Brandwaterkom. Alexander Strachan
’n mensekenner wees. Nooit kan jy almal op dieselfde manier benader nie. Oom Lelik Piet verg ’n heel ander aanslag as mevroue De Swart en Moolman wie se boedels hy laas jaar afgehandel het.
Met dié twee weduwees had hy op die beginsel van gunste en gawes gewerk. In hul laaste maande het hy nie meer rekeninge uitgereik nie. “Nee wat, voortaan doen ek die belasting en geldsake verniet.”
’n Bloue duit gaan hy hulle vra. Maar soos hulle sal verstaan, benoem hy hom in die testamente wel as begunstigde vir die kontant in hul boedels. Dis hoe hy die saak sien. Sy deel sal hy eers neem die dag wanneer hulle die geld in ieder geval nie meer nodig het nie.
“Wat maak ’n mens tog met aardse goed soos kontant wanneer jy die poorte van die hemele betree?”
Vilonel het gelag. Soos hy hulle gesondheid aanskou, sal dit nog jare der jare duur voor dié dag uiteindelik aanbreek.
Hy het vars gebakte brood en konfyt by beide opstalle geëet. Eers nastergal wat hy in sy kleinbordjie geskep en met die punt van sy mes op die brood geplaas het sonder om ’n druppel te mors.
“Duidelik bessies wat vanaf middel Februarie van plante gepluk is wat in sanderige grond groei. Ook nie te suinig met die suiker nie – ’n pond vir ’n pond – afmetings wat getuig van ’n presiese hand, met liefde en sorg tot ’n meesterstuk omgetower.” By die aanhoor van dié vleiende woorde kyk die tante af in haar bord en bloos tot in haar nek.
“Die kuns van nastergal lê mos daarin dat die bessies nie almal gelyk ryp word nie,” hervat die prokureur. “Des te meer rede waarom mens so ’n nougesette hand nodig het. Elke plant moet iedere dag met ’n fyn oog deurgesoek word. Die bessies word mos oornag ryp en dan moet al die stingeltjies ook nog verwyder word eer die vruggies in die pot gegooi kan word.”
Wat hy hier proe, is bessies wat koel gehou en binne vier-en-twintig uur gekook is om die pers kleur en smaak te behou. Anders is die konfyt mos bruin en smaakloos. Nie almal weet wanneer die bessies klaar gekook het nie. Vanslewe had hulle mos ’n teelepel daarvan in ’n koue piering geskep en daaroor geblaas. As dit nie meer loop nie en sulke kreukeltjies maak, is dit gereed.
Die tante knik instemmend. Op sekere kunste kan mens nie verbeter nie, gee sy toe, dis presies hoe sy dit selwers nog al die jare doen.
Dit is merkwaardig dat dié edel vrug eintlik as ’n onkruid aangeslaan word, vertel Vilonel. Solanum retroflexum noem die geleerde mense hom. Maar vir ons is hy gewoon nastergal of msobo. In toeka se dae was hy ook bekend as “nagskade”, “nagskaal” of “nagtegaal”.
In Europa groei ’n variant wat hulle Deadly Nightshade noem – dit is natuurlik dodelik giftig vir die mens! By die eet daarvan kan jy binne ure omkap. Dit lyk of die tante ’n oomblik ineenkrimp voor sy woorde.
“Toe maar,” lag Vilonel, “ek weet van geen vergiftiging in die Vrystaat nie. Boonop is die dooddraende plant wat in Europa groei, nie dieselfde grootte as die plante wat ons hier aantref nie. Hulle bessies het op die koop toe ’n bitter smaak.”
Met die terugstoot van sy bord skuif Vilonel die dokument ongemerk saam oor die tafel. Hier en hier en hier moet die tante teken. Nee, moet haar nie nou gaan vermoei oor ’n getuie nie; dié kry hy sommer by sy kantoor. Papierwerk mog nooit so ’n voortreflike maal bederwe nie.
Op die volgende plaas kies hy vyekonfyt. “Op die dorp kry jy dit nooit só nie. Sekerlik omdat die heel vy met ’n vurk vol gaatjies geprik is sodat die stroop ordentlik kan binnedring.” Vilonel knipoog. “Ek raai dis dalkers oornag in kalkwater gelê om die skil ’n bietjie bros te maak. Al is Tante self nou nie meer helemal so aan die gang as vroeër nie, herken mens steeds Tante se hand in alles.”
Eintlik floreer dié Bybelse vrug in ’n Mediterreense klimaat – winterreënval en droë somers. Maar hier had hy nou voor hom bewys dat dit met die regte vertroeteling in Senekal se droë, kille winters ewe goed floreer as in die ideale klimaat van die Wes-Kaap. Indien nie altemits nog beter nie. As die boom al om die week natgelei word, verg dit weinig verdere aandag. Getrou sal dit jaarin en jaaruit vrug voortbring.
