Brandwaterkom. Alexander Strachan

Brandwaterkom - Alexander Strachan


Скачать книгу
was lig soos ’n veertjie aan sy arm. “Sutty, ’n ou Skotse van,” het hy begin aanvoor. Iewers moet ’n man darem begin. “Miss Louise Sutty?” het hy haar naam geraai. “Laura? Leslie?”

      “Oh, mister Vilonel, you shouldn’t, you know?” Daar was ’n guitige klank in haar stem wat hom weer laat raai het.

      “Leah? Lilybet?” Nee, laat hy weer probeer. “Lyonesse – leeutjie?”

      “But, mister Vilonel …” Hulle ken mekaar dan nog kwalik; en ver van goed genoeg om mekaar sommer nou al op die voornaam aan te spreek.

      “Seker een van daardie mooi ou Keltiese name,” het hy haar nietemin later die aand steeds openlik gevlei. Vilonel is beïndruk. Bespeel sy regtig die piano sonder die bladmusiek voor haar en kan sy vrylik uit die poetry aanhaal?

      Miss Sutty het op Eunice in Bloemfontein skoolgegaan, verneem Vilonel oor die vloer tussen die systappe deur. Daarna die finishing school in die Kaap. Dis waar sy die passe van die ingewikkelde danse onder die knie gekry het. Goddank is die tyd van wye hoepelrokke verby, sy is hier téén hom wanneer hulle wals. Sy doen dit so grasieus, so natuurlik, haar rug by tye ver agteroor gebuig, terwyl Vilonel een-twee-drie in sy agterkop wanneer hy bang is hy verloor die maat.

      Maar sy was nie allenig by die dans nie. In die hoek op ’n stoel het haar moeder toegekyk dat sy nie openlik met die jongeheer Vilonel flirt nie. Gelukkig was daar baie dansers tussen haar en die swaaiende paartjie. Miss Sutty stuur haar boodskap vir Vilonel met haar wimpers, haar heupe en haar kniebuiging wanneer die trompet die wals inlei. En dan die masurka – lang, vinnige treë en draai, lang, vinnige treë en draai.

      Vilonel se kop duisel, hoe anders is hierdie enetjie met die spierwit vel en auburn hare as die Boeredogters op die omringende plase. Sy kyk hom vas in die oë, haar voete volg elke beweging vanself terwyl hy haar so sekuur oor die dansbaan stuur. Wanneer sy draai, waag hy ’n blik na haar dun korsetmiddeltjie. Heeltyd ruik hy haar eau-de-cologne.

      Sal hy dit waag, haar fyn regterhand in syne ’n betekenisvolle drukkie gee, net om die water te toets? Hy skraap moed bymekaar, sy moet dit darem duidelik kan voel. Hy druk met die binnekant van sy duim. Daar werk dit tot sy verbasing onmiddellik, want hy sien die skewe glimlaggie om haar mondhoeke en sy trek nie weg nie.

      As hy nou saam met haar in die roostuin kon gaan wandel, sy hand liggies om haar middel om haar te ondersteun – vir eers. Maar daar sit haar dear beloved mother agter haar waaiertjie, piets-piets, haar twee koue oë dan diékant van die waaiertjie, dan daardie kant om deur die dansers die dogter in die oog te hou wat sy so streng na haar Victoriaanse hand geleer het. Surely, it is not appropriate for a young lady of proper upbringing to wander off with a young gentleman, piets-piets, even one who is regarded high society like our respected mister Vilonel, piets-piets, nes ’n beneukte leeuwyfie se stert.

      Did you fall in love with the young man that night at the Society Ball, miss Sutty? You seemed radiantly happy. Carefree, as if tomorrow did not exist. Antikloksgewys saam met die dansende pare verby die lokkende, koel bries voor die oop deur wat op die skemer stoep uitlei. Verbode terrein. Verby Bennett se Piano Sextet en die elegante digters van haar tyd.

      Come to me in my dreams, and then / By day I shall be well again! So in die dans fluister sy vir hom die digter se naam. Matthew Arnold.

      Miss Sutty kyk heeltyd op na Vilonel.

      “Lass,” terg hy haar om die draai en wanneer haar oë nogmaals saam met haar mond lag, “Lassie,” in haar oor. Nog ’n draai en nog ’n wilder een. “Miss Sutty!” lag hy uitbundig, want sy voete het die maatslag nou vanself gevind. Partykeer is sy los van hom in die draai en dan weer teen hom. ’n Oomblik rus haar kop teen sy skouer en haar hare is in sy gesig.

      Hy ruik iets eksoties, iets naas die reukwater, ’n geur wat hom nooit sou vrylaat nie. Linker- en regtervoet skuif vanself, sonder dink. Trompetgeskal terwyl die hele dansvloer in ’n beneweling verval. Paartjies sien nie meer ander paartjies raak nie. Niemand voel dit as iemand per ongeluk teen hulle stamp nie. Net in die hoek van die saal raak die leeuwyfie aamborstig soos haar stert in ’n onbeheerste tempo links en regs begin piets.

      In die weke ná die dans besoek Vilonel dikwels die South Africa Hotel. Keer die misdadiger dan nie altyd maar terug na die toneel van die misdaad nie? spot die prokureur met homself.

      Dit kan nie so ernstig wees nie. Tog kan hy die plek nie uit sy gedagte skuif nie. Die eerste paar dae is intens, veