Dokter van drome. Kristel Loots
wat ek nie tans het nie, is veronderstel om voor die tyd vas te stel of die vlugte op skedule is. Ons mors kosbare tyd as ons hier sit en wag.”
“Wat het geword van jou vorige ontvangsdame? Kon sy nie uithelp totdat jy iemand anders aangestel het nie?”
Daar spring ’n spiertjie in sy wang. “Nee. Ek moes haar dadelik laat gaan.” Hy kyk haar skielik streng aan. “Ek hoop nie ons gaan dieselfde probleem hê nie, Anastasia.”
Hy delf in sy baadjiesak om sy selfoon uit te haal en druk ’n nommer op sy blitsskakellys. “Een van die susters van die kliniek doen tydelik diens in die spreekkamer, maar sy kan nie daar aanbly nie. Baie bekwame vrou. Ek het haar in die operasiesaal nodig.”
Hy draai sy kop weg toe die persoon wat hy geskakel het, antwoord. “Sarie, jy moet my afsprake vir vanmiddag kanselleer, hoor. Ek sit hier op die lughawe vasgevang. Die vlug is vertraag en ek sal die twee pasiënte wat ek hier kom haal het, moet ondersoek nadat hulle aangeland het. Daar sal die res van die dag nie tyd wees om ander pasiënte te spreek nie.” Hy sug. “So kan dit regtig nie aangaan nie!” Anastasia hoor die irritasie in sy stem. “Gelukkig het ek iemand hier by my wat om die assistentpos aansoek gedoen het.”
Hy sug weer toe die persoon aan die ander kant van die verbinding praat. “Nee,” antwoord hy. Hy draai na Anastasia, bekyk haar weer behoorlik en skud toe sy kop. “Nee, Sarie,” sê hy, steeds met ’n sug in sy stem, “sy kwalifiseer helaas nie vir die vereistes waaraan my assistent moet voldoen nie, maar ek het nie veel van ’n keuse nie.”
Juan Harmse gee nie juis om vir my gevoelens nie, dink Anastasia vies. Watter geheime vereistes dit is waarna hy verwys, weet sy nie, maar sy kan raai dat dit iets is wat ’n mens net in ’n heilige sal aantref. Sy is helaas net ’n mens van vlees en bloed. Maar wat sy wel het om aan te bied, is ook nie te versmaai nie.
Hy bêre sy selfoon. “Kom saam,” nooi hy. “Ons kan gaan koffie drink. Die Andersons sal eers oor ’n uur of twee hier wees. Dit gee ons kans om te gesels.”
Anastasia se keel trek toe. ’n Uur of twee kan ’n ewigheid wees! Sy gee nie om as hy haar uitvra nie, maar dan moet dit die gewone vrae wees waarop sy aanvaarbare antwoorde gereed het. Alles so na aan die waarheid moontlik, natuurlik.
Juan stap voor haar uit na die News Café op die grondverdieping van die aankomssaal. Hy wys die kelnerin wat vir hulle plekke wil aanwys met die hand weg en gaan neem in die agterste hoek voor die venster plaas waar hulle ’n uitsig op die aanloopbaan het. Hierdie man sal hom nie sommer laat voorskryf nie, besef Anastasia.
Die stoeltjie wat hy vir haar uittrek, is bra regop en nie besonder gemaklik nie. Dis goed so, dink Anastasia. Ons moenie te knus hier saam sit en koffie drink nie. Ek moet in my pasoppens bly, nie te veel ontspan nie. Sy ril effens van die skielike koue na die lugversorging in die limo en vryf oor haar arms.
“Koffie, asseblief,” sê Juan toe die kelnerin nader staan. “Vir jou ook?” vra hy in Anastasia se rigting. Sy drink eintlik tee, maar dis net makliker om te knik en toe te laat dat hy vir haar koffie bestel. Sy sal die kleiner geveggies verloor in die hoop om die oorlog te wen.
Anastasia kyk om haar rond. Dit wemel van die mense. Mense wat kom afskeid neem, of die gelukkiges wat geliefdes hier kom ontmoet, passasiers wat so pas geland het of wat gereed is om te vertrek. Sy lees die name van die bestemmings op die bord bo haar kop: Windhoek, Londen, Frankfurt, Buenos Aires. Verre vreemde plekke.
“Ek kan my verkyk aan die gewoel op ’n lughawe,” merk sy op om die skielike stiltetjie tussen hulle te verbreek.
Eintlik is daar iets aan ’n lughawe wat haar melancholies stem. Almal het iemand. ’n Pa en ma wat kinders kom afsien, vriende wat mekaar om die hals val en natuurlik die paartjies wat vir oulaas of opnuut aan mekaar hang asof hulle nooit weer die voorreg gaan hê nie.
