Boomkastele. Schalk Schoombie
kalmte, koelte, koue, water, hemel, ruimte, asem, oopte, dynserigheid, grensloos.
SIRKEL: oneindigheid, ewigheid, sonder begin of einde, herhaling, geslote en dus eindeloos, reïnkarnasie, God.
Só het sy dit agter in haar notaboek probeer ontsyfer.
Die rooi mensie in sy naakte wellus, wildheid en woede gevang in ’n eindelose sirkeltronk op ’n blou uitspansel. Onbetwisbaar sensueel – al daai arms en bene! ’n Rebel met roeiende ledemate swewend in ’n matematiese heelal.
Sy weet nie of dit die Sirkelman se bedoeling is nie. Elkeen se vertolking sal seker verskil. Of is daar ’n meer spesifieke vertolking wat met die moderne mens praat, die arme depressiewe gatvol drommel?
Die graffiti voed haar. Dit pas by haar obsessie met The Worst Case Scenario, die ergste verwagting, die hele ou eksistensiële dilemma. Die mens gevang in tyd-ruimte soos ’n vlieg onder ’n omgekeerde glas.
’n Jaar of twee gelede het sy ’n dokumentêre fliek gesien, Exit Through the Gift Shop, oor die Britse graffiti-kunstenaar bloot bekend as Banksy. Ook hy is ’n skim wat sy satiriese stensilkunswerke as bytende kommentaar teen mure en brûe in verskeie wêreldstede los. So beroemd het hy geraak dat sy straatkuns gereeld opgeveil word aan die hoogste bieër – en die probleem om die kunswerk te verwyder, word gewoon aan die suksesvolle koper oorgelaat.
Probeer Sirkelman ’n Suid-Afrikaanse Banksy wees, met anonimiteit as foefie om berug te raak?
Haar selfoon begin Pachelbel se kanon rinkel, kristalklanke wat ’n paar joernaliste in die kantien geïrriteerd laat opkyk.
Dis Gys, die nuusredakteur. Droë drel. Slegte vel en graf-asem. Sy skor stem (te veel Marlboro’s en Klippies) laat haar die selfoon van haar oor af weghou, asof sy hom kan ruik.
Gyselaardrama: ’n Pa hou sy twee kleuters met ’n haelgeweer aan in ’n noordelike voorstad. Bure het die polisie ingeroep en die koerant se nuuswenknommer gebel. Ouers geskei, kinders langnaweke en Desembervakansies by die pa. Hy het breekpunt bereik. Slegte nuus is goeie nuus, Ina. Nog nie ’n ekstreme geval nie, maar potensieel Voorblad.
Sy gooi haar leë blikkie Coke Zero in die verbygaan in die asblik by die kantien se uitgang, klaar op ’n draffie deur die groot portale wat herinner aan die onpersoonlike sale van ’n lughawe.
Haar motor staan op ’n plek sonder skadu, aanduiding van lae rang. Bakoond op wiele. Sy sit haar sonbril op, rol vensters af om bedompigheid uit te laat, maar nie voordat die vol middagson haar onkeerbaar laat nies nie. Kan mens allergies wees vir lig?
Die verkeer voor die gebou staan al weer; ’n waterpyp het gebars en een baan is afgesper. Murphy’s law, want sy’s mos haastig en daar’s nuus wat iewers breek.
’n Roomkleurige Land Rover Defender flits vir haar ligte, laat haar toe om in die stroom in te kruip.
Sy bestudeer die bestuurder in haar truspieëltjie: ’n man met donker hare, bruingebrand, hoekige kaak, donkerbril. Sy venster is oop, wat beteken hy het nie air con nie of dit werk nie in hierdie hittegolf nie. Sy klik dankie met haar noodliggies en hy knik, sy lippe beweeg.
Hulle kruie so aan vir drie minute voor sy in tweede rat kom, maar sy ry stadig genoeg dat hy kan verbyskiet. Sy hou haar nek styf om nie te kyk nie, maar nuuskierigheid kry die oorhand. Aantrekliker van naby af. Hy sit hoog, kop byna teen die plafon, sy raai 1.87 meter (of ’n outydse ses voet twee in sy sokkies), kyk af op haar en glimlag. Sy sê weer dankie.
Op die bakkie se agterkant is stofstrepe en ’n plakker: Fuck the Rhino. Save the white O.
Sy neem ’n foto daarvan met haar BlackBerry. Weet sy behoort nie daarvan te hou nie.
