Boomkastele. Schalk Schoombie

Boomkastele - Schalk Schoombie


Скачать книгу
om sy notas uit te sorteer; vergeet van onthullende memoires en verhullende outobiografieë! Die ordening van sy notas sou hom dalk leidrade bied oor wat hy veronderstel was om te doen met sy laatsomerjare, vóór die droewe tyd wanneer hy met sy eie agteruitgang en toenemende swakheid moet saamleef en algaande stom raak; wanneer iemand hom ferm sal lei waarheen hy nie wil gaan nie. Hy sou dalk leidrade vind oor hoe om prioriteite te bepaal (iets wat altyd, glo dit of nie, as een van sy sterk punte beskou is) en die regte keuses te maak terwyl die lewe daar buite oënskynlik in totale waansin en wanorde ontaard.

      Die boomkasteel-droom was meer as genoeg om hom te motiveer en te aktiveer om sy lewe van dag tot dag doelgerig te leef en sy bes te doen, op sy eie beskeie, klein manier.

      9

      Toe die navorser se vrou hom daardie dag by die werk bel, was hy in ’n goeie luim. Hy was op sy tweede koffie van die dag, besig om die duursaamheid van suiwelhouers (melk, jogurt, geklopte room) te toets, toe die telefoon in die laboratorium se rooi liggie begin flits. (Klanke kan steurend wees wanneer sensitiewe toetse gedoen word, en sy selfoon was soos gewoonlik afgeskakel en in sy boonste baadjiesak gebêre.)

      Sy het nie eens probeer om kalm te klink nie, paniek was in elke asemteug. In die agtergrond van haar bewende stem was daar ’n aardige geluid wat hy nie kon plaas nie: ’n dun, skril, uitgerekte skreeu wat laag en rou begin en vinnig ’n crescendo van onnatuurlike pyn bereik.

      “Hulle saag die bome af,” was al wat sy kon uitkry voor sy in haar kenmerkende hygende snikke verval het.

      Hy het sy wit jas uitgepluk, “Daar’s ’n krisis by die huis!” gebulder en summier sy tas op sy lessenaar vergeet. Sy sekretaresse het hom oopmond agterna gestaar.

      Dit was net ná spitstyd, die verkeer het taamlik gevloei en hy het gejaag soos toe hul dogter met die naelstring om die nek gebore is. Veertig minute later het hy in die oprit stilgehou en byna sy das in die kardeur vasgeslaan.

      “Te laat,” het sy vrou gehyg-snik, “dis verby.”

      Die reuk van klam hout het in soet wolke die lug deurstuif; die geknars van brekende takke het sy tande se stopsels laat pyn. Sy voortuin se blombeddings, sy vrou se roosbome, die geute aan die dak en die hele agterplaas was bedek met ’n laag stukkende groen blare, geknakte takkies, klein stompe en splinters. Asof ’n orkaan deur die buurt getrek het.

      Hy was bewus van die oorweldigende uitspansel bokant sy kop, manjifiek en wolkloos, hopeloos te groot en wyd en bleekblou. Waar die twee bome altyd gerusstellend wag gestaan het, groots en onbeweegbaar, was nou net twee kaal stamme, met stomp afgekapte armpies waar gespierde takke was. Teen die spottende blou koepel.

      ’n Span werkers in vuil blou oorpakke (was blou ooit so spottend?) en geel staalhelms en beskermbrille was met bandsae besig om dik skywe van die stamme af te saag en vir mekaar ondertoe aan te gee, stuk vir gommerige stuk. Dis die gillende saag wat hy oor die foon gehoor het, en nou was dit oorverdowend, afgryslik, die lug verstikkend van die dansende fonteine saagsels wat in ’n sproeireën oor die grys betonmuur spuit.

      Hy het sy mond oopgesper en uit sy maag uit geskreeu, maar die gekerm was die bome s’n. Voor sy oë het hulle doodgebloei, krom, kaal lyke van bome. Die magteloosheid het soos ’n klem om sy kop gespan. Woede het rooi en warm in hom oopgebreek. Gesigte het na hom gedraai, spierwit tande wat lag, blink plastiekbrille.

      Hy het wild beduie: Hou op, stop, kry end! Een saag is afgeskakel, saag twee het soos ’n stout kind agter die muur gaan mor en peuter, die saagselfontein het opgedroog.

      “Wat maak julle met die mooi bome?” wou hy weet, sy stem gekrimp van geslukte woede.

      Stemme het oor mekaar gepraat: “Vra die baas, hy’s hier.”

      Daar is gewink en geroep. ’n Wit man se ronde, beswete gesig het oor die muur geloer. Vaalbruin borselkop, krom neus en litteken onder een leepogie, ’n skarminkel in ’n Punch and Judy-poppespel.

