Brandwaterkom. Alexander Strachan
kom ek agter daar is ’n aanduiding van ’n arm met ’n brief in die hand. Die volgende dag nog het ek in die werkwinkel begin saag en wegbeitel. Onder my tam gevatte hande was Posman se geboorte aan die plaasvind.
Die vloer is altyd so koel onder my voete. Gewoonlik sit ek ook dadelik die musiek aan. Die klanke uit die luidsprekers vul die huis en trek in die gordyne in. In die musiek blyk enigiets ’n moontlikheid te wees. Net soos in hierdie bergwêreld waar die sleepmis winteroggende met spookvoete uit die valleie loop en tot binne-in die huise sluip. Ek het gou deel van dié sprokieswêreld geword. Dit was of die bergkom nog heeltyd vir my gewag het. Die aanvanklik vreemde name was deel van my woordeskat – elkeen met sy eie storie.
Die musiek laat die lang dag se tamheid voor die geskiedenisklas stadig uit my lyf vloei. Dit moet my instel vir die skryftaak, my verbeelding losmaak. As ek my nie teësit nie, sal my gedagtes hulle eie loop neem.
Só word ek na Vilonel verplaas.
Toe skielik weer die onrustigheid, asof ek koud kry. Miskien was dit maar net die kilte van die bergwêreld, maar ek het my trui aangetrek, al was dit hoogsomer. Ek het geluister, maar selfs Posman was stil. Met my roetine tot stilstand ná die dag se klasgeëry, het alles ’n bietjie onnatuurlik gevoel, asof my hande steeds na ’n stuk bordkryt gesoek het om ’n begrip vir die studente neer te pen.
Ek gaan sit in die leunstoel. ’n Effense lamheid spoel oor my. Ek kan voel hoe dit gebeur. ’n Half doellose gevoel. Dis net tydelik, weet ek darem. Ek moet dit net onthou. My dag was te vol, te aan die gang. Maar ek is nog lank nie gereed om te gaan slaap nie.
’n Oomblik huiwer ek. Ek gaan my nie net oorgee aan die mankoliekigheid nie. Toe stoot ek die deur oop en stap in die donker uit. Onder my kaal voete is die gras stekelrig; die tuin oorbekend en terselfdertyd vreemd.
Daar is nie naggeluide nie, dit is heeltemal stil. Die skerp Vrystaatse lug byt aan my vel; ek asem diep in en kyk op na die sterre. Amper ’n gevoel van duiseligheid. Ek asem uit. Alles voel so helder en naby, ek wil met my hande daarna reik.
Ek ken my pad toe-oë deur die tuin. Die afbeelding van die peerboom en die buitegeboutjie. Langs my is die dowwe vorm van my motor en oorkant die stukkie oop grond staan die hoë kerkgebou geruisloos teen die naglug. Nog verder aan lê die township se rug. Ek weifel by die tuinhekkie.
Ek kry dit nie dadelik nie. Dis eers toe ek tussen die lae Iceberg-roosbome gaan staan dat ek die boodskap kry. Die berig van die reisiger wat onderweg is. So duidelik dra die tyding in die yl lug dat daar in my gemoed nie die minste twyfel bestaan oor die koms van dié persoon nie. Ek kyk oor die huise se donker dakke en wonder wanneer hy gaan arriveer.
HOOFSTUK 8
Ek het nie verwag om my naam, Bullet, te hoor nog voor ek die plaas se stof van my voete geskud het nie. In die donkerte agter my lê Dwaalpoort se werf. My hand is op die rat en ek sit oor na tweede, toe na derde. Die spotlights van die four-by-four volg die smal plaaspad deur die lang gras.
Plek-plek stadiger vir ’n bosbefokte koedoe wat agter die lig aan voor die bakkie wil inspring. Versigtig deur die drif. Ek wil nie nou al my vrag opdonner nie. Anderkant teen die opdraande uit. In die verte kan ek ’n mens se gedaante by die plaashek sien staan. ’n Langerige figuur in die bakkie se ligte.
Eers toe ek stilhou, herken ek Arthur Nkosi. “Môre, Bullet,” groet hy my. Hy tel die bondel langs hom op en klim by my in. Ons vat die pad na die jagveld toe saam aan. Dae lank tot net voor die moerasse, waar ek hom eers sal aflaai. No time spent on reconnaissance is ever wasted. Dis hoe ons altyd in die weermag geglo het. Hy moet kontakte tussen die mense opbou en sy oor teen die grond hou. ’n Ekstra oog beteken baie op ’n jagtrip in ’n vreemde gebied.
“Luister wat die mense praat,” sê ek, “vra uit oor die olifante. Dis hoe dit altyd begin. Maar kyk heeltyd uit vir ander dinge. Partykeer dink mens jou pad loop soontoe, maar dan vind jy uit dis eintlik anderkant toe. Dit hang alles af van hoe jy die boodskappe hoor.”
“Hoe lank?” vra Arthur.
