Hartklop Omnibus 1. Malene Breytenbach
Hy klink amper bewoë en sy voel deernis vir hom. Hy wil so graag self kinders hê, maar hy word dit ontsê.
“Ek kon professor Aucamp geskakel het,” sê sy verskonend. “Ek hoop ek het jou nie te veel verontrief nie.”
“Nee wat, ek is mos beskikbaar. Ek help al jare lank as konsultant. Al het ek ’n praktyk, wil ek graag my deel doen om aspirant-ginekoloë te help oplei. Dit gee my groot plesier om te sien hoe hulle ontwikkel.”
“Dankie weer eens.”
As hy só vir haar glimlag, word sy sommer week.
“Totsiens, Brenda. Sterkte met die werk,” groet hy.
“Totsiens, Charl. Of … ek behoort jou seker hier dokter te noem. Dis darem net meer professioneel.”
“Maak soos jy lekker kry. Ek gee nie om nie.”
Sy kyk die lang gestalte agterna toe hy wegloop. Geen man het nog ooit so ’n effek op haar gehad nie, sug sy innerlik. So asof al haar sintuie opgeskerp word.
Sy draai om en loop in die gang af. Sy sal die hartseer nuus aan die pa moet oordra, en haar hart krimp ineen by die gedagte. Arme jong mense, dis hulle eerste kind en hulle verloor hom. Dit verg altyd wilskrag om nie saam te huil nie. Sy sal hulle moet moed inpraat en probeer om haar oë droog en haar stem egalig te hou.
Charl loop na sy motor en adem die koue aandlug in. Om te dink dat dit Brenda Wiechers is wat hom laat kom het – sy wat altyd soveel selfvertroue het. Haar hande het egter nooit gebewe toe sy geopereer het nie. Sy was doelgerig en het haar goed van haar taak gekwyt.
Hy het hom nog klaargemaak om te kritiseer en raad te gee, maar dit was nie nodig nie. Sy het die vrou ook korrek gediagnoseer en waarskynlik haar lewe gered. Maar dis so jammer oor die baba. Hy kan nooit gewoond raak aan die hartseer wat mense by so ’n verlies ervaar nie. Het die man sy vrou maar vroeër hospitaal toe gebring. Nou moet die arme Brenda die slegte nuus aan hulle oordra.
Dié meisie het hom gefassineer van die eerste oomblik dat hy haar gesien het. Sy is hipersensitief en vreeslik trots. Die nekkie is so styf. Maar jy sien sommer sy is ’n vrou met hart, met deernis vir haar medemens.
Sy het baie meer ruggraat as sy arme nefie Thomas. Hy het Thomas al uit ’n paar moeilike situasies gered, maar die een ding wat hy nooit vir hom sal doen nie, is om ’n aborsie uit te voer op ’n meisie wat hy swanger gemaak het. Die lewe is heilig en moet gerespekteer word.
Gelukkig was die swangerskaptoets van die matriekmeisie wat in Thomas se eerste jaar gedink het sy is verwagtend negatief.
Hy sug toe hy dink hoe Maureen nou weer tekere sal gaan omdat hy uitgegaan het om ’n vroulike kliniese assistent by te staan. As sy moet weet dat dit die mooi meisie van die aand van Arnold se partytjie was, sal sy nog meer ontsteld wees.
Met haar jaloesie en selfsug het sy sy liefde doodgesmoor. Hy is siek en sat vir haar scènes oor niks, en haar ooraktiewe verbeelding. Hulle is al so lank ongelukkig. Is dit nodig om so voort te gaan terwyl hulle nie eens ’n kind het om hulle bymekaar te hou nie?
6
Vir Brenda was haar eerste week as kliniese assistent vreesaanjaend. Dit het soms gevoel asof net stuwings van adrenalien haar gehelp het om deur alles te kom. Die interns, die mediese beamptes, die studente, die verpleegsters – almal vra vir haar wat hulle moet doen.
Sý moet die leiding neem en kophou, asof sy al lank in die land en baie ervare is. Haar handlangers – die studente-interns, wat hulle essies noem – moet vorms invul, x-strale neem, monitors opsit, bloed trek en bloeddruk neem. Die verpleegsters gee inspuitings. Sy en die ander kliniese assistente moet egter die operasies doen, en die krisisse en komplikasies hanteer. Meesal kontak hulle nie eens die konsultante of professore wat aan diens is nie, want daar is eenvoudig nie tyd nie. Hulle moet maar net self regkom.
