Dokter van drome. Kristel Loots
Dis die skok wat haar sulke moedswillige vrae laat vra, sy weet.
“Glo my, dit strek veel verder as dit. Jy sal sien.”
Daarmee beëindig hy die gesprek en verbreek die verbinding.
Anastasia staan ’n oomblik soos ’n zombie met die gehoorbuis in die hand. Die man moet mal wees. Hy kan tog nie hier by haar aangesit kom nie. Om te wat? Te sien hoe sy leef?
Sy kyk vervaard om haar. As dit is wat hy wil doen, gaan sy nie die toets slaag nie. Haar varkhokkie lyk verskriklik. Koerante die wêreld oor, ’n vuil koffiebeker, kussings wat rondgestrooi is. Sy’t verbete werk gesoek die afgelope paar dae, nie nesgeskop nie. Sy weet nie eens waar die stofsuier is nie, nog minder of sy die ding al ooit uitgepak het vandat sy hier ingetrek het.
Toe sien sy haar beeld in die gangspieël en dit voel of die plafon op haar kop beland het. Sy lyk inderdaad na ’n kruis tussen Okypete en Medusa. Of soos Liewe Heksie op een van haar niemand-is-lief-vir-my-nie-dae, dink Anastasia, net duskant histerie. Met haar hare soos ’n stralekrans om haar kop en geklee in ’n T-hemp wat ’n tyd gelede al tot ’n vloerlap gedemoveer moes gewees het. Sy lyk sleg!
Na die duiwel met die woonstel. As jy ’n man op sy Achilles-hiel wil tref, kry jy dit gewoonlik nie met ’n netjiese woonstel reg nie. ’n Halfuur! Sy’t ’n skrale halfuur om haar mooi te maak en iets aan haar lyf te kry wat die vitterige dokter tevrede sal stel. Waar, o waar is Aspoester se towertante as ’n mens haar die dag nodig het? wil sy op moedverloor se vlakte van die mure om haar weet.
Sy’s nie naastenby gereed toe die klop aan die deur kom nie. Haar hare is nog klam van die stort en sy’t nie ’n tikkie grimering aan nie. Verder tol haar kop soos ’n mallemeule wat buite beheer geraak het. Dit kan seker nie al hý wees nie, kan dit? Sy’t nie eens vir hom gesê watter van die ry woonstelle hare is nie. Maar … maar hy kon seker haar naam onder by die posbusse gelees het.
Anastasia de Wit. Júffrou Anastasia de Wit. Enkel en alleen. Sonder ’n huismaat, sonder ’n man, sonder ’n kat of ’n kanarie.
Anastasia weet nie wát om te doen nie. Haar hare probeer kam of terugvlug kamer toe om ’n smeersel lipstiffie aan te sit? Met ’n hand wat so aan die bewe is, gaan sy in elk geval ’n lieflike gemors daarvan maak.
Toe daar die tweede keer aan die deur geklop word, gaan maak sy oop omdat niks anders werklik sin maak nie.
Dit kan net Juan Harmse wees wat voor haar staan, maar sy is nie voorbereid op die uitwerking wat hy op haar het nie. In haar gedagtes het sy hom met ’n wit jas en ’n stetoskoop om die nek gesien, die stereotiepe beeld van ’n dokter. Maar die forse gestalte wat haar deuropening vol staan, dra jeans en ’n T-hemp wat gemaklik los aan sy lang lyf hang. Juan Harmse straal ’n ruwe manlikheid uit wat haar heeltemal onverhoeds betrap.
Hy is … ongelooflik aantreklik, sondig aantreklik!
Die dik donker hare, liggies met silwer gestreep langs die slape en netjies na agter gekam, prominente wangbene, sterk gelaatstrekke, alles aan hom vind sy oorweldigend aantreklik. Maar dis sy oë wat haar die meeste fassineer. Daardie diep, donker intelligente oë wat haar nuuskierig bekyk sonder die geringste poging om sy belangstelling te verbloem.
Ag, berge val op my, dink Anastasia met ’n siddering wat langs haar ruggraat afgly. Ek lyk seker soos iets wat die kat uit die dam gaan sleep het.
Sy hark met haar vingers deur haar hare. Sy weet goed wat daar op haar – en dus ook op dokter Harmse – wag as haar hare so onbelemmerd gaan droog word. Krulle, wilde woeste krulle, genoeg om Medusa tweede te laat kom.
En om te dink sy het by hom gespog dat sy ’n sepiester is, hom probeer oortuig dat sy onder die Suid-Afrikaanse skoonhede gereken word. As sy opgetof is, ja, opgedollie in een van haar aandrokke wat haar soos ’n handskoen pas. Of wanneer sy ten minste ’n ruk lank voor die spieël gestaan het, omring deur haar grimeerkwassies en toorflessies. Maar nie as sy minute gelede nog in haar nagkabaai en pantoffels rondgeslof het nie!
