Rabbedoe en rissiepit. Ettie Bierman
soek, kan jy hom bel en gerusstel.”
“Asseblief.”
“Die telefoon is in die studeerkamer. Af in die gang, derde deur regs.”
Nell staan op. Eers toe sy by die kombuisdeur is, merk Dewald op dat sy mank loop. “Wat het van jou skoen geword?” vra hy. “En wat gaan met jou been aan?”
“Ek weet nie waar is dié skoen nie,” skerm Nell. Dié het in die modder agtergebly toe hy haar sonder ontsag daar uitgesleep het, sy was te bang om verder sy tyd te mors deur na die skoen te soek.
“En wat is dit met jou knie?”
“’n Skraap of iets. Niks ernstig nie.”
“Laat ek sien …”
“Of net ’n kneusing … Ek sal regkom, dankie.”
Dewald mompel ’n woord wat Nell nie ken nie. Regkom, ja, soos die afgelope paar uur, en vir almal ’n erger las word … Hy pluk Nell aan die arm terug en stoot haar weer in die rigting van die riempiestoel.
Nell het nie ’n keuse nie. Die boer, wat ook al sy naam is, mag ryk en aantreklik wees, maar hy openbaar nie juis goeie maniere nie, dink sy.
Dewald kom sit op sy hurke voor haar en fluit saggies tussen sy tande deur. “Dit lyk sleg … jou knie is erger as ’n bulsak geswel en die bloed syfer deur jou broekspyp. Het iemand al vir jou gesê koppigheid is besonder irriterend, Nellie? Dit veroorsaak dat die persoon vir almal ’n las word. Jou oupa sal nie verband en medisynes hê nie en Kuilvlei het nie ’n apteek nie, wat nog te sê ’n noodapteek wat dié tyd van die aand oop sal wees. Hy sou ’n dokter moes bel om uit te kom. Jy is mos nie stom nie. Kon jy nie jou mond oopmaak en sê die knie is erger as die sny aan jou kop nie?”
Nell wil skielik huil. Haar hoofpyn is erger, haar knie voel of dit aan die brand is en sy verlang na haar ma en pa.
“Asseblief, ek wil eers my oupa bel …” vra sy.
“Ja, bel. Ek soek intussen klere wat jou sal pas.”
Dis ’n plaaslyn en die telefoon het ’n slinger. Nell weet nie hoe om die “kontrêpsie” te hanteer nie. Toe sy die gehoorbuis optel, gebeur niks nie en wanneer sy die slinger draai, klink dit of sy op ’n satelliet in die buiteruim is.
“Kom jy reg?” verneem Dewald toe hy ’n keer in die gang verbystap.
“Ja, nou-nou …”
’n Kwartier later kom hy weer verby. “Ek moes geraai het jy is ’n bedorwe stadsjapie wat aan knoppiesdruk en alles wat outomaties is, gewoond is. Los die spreekbuis op die mik en draai die slinger. Nee, nie so nie. Draai hom! Soos mens room karring.”
Toe Nell steeds nie resultate kry nie, neem hy oor. Sy aksies verrig wondere. Binne drie tellings antwoord die sentrale.
“Oupa Tewis, asseblief, Laetitia,” versoek Dewald en oorhandig die gehoorbuis aan Nell.
“202, Strydom hier van Strydom Motors,” sê ’n krakerige oumanstemmetjie in haar oor. Sedert halfelf vanoggend is dit die eerste vriendelike stem wat sy hoor.
“Oupa? Hallo? Kan Oupa my hoor?”
“Natuurlik kan ek jou hoor, kind. Ek is oud, maar g’n doof nie. Ek kyk al van douvoor uit en al wat kom, is jy. Die vuur is al uitgebrand en die tjoppe houtskool. Wáár is jy?”
“Ek weet nie. Êrens op ’n plaas, maar waar dit is en wie die man is wat my gehelp het, weet ek nie.”
“Watse man? Vir wat moes hy jou help?”
“Ek het verdwaal en ’n ongeluk gemaak.”
“Ja, mens verdwaal maklik per ongeluk as jy nie die pad ken nie.”
“’n Ongeluk,” herhaal Nell. Oupa Tewis sukkel al jare met sy gehoor, maar weier om dit te erken of ’n gehoorapparaat te dra. “Niks ernstig nie. My motor is bietjie verniel, maar ek is ongedeerd.”
“Omgeweerd? Bedoel jy omgesukkel? Vir wat?” Hy gaan strydlustig voort: “Oor daardie man? Het hy met jou gesukkel, Nellie-kind? Jou gemolesteer? Wie is die kakiebos? Vra hom, laat ek my haelgeweer kan vat en die stuk onkruid gaan regsien.”
Oupa Tewis is erger as gewoonlik. Seker omdat hy bekommerd was oor haar. Sy stem is skril en deurdringend. Nell kan maar net hoop dis nie deur die hele huis hoorbaar nie. Om aan die veilige kant te wees, praat sy ook sagter en hou haar helfte van die gesprek neutraal en versigtig.
“Ek glo nie dit sal nodig wees nie, Oupa.”
“Vat hy aan my kleindogter, vat hy aan my. So ’n landsvuilis! Waar is hy?”
“Dis in hierdie stadium moeilik om te sê,” skerm Nell.
“Wat praat jy so snaaks? So of jy ’n dominee is?” vra haar oupa agterdogtig. “Of pap in jou mond het? Wat is verkeerd? Luister die vuilgoed jou af?”
“Ek glo nie, Oupa,” antwoord Nell en probeer die onderwerp verander. “Ek is jammer oor die vuur en die tjops. Sit solank ’n nuwe stomp hout op. Ek is nou-nou daar. Of netnou, afhangende hoe ver dit is.”
“Wat moet ek opsit?”
“Hout en koffiewater. Die aand is nog jonk en ons twee het mekaar lank laas gesien. Ek het verlang en ons het baie om oor te praat. Sit ’n groot stomp en ’n groot ketel water vir die groot gesels op.”
“Het jy gesê jou kar is verniel? Hoe gaan jy hier kom, Nellie?”
“Die man sal my bring.” Nell gee hom nie kans om weer allerhande dreigemente kwyt te raak nie. “Nou maar reg … Sien Oupa later. Tot siens.”
“Reggekom?” vra Dewald toe sy uit die studeerkamer kom.
“Ja, dankie.”
Hy glimlag vlugtig. “Gaaf. Oupa Tewie kan soms moeilik wees. Ek is bly jy voel jy het reggekom.”
Nell kyk vinnig na hom. Kon hy die gesprek volg? Of meer daaruit aflei was wat sy gedink het?
Die glimlag was vir oupa Tewis, nie vir haar nie. Dis weg toe hy ’n swemjurk of iets na Nell uithou. “Dis al wat ek kon opspoor vir jou om aan te trek.”
“My klere is so te sê droog. Ek hoef nie ander aan te trek nie, dankie.”
“Ek kan sien na wie jy aard.” Hy is opnuut ongeduldig. “Of jou klere droog of nat is, kom nie daarop aan nie. Hoe dink jy gaan jy daardie broekspyp oor jou knie opgerol kry?”
Nell ruk en pluk en rem, maar hy was reg. Haar knie is te veel geswel dat sy die broekspyp kan oprol.
“Jou oupa wag. Trek daardie ding aan terwyl ek stywe verbande en ys gaan haal,” gebied hy.
Die jurk het nie knope nie en Nell het nie haakspelde nie. Toe hy later met die verband en ’n beker ysblokkies terugkom, staan Nell steeds in die gang voor die studeerkamer.
Dewald tel stadig tot by tien. Die help nie veel nie. “Genugtig, vroumens, dink jy ek het nog nooit ’n meisie se knie gesien nie? Wat is so besonders aan joune? Óf jy trek daardie langbroek uit, óf ek help jou. Kies wat vir jou die maklikste is.”
Nell het nie ’n keuse nie. Sy retireer haastig in die studeerkamer in.
“Daar is ’n sleutel in die slot en ’n grendel aan die deur, as dit jou veiliger sal laat voel!” roep Dewald haar agterna. “Kom kombuis toe wanneer jy klaar is.”
Nell is klaar, lank voor hy terugkom. Sy sit weer op dieselfde riempiestoel, nog met haar klam hemp aan en haar nat seilbroek opgebondel en krampagtig op haar skoot vasgeklem, saam met die onderpunt van die pienk strandjurk.
Dewald hurk voor Nell om haar opgehewe knie te beskou. Dit lyk erger as wat hy verwag het en moes baie pynlik gewees het. Hy is verbaas dat die meisiekind nie gekla het nie. Hoe sy van die drif af tot by die huis gekom het, verstom hom. Die vel is afgestroop en van die ligamente kan moontlik geskeur