      “Meneer, hoekom op aarde saag julle sulke pragtige bome af? Wat besiel julle? Kyk hoe lyk my tuin!”

      Die buurman het sy vaal wenkbroue gelig en sy oë gerek asof hy nie mooi kon begryp waaroor die skielike bohaai was nie. Hierdie bome is mos syne, dit staan op sy grond, hy kan maak daarmee wat hy wil; dis niemand se besigheid wat hy daarmee maak nie.

      “Maar waarom, waarom, waarom?” In sy stem kon die navorser die klein pokkel hoor wat aan sy ma se rokspante gepluk het. “Ons het hierdie huis gekoop vir die koelte van hierdie bome! Buitendien, die witstinkhout staan op die gréns van ons erwe, jy kan sien die muur loop hier uit in ’n vierkant op my erf! Dis mý boom ook! Hoe durf julle dit afsaag sonder om my te vra?”

      Die buurman het sweet uit sy leepogie en litteken gevee en gesug. Hy hoef nie redes te gee nie, maar goed dan: die bome se wortels gee probleme met die rioolstelsel en die moerbeie mors op als. Anyway, hy gaan hier bou, ekstra garages vir die woonstelblok.

      “Garages! Woonstelblok! Watse woonstelblok?”

      Die erf is onderverdeel en op hierdie deel kom ’n tweeverdiepingwoonstel. Die planne is klaar deur die munisipaliteit ge-oukei en die fondamente word môre gegrawe.

      Dis toe dat die navorser homself vergeet en soos ’n matroos begin vloek. Hy was nog altyd geslote, een van daai hiperbeheerste, byna bot mense wat geleer het om sy humeur in ysere bedwang te hou, veral in die openbaar en voor sy dogter. (Voor sy vrou kon hy soms ’n vinnige uitbarsting toelaat.) As hy ondertoe gevloek het, was dit gewoonlik maar wanneer hy homself met ’n tang geknyp of skeefgetrap het by die agterstoep of hom met die vleismes raak gesny het.

      “Leef jy in ’n fokken vakuum? Het jy geen bliksemse idee van bewaring nie? Hierdie bome is minstens ’n halfeeu oud! Ouer as ek en jy. En hulle dra meer by tot die omgewing as jy wat net afbreek en afsaag en fokken vernietig! Bome is lewende goed. Hulle kan voel! Het jy geen gevoel vir lewende goed nie?”

      Die buurman het sy hand opgehou, paraat en hansworserig soos ’n verkeerskonstabel wat ’n stroom karre stop. Die navorser was vaagweg bewus van die werkers wat lag en praat en beduie, hulle verkneukel in die vermaaklike klein onderonsie wat hulle sweterige arbeid onderbreek, maar hy was nog nie klaar nie, nog lank nie klaar nie. Hy was ’n stuwende vulkaan.

      “Is jy dan ’n barbaar? Het jy geen respek vir lewe nie? Weet jy nie dat bome die aarde se beskutting is teen . . .”

      Maar die buurman se gesig het agter die grys muur weggesink, woerts, blitsig soos ’n handpop wat sy exit maak oor die beskilderde rand van ’n verhogie. Die werkers lag, wit oë en wit tande in donker gesigte onder geel helms.

      Gedane sake. Niks kon die sterwende bome red nie.

      “Wat jy saai, sal jy maai!” het die navorser sy laaste woorde oor die muur geslinger, maar dis versnipper deur ’n rasperende hoes van die tweede bandsaag wat nog heeltyd onderlangs knor.

      Die voorman het oor ’n verbryselde tak geleun en met ’n hand in ’n dik handskoen beduie na die navorser se agterplaas: hulle sal kom skoonmaak, al die takke en blare verwyder, hulle sal kom vee en elke takkie en blaartjie optel. ’n Versoenende gebaar – te min, te laat.

      Skielik was die navorser se gesig nat van iets. Saagsels? Hy het weggedraai, soos ’n dronkie deur die dik blaremat gesteier, amper geval, sy balans herwin, terug na die agterstoep geskuifel waar sy versteende vrou met al twee hande oor mond en neus en ken gestaan het, Lot se vrou.

      “Skink vir ons iets, whisky.”

      Dit was die eerste keer in sy lewe wat hy whisky gedrink het voor elfuur in die oggend, voor die fokken Boeing oor is. ’n Eerste keer vir alles.

      Oor die klipkoppies en blink snelweë het die son geskyn sonder emosie, geel strale soos pyle. Die blou uitspansel het geluidloos gespan, ’n monsteragtige vlag oor ’n grusame dag. Hy het sy wange bewend met ’n kombuisvadoek afgevee. Sy vrou het ’n halwe glas whisky met water in sy hand gedruk.

      “Wat doen jy nou met sulke idiote?” het hy gekerm. “Hoe keer mens die grootskaalse verwoesting van natuurlike bronne en skoonheid


Скачать книгу