Dokter van drome. Kristel Loots
net oor geld nie.” ’n Glimlag pluk sag aan sy mond. “Die geld is bloot ’n lekker bonus.”
“Wat gaan jy vir die Andersons doen?” verander sy die onderwerp. As Juan sy pasiënte se lotgevalle vir die hele wye wêreld verkondig, kan sy seker ook maar daarvan weet.
“Mamma Anderson kom vir ’n facelift en ’n tummy tuck, as ek reg onthou, en haar dogter wil ’n nose job gedoen hê.”
“Het hulle dit nodig?” Sy moenie vra nie, sy weet, maar sy kry dit ook nie reg om haar gramskap heeltemal opsy te skuif nie.
“Besluit self,” sê hy en skuif die skerm van sy skootrekenaar in haar rigting sodat sy die foto’s van die Andersons kan sien.
“Vir my lyk die ouer dame maar soos enige ander middeljarige tannie. Effens oorgewig met netjiese kort hare en ’n gesig wat by haar jare pas.”
“Presies. En dis ook wie sy is. ’n Middeljarige vrou met ’n lyf en gesig wat by haar jare pas. Dis juis die probleem.”
“Hoekom? Wat skort daarmee? Mag ’n mens dan nie saam met die tyd verouder soos die natuur dit wil hê nie?”
“In ’n volmaakte wêreld, ja, Anastasia, maar ons leef nie in ’n volmaakte wêreld nie. Jy sien, in die gebroke wêreld waarin ons en ook mevrou Anderson haar bevind, het die heer en meester van die huis, meneer Anderson, die pad gevat. Vir hom ’n jong bokkie gekry en sy goed gevat en geloop. Sy vrou van baie jare net so gelos met plooie en vetlae en al en vir hom ’n nuwe lewe saam met ’n vars jong vrou begin.”
“Hoe weet jy al hierdie dinge?”
“Ek korrespondeer eers ’n tyd lank met my pasiënte oor die internet voordat ek hulle Suid-Afrika toe laat kom. Veral die vroue wat ek behandel, is geneig om die hele mandjie vuil wasgoed van hul lewens voor my uit te skud. Soos te verstane, is mevrou Anderson taamlik stukkend oor hierdie laaste verwikkeling.”
Anastasia krimp ineen. Sy weet hoe dit voel om deur ’n man geweeg en te lig bevind te word. Hoewel … in hierdie oorgewig vrou se geval is sy heel moontlik geweeg en hopeloos te swaar bevind.
Sy kyk met nuwe belangstelling na die vrou se gesig. Is dit pyn wat sy in daardie dowwe oë lees? Is dit haar man se verraad wat die diep vore om haar mond gekeep het?
“En nou, Juan? Wat gaan jy daaraan doen? Wat kán jy doen? Haar gesig vir haar stryk? Haar magie vir haar platter kry? En dan? Is dit dan die oplossing vir al haar probleme?”
“Nee, natuurlik nie. Die kanse dat haar eksman weer na haar toe sal terugkom, is skraal. Om die waarheid te sê, ek voorspel hy gaan die verbeteringe aan haar nie eens raaksien nie. Sy gaan haar vreeslik uitvat en die een of ander verskoning soek om hom weer te sien met die hoop dat hy sy fout sal agterkom. Maar ek kan jou amper waarborg dat sy teleurgesteld gaan wees. As ’n man eers aan die dwaal gegaan het en ’n jong vrou aan sy sy het om sy ego te streel, sal dit meer as ’n kosmetiese operasie verg om hom te laat omdraai.”
“Hoekom doen jy dit dan?” Sy hoor hoe haar stem ’n oktaaf styg, hoe skril dit weer eens raak.
“Ek gaan dit doen omdat sy dit nodig het, Anastasia. Omdat haar selfbeeld aan skerwe is en niks of niemand haar daarvan sal oortuig dat sy goed genoeg is net soos wat sy is nie.”
“Maar dan het sy nie plastiese chirurgie nodig nie, Juan. Sy het eerder sielkundige behandeling nodig.”
Hy glimlag wrang. “Dis wat ’n mens sou dink, nè?” Hy vergroot die foto van die jonger vrou en skuif die rekenaarskerm sodat sy dit kan sien. “Wat van haar dogter?” wil hy weet. “Hoe lyk sy vir jou?”
Anastasia leun nader aan hom om beter te sien.
’n Oomblik kry sy sy manlike geur en sy skuif so ongemerk moontlik weg. “Wel, Mavis Anderson is nie juis ’n skoonheid nie,” erken sy.
“Nee. Maar sy glo sy sal een wees as ek haar neus kleiner gemaak het.” Hy draai sy kop skuins en hul koppe raak aan mekaar. “As ek in haar skoene was, sou ek nooit aan my neus laat werk nie. Dit verleen ’n eiesoortige karakter aan haar gesig wat sy gaan verloor as ek met haar klaar is.”
Anastasia kan haar ore nie glo nie. Hy erken dit! Die ellendige mansmens erken in soveel woorde dat hy operasies doen wat nie nodig is nie, maar hy vra nie om verskoning daarvoor nie. Hy probeer dit nie eens regverdig nie! Wat ’n koue, kille uitkyk op die lewe moet hy nie hê nie!
“En intussen kan daar soveel dinge skeefloop,” verwyt sy hom tog teen haar sin, “met die narkose, met die operasie self. Daar is altyd ’n risiko aan verbonde. Maar jy gaan dit doen. Jy gaan jou hande in onskuld was en dit toe-oë doen.”
Blykbaar vind hy haar verontwaardiging vermaaklik, want ’n glimlag huiwer om sy mond. “Darem nie toe-oë nie, Anastasia, en ek belowe jou, ek was my hande deeglik voor elke operasie en nie net in onskuld nie.”
Toe gee Anastasia op – hierdie man sal hom nie laat hiet en gebied nie, veral nie deur haar nie, besef sy.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.