Hartklop Omnibus 1. Malene Breytenbach
onthou elke detail van haar, maar hy sal dit nie vir haar sê nie. Van nou af sal hy sorg dat sy ’n voorraad sjokolade kry. Die donker kringe onder haar pragtige oë maak sy hart week. Sy slaap seker ook te min.
“Kom ons gaan sit iewers, dan vertel jy my hoe dit met jou gesteld is,” stel hy voor.
Sy lei hom na die teekamer, en gelukkig is daar niemand anders nie. Hy gaan sit langs haar op die bank en wens hy kan haar hand neem. Sy is nie iemand wat jy moet probeer oorweldig of oordonder nie. Hy dink aan die naam Skigtige Saartjie en onderdruk ’n glimlag. Dis net wat sy is – skigtig.
“Ek weet die eerste ruk hier by ongevalle kan nogal skrikwekkend vir ’n nuweling wees,” sê hy. “Vertel my hoe dit met jou gaan.”
Brenda kyk na hom. Sy nabyheid is, anders as in die teater, nogal eienaardig verontrustend, want sy kan nie ongevoelig teenoor hom staan nie. Terselfdertyd kan sy nie help om sy besorgdheid te waardeer nie. Hy maak sulke uiteenlopende emosies in haar wakker.
“Ek beleef die een krisis na die ander, maar ek kan dit hanteer,” sê sy. “My belangstelling lê eintlik by ginekologie – by die hele proses van geboorte van begin tot einde, en by die ma’s en die babas. Hier is ’n mens heeltyd met verloskunde besig, want die geboortes en komplikasies is op die nippertjie en jy moet red wat jy kan. Ek troos myself daaraan dat ek eendag in ’n praktyk sal wees waar dit rustiger en meer afgerond sal wees.”
“Ja, hier gaan dit byna net oor noodgevalle, maar so leer ’n mens. Jy moet altyd gereed wees en enige situasie kan hanteer.”
Hy staan op en sy ook.
“Wat doen jy tydens jou af naweke?”
“Ek gaan kuier vir Rolf-hulle, of by vriende, of ek gaan ry perd. Hier is ’n perdeplaas buite Durbanville waar ek gaan ry. ’n Vriend in Engeland het my leer perdry, of ten minste daarmee begin. Nou geniet ek dit.”
Hy glimlag. “Het jy al jou eie perd?”
“Nee, ek leen een, maar ek sal nog eendag my eie perd aanskaf.”
“Ek ry ook graag perd.”
Hy sien dat sy half skrik en hom agterdogtig aankyk. Sy dink seker hy skimp om haar te ontmoet. Vinnig voeg hy by: “Maar deesdae het ek nie veel tyd vir perdry nie, my lewe is so besig.” Hy sug effens. “Ek moet seker maar huis kry.”
Sy loop saam met hom voordeur toe en sien dat suster Hendriks hulle uit die gang dophou. Dié het al erken dat sy gaande is oor hom en sy hou hom altyd dop. Brenda voel die suster se oë deurpriemend op haar, maar sy kyk nie om nie.
“Jy het jou vanaand besonder goed van jou taak gekwyt,” komplimenteer Charl haar. “Soos ’n ervare verloskundige. Ek sou nie beter kon doen nie.”
Verras en bly kyk sy na hom op. Sy waardeer die warmte in sy oë.
“Komende van jou is dit vir my ’n groot kompliment.”
Hy glimlag. “Nag, Brenda.”
Hy loop vinnig weg, maar sy kyk hom nie agterna nie, want suster Hendriks staan nog steeds in die gang.
Sy kom nader. “Daardie is nou vir jou die ideale dokter,” sug sy. “Ek vrek al lankal oor hom.” Sy kyk Brenda skalks aan. “Vrek jy nie ook oor hom nie? Almal soek sy lyf. Die essies raak skoon verspot as hy die dag by saalrondes is of net sy gesig wys. Het jy dit nog nie agtergekom nie?”
Brenda klik net vies met haar tong. “Nee. En ek verseker jou: ék raak nie verspot as hy sy verskyning maak nie. Hy is net ’n baie goeie ginekoloog, dis al. Ek soek nie sy lyf nie, maar sy brein en sy kennis.”
Die suster se wenkbroue lig spottend. “Stel jy hoegenaamd in mans belang?”
Brenda vererg haar liederlik. “As jy beweer ek kolf links, beweer jy verkeerd.”