“Goeiemôre,” groet sy verby die knop in haar keel.
Daardie fynbesnede maar baie manlike gesig van hom kan net die werk wees van een van sy kollegas, besluit Anastasia. So sekuur kon Moeder Natuur sekerlik nie ’n gesig gebeitel het nie. Die man lyk asof hy daarna vra dat daar ’n Dawidsbeeld van hom gemaak moet word wat die oorspronklike in die skadu sal stel. Hy’t die liggaam van ’n heerser. Groot kop, breë skouers en ’n borskas soos ’n rots. Koninklik imposant.
’n Metro-man as sy moet raai. Sit seker sy dae om in ’n skoonheidsalon sodat sy gesig versorg en sy lyf gepamperlang kan word. Mag wees, besluit Anastasia, maar daar is niks, soos in niks, wat verwyf is aan hom nie. Inteendeel. Juan straal soveel manlikheid uit dat dit haar kortasem maak.
Sy’t al baie van die man gehoor, gelees ook. Hy tel onder die hoë bome van die omgewing, bekend daarvoor dat hy oorval word deur hoofsaaklik vroue wat van ver af kom om van sy dienste as plastiese chirurg gebruik te maak en dan sommer vakansie hou in Suid-Afrika terwyl hul wonde herstel. Maar om so na aan hom te wees, hom in die oë te kyk, was nie deel van haar plan vir die dag toe sy vanoggend wakker geword het nie.
Hy word vreeslik geprys vir wat hy konsuis vir Suid-Afrika se toerisme doen. Daar was selfs die een of ander toekenning, as sy haar nie misgis nie. Wat ’n grap!
Die toerismebedryf en die werkskepping wat daarmee gepaardgaan, is beslis nie prioriteit nommer een by hom nie – daarop sal sy Pa se portret wed. Inteendeel. Dis oor sy eie bodemlose pot goud wat hy bekommerd is.
Anastasia trap ongemaklik rond terwyl sy na gepaste woorde soek om hom welkom te heet. Want hy mag so aantreklik wees soos wat hy wil, hy mag so beroemd wees soos wat hy wil, maar hy ís nie welkom hier in haar pondokkie nie. Hy stel haar in die verleentheid met sy onverwagte besluit om haar by die woonstel te kom haal.
Pure nuuskierigheid! Wat anders? ’n Gulde geleentheid om te sien hoe leef die mindergegoedes. Verlekker hom dalk nog in haar vernedering. Blikskottel! Hoe wens sy sy was in die posisie om hom in sy peetjie te stuur!
“Ek sien jy’t nie gelieg nie,” merk hy lakonies op, die beduidenis van ’n glimlag om sy mooi mond.
Hy staan argeloos nader, leun skielik vorentoe en vat haar ken tussen sy duim en wysvinger vas.
’n Oomblik voel dit vir Anastasia of die vloer onder haar padgegee het sodat sy deur ’n diep gat val. Sy wil haar kop wegruk, hom selfs klap as dit nodig is, maar sy is so verstom oor sy voortvarendheid dat sy haar soos ’n lam ter slagting gedra en hom bloot verstom aanstaar.
Hy draai haar gesig sagkens sodat die sonlig daarop val. “Hm,” brom hy, “die Helena van Troje-tipe. Inderdaad ’n gesig wat ’n duisend skepe te water kan laat.” Toe vervolg hy met ’n diep, donker stem: “Of op die rotse sal laat beland.”
Sy kan nie besluit of hy hou van wat hy sien en of hy daaroor kla nie. Ook kan sy nie aan iets slims dink om vir hom te sê nie. Net nie kwaad word nie, maan sy haarself. Nie die man afjak nie, nie weer toelaat dat jou bitter bek met jou op loop gaan nie. Wees bly dat die mansmens jou enigsins te woord staan en nie die gehoorbuis in jou oor neergegooi het nie.
“Is jy reg om te ry?” vra hy onverstoord en laat haar gesig los.
“Ek … ek … e … kry net gou my handsak,” stotter sy en voel-voel om haar sonder om van hom af weg te kyk.
Haar handsak! Ag, hemel tog, waar is haar handsak? Nee! onthou sy. Die ding lê nog in haar kamer. Op die bed, dink sy. Of op die spieëlkas!
Hoe nou gemaak? Sy kan Juan Harmse tog nie innooi om ’n oomblik vir haar te wag nie, sy wil ook nie. Sy wil hê hy moet so min moontlik sien wat hier agter haar rug opgestapel is. Die koerante, die CD’s wat nie weer in hul houertjies gebêre is nie, die pantoffels wat sy onder die rusbank ingeskop het. Sy weet wat hy gaan dink – as dit is hoe haar blyplek daar uitsien, hoe gaan sy spreekkamer dan lyk?
Dan maar sonder die handsak gaan, hoop sy kry niks daarin nodig nie. Maar … wat doen sy dan die hele tyd met