Ver bo korale. Susanna M Lingua
nie. Daar is hoegenaamd geen rede waarom die lewe nie kan voortgaan soos wat jy en jou ouers dit aanvanklik beplan het nie.”
Sy skud haar kop stadig. “Dit sal nooit weer dieselfde wees nie,” sê sy, nou met hartseer in haar stem.
“In watter opsig sal dit nie meer dieselfde wees nie?” vra Niel.
Daar is nog steeds hartseer in haar stem toe sy verduidelik: “Wel, die plaas, die huis . . . alles sal jóú eiendom wees . . . selfs hierdie perd waarop ek ry, sal nie eens meer myne wees nie.”
“Maar alles sal nog steeds tot jou beskikking wees soos voorheen, Elaine,” probeer hy haar tot ander insigte bring. “Gaan jy jou trots toelaat om jou van Boskloof af weg te dryf, of gaan jy jou trots vir ’n verandering vergeet en jou ouers gelukkig maak?”
Elaine is afgetrokke toe sy weer praat.
“Ek . . . ek verkies om hierdie saak nie verder te bespreek nie, meneer Durandt. Ek dink ek moet liewer nou gaan.” Sy kom orent en neem Prins se teuels uit sy hand. “Tot siens, meneer Durandt.”
Ook Niel staan van die rots af op.
“Tot siens, groenoog! Sien jou weer die een of ander tyd!” Sy klim in die saal, kyk hom met ’n geslote blik aan en sê onpersoonlik: “Ek hoop ek sien jou nooit weer nie, meneer Durandt.” Die volgende oomblik trek sy op ’n stywe galop weg.
“Rissie!” roep Niel haar agterna. Hy klim rats in die saal en stuur Radja in die rigting van Avondrus. “Jy gaan my gou weer sien, meisie,” gesels hy met homself. “Ja, jy gaan my nog baie dikwels sien!”
Elaine se gemoedsrus is nou weer heeltemal versteur. Sy het haar reeds in ’n mate vereenselwig met die gedagte dat Boskloof verkoop moet word, en nou het Niel haar weer opnuut opstandig laat voel en haar laat besef wat sy alles saam met Boskloof gaan verloor. Die man het inderdaad ’n gawe om haar opstandig te maak. Ja-nee, sy moet hom liewer nooit weer sien nie.
Op die oomblik is Elaine heeltemal blind vir die skoonheid van die natuur wat haar omring; die berg, die veld met sy doringbome, die treurwilgers langs die rivier.
As ek jou oor ’n honderd jaar weer sien, Niel Durandt, sal dit nog te gou wees, dink sy wrewelrig.
Daan en Gerda is al besig om te eet toe Elaine tuis kom. Sy groet haar ouers, gaan was haar hande en kom sit ook aan.
“Gaan dit nog goed op Avondrus, ounooi?” wil Daan weet. Elaine vou eers haar servet oop voordat sy antwoord.
“Dit lyk so, Pappa. Oom Dirk sien daar gesond uit, en tant Truia, lyk dit my, kla meer uit gewoonte. Sy het nie vir my juis siek gelyk toe sy vir ons gaan koffie maak het nie. Ek het Niel Durandt ook gesien, teen my sin, natuurlik.”
“So! En wat gesels hy alles?” wil Gerda belangstellend weet.
“Sommerso oor alles en nog wat, Mamma,” antwoord Elaine ongeërg. “Hy wou my onder andere wysmaak dat die lewe hier op Boskloof nog dieselfde sal wees nadat hy die plaas oorgeneem het.”
“Niel is reg, Elaine,” sê Gerda. “Die verkoop van die plaas gaan ons lewe nie in die minste ontwrig nie. Alles gaan dieselfde bly.”
“Vir my sal die lewe hier op Boskloof nie meer dieselfde wees nie, Mamma,” sê Elaine met ’n gesteurde frons. “Terloops, ek het finaal besluit om maar vir my ’n woonstelletjie op die dorp te huur. Dit sal vir my geriefliker wees . . . ek bedoel wat my werk betref.”
Daan sit sy mes en vurk saggies, versigtig op sy bord neer en kyk Elaine teleurgesteld aan.
“Gaan jy ons nou sommerso weggooi, ounooi?” vra hy sag. Elaine merk die teleurstelling in sy oë en in sy stem, maar sy staal haar teen die weekheid wat van haar besit wil neem. Sy weet dat Boskloof gans te klein is om haar en Niel saam te huisves, en sy weet ook dat hulle botsings en struwelings haar ouers bitter ongelukkig sal maak, daarom is dit veel beter dat sy liewer op die dorp gaan woon.