Sy loop aan en laat die suster agter. Sowaar, as ’n mens nie man-mal is nie, kyk hulle jou skeef aan. Sy het net nie tyd om te mors nie.
Al is Charl Naudé die enigste man wat haar tot dusver kon oortuig dat daar wel mans is wat die moeite werd is om mee te trou, is hy ongelukkig reeds getroud, en sy heul nie met getroude mans nie.
Brenda is so moeg na ’n skof van byna ses-en-twintig uur dat sy voel asof sy op haar voete aan die slaap kan raak. Sy moes ’n hele aantal noodgevalle hanteer.
“Ek gaan nou huis toe,” sê sy vir die kliniese beampte wat haar aflos. “As ek nou my oë toemaak, slaap ek staande soos ’n perd.”
Dis al aand en sy het nie verwag om so lank by die hospitaal te bly nie, maar sy kon nie die pasiënt by wie daar fetale nood was, los nie. As ’n noodkeisersnit gedoen moet word, kan jy nie sê: “Ekskuus, ek is moeg, ek gaan eers huis toe” en “Kom môre weer” nie. Sy sal ook nie die pasiënt vir die volgende kliniese assistent oorgee nie. Wat sy begin, maak sy klaar.
Dis inderdaad soos Charl Naudé gesê het: babas kom nie op bestelling nie. Hulle kom enige tyd van die dag of nag.
Toe sy buite kom en die ent na haar motortjie stap, bibber sy van die koue, want sy het net ’n dun wit jas aan. Nou moet sy net so gou moontlik by die huis kom. Al wat sy wil doen, is slaap.
Die deurhandvatsel voel soos ys toe sy daaraan raak. Dis amper winter en die aande raak snerpend koud. Elke dag sê sy vir haarself dat sy ’n warm jas in haar motor behoort te hou, maar dan vergeet sy weer. Sy skuif agter die stuurwiel in en skakel aan. Die enjin maak so ’n huilgeluidjie en vrek summier.
“Nee, Saartjie, jy kan my nie nou in die steek laat nie!” roep sy moedeloos uit.
Weer probeer sy, maar Saartjie wil nie lewe kry nie.
“Ag, jou battery is seker pap,” kla sy hardop. “Wat nou?”
Sy moet gaan hulp kry. Iemand sal dit met jumpers vir haar kan laai, maar sy is te moeg om te gaan soek. Haar voete is loodswaar van moegheid en haar rug is stram van ure lank staan.
Met haar voorkop leun sy teen die stuurwiel en probeer vir ’n oomblik ontspan.
Sy skrik wakker en kyk verward op. Dis donker, maar ligte skyn in die parkeerterrein. Sy sit nog in haar motor en sy is yskoud.
Iemand staan by haar venster!
Toe besef sy dis Charl Naudé. Dank die hemel. “Brenda, is jy orraait?” hoor sy hom vra.
Sy rol die venster af en die koue lug slaan haar in die gesig. “Ek … m … my m … motor w … wou nie v … vat nie.” Hemel, sy praat klappertand. Dis regtig ysig.
Hy maak die deur oop. “Kom, ek neem jou huis toe. Ek sal jou motortjie laat insleep, of iemand kry om dit môre aan die brand te kry.”
Sy voel hoe hy haar arm vat en haar uithelp. “Maar mens, jy bibber van die koue!”
“Ek s … sou vanm … middag huis toe ge … gegaan het. Ek het n … nie ’n w … warm jas ge … gebring n … nie.”
Hy trek sy swart woljas uit en vou haar daarin toe. “Dit sal jou tot by jou huis warm hou.”
“M … maar n … nou k … kry jy k … koud.”
Hy glimlag en sy sien die ry wit tande in die swak lig. “Nee wat, ek is ’n warmbloedige ou. Ek kry jou sak. My motor staan daar anderkant.”
Sy wag dat hy haar drasak uit Saartjie haal en die motor sluit. Toe sit hy sy arm om haar skouers en lei haar na die Mercedes, waar hy vir haar die deur oopmaak en haar laat inskuif. Sy voel klaar warmer in sy jas wat sy heerlike liggaamshitte bevat en haar omvou. Dis so persoonlik soos ’n omhelsing, flits dit deur haar brein.
“Ek is só dankbaar dat jy my kom red het, ek was eenvoudig te moeg om iets te doen,” sê sy toe hy die motor aanskakel en die verwarmer hoog stel.
Hy kyk na haar en sy gesig is so deernisvol dat haar hart wild aan die klop gaan.
“Dis my plesier. Ek het gesien