Dokter van drome. Kristel Loots
Toe raak hy weer ernstig. “Wat ek nie kan hanteer nie, is ’n assistent wat aanspraak maak op my en wat jaloers raak op my pasiënte. Dis nou die tweede keer wat ek met daardie probleem opgesaal was en dit kompliseer en bemoeilik my taak.”
“Is dit hoekom jy jou vorige ontvangsdame laat gaan het?”
Hy knik. “En die een voor haar. Dit raak nou regtig afgesaag, en ’n ring aan jou vinger sou ons moontlik van daardie onaangenaamheid kon vrywaar. Maar by gebrek daaraan, waarsku ek jou vroegtydig: jy mag onder geen omstandighede op my verlief raak nie.”
Sy gooi haar kop agteroor en kyk hom vierkant in die oë. “Ek verseker jou, jy het niks om oor bekommerd te wees nie. Ek raak nie sommer verlief nie en ek moet in alle eerlikheid sê die kanse dat ek op jou verlief sal raak, bestaan glad nie.” Dis haar beurt om te lag. “Aarde tog! Ek hóú nie eens van arrogante mans nie.”
Toe onthou sy van die rekeninge wat opgehoop op die tafeltjie in haar voorportaal lê en dat dit dalk nie die regte manier is om die mansmens te benader nie. “Of, altans, ek raak nie op hulle verlief nie,” voeg sy versigtiger by. “As ek vir jou gaan werk, sal ek dit streng professioneel hou.” En sal ek daarmee probeer saamleef dat jy ’n arrogante blikskottel is …
“Ek sal dit so verkies,” verseker hy haar. “Dit sal sake net soveel makliker maak. Soos ek vir jou probeer verduidelik het – jy sal veel meer as ’n ontvangsdame moet wees. Jy sal my assistent moet wees, my regterhand …”
“Jou hestertjie-my-kneg?”
“Min of meer, ja. Waar ek gaan, sal jy gaan. Wat ek doen, sal jy moet doen. As ek iemand nodig het om my by te staan met iets, sal jy daar moet wees. Behalwe natuurlik in die operasiesaal. Daar het ek jou nie nodig nie.”
Hy sou verbaas wees om te weet hoe tuis sy in ’n operasiesaal kan voel en in watter hoedanigheid sy al daar doenig was.
“Ek veronderstel jy het al bygestaan met operasies, maar wanneer ek opereer, maak ek gebruik van my ervare personeel. Mense wat die prosedures ken en ondervinding het daarin.”
“Ek sou self verkies om nie deel te hê aan die operasies wat jy uitvoer nie.”
Sy moes dit nie gesê het nie, maar die woorde het uitgeglip. Hy kyk haar lank en ondersoekend aan.
“Ek lei af jy stem nie saam met wat ek doen nie, Anastasia.”
“Ek het die grootste respek vir dokters wat rekonstruktiewe chirurgie doen,” keer sy. “Die soort wat gebreke regstel of mense wat geskend is, help om normaal te funksioneer.”
“Maar nie vir dokters wat kosmetiese chirurgie doen nie?”
“Ek verstaan nie die motivering daarvoor nie en sukkel om dit by die edelheid van die mediese beroep uit te bring. Maar natuurlik – ek besef dis ’n goudmyntjie sonder weerga.” Sy probeer die verwyt uit haar stem hou.
“Nee, jy sal nie verstaan nie, Anastasia.” Daar is ’n vreemde klank in sy stem, iets soos bitterheid. “Jy met jou volmaakte hartvormige gesiggie en jou vasvang-oë. Wat weet jy van die skade wat aan liggaam en siel berokken word wanneer die godin van skoonheid jou verbygeloop het? Dis duidelik dat Afrodite mildelik aan jou uitgedeel het. Mooi soos die môredou, met ’n lyf op die model van die volmaakte vrou geskoei. Vir jou is dit maklik om op ’n seepkissie te klim en diegene wat nie so gelukkig soos jy is nie, te veroordeel.” Hy skud sy kop meewarig. “Mooi mense het dit nou eenmaal makliker!”
“Jy sal seker weet, Juan. Jy het self taamlik voor in die ry gestaan toe daar uitgedeel is aan sogenaamde skoonheid. Jy met jou ontwerperspiere en donker, broeiende oë wat seker menige vrou aan die swymel kan kry.” Dit behoort nie vir haar nodig te wees om haarself te verontskuldig nie, en tog kry hierdie dekselse man dit reg om haar te ontsenu.
Se voet! besluit Anastasia vies. Dis nie ék wat dit verkeerd het nie, eerder hy wat sy skalpel en ander instrumente op doodgewone, gesonde vroue gebruik waar Moeder Natuur in sy oë tekort geskiet of verbrou het. Asof hy dit beter kan doen. Dit maak haar siek!
