Elza Rademeyer Omnibus 8. Elza Rademeyer
Dis oor jy my laat skrik het dat ek amper verdrink het.”
“Ek het jou mos nie skrikgemaak nie.”
“Ja, maar hoe moes ek weet jy sit hier? Ek kon jou nie van die oewer af sien nie.”
“Ek kon seker gehoes het of iets om jou te waarsku, maar dan het jy dalk die hasepad gekies en was ek nou sonder geselskap.”
“Ek het jou net kom pla. Jy wou seker alleen gewees het.”
“Nee, jy pla nie. Inteendeel …”
“Hoekom voltooi jy nie jou sin nie?” vra sy lugtig, sonder om hom in die oë te kyk.
“Omdat ek bang is jy val in die water as ek jou sê.”
“Wel, ek het jou pas gesê ek kan darem swem.”
Dit voel of haar liggaam versteen toe hy ’n haarsliert uit haar gesig vee om dit agter haar oor in te druk en saggies lag. “Ek sal liewer op ’n ander dag jou nuuskierigheid bevredig. Dis vir eers genoeg dat ek jou geselskap kan geniet.”
Dis of al haar woorde weg is. Haar asem ook. Sy weet sy durf nie praat nie, want haar stem sal net ’n hees gekras wees. Die waarskuwingstemmetjie in haar agterkop is net so vaag. Sy weet dat daar onteenseglik iets met haar aan die gebeur is. Iets wat nie moet gebeur nie, maar wat feitlik onafwendbaar is.
3
“Vertel my meer van jouself,” sê hy.
Sy voel genoodsaak om eers haar keel te skraap.
“Soos wat?”
“Enigiets. Vertel my van jou werk.”
“Wel, jy weet seker ek werk in ’n hospitaal.”
“Ja. Geniet jy dit?”
“Ja, baie.”
“Wat het jou laat besluit om verpleging as beroep te kies?”
“Seker maar oor ek van kleins af siek mense en diere jammer gekry het. En jy? Hoekom het jy ’n dokter geword?”
“Seker maar oor ek ook van kleins af gewens het ek kon mense se lyding versag.”
Hospitaalsake lê haar na aan die hart. En omdat dit ’n veel veiliger onderwerp is, neem dit nie lank voor die geselskap op dreef kom nie. In die begin neig haar blik knaend na die paar mooi welgevormde bene langs haar, maar later kry sy dit reg om bo-oor hulle te kyk. Daarmee saam bring die gekabbel van die water ook ’n rustigheid in haar gemoed. Eers toe hy haar attent maak op die pienk strepe van die sonsondergang teen die horison kom sy tot haar ontnugtering agter hoe vinnig die tyd aangestap het.
“Ons moet kamp toe gaan. Die ander sal wonder wat van ons geword het,” sê sy vervaard.
“Niemand sal voor halfsewe begin wonder nie,” sê hy rustig.
“Dit kan nie meer ver van halfsewe af wees nie.”
Hy korrel na die son. “Dis nog nie eens sesuur nie.”
“Ek wil nog gaan aantrek.”
Hy kom tydsaam orent en help haar op. “Wag hier tot ek onder is.”
Toe hy onder haar staan en sy arms na haar uitstrek, raak sy onbedaarlik aan die bewe by die gedagte dat sy in die kring van sy arms gaan wees. Dit maak dat sy op haar eie van die rots probeer afgly, maar tog maar deur hom gevang word. En skielik raak dit doodstil in haar toe hy sy arms om haar hou nadat haar voete vastrapplek op die bodem van die watergat gevind het.
“Dankie vir jou geselskap, waternimfie.”
Die effense heesheid van sy stem en die vinnige manier waarop hy haar laat los en oewer toe plas, laat haar glo hy is ook geraak. Dat sy hom nie onverskillig laat nie. Dit vul haar enersyds met opwinding, maar ook met hartseer, want dit mag nie! Hy is Bets se vriend, die eerste man wat sy opreg liefhet. Sy, Alet, durf nie in haar vriendin se weg na geluk staan nie. Bets sal dit ook nooit toelaat nie.
Hy hou haar handdoek na haar uit toe sy uit die water klim. “Hang dit om jou skouers, hulle is klaar rooi gebrand van die son. En smeer sonbrandolie aan wanneer jy by die tente kom. Ek gaan daar na die vissermanne toe stap.”