Daar is boonop ’n tekort aan personeel en daarom gaan dit vir haar meer druk as in die Londense hospitaal. Soms is die sale stampvol en moet vroue twee-twee in ’n kamer kraam. Brenda kry oefening van hardloop deur die lang gang met sy vier kamers vir vroeë kraam, die ander drie kraamkamers, die nageboorte-area, teater en herstelkamer. Sy is seker sy kan nou al haar pad geblinddoek vind.
Aan diens kry sy skaars tyd vir slaap. Daar is banke in die teekamer waarop personeel kan gaan lê, maar sy doen dit selde. Sy bring vir haar kos saam werk toe, maar gewoonlik het sy nie tyd om te eet nie en vergeet sy sommer dat sy honger is.
Dis toe haar ergste krisisgeval nog gebeur dat sy tot haar verligting op die rotasielys sien dat Charl Naudé weer aan diens is. Hulle het vroegaand ’n oproep van ’n hospitaal in Worcester gekry dat ’n pasiënt met konvulsies per lugambulans na Tygerberg gebring word. Brenda wag in spanning vir die helikopter om te land.
Uiteindelik kom die ambulanspersoneel ingehaas met die vrou, wat in skok is nadat sy gekraam het en te veel bloed verloor het. Almal roep en skarrel, maar Brenda moet kalm bly, bevele gee en lyk asof sy alles onder beheer het.
Sy het klaar gereël dat die pasiënt ’n bed in die hoësorgeenheid kry, en sy vermoed dat die vrou ’n histerektomie sal moet kry as hulle haar lewe wil red. Die verpleegsters draf rond en die narkotiseur moet vir die vrou adrenalieninfusies gee en haar stabiliseer. Die ergste is dat Brenda nog nie ’n volledige histerektomie gedoen het nie. Maar nou is dit ’n krisis en sy durf nie bang word nie.
Sy besef sy moet vir Charl Naudé by haar hê, anders begewe haar moed haar dalk. Sy het al saam met professor Aucamp geopereer, maar sy weet hy is krities. Charl het ’n veel meer gerusstellende invloed op haar. Sy sal hom met haar eie lewe vertrou. Almal praat altyd van hoe hy vertroue inboesem en die bangste mens kan paai.
Sy besluit om hom te skakel. “Charl, hier is ’n noodgeval. Die vrou moet ’n histerektomie kry as ons haar lewe wil red. Sal jy my kom bystaan, asseblief? Ek het nog nie ’n volledige histerektomie gedoen nie.”
“Hou moed, Brenda, ek is nou daar,” belowe hy en sy kan huil van verligting.
Die teater word reggemaak en sy is nog aan die skrop toe hy ingehaas kom.
“Ja, dis bepaald ’n krisis,” sê hy nadat hy na die pasiënt gekyk het. Vinnig berei hy homself voor.
Vir wat soos ure voel, opereer Brenda terwyl die ander personeel – die narkotiseur, die verpleegsters, die assisterende dokter en Charl – bystaan en hulle deel doen.
Uiteindelik is dit verby. Die pasiënt word gestabiliseer en na die herstelkamer geneem. Brenda is uitgeput, maar tog tevrede met haarself. Sy het dit sowaar reggekry! Charl het wel hier en daar iets gewys, maar oor die algemeen het hy net toegekyk. Sy stap saam met hom en die narkotiseur na die herstelkamer om honderd persent seker te maak dat die pasiënt oor die ergste is.
Toe hulle uitstap, voel sy meteens hoe Charl haar elmboog neem. “Vanaand was regtig ’n vuurdoop, nè?”
“Ja,” sug sy. “Dit was die ergste wat ek nog beleef het, behalwe daardie eerste aand toe ek jou laat kom het.”
Sy blik flits oor haar. “Jy is maerder, en jy lyk moeg. Maar dit lyk darem of jy nog kop bo water kan hou.”
“Ek kan nog hou, dankie.”
Sy het die verspotste begeerte om teen sy bors aan te leun. Sy mag nie so ’n swakkeling wees nie.
Ruk jou reg, betig sy haarself, en lig haar ken. Sy wou mos kom spesialiseer; sy sal maar net aan die druk gewoond moet raak. Dat ’n mens emosioneel so gedreineer kan raak soos die afgelope week, het sy nie voorsien nie.
“Wanneer het jy laas geëet?” vra hy besorg.
“Ek is nie seker nie. Nie na elfuur vanoggend nie.”
“Jy moet sjokolade byderhand hou sodat jy darem ’n koolhidraat-inspuiting kry.”
“Ja, maar ek dink nie aan so iets nie.”
“Volgende keer sal ek vir jou ’n paar stafies saambring.”