Hartklop Omnibus 1. Malene Breytenbach
altyd koshuis- of kafeteriakos in my lewe, en jy kook so lekker by jou huis dat ek net kon aansit en geniet. My nuwe stoof roep my. Dis so mooi en aanloklik dat ek al resepteboeke gaan koop het. Een van die dae nooi ek julle vir ete.”
Hulle gaan sit by haar eetkamertafel en Rolf maak die wyn oop en skink.
“Ons drink op jou suksesvolle toekoms,” sê hy en hulle klink glase.
Brenda sug van lekkerkry. “Dis wonderlik om terug te wees in Suid-Afrika se sonskyn en om julle weer te sien. Ek het regtig na julle verlang. Ongelukkig verlang ek nou na ou Eben. Hy is tog so ’n tonic.”
“Wanneer kom hy terug?” vra Rolf.
“Miskien volgende jaar. Hy het natuurlik die voordeel dat sy broer nog vir ’n jaar in Londen gaan wees voordat sy termyn verstryk. Ons het lekker by hulle gekuier in hulle mooi huis in Wimbledon.”
“Dié Kevin Wakefield van wie jy geskryf het,” sê Lisa, “wou hy ernstig raak? Dit het so geklink.”
Brenda sug en kyk in die hart van haar glas rooiwyn. “Ek sou dalk langer gebly het as hy my nie so die skrik op die lyf gejaag het nie. Hy was van die begin af skoon oorhoeks. Hy het gedreig om eendag te kom kuier.”
“Maar jy stel regtig nie belang nie?”
“Nee, hemel. Hy maak my benoud.”
Voor haar geestesoog verskyn meteens die aantreklike gesig van Charl Naudé. Nee, sy moet ophou om aan hom te dink, betig sy haarself. Ophou om bewus te wees daarvan dat hy binne ’n radius van tien kilometer van haar af is. ’n Man soos hy is haar nie beskore nie.
Hoogs opgewonde meld Brenda haar die volgende dag by die hoof van die Departement Ginekologie en Verloskunde aan.
Martie Stiglingh, sy sekretaresse, verwelkom haar. “Haai, dokter, ek hoor jy word een van ons kliniese assistente. Welkom hier by ons.”
“Ja. Hallo, mevrou Stiglingh. Dis lekker om u weer te sien.”
Die sekretaresse lag en skud haar kop. “Jy kan my regtig nou Martie noem, en ek gaan jou Brenda noem. Ons ken mekaar mos al lank. Jy is een van vier kliniese assistente hier in ons departement en julle moet ongelukkig ’n kantoor deel. Maar julle is tog meesal in die hospitaal. Kom ek gaan wys jou, dan kan jy die ander personeel groet.”
Brenda het vir al die ou bekendes gaan dagsê, dié wat op kantoor is en nie by die hospitaal nie, en dan ontmoet sy een van die kliniese assistente. Hy sit en skryf iets op ’n skootrekenaar.
“Brenda, dis dokter Steve Mellon,” stel Martie haar voor. “Steve, dis dokter Brenda Wiechers. Sy begin nou hier. Steve is al die tweede jaar hier by ons.”
Hy staan op en skud Brenda se hand. “Wel, aangename kennis. Ek hoop jy kan vasbyt, want ons werk heluit hard.”
Hy lag egter en sy hou dadelik van hom. Hy is lank en skraal, met bruin krulhare wat deurmekaar is en vriendelike bruin oë agter ’n byderwetse brilletjie.
“Aangename kennis. Ek is nie bang vir harde werk nie. In my Zuma-jaar en by die hospitaal in Londen het ek lang ure gewerk en niks daarvan oorgekom nie.”
Hy bekyk haar waarderend op en af. “Jy lyk meer soos ’n filmster as ’n ginekoloog, maar ek glo jou as jy sê jy kan hard werk.”
Die man is ’n regte vleier, dink Brenda.
“Maak jou tuis, en dan gaan sien jy vir prof Aucamp,” sê Martie. “Hy wil jou in die ding inlyf. Lyk my jy is sommer weer sy blue-eyed girl. Ek het geweet hy sal sorg dat jy aangestel word. Hy het altyd gesê jy is die beste student wat hy al ooit gehad het; jy het die mans ver uitgestof.”
Toe Brenda die eerste keer op roep is, word sy met behulp van die draradio gevra om na ongevalle te kom. Sy haas haar van haar huis af Tygerberg toe, want sy moet binne ’n halfuur aanmeld, en hoe gouer hoe beter.