“Ek sal julle tweetjies nooit weggooi nie, Pappa,” antwoord sy met liefde en teerheid in haar stem. “Trouens, ek gaan oor tien jaar vir Pappa weer ’n eie plasie koop, al moet ek dag en nag werk om dit te kan doen. Ek gaan baie beslis nie toelaat dat my ou paps op sy oudag vir ’n Durandt werk nie . . . ”
Die gelui van die telefoon maak meteens ’n einde aan Elaine se woordevloed.
“Dis seker die prokureurtjie wat bel,” meen Daan. “Ek sal gaan antwoord,” bied hy aan en staan haastig op.
Terwyl Daan oor die telefoon praat, staan Gerda en Elaine ook op en gaan na die voorstoep toe.
“Dis so lekker koel hier op die stoep . . . ” begin Elaine toe haar pa van die oop voordeur af praat.
“Dis Niel wat gebel het, ounooi,” sê hy ernstig, “en jy sal sonder versuim na Bordeaux toe moet gaan. Een van die boswerkers is glo ernstig beseer, met ’n mes in die arm gesteek. Niel sê dis ’n lang sny. Jy sal die wond moet toewerk. Jy kan sommer met my bakkie ry, kleintjie, dan is jy gouer . . . ”
“Pappa, Niel is van sy wysie af as hy dink dat ek ’n voet op Bordeaux sal sit,” val Elaine haar pa verontwaardig in die rede. “Pappa moes die vent maan toe gestuur het. Verbeel jou, ek moet my nogal sonder versuim daarheen haas!”
“Ounooi, Niel is nie van sy wysie af nie,” bestraf Daan sy opstandige dogter, “die mense het jou hulp dringend nodig. Niel sê die man se hele voorarm is oopgesny.”
“Nou, waarom bel hy hierheen? Waarom ontbied hy nie vir dokter Swanepoel nie, Pappa?”
“Dokter Swanepoel is nie tuis nie. Hy is glo na die een of ander plaas toe,” verduidelik Daan geduldig, dan glimlag hy onderlangs. “Niel het gesê ek moet jou ’n stywe dop brandewyn injaag, jou ’n naald en ’n tolletjie gare in die hand stop en jou na Bordeaux toe stuur.”
Elaine ruk haar dadelik op.
“ ’n Stywe dop brandewyn!” Sy kyk haar pa met ’n frons aan. “En waarom die brandewyn, as ek mag vra?”
“Seker maar omdat ’n vrou altyd dreig om flou te word as sy ’n lelike wond sien, kleintjie,” terg Daan nou openlik.
“Wel, ek is nie een van daardie soort vroue nie, Pappa,” verdedig sy haarself. “Ek is daaraan gewoond om na wonde te kyk en daarmee te werk, Niel moenie dink . . . ”
“Elaine, my kind,” val Gerda haar in die rede, “as die man ernstig beseer is, is hy straks besig om hom dood te bloei!”
“Nee, ek glo nie hy sal hom doodbloei nie, vrou,” stel Daan haar gou gerus. “Niel sê hulle het die bloed darem op ’n manier gestop, maar die wond lyk sleg.”
“Wel, in daardie geval sien ek geen rede waarom ek na Bordeaux toe moet gaan nie,” laat Elaine weer van haar hoor. “As hulle daarin geslaag het om die bloed te stol, kan Niel die man netsowel hier na Boskloof toe bring. Hy weet baie goed hoe ek oor hom en sy hooghartige en uitgesproke ou pa voel. Ek onthou nog toe ek ’n skooldogter was, het hy altyd hooghartig na sy bure verwys as kleinboere . . . ”
“Die jare het hom verander, ounooi,” help haar pa haar dadelik reg. “Jacques is nie meer daardie hooghartige man wat jy as kind geken het nie. Sy lewe kring die afgelope agt jaar net om Niel . . . Niel en Bordeaux. Jy kan dus maar jou tassie en jou wit jassie gaan haal.” Hy neem die bakkie se sleutels uit sy sak en hou dit na haar uit. “Hier is die sleutels, neem die bakkie.”
Sy neem die sleutels.
“Goed, Pappa, ek sal gaan; maar glo my, ek haat dit om ’n voet op Bordeaux te sit. Ek gaan net omdat dit my plig is om die man se arm te probeer red.”
Na ’n rukkie sê sy vir haar ouers tot siens en stap na die bakkie toe wat voor die deur staan . . .
Onderwyl Elaine oor die ongelyke plaaspad ry, dink sy aan baie dinge. Sy dink aan die jare wat verstryk het sedert sy laas met hierdie pad gery het, die pad wat na haar aartsvyand se vesting toe lei . . .
Ek hoop oubaas