Vilonel stoot sy bord terug en druk liggies met die servet teen sy lippe. Hy trek die papiere oor die tafelblad nader en knip sy portmanteau met ’n hoorbare klik toe. Ná so heerlike maal het hy meer as genoeg krag vir die rit terug dorp toe. Sy hand vee vir laas oor die sagte leer van sy tas.
“Nee, bly gerus maar sit. Tante hoef regtig nie saam te stap nie, ek vind my weg sommer selwers deur die huis.”
Hy groet haar hoflik met die hand. Toe sy voetstappe wegsterf, bly sy roerloos by die tafel sit met die tjalie oor haar bobene gevou.
Enkele weke voor 2 Oktober 1899 – president Steyn se oproep tot oorlog aan die Vrystaatse burgers – is Vilonel ’n dokument aan die opstel toe die nuus hom bereik deur die ordonnans wat by die kantoor inbars.
“Môre, Veldkornet!”
Hy kyk gesteurd op. Vir goeie orde is daar juis ’n verbod in werking teen hard ry in die straat of nodeloos met ’n sweep klap.
Krygswet gaan afgekondig word! Die nuus het gister, op die heilige Sabbat, met die telegraaflyn deurgekom na Winburg en Senekal. Direk van president Steyn. Met rukke en stote vertel die ordonnans dat almal tussen sestien en sestig jaar opgekommandeer moet word.
“Ek kon nie help om self te lees nie, maar bring die nuus eerste vir Veldkornet!”
“Dankie,” sê Vilonel.
Toe die ordonnans weg is, stoot hy sy stoel stadig terug. Hy staan op en loop tot by die hortjiesvenster. Dié nuus verwag almal al weke lank. Hoekom voel dit dan so onverwags? Skielik is dit iets wat mens direk in die oë staar. Wat ’n neukery, en hy is boonop met ’n vrou getroud wat deesdae al hoe sterker Kolonie toe neig! Voor hy uitstap, trek hy sy baadjie aan. Dit is sy werk om te sorg dat almal in die veldkornetskap berig kry.
“Hou julle klaar vir enige gebeurlikheid,” het hy die burgers voortydig reeds gewaarsku.
Genoeg geweers en ammunisie? Hy twyfel nie daaraan nie – ingevoerde mausers en martini-henries, kaste vol patrone in die Vrystaat. Daar is geredelik voorsorg getref; die ding met Groot-Brittanje sit al ’n geruime tyd in elkeen se broek. Volgens kommandowet beskik elke burger oor ’n ryperd, saal, toom, geweer en dertig patrone; ook biltong en beskuit vir ag dae – nie in ponde bepaal nie; elke burger moet self uitwerk hoeveel hy nodig het. Ná die ag dae verstryk het, moet die goewerment na die burgers omsien.
Daar hang ses hoede aan die kapstok: die swart rondebolkuil wat hy tydens dorpsraadvergaderings dra; die vilthoed met die tarentaalveertjie in die band waarmee hy uitry plaas toe; sy duursame jagterspet met die Skotse kleurskema; en die effekleurige vendusiehoed met die smal rand en die patrysveertjie. Verder ook sy 1890-Derby American vir perderesies; en sy Panama Black Ribbon Newport om krieket van die plankpaviljoen te kyk.
Hy sit die jagterspet op. Die oorlog? Waaroor almal die afgelope maande getob het, is dan nou ’n werklikheid. Vilonel reken die Boere is gereed vir wat wag. Die Zuid-Afrikaansche Republiek het klaar hulle kanonne deur Delagoabaai laat invoer. Eintlik was die skrif op 31 Mei 1899 al aan die muur toe die samesprekings wat president Steyn tussen president Paul Kruger en sir Alfred Milner in Bloemfontein gereël het, misluk het.
Van Boerekant het hulle gehoor dat konsessie op konsessie aan die uitlanders gegee is. Kruger het dit ten laaste selfs toegestaan dat stemreg aan vreemdelinge gegee sou word ná ’n vyfjarige verblyf in die Transvaal. Niks het gehelp nie. Milner het getoon dat hy heeltemal onversetlik was. Van toe af was die oorlog op hande; hulle het nog net nie maand en dag geweet nie. Boonop is hierdie onmin geen nuwe ding nie. Het Rhodes dan nie al lankal gesug die hele kaart van Zuid-Afrika moet rooi ingekleur word nie?
Maar die nuus trek reeds op sy eie. Buite in die stofstraat is dit al waaroor die mense praat. “Die Ingelse!” ’n Beduiery met die hande. Hier en daar mik iemand klaar met ’n denkbeeldige geweer.
Die oorlog het skielik lewe in die dooie spul geblaas. Dit kan Vilonel duidelik sien. Min mense hier op Senekal kan sy werkstempo handhaaf. Die afgelope ruk het hy dit weer besef.