Die bekende reuke van die hospitaal begroet haar toe sy by die ginekologie-afdeling aankom. Die ongevallebeampte het ’n noodgeval ondersoek en die swanger vrou word ingestoot.
Brenda reël dadelik vir haar ’n bed, verlig dat een beskikbaar is. Toe ondersoek sy haar. Die jong vrou met die reusebuik steun en kreun van die pyn. Iets is nie heeltemal pluis nie, besef Brenda. Sy wil sowaar nie haar eerste pasiënt verloor nie. Die vrou se simptome is kommerwekkend. Sy probeer haar kalmeer, maar dis duidelik dat sy geweldige pyn ervaar.
“Ontspan net as u kan, mevrou,” paai sy. “U het niks te vrees nie.”
Maar sy is self bekommerd, want sy vermoed dat die vrou ’n buisswangerskap kan hê. Indien wel, moet sy dadelik opereer. Dit sal nie haar eerste operasie wees nie, maar haar eerste sedert sy as kliniese assistent aangestel is.
“As jy oor enigiets twyfel, skakel die konsultant of vir my,” het professor Aucamp haar dit op die hart gedruk. “Moenie onnodig kanse waag nie.”
Sy kan haar oë nie glo toe sy die naam en nommer van die konsultant op bystand sien nie: Charl Naudé. Hy gaan dink sy is onbeholpe. Nee, dit maak nie saak nie. Daar is lewens op die spel.
Sy skakel die nommer en die telefoon lui ’n ruk lank. “Antwoord asseblief!” smeek sy deur haar tande en stamp haar voet op die vloer van ongeduld.
“Charl Naudé,” kom die diep stem uiteindelik oor die telefoon.
“Charl, dis Brenda Wiechers …”
“Brenda?” Hy klink verras. “Wat kan ek vir jou doen?”
“Hier is ’n swanger vrou by ongevalle en ek vermoed sy het ’n buisswangerskap. Ek sal moet opereer, maar ek sal bystand waardeer.”
“Jy is skoon uitasem. Ek is binne twintig minute daar. Die teater moet solank reggekry word, en reël ’n narkotiseur.”
Brenda voel asof sy soos ’n rysmier op steroïede rondhardloop terwyl sy links en regs bevele gee. Toe sy weer opkyk, kom Charl vinnig in die gang aangeloop.
“Dankie dat jy gekom het,” hyg sy. “Kom kyk na die pasiënt.”
Hy buk oor die beswete vrou, haar gesig doodsbleek en angstig, en plaas sy hand op haar buik.
“Jy is in goeie hande, mevrou. Ons gaan opereer.”
Die vrou steek haar hand uit en hy neem dit. Sy lyk so vol vertroue, al het sy trane in haar oë. Brenda het lank laas iets so roerend gesien. Die arme pasiënt is vreesbevange; sy wil ook maar gerus gestel word en menslikheid ervaar. Charl het duidelik ’n slag met mense.
In die teater, geskrop en aangetrek, staan hulle en kyk hoe die narkose toegedien word.
“Jy opereer, ek kyk toe,” sê Charl.
Brenda put krag en kalmte uit sy nabyheid. Hy staan groot en rustig daar, asof hy haar ten volle vertrou.
Die operasie verg intense konsentrasie, en meganies pas sy alles toe wat sy geleer het. Die hele wêreld konsentreer in hierdie vrouelyf, haar twee hande en die instrumente wat die teatersuster aangee.
Dit ís toe ’n buisswangerskap, en Brenda handel alles onder Charl se wakende oog af.
Uiteindelik maak die verpleegster die bandjies van haar operasiejurk los en sy trek dit uit. Sy voel ’n hand op haar skouer en kyk om. Dis Charl, sonder sy masker en jurk.
“Welgedaan. Jy het my nie eens nodig gehad nie.”
Sy grysblou oë hou hare gevange. Sy glimlag dankbaar.
“Dankie dat jy gekom het. Ek het groter geskrik as wat ek moes. Volgende keer sal ek meer selfvertroue hê. Ongelukkig het die baba nie oorleef nie. Die arme jong ma. Sy gaan so hartseer wees as sy bykom.”
Sy blik versag toe hy die trane in haar oë sien. “Ja, sy gaan treur. Dis maar ons lot om met mense se vrese en teleurstellings ook saam te leef. Die gesonde geboortes en die blydskap maak gelukkig op vir die hartseer kere.”
“Dis juis oor dié hoop en die vooruitsigte