“So twee weke, dan kom ons bymekaar.”
“Dis reg so, ek was al hier.”
Hy vat die geldsakkie by my aan. Toe ek omkyk, stryk hy reeds op ’n voetpad aan; lang, selfversekerde treë.
Vir eers alleen weer verder met die bakkie.
Stofpaaie en afdraaipaaie. ’n Pap wiel en ’n radiator wat verstop. ’n Padkaart wat begin kak praat. Die son kom altyd in die ooste op. Tot by die laaste groterige dorp waar ek die permitte en kontrakte sal uitsorteer. Langafstandoproepe oorsee, terwyl Dwaalpoort al hoe vaer in my gedagtes word.
Saans by ’n vreemde kroegtoonbank. Skemerlig. Ander glase en sweet. ’n Dubbel met ys. ’n Nuwe dartbord en stemme wat ek nie ken nie. In die deur ’n beweging. ’n Reuk wat jou laat opkyk. Dit is die een ding van ’n vars jagtrip; dit bring altyd iemand vreemds op jou pad.
Ek draai die four-by-four se neus noord. Die paaie word al hoe smaller, die bos digter, tot by die volgende halte. Min plaaslike mense hang hier rond, dié wat oorstaan, het ’n ver pad gekom.
Net die kroegman ken my naam – ou army connection. Ons paaie kruis elke nou en dan. Vroegmiddag is daar nog nie veel beweging nie. Sodra die son sak, begin die bakkies intrek. Iewers uit die stof uit. Die manne is dors en gatvol.
Almal moer en gone op pad iewers heen om sy luck te gaan try. Die hele adder besmette bos ruik dan so geil na belofte. Jy trap net rondom die mambas en spinnerakke deur na waar die swaarste ivoortand wag. Elke fokker het ’n plan. As die drank begin trek, deel hy dit ongevraagd met jou. Veel langer kan hy dit in elk geval nie in hom opgekrop hou nie.
Die woorde kom na jou toe aan soos ’n plaat wat deurgespeel is. Niks daarvan is uniek of oorspronklik nie. Die idee is al hoeveel keer vantevore getoets. In die klammigheid van die bos het jy lankal geleer om te maak of jy luister. Dit klink of ’n masjiengeweer vuur. Watch hom, hierdie keer gaan hy dit groot strike, ná al die jare het sy skip uiteindelik gekom.
Ek druk met my elmboë op die toonbank. My blaaie is natgesweet. Die ys in my glas het vinnig gesmelt. Hoe gaan ek my eende in ’n ry kry? Ek draai die laaste bietjie drank onder in die glas rond. Die ysblokkie rinkel flou. En toe is dit daar. In die geroesemoes van stemme terwyl die kroegman ’n vars drankie voor my neersit en ek in my sak vir die geld voel. Skuins oor my skouer sien ek die figuur in die kroegdeur staan. Langerig en regop, soos Arthur Nkosi. Ek kyk weer, maar dis nie hy nie, dis iemand anders.
Die man het intussen teruggetree in die donkerte. Ek los my drankie op die toonbank en stap buitentoe.
Ons staan langs my bakkie en praat. Nuus trek in die bos, vertel die man en beduie met sy hand. Dis hoe hy gehoor het waar ek is. Arthur Nkosi het hom gevra om te kom. Nee, Arthur is besig met ander goed. Dit was nie maklik om hier uit te kom nie. Hy moes meer as een keer skelm op ’n lorrie klim. Voor hy verder praat, hou hy sy hand uit dat ek hom betaal. Nadat hy die geld voel-voel in die skynsel van die kroeggebou getel het, druk hy dit in sy baadjiesak.
Ja, sê hy, dit is die boodskap soos Arthur se mense dit doer onder in Suid-Afrika gehoor het. In elk geval is hier in die bos nie op die oomblik werk vir mense met four-by-fours nie. Hy kyk my aan asof hy wil sien of ek gaan stry. Dinge gebeur maar soos dit moet. Elke mens het ’n pad om te loop. Hy is moeg en gaan nou eers agter die kroeg by die hutte kuier.
Terug in die kroeg sien ek ’n lang pad voor my lê. Ek luister met ’n halwe oor na die kroegpraatjies; daar is ander dinge in my kop. Die afgelope ruk se gesukkel om ’n kontrak te kry maak nie meer saak nie. Minder gewere, spinnekoppe en jagstories. Maar kouer nagte. En van alle dinge: boeke en geskiedenis; dalk nog die geselskap van ’n vrou – die verkenning van ’n berglandskap. Die gras in die ou voetpaaie moet weer oopgekap word.
Om na die dinge van ’n eeu gelede te gaan soek, is nogal iets. Dit klink na ’n ingewikkelde operasie. Die berglug sal nog dieselfde wees. Van die destydse oorlogslawaai sal nou net die naklank van die geweerskote nog in die lug hang. Dalk ’n geroeste patroondoppie of twee as jy weet waar om te kyk. Die spore is toegewaai,