Brandwaterkom. Alexander Strachan
was ook al ’n paar keer by hom op kantoor met ’n goeie verskoning en dan sien hy hoe die mense haar met respek groet.
Hy neem die besluit alleen, oor ’n brandewyn en water in die dorpskroeg wat hy nou al maande lank nie besoek het nie. Dit is beter om aan die gedagte van miss Sutty geen oomblik meer herberg te gee nie.
Die reëlings laat hy grotendeels aan Sarah oor, wat die bedrywigheid en afsprake in elk geval geniet. Soos alle mans voor hom, is hy vir ’n wyle uitgesluit. Sy enigste verpligting is om stiptelik by die kerk op te daag.
In die lente van 1896 tree Stephanus Gerhardus Vilonel in die huwelik met Sarah du Toit Luttig. Die onthaal is ’n uithangdinee in die tuin van sy skoonouers en honderde telegramme van gelukwensing stroom vir die bobaasskut in; van so ver as Bloemfontein, Transvaal en Kaapland.
HOOFSTUK 7
Daardie eerste dag in Clarens het ek die winkeltjies en restaurante bekyk. Dit was nogal lawaaierig vir die platteland. Eintlik was daar iets kosmopolitaans in die atmosfeer met die mense wat op die kroegstoepe rondkuier.
“’n Klei-os, Mevrou?”
Smouse het allerhande snuisterye aan my opgedring. Toeriste hand aan hand, luilekker met kameras om hul nekke gedrapeer en ’n pretkarretjie met jubelende kinders in die straat af.
Sou ’n navorser hier kon werk? Ek het teruggeklim in my motor en nog een keer om die dorpsplein gery. Die besluit oor my verblyf was klaar geneem. Dit sou nie Clarens wees nie. Fouriesburg was net dertig kilometer verder. Die enigste ander dorp in die Brandwaterkom.
Mettertyd sou die petroljoggies my juffrou Esther noem. Ek dink dit was omdat ek by die universiteit klas gegee het. Dalk was daar selfs ’n status in die benaming. Dit was in elk geval lekker om op die naam gegroet te word.
Met my leeswerk kon ek mettertyd gesigte by die name plaas. Van al die karakters het Catharina Venter waarskynlik die vrugbaarste teelaarde in my gedagtes gevind. Dit kon nie anders nie. Geen mens kon die grotte betree sonder om haar teenwoordigheid aan te voel nie. Om die waarheid te sê, het ek nie nodig gehad om haar te gaan soek nie. Sy het vanself op my pad gekom.
Sou ek op die plaas Swartfontein by die Van Eedens aanklop vir kontrei-inligting het daar dadelik ’n pak folio’s oor dié vrou op die eetkamertafel beland. Partymaal was dit met ’n outydse tikmasjien getik; ander kere met die hand geskryf. Ek het haar dus nooit deur boeke leer ken nie, maar deur die Fouriesburg-mense self. Soos meneer Louis du Preez wat soos ’n kleinood aan sy aantekeninge vasgeklou het, maar tog bereid was om dit met my te deel.
Catharina se nageslag het haar herinneringe opgeteken en só het die inligting ’n weg na enkele woonhuise in die Brandwaterkom gevind. Dis hoe ek van die doen en late van die vroue onder die holkrans te wete gekom het. Catharina het my al hoe dieper by die gebeure betrek wat meer as ’n eeu voor my aankoms in die bergkom afgespeel het. Dat bloed dikker as water is, was een van die sterkste boodskappe wat my via die nagelate geskrifte bereik het.
Onder die holkrans bly sy met haar merkwaardige instinkte steeds uitreik na haar bloedverwante – in lewe of in dood. Die Ossewatrek teen die Drakensberge af, die Slag van Bloedrivier en Majuba. Hierdeur maak sy die poort van die bergkom oop tot so ver terug as die skemerwêreld van haar grootjie, die legendariese Hans Dons de Lange. Onder die loodregte kranse van Natal kon hy geen rus vir voet of siel vind sedert die Britte hom daardie laaste keer in boeie geslaan en teen die galgtrap op beduie het nie.
Dit was alles geskiedenis.
Maar die res het ek ook nie uitgedink nie, die storie het dit self aangebied. Nog terwyl ek by my lessenaar sit, was dit meteens daar, asof iemand dit spesiaal geplaas het vir my om te gebruik. Catharina Venter, het dit tot my deurgedring, was my lewende skakel na die verlede.
’n Argetipiese grotvrou sou sy juis nooit kon wees nie. Dit was immers haar taak om die geskiedenis vas te lê. Om te sorg dat ’n belangrike gedeelte van die Anglo-Boereoorlog nie onder die stof toegewaai word nie. Op die koop toe sou ek uitvind dat sy ook oor ander gawes as net dié van geskiedskrywing beskik het. Die gawe om in voeling te bly met dinge wat vir die blote oog onsigbaar was.
