Hartklop Omnibus 1. Malene Breytenbach
die stuurwiel. Gelukkig het ek pas klaargemaak met my diensbeurt. Verduidelik nou vir my waar jy woon.”
Sy beduie die pad na haar dorpshuis.
“Gelukkig is dit op my pad. Ek woon nie ver van jou af nie,” sê hy en trek weg.
Die weldadige warmte, skielike geborgenheid en gezoem van die kragtige enjin laat Brenda weer wegdommel.
Charl kyk na die moeë dog pragtige gesig langs hom en die glansende hare wat half daaroor val. Soos ’n verwese dogtertjie sit sy daar, toegevou in sy jas. Sy sug en gee ’n klein snorkie. Sy hart verteder teenoor haar. Elke keer dat hy haar sien, maak sy die oorweldigendste beskermingsdrang in hom wakker.
Nee, dis nie net ’n beskermingsdrang wat sy opwek nie … dis allerlei drange wat hy moet beheer. Hy respekteer haar as ’n toegewyde en doelgerigte mens, wat die reputasie gekry het dat sy teerhartig is, sodat almal graag met haar saamwerk. En hoewel sy nog jonk is, boesem sy vertroue in. Sy het die vermoë om die bangste pasiënt gerus te stel.
Haar vars, onopgesmukte skoonheid is iets wat onmiddellik opval. Daardie reguit blik – deurtastend, eerlik. Jy weet waar jy met haar staan. Sy lyk asof sy nooit vir jou sal jok nie.
Hy sug. Sy ongelukkigheid dra hy al lank soos ’n klip in sy bors saam en hy probeer daarby verby lewe. Maar hierdie meisie gee hom die eienaardigste gewaarwording van geluk, net om by haar te wees. Maar hy hoor ook dat sy mans met mening weerstaan. Arm grootgeword, en brand van ambisie. Pa lankal weg, seker dood. Rolf-hulle is goddank darem haar ondersteuning.
“Ons is hier. Word wakker, kleine meisie.” Brenda skrik die tweede keer die aand wakker en voel heerlik warm. Maar die motor staan voor haar huis en dis Charl Naudé wat oorleun na haar kant, sy gesig naby hare.
“O, ek was besig om te droom, van die een geboorte na die ander, en ek moes al die babas vang.” Sy lag.
Hy klim uit, maak haar deur oop en help haar uit. “Ek neem jou in en sorg dat jy veilig in die bed kom.”
Sy wil nog protesteer dat sy van hier af sal regkom, maar dan aanvaar sy die bystand gelate. Dis tog lekker dat hy so sorgsaam is.
Binne gee sy sy jas terug. “Dankie. Hierdie jas het my lewe gered. Ek het amper verkluim daar in Saartjie.”
Hy staan voor haar, groot en oorweldigend, en doen snaakse dinge aan haar lyf en gemoed.
“Jy lyk voos,” sê hy simpatiek. “Gaan trek nagklere aan en klim in die bed. Ek gaan vir jou iets te ete maak, as jy nie omgee dat ek in jou kombuis rondkrap nie. Dan sal ek jou los om ’n behoorlike slapie in te kry. Ek sal sorg dat ek die deur agter my sluit as ek uitgaan.”
Sy besef sy is te moeg om te stry en gehoorsaam net. Sy trek dadelik nagklere aan. Môre sal sy lank in ’n skuimbad lê. Sy hoor hom in die kombuis werskaf en glimlag. Hy klink of hy weet wat hy doen. Hy help seker sy vrou by die huis.
Sy vrou! Brenda vries ’n oomblik. As daardie Maureen wat glo so jaloers is, moet weet waar haar man nou is, sal die vere waai.
Nee, sy sal seker nie daarvan te hore kom nie. Brenda is in elk geval te moeg om haar nou daaroor te bekommer.
Charl vind broodrolletjies, kaas en tamatie, smeerbotter, agurkies en die eetgerei. Hy smeer, sny, kap en kerf totdat hy vier ordentlike broodjies het. Twee maak hy in kleefplastiek toe en sit dit in die yskas, en die ander twee sit hy op ’n bord, op ’n skinkbord, met ’n papierservet.
Hy kyk rond na die inhoud van haar huis. Sy het hier en daar mooi goedjies, ’n hele paar goeie boeke, en alles wat nodig is as jy eenvoudig lewe. Hierdie is nie die plek van iemand wat ure by die huis deurbring nie. Dis net ’n afspringplek waar jy vinnig eet, stort en aantrek, en dan weer uitgaan om te werk of wat ook al.
Hy wens hy kon dit vir haar meubileer. ’n Mooi handgeweefde mat vir die sitkamer kry. Nee, hy is nou verspot. Dis die begeertes en gedrag van ’n besitter … ’n minnaar.
Hy loop na die kamer en tref haar in die bed aan, bedlamp aan en haar oë toe. Maar toe hy die skinkbord langs haar neersit en op die bed gaan sit, gaan die groot blou oë oop.
“Haai, wat het jy vir my gemaak?” vra sy, maar die stemmetjie is yl van die moeg.
Sy is so naby, hy wil sy hand uitsteek en aan haar raak, maar hy doen dit nie.
“Broodjies. Wanneer het jy laas geëet?”
“Lank laas.”
“Probeer eet, al is dit net een.”
Sy neem die broodjie en hap. Hy kyk hoe sy kou en sluk en sy hart swel.
“Wil jy nie koffie of iets drink nie?” vra sy. “Jy was vanaand so goed vir my, ek skuld jou ten minste lekker koffie.”
“Nee, dankie, dit sal my net wakker maak en ek wil vanaand vroeg inkruip.” Hy kyk op sy horlosie. “Wel, dis al tienuur. Nie meer so vreeslik vroeg nie.”
“Dis my skuld …”
“All in a day’s work.” Hy glimlag en kyk hoe sy eet.
“Wil jy nie asseblief die ander een eet nie? Ek is te moeg om twee te eet.”
“Wel … net die helfte.”
Hy breek dit versigtig in twee en hap.
Brenda kyk deur haar wimpers na hom. Sy kan nie glo Charl Naudé sit hier op haar bed nie. Hy het nou werklik die perfekte bedside manner. Hoe mooi is hy nie vir haar nie. Sy hare krul effens by sy ore en sy baard skyn swart onder sy vel. Hy het seker vanoggend laas geskeer. Sy oë lyk blink en lewendig. Word hy dan nooit moeg nie?
Sy eet haar broodjie klaar en skrik toe hy die servet optel en haar mond en wang afvee asof sy ’n kind is wat morsig geëet het.
“Jy is vol botter en krummels,” jok hy. “Dit sou alles aan jou kussing afgesmeer het.”
Hy staan op en neem die skinkbord. “Lê en maak jou toe. Jou oë kan skaars oop bly.”
Brenda sak af teen die kussing, en ten spyte van die rillings wat hy haar gee en die opgewondenheid oor sy teenwoordigheid, oorval die slaap haar.
Charl kom weer in en staan langs haar bed. Lank kyk hy na haar. Dié meisie kruip in sy hart, moet hy aan homself erken. Hy trek die kombers tot by haar ken soos hy met ’n kind sou doen.
Sal hy toegee aan die versoeking?
Hy buk af en soen haar op die wang. Haar unieke geur vul sy neus en hy hou daarvan.
Toe skakel hy die bedlamp af, en die ander ligte, sorg dat die voordeur op knip is, en vertrek.
7
Brenda word wakker toe dit helder lig in haar kamer is. Vir ’n paar oomblikke lê sy stil en onthou wat die vorige aand gebeur het.
Charl was hier. Hy het haar huis toe gebring, versorg en in die bed gesit. Hy het vir haar kos gemaak en saamgeëet. Toe het hy verdwyn.
Sy het gedroom hy soen haar …
Haar hart is sommer oorstuur as sy aan alles terugdink. Wat sou van haar geword het as hy nie daar by haar gevrekte motortjie opgedaag het nie? Hy is soos haar beskermengel. Sy glimlag toe sy dink aan al die kere dat hy haar bygestaan het en vryf oor die duvet. Net hier het hy gesit.
Gelukkig voel sy nou uitgerus en sommer weer lus vir die lewe. Sy spring op en loop kaalvoet kombuis toe om koffie te maak. Sy gaan staan verbaas. Die koffie, die beker, suiker en lepel is alles mooi op ’n skinkbord uitgesit. Charl moet opgewas het, want daar lê nie ’n krummel nie. Sy maak die yskas oop om melk vir die koffie uit te haal, en daar sien sy die twee broodjies, netjies toegedraai.
Sy lag en skud haar kop. Hy is soos die goeie fee wat in die nag kom, alles skoonmaak en dan kos maak ook. Hoe dierbaar van hom. As sy haar eerste koffie inhet, sal sy die broodjies eet, want nou is sy lekker honger.
Daarna gaan sy in ’n warm bad lê en haarself skoon skrop van die vorige vyf-en-twintig