. “Ek sal self regkom, dankie.”
Sy is doodsbleek en lyk asof die volgende donderslag haar tot bo in die boom sal laat opklouter. Sy lyk skaars agtien – die tipiese tiener met kenmerkende koppigheid wat Dewald besonder irriterend vind.
“Wat is jy?” vra hy koel. “Oordrewe preuts? Bang oor jou deugdelikheid? Jy is optimisties, Juffie. Ek stel nie in jou of jou geslagsgenote se bates belang nie.”
Dit was ’n lang dag. Nell is moeg en ly aan skok. Die hou teen haar kop was hewig. Sy is naar en bewerig en nie haarself nie.
“Optimisties?” herhaal sy skril. Wat dink die verwaande skepsel van homself? Dat hy onweerstaanbaar is? “Dink jy ek stel in jóú kastige bates belang, Meneer? Ek sal nie dat jy met handskoene aan my raak nie. Soos ek gesê het, sal ek alleen oor die weg kom.” Sy draai om en stap weg na waar haar motor tot teen sy as in die drif lê. Sy sal hom self uitgesleep en aan die gang kry. Sy het nie Apollo’s en spiermanne in haar lewe nodig nie, besluit sy.
Toe egter gewaar sy die antagonistiese bees wat snorkend aan die windskerm snuif.
Of hét sy hulle nodig?
2
Die Afrikanerbul lyk soos ’n lokomotief. En klink ook soos een. Toe Nell nader kom, vind hy dié nuwe prooi aanlokliker as die Volkswagen. Met ’n proesgeluid swaai hy om, trippel rond om stoom op te bou en blaas deur sy neusgate. Toe laat hy sy kop sak …
Twee moordaanvalle op een aand is te erg. Nell vergeet haar trots en waardigheid, vlieg om en laat vat. Dit was ’n goeie wegspring vir ’n naelloop. Ook het sy genoeg vaart en stamina. Maar omkyk is vir enige atleet fataal. Toe sy beangs oor haar skouer loer om te sien waar haar agtervolger is, sien sy nie die poel modderwater waarop sy afpyl nie.
Een oomblik voel sy nog verlig omdat daar nie dreunende hoewe kort op haar hakke is nie. Die volgende oomblik trap haar regtervoet net lug raak. Waar die grond veronderstel was om te wees, is niks … eers niks, toe water. Sy struikel en val vooroor – hande, elmboë, gesig … in daardie volgorde. Toe die res van haar anatomie met ’n plasgeluid tot op die bodem van die modderpoel. Dis asof ’n mes in haar knie steek. Sy stik in ’n stuk taai slik. Hande-viervoet draai sy angstig haar kop om te luister. Sy kom nou eers agter die reën het opgehou. Alles is doodstil – geen druisende hoewe of blasende gevaartes wat haar wil vermorsel nie.
Sy vryf met ’n bewende hand oor haar oë, verwyder genoeg modder om die figuur op die poel se rand te kan uitmaak. Sowaar besig om vir haar te lag.
Nell stik opnuut. Sy het seergekry en hy vind dit grappig?
Dewald kry die klein rissiepit in werklikheid ’n bietjie jammer. Al is sy ’n meisiekind en skaars twee bakstene hoog, het sy nogal durf in haar. Sy lyk nie die soort meisie wat bejammer wil word nie; om te simpatiseer sal dus die situasie vererger. Liewer die ongrasieuse neerslanery ligweg hanteer en haar tyd gee om tot verhaal te kom.
“Voel jy nie wel nie, Juffie? Of oefen jy vir die Comrades?”
Nell gluur hom aan. Nog sarkasties ook … met ’n verwronge sin vir humor. As ’n kyk die aarde kon laat oopskeur, het ’n modderpoel hom ook nou ingesluk.
“Jy sal ook nie wel voel as ’n simpele ongedierte van jou motor ’n wrak maak en sy bes doen om dieselfde met jou te doen nie,” kap sy terug.
“’n Simpele ongedierte” … Die neerhalende verwysing na sy peperduur, opregte stoetbul laat Dewald se glimlag glip. ’n Troos is darem dat die bul op die oog af niks oorgekom het nie.
Om die ontstoke meisie te paai, verduidelik hy: “Jonatan is sagmoedig. Hy sal nie mens aanval nie. Jy het onnodig geskrik en op loop gesit.”
Nell lyk skepties.
“Kyk