Sy gehoorsaam sonder om na hom te kyk en stap vinnig weg in die rigting van die kampeerterrein. Bets sal méér doen as om haar oë uit te krap as sy moet agterkom sy koester gedagtes oor Peet, dink sy by haarself. Sy sal hom doelbewus moet vermy. Onmiddellik haar aangetrokkenheid tot hom moet besweer. Daar is geen ander uitweg nie. Boonop soek sy nie ’n herhaling van die Wouter-episode nie.
Maar dis nie so maklik om hom te bly ontwyk nie. Veral nie die aand toe almal om die braaivleisvure rondstaan nie. Sy kan hom tog nie die hele aand onder oog hou nie. Nog minder padgee toe hy skielik langs haar vra wat sy van die Richtersveld dink.
“Wel, die berge is ietwat ru, maar mooi. En die sonsondergang vroeër vanaand was pragtig. Hier is ook baie meer plante as wat ek te wagte was. Ek het verwag ek gaan die hele tyd net klippe en kaal berge sien.”
“Maar na die binneland se kant toe is dit taamlik dor en vaal. Dis hoekom dit nie almal se ideale plek is vir ’n vakansie nie.”
“Ek glo dit. My ma is een van hulle. Sy sal nooit kan insien dat dit vir iemand lekker kan wees om die geriewe van ’n gebou te verruil vir ’n tent in die boendoes nie.”
“En jou pa?”
“O, hy sou dit geniet het hier. Hy hou van die natuur. Ek dink hy is nogal spyt dat hy ons plaas buite Stellenbosch verkoop het om in die stad te gaan bly.”
“Hoe lank woon julle nou in die stad?”
“Drie jaar. Hulle het stad toe getrek kort ná die motorongeluk. My pa het gedink dit sal beter wees as my ma nader aan die dokters en spesialiste is. Ek het toe ook uit die verpleegsterstehuis getrek en by hulle in die huis gaan bly om hom te help met my ma se versorging.”
“Jy woon dus nou pal by hulle in die huis?”
“Ja.”
“Hoedanig is jou ma se rugbesering?”
“Die hoofsenuwee is beskadig, maar nie af nie. Die spesialiste was van mening dat sy weer sou kon loop as sy voortgegaan het met fisioterapie, maar …”
“Maar?” vra hy toe sy swyg.
“Sy’t summier geweier om daarmee voort te gaan na haar ontslag. Háár rede is dat hulle haar net onnodig wou pynig.”
“Jy glo dis nie die werklike rede nie?”
“Nee, soms dink ek sy wil net my pa …”
“Gaan voort,” moedig hy aan toe sy weer stilbly.
“Wel, ek wou gesê het ek dink partykeer sy wil my pa net straf, oor sy glo die ongeluk was sy skuld. Maar kom ons praat oor iets anders. Dis onnodig dat ek jóú met my ma se geite en grille verveel. Ons is mos buitendien met vakansie om ’n slag weg te kom van ons daaglikse sorge, is dit nie?”
“Jy’s heeltemal reg. En dis goed as ’n mens dit kan regkry om soms van jou sorge te vergeet. Dis net nie altyd so maklik nie.”
“O, hier is julle,” kom Bets op hulle afgepyl. “Peet, Ben wil weet of jy hom sal help met die braaiery. En, Alet, ons meisies moet glo sorg vir die bykosse.”
Tydens die slaaimakery kan Alet nie ophou wonder oor Peet se laaste opmerking nie. Dit het amper geklink of hy sorge het wat hy nie van hom afgeskud kan kry nie. Of wil sy betekenis heg aan iets wat nie bestaan nie?
Die lang rit vroeër die dag maak dat die atmosfeer om die vuur ietwat gedemp word deur die moegheid van die manne, dus gaan soek almal vroegaand die tente op. En die volgende oggend toe hulle opstaan, sê Bets: “Elke voertuig se mense moet mos vir hulself sorg wat ontbyt en middagete betref. So, ek sal vanoggend vir ons ontbyt maak, dan kan jy die skottelgoed was.”
“Hoekom sê jy my nou eers? As ek geweet het jy