Boomkastele. Schalk Schoombie
’n kaskade van vraagtekens. Alles, álles onder die son het vrae aangewakker. Wat is die nut van soveel vrae? Is alle vrae uiteindelik één vraag? Waar pas hy met sy huis en vrou en dogter en groot drome en klein rituele in? Is alles ewe belangrik? Is niks belangrik nie?
Sy vrou het hom soms só gekry, leë whiskyglas in die hand, starend met betraande oë na die papierbesaaide studeerkamermat, hopies knipsels vergete, verdwaal in die labirint wat hy vir homself gebou het met onbeantwoordbare vrae. Hý was die doolhof. Dan het sy hom sagkens aan die hand gevat, hom teruggebring uit niemandsland, oor sy dun hare gevee, sy skouers met kragtige kneukels geknie.
Sy vrou was die laaste een wat die navorser se vrae kon beantwoord. Sy was vir hom eweneens ’n enigma, iemand met haar eie onbeantwoordbare vrae. Agter haar steeds mooi gesig was die jong meisie wat hy lank, lank gelede na ’n kunsfliek geneem het . . . The Unbearable Lightness of Being. Die eksplisiete sekstonele daarin het haar geskok. Naaktheid, geweld, ’n skrywer se sinnelose verset teen ’n onderdrukkende bestel.
Die buurman wat die bome laat afsaag het, was ’n simbool van iets. ’n Man sonder vrae, sonder scruples. Iemand wat nie homself of sy omgewing ondersoek nie, wat nooit sy eie handelinge bevraagteken nie. Hoe was dit moontlik dat die navorser so baie, oneindig baie vrae had, terwyl die buurman inherent ’n ondenkende wese was, ’n bodemlose put wat energie insluk? Was dit die teken van wye morele verval: die afwesigheid van mense wat vrae stel?
Die buurman het by die navorser gespook. Hy het in sy drome by die buurman gaan spook. ’n Wraakgees wat oor die grys muur klouter met gif in sy naels.
13
Die volgende aanslag was die ganse. Die navorser het een Sondagoggend vroeg, voor die eerste sonstrale, regop gesit met mond, ore en oë oop. Wat was daai onaardse geluid?
Nie ’n kar-alarm nie, al was daar vae eggo’s van ’n eentonige getoeter waarvan mens doof kon raak. Ook nie ’n hadida nie.
PAAA-PAA-PAA!
Oorverdowend, naby. Hy knyp homself langs die naeltjie. Nee, dis nie die nadraai van ’n reeds vergete nagmerrie nie.
Ganse!
Hy het uit die bed gesteier en die agterdeur gaan oopsluit met bewende hande. Die geluide van ’n plaaswerf het van agter die grys muur opgeklink, van die kant waar die bure se huis is.
Die sketterklanke het geleidelik bedaar tot ’n klikkende geskel en gekibbel waarvan die navorser kon aflei daar was twee van hulle. Hy het iewers gelees dat boere ganse op die werf aanhou omdat hulle beter waghonde as die kwaaiste honde is; ganse is vreesloos en intimiderend wanneer hulle ’n vreemdeling blasend met oop bekke en gespreide vlerke bestorm. Hul byte is glo pynlik en kan bloed trek. Maar hier op die dorp? Tog sekerlik teen die wet?
Die hele Sondag was hy bedruk, bewus van klappende vlerke en ’n geplas in ’n dam aan die ander kant van die muur. Hy wou op ’n stoel klim om te sien, maar was nie lus vir ’n konfrontasie op die heilige dag nie. ’n Middagslapie was buite die kwessie, want die steurende geskal het in sy kop nesgemaak.
Dis die soort ding waaraan jy nie gewoond raak nie, want daar’s geen voorspelbare patroon nie. Elke nag en elke oggend is hy uit sy onrustige sluimering gewek deur die ongoddelike geraas. Sy vrou het doodluiters oorpluisies in haar ore gedruk en twee gansveerkussings oor haar kop getrek. Gans met gans besweer.
“Niks erger as jou gesnork nie,” was haar ontleding van die krisis.
Toe hy haar voorbeeld probeer volg, het hy gevoel hy versmoor.
“Nou weet jy hoe voel ek al jare.” Haar gewone verwyt.
Die bure se ganse het nou verdomp ons slaapkamer binnegedring, ’n twispunt in ons huis geword! wou die navorser skree, maar hy het hom ingehou.
Bedags het sy kop gevaarlik begin knik in stadige verkeer. Hy het moeg by die werk gekom, ’n mistigheid ervaar terwyl hy die duursaamheid van plastiekhouers vir hamburgers moes toets. Nog valer en meer gedreineer huis toe gekarring, in laagste rat.