“Moet ek daarvan aflei dat jy my onweerstaanbaar vind?”
Haar kop ruk orent. Spot die mansmens met haar? Maar sy kan nie sy oë sien om die uitdrukking daarin te probeer ontleed nie.
“Onthou die goue reël, nè? Dat jy nie op my verlief mag raak nie.”
Anastasia haal ’n paar keer hard asem. “Al wat ek probeer sê, is dat jy nie so snedig hoef te wees oor mooi mense nie, omdat jy self ’n aantreklike man is, Juan. Maar nee, moenie bekommerd wees nie – ek vind jou beslis nie onweerstaanbaar nie, eerder onuitstaanbaar!”
“Jy besef seker dat jy hierdie bedenkinge oor kosmetiese chirurgie vir jouself moet hou wanneer jy met my pasiënte praat, nè?” Hy proes openlik geamuseer. “Hulle stem duidelik nie met jou saam nie, anders sou hulle nie hier gewees het nie.” Hy kyk weer ongeduldig op sy polshorlosie. “Miskien moet ek vir jou ’n bietjie agtergrond gee oor die Andersons, aangesien hulle die eerste pasiënte sal wees wat jy onder die vlerk sal neem.”
“Vandag al?” Haar stem styg.
“Hoe gouer, hoe beter. Aanvanklik sal ek hulle welkom heet en deur die proses met hulle gaan sodat jy kan sien hoe dit gedoen word, maar jy moet so gou moontlik by my oorneem. Ek het môre ’n besige dag in die operasiesaal. Ek gaan goud delf dat die byle huil en sal nie ma óf dogter se hand kan vashou nie.”
Hy knip sy skootrekenaar oop. “Ek kry net gou die Andersons se lêer. Dis maar die gewone storie, nie ’n besonder interessante geval nie. Nie eens belangrik genoeg om op my webruimte te noem nie.”
Anastasia sluk. “Bespreek jy dan jou gevallestudies op jou webruimte?”
“Maar natuurlik, Anastasia. Hoe anders gaan voornemende pasiënte weet wat ons by die New You-kliniek doen? Dit word selfs onder die vaandel van toerisme op sommige webruimtes bekend gestel.” Hy kyk haar in die oë. “My gevallestudies bied uitstekende leesstof vir diegene wat daarin belang stel.”
“Seker met voor- en na-foto’s?”
“In volkleur, helder en duidelik sodat elke oorspronklike plooi en moesie wys.”
“Met die na-foto’s tegnologies gedokter sodat dit heelwat beter as die werklikheid lyk?”
“Nee. Dis nie nodig nie. Wanneer ons een van die New You-pasiënte huis toe stuur, is ons trots op ons werk en huiwer ons nie om dit te adverteer nie. Jy kan gerus ingaan op www.newyou.co.za en kyk wat daar gebeur.”
Anastasia antwoord hom eers nie. Sy tel tot by tien … en terug. Maar sy kry dit ook nie reg om hom daarmee te laat wegkom nie. Die woorde rol oor haar lippe sonder dat sy veel beheer daaroor het.
“Liewe hemel, Juan! Hoe bring jy hierdie dinge by die Eed van Hippokrates uit? Wat van vertroulikheid teenoor jou pasiënte?”
“Ek doen dit natuurlik met hul toestemming, Anastasia. Van die begin af maak ek dit baie duidelik hoe ek dinge doen, en tot dusver was my pasiënte gewillig om saam te werk.” Hy glimlag effens. “Buitendien, die Eed van Hippokrates is argaïes. Dis ’n taamlik verwaterde weergawe daarvan wat deur die meeste mediese studente afgelê word en by sommige universiteite word dit glad nie eens meer gedoen nie.”
“Dis jammer, want dit beskerm tog die pasiënte in ’n mate.”
“’n Eed wat aanvanklik vir heidense gode afgelê is, sou nie veel water hou in my geval nie.”
Hy kyk na haar met helder, intelligente oë, die uitdaging tot ’n verbale oorloggie ’n duidelike boodskap daarin. Anastasia onthou met hoeveel drome en ideale sy sélf daardie belofte afgelê het, hoe die begeerte om ander te help en te genees in haar hart gebrand het, hoe gretig sy was om haar eerste onafhanklike treë in die mediese wêreld te gee. En sy onthou ook op watter wanklank daardie loopbaan van haar in sy spore tot stilstand geruk is. Miskien is sy die laaste een om Juan se metodes te bevraagteken. Miskien moet sy eerder met soveel grasie moontlik die aftog blaas en nie weer die onderwerp