Dis tog wat sy ook wil hê, wat sy begeer, al maak dit hóé seer. Iemand wat genoeg omgee om die besige pad lughawe toe aan te pak wanneer sy ’n vlug moet haal of van iewers ver terugkom. ’n Man, ’n geliefde, ’n minnaar! Iemand wat haar teen sy bors sal vashou, aan haar sal klou asof hy haar nie wil laat gaan nie. Iemand om lief te hê! Anastasia sug sag en laat haar hande slap in haar skoot val.
“Ek haat lughawens,” brom Juan. “Hier krimp my lewe korter, veral wanneer vlugte vertraag word.”
“Reis jy dikwels?”
“Hoofsaaklik vir my werk, ja. Soms word ek genooi om praatjies te lewer oor die jongste tegnieke en metodes wat ons by die New You-kliniek toepas.”
Juan Harmse het dit alles, besef Anastasia weer. Skatryk stralerjakker wat geld maak uit die Achilles-hiel wat soveel mense in hul gang strem in ’n wêreld waar skoonheid vooropgestel word.
Terwyl hulle wag, speel Anastasia senuweeagtig met die suikerpotjie in die middel van die tafel. Juan leun skielik vorentoe en neem haar linkerhand in syne. “En dit?” vra hy. “Hoekom is daar nie ’n ring aan hierdie vinger nie?”
As sy hom regtig op daardie vraag moet antwoord, sal sy moet derms uitryg wat hulle tot donker toe hier sal hou.
Sy sou hom moes vertel van Vince, hoe hy haar hart gesteel het met sy knypbrilletjie op die neus wat aan hom ’n sekere onaantasbare gesag verleen het. Vince, wat bo haar uitgetroon het en op die oog af so sterk gelyk het. Ek het gedink hy gaan die res van my lewe daar wees vir my, sou sy moes sê. Dat hy langs my sou loop deur die jare, saam met my sou lag, sou liefhê. Ek het gedink hy sou my dra wanneer ek nie self kon loop nie, my abba wanneer die pad steil raak.
Maar sy sou hom die res ook moes vertel. Van Gannaskraal en van Gerrit en van die gebeure daar wat haar drome die een na die ander laat verkrummel het. Hoe sy met haar gesig in die modder beland het en alleen daar gelê en krepeer het. Dat daar niemand was wat haar wou ophelp nie, ook nie Vince nie. Dat sy haar hand na hom toe uitgesteek het, gehoop het hy sou haar uit haar ellende lig, maar dat daar net ’n lugleegte was. Dat sy hulpbehoewend na hom toe wou opkyk, maar net sy voete van klei kon sien.
“Daar is nie ’n ring aan my vinger nie omdat daar nie vir elke skewe pot ’n deksel is nie, dokter,” verseker sy hom en trek haar hand terug. “Maak nou nie saak wát die spreekwoord sê nie.” Sy hou haar hande in haar skoot gevou. Elke keer wat hierdie man aan haar raak, duik haar maag af tot in haar skoene.
Hy glimlag sag. “Ek sien niks wat skeef is aan jou nie, juffrou.”
“Miskien is dit die probleem. Mans loop wye draaie om meisies wat veronderstel is om mooi te wees.” Sy bloos, sy weet dit, want sy voel die weggee-warmte oor haar wange blom. “Is dit nog ’n vereiste vir die pos wat nie in die advertensie genoem is nie? Dat daar ’n ring aan my vinger moet wees?”
“Ek sou dit verkies, ja.”
Sy hoef hom gelukkig nie te antwoord nie, want die kelnerin is daar om hul skinkbord met stomende koppies koffie voor hulle neer te sit.
“Een ding moet jy mooi verstaan,” sê hy die oomblik toe hulle weer alleen is. “Jy is glad nie wat ek in gedagte gehad het nie. Ek het my voorgeneem om nooit weer iemand aan te stel wat jonger as vyftig is nie.”
“Hoekom nie?”
“Omdat daar altyd komplikasies intree wanneer …” Hy aarsel ’n vlietende oomblik. “Wel, wanneer my ontvangsdames-cum-assistente op my verlief raak,” sug hy.
Anastasia stik in haar koffie waarvan sy die eerste teug wou neem. “Ekskuus?” Die vrek weet – hierdie man het ’n hemelhoë dunk van homself en kom met die vreemdste goed vorendag.
“Anastasia, die saak staan so – pasiënte is geneig om op hul dokters verlief te raak, meer nog op plastiese chirurge wat dit reggekry het om hul drome te bewaarheid. Terwyl ek hulle behandel, is dit deel van die diens wat ek lewer. Ek laat hulle goed voel oor hulself sodat hulle die moed kan hê om die wêreld in die oë te kyk.”
“Daarom gee jy voor om ook op hulle verlief te wees en dit traak jou nie as jy hul harte breek nie?” Sy móés dit net vra!
Hy