Hy het ’n klag by die munisipaliteit oorweeg, maar oplaas besluit om eers ’n geskrewe vertoog aan sy buurman te rig. Die weg van hoflikheid as eerste stap. Hy het die brief op sy tuisrekenaar getik.
Beste Buurman (’n Koel, beheerste toon, redelik, nie te formeel nie, op die man af.)
Jou ganse is besig om ons nagrus te verwoes.
Daarna het woede van hom besit geneem, soos ’n junior duiwel in hom gevaar. ’n Vlam wat stilstaan onder ’n grys rookspiraal.
Watter soort bure is julle? Dit was nie genoeg dat julle twee koeltebome wat deur ons eiendomme gedeel is sonder toestemming of beraadslaging vernietig het nie. Nou het jy ook in ’n grootskaalse rusverstoorder ontaard. Hierdie is die eerste en laaste versoek wat ek rig. Raak ontslae van jou pluimvee, jy woon nie op ’n plaas nie. Jy woon tussen ander mense. Anders gaan ek polisie toe.
Hy het die brief met ’n bonsende hart uitgedruk, in sy motor geklim, om die blok gery en dit in die bure se posbus gegooi. Geen teken van lewe in die huis nie.
Daardie nag was die ganse sketterend op deurnagdiens. Die navorser het ’n dubbeldop geskink en voor die televisie gaan sit. Sagte pornografie was meer voorspelbaar as die dronkparty van ganse daar buite. Veerlose wesens wat aan mekaar knibbel en lek. ’n Suigparadys in die nag se ongeskeerde holtes. Agter die bronstige tonele in sy harspan het die ganse ’n kakofoniese klankbaan verskaf vir die orgasmes van gespierde helde en oopmond heldinne wat lipstiffie en maskara in die bed dra.
Drie dae later, toe hy al besig was om sy klag van rusversteuring met sy vrou te bespreek, het sy haar hand opgehou: “Luister!”
En sowaar, kon dit wees? Die ganse was stil. Geen vlerke wat klap nie. Geen geplas en geskal nie.
Die hele nag deur het die navorser in die somber stilte gespanne wakker gelê terwyl sy vrou diep slaap. Dit gaan enige oomblik weer begin, het sy gekwelde brein hom wysgemaak. Sodra jy insluimer. Ás jy nog kan insluimer. Chroniese slapeloosheid is jou voorland.
Die ganse het nie weer geraas nie. Hy het by die muur gaan staan in die daaropvolgende dae, sy oor teen die koue beton. Hulle was weg. Hy’t gewen. Of die buurman kon self nie slaap van die ganse se alewige rumoer nie.
Die navorser het weer sy agterplaas besoek, die tuin natgelei, met die gieter vir die appelliefiebos, die tuinslang vir die blompotte langs die motorhuis. Laatnag op die grasperk wydsbeen water afgeslaan wat wit vlekke in die groen skroei, sy eiendom só as ’t ware teruggevat en gemerk. Maar tog half skuldig sy oë afgewend van die buurman se boma met die twee naakte boomstamme.
Sy eie jong bome het gesond gegroei, klein koeltes begin maak.
Seisoene van vrede en genaakbaarheid het gevolg. (Of was dit bloot ’n wapenstilstand om te hergroepeer?) Die navorser se ordening van knipsels en beriggies het stadig maar seker gevorder. Daar was selfs nuwe kategorieë: Bedrog, Oorlog, Uitvindings, Kettingbriewe, Straatkuns, Droomontleding, Koddig, Raaiselagtig. Laasgenoemde twee was dikwels so omruilbaar dat hy hulle liefs saamgegooi het as Lost & Found. Selfs dít was omruilbaar, met guitige resultate. Found & Lost . . . soms verloor jy weer wat jy gevind het, al was dit jou rede of betekenis of die skyn daarvan.
Nog seisoene later, toe die bome al fris stamme kry en Sfinks verdiepings hoog oor huis en tuin uittoring, is hy op ’n dag oorval deur ’n soort dankbaarheid. Hy is deurweek met ’n soort sagmoedigheid. Die lewe gaan aan. Alles is genade.
Hy het sy dogter gebel en geduldig na haar grusame stories geluister. Soms het hy dieselfde grusame stories in die oggendkoerant gelees, met haar naam daarby. Haar “byline”, soos sy dit noem. Soms was sy ontstig omdat die “essensie” uit haar stories gesny is deur “een of ander idioot in die nagkantoor”. “Die helfte van die storie het gesneuwel,” moes hy gereeld hoor.
Alles wentel om halwe waarhede – die ander kant van die storie. Hy was heimlik bly as haar berig gesny is, want wie wil al die afstootlike, sensasionele besonderhede van ’n misdaadtoneel weet? Bloed en harsings en pyn en lyding? Hy het