Tog, dis nes graffiti, politiek inkorrek, oop en bloot, nie gekrabbel agterop ’n toiletdeur nie.
Is hy ’n wit ekstremis of rassis – of albei?
Of net ’n rustige boer met ’n rebelse streep en ’n sin vir humor wat reaksie probeer uitlok?
Rebel, besluit sy. Potensieel nice.
11
Van: John England (VSA Militêre Magte).
Beste Vriend
Ek hoop my e-pos vind jou wel. Ek benodig jou bystand. My naam is John England van die Ingenieurseenheid van die Verenigde State Militêre Magte hier in Bagdad in Irak. Ons het sowat $30 Miljoen Amerikaanse dollars wat ons uit die land wil skuif in drie digitale bokse.
Ek en my vennote het iemand nodig wat ’n goeie vennoot kan wees daar buite, iemand wat ons kan vertrou om die fondse namens ons te ontvang.
Dit is oliegeld en wettig.
Ons het reëlings getref met ’n Diplomatieke Koerier Diens wat die fondse van Irak sal oorplaas as ’n Familie Skat, verder het ons ook reëlings getref om genoemde fondse deur die Bank van Bagdad oor te plaas en dit hang af van wat jy wil hê.
Die belangrikste is Kan Ons jou Vertrou wanneer die fondse by jou uitkom, vat gewoon 30% as jou deel en hou die 70% wat oorbly vir ons. Jou eie deel van hierdie transaksie is om ’n veilige plek te vind waarheen die fondse gestuur kan word, ons deel is om dit veilig aan jou te stuur.
Verder gaan kyk na die Skakel:
http://news.bbc.co.uk/2/hi//2988455.stm
As jy belangstel sal ek vir jou meer Besonderhede stuur met ontvangs van jou respons en kontakbesonderhede. Maar ek kan jou verseker die hele proses is eenvoudig en ons moet ten alle tye ’n lae profiel hou.
Ek sien uit na jou antwoord en samewerking.
Saluut!
John England
Private en beveiligde e-pos: [email protected]
12
Twee dae nadat die wit moerbeiboom en witstinkhoutboom afgesaag is, die boomgille nog helder in sy gemoed, het die navorser na ’n kwekery buite die dorp gery en ’n jong witstinkhoutboompie uitgesoek. Dit was skaars meer as ’n bleekgroen lat, ’n kleuter, maar reeds meer as ’n meter lank, met kwassies blare.
Daar was geen wit moerbeiboompies te koop nie, volgens die vrou by die kwekery ’n seldsame boom en haas onverkrygbaar. Die navorser het gevra watter bome groei die vinnigste. Sy het hom gelei na ’n klein omheinde woudjie en gewys na ’n soepel loot met welige blare.
“Hierdie een word binne twee jaar ’n koelteboom. Maar pasop, dit neem alles oor.”
Die navorser het die sterkste een gekies wat in sy motor sou pas, haastig betaal en teruggery met sy twee boomkinders wat by die karvensters uitsteek, punt in die wind, trillend en klappend teen die dak. Die wind het die blare met kil vingers afgestroop.
In sy agtertuin, nie ver van waar die vermoorde bome in die buurman se tuin gestaan het nie, het hy self met pik en graaf twee diep gate gegrou, verder uitmekaar as die voorgangers, minstens vyf meter, om hul takke en wortels ruimte te gee. Hy het die boompies met bewende hande ingedruk en die wortels met nat kluite toegepak. Sy dogter het hom gehelp om die stamme regop te druk teen die swelling van die aarde.
Sy asem het gejaag van die inspanning. ’n Daad van verset. ’n Daad van wraak en rou. Die boomreuse was weg. Hulle kon nie in dertig, veertig jaar vervang word nie. Of kon hulle?
Sy vrou het vir hom ’n glas enkelmoutwhisky gebring, skoon met twee blokkies ys, teruggestaan en woorde geprewel wat hy nie kon uitmaak nie. Dalk ’n skietgebed.
Hy het die bome gedoop met ’n whiskyvinger teen elke stam: Sfinks en Oorwinnaar. “Groei vir my,” het hy gefluister. “Groei en word groot voor ek my laaste asem uitblaas. Groei en oorwin!”
Begrippe soos “buurmanskap” en “vergifnis” het vir altyd vir hom vertroebel, begrippe wat skynbaar ook die teendeel kon bevat: “onbuurmanskap” en “onvergifnis”. Sluit elke absolute begrip nie reeds sy teenoorgestelde in nie? het hy gewonder. Soos