Niemand in die grot kon ooit raai waar haar inligting vandaan kom nie. Sommige sake is nie openlik bevraagteken nie. Sy kon mense op ’n afstand hou. Maar hoe het sy nie op haar grootjie, Hans Dons de Lange, se boodskappe staatgemaak om onder die holkrans te oorleef nie! Hans Dons, wie se verspilde bloed onder uit Natal teen die Drakensberge opgekruip het na die grot waar sy nageslag teen die Kakies geskuil het.
Soms teen Van Reenenspas op, soms Oliviershoekpas, afhangende van hoe druk die perdekarre en ossewaens voortgekruie het. Al met die kranse langs het die bloedspoor die watermerk se rooi lyn gevolg om die boodskap ongemerk te dra na waar die Boerevroue gehurk onder die oorhangkrans wag. Vroeg soggens het Catharina van die ander vroue af weggesluip om onder die ouhoutboom die boodskap vir hul oorlewing uit die onderwêreld te gaan lees.
Ná drie jaar was daar steeds vir my ’n verrassing opgesluit in die kronkelpad tussen huis en werk. Skilderagtig. Ek het die pieke se name geken. Tog het die landskap anders gelyk, na gelang van die tyd van die dag. Dikwels was dit in mistigheid gehul, soms was dit reënweer en ander kere het ek dit in die laaste strale van die son gesien. Die omgewing se sagtheid het daarin gelê dat dit onontwikkeld gebly het. Soms het ek iets van die Kaap ervaar, die berge net heelwat laer.
Toe ek van die universiteit af by Fouriesburg indraai, verbeel ek my die perde in die dorpserwe lig hul ore ’n oomblik. Hulle sak weer hul koppe en peusel aan die bale lusern. Plek-plek hang die draad slap.
Die vulstasie sal sy gehawende voorkoms nooit afskud nie – diep, lang barste in die betonryvlak waar die swaarvoertuie intrek. Op ’n vreemde manier voel ek aangetrokke tot die verval. Die hotel, die massiewe klipkerk en die skool. Steeds jammer van die moderne boupogings tussen die ou sandsteengeboue.
In die eerste drie maande van my verblyf het ek in die pastorie se ou stalle gebly wat in ’n kothuis omskep is. Toe die sandsteenhuis vakant raak, het ek dit onmiddellik opgeraap en die huurkontrak geteken.
Ek het Ficksburg toe gery en sewe Iceberg-roosbome gaan haal en dit voor my huurhuis geplant. Dieselfde jaar nog het hulle wit geblom. Op die walle van die Klein Caledon het ek riete laat kap om die heining tussen die bure privaat te maak. Ek het ’n kruietuin aan die sonkant uitgelê, twee leunstoele op die stoepie gesit en vanweë die skemerte in die huis nie gordyne in die kombuis gehang nie.
Het ek te vinnig tuis geraak hier? Ek het my voete gou gevind. My koerant elke dag by die kafee en die terloopse gesels met die man agter die toonbank. Gaan die mis opsteek of lyk dit na reën? En dan sommer my eie gedagtes oor die aanbou van ’n buitelugstort in my erf. Al is die somers te kort en sê almal jy bou niks by ’n huurhuis aan nie. Vrydagaande uiteet by die Fouriesburg-hotel. Saterdae my kunsklasse op Ficksburg. Die rekenaar in my studeerkamer heeltyd die anker waarheen ek kon terugkeer.
Dis eers die afgelope ruk dat die ongedurige gevoel begin posvat het. Ek kan nie my vinger presies daarop lê nie, maar iets dryf my. Dit kan meer as een ding wees. My studieleier se druk om my skripsie in te handig? Ja, miskien, maar dit kan nie ál rede wees nie. Daar moet nog iets wees. Soggens word ek wel met ’n hol gevoel op die maag wakker dat my studie, ná al die werk wat ek reeds daaraan spandeer het, nie aanvaar gaan word nie.
Ek weet ek maak te veel van Posman. Posman. Ja, dit is wat ek hom noem. Die halfgewerkte houtbeeld toegegooi onder ’n doek in die Ficksburgse ateljee het in my gedagtes ’n status gekry. Met tye ook iets om die skuld op te pak, soos die Suidooster, die reënweer of die sikloon in sommige lande.
Gelukkig het ek die korreksies op die uitdrukke klaar na die rekenaar oorgedra; dié papiere kan snippermandjie toe. Ook een van my werkrituele dié, om afvalpapier in ’n bondeltjie te frommel en sonder om te kyk na die mandjie te gooi. En as ek tevrede is met die aantal balletjies wat die kol getref het, staan ek op en gaan kombuis toe, altyd met my vingerpunte wat raak aan die hoekige kante van die sandsteenpilaar wat die swaar latei stut. Die werk van ruwe beitels.
Maar hoe ek aan Posman gekom het, is ook ’n hele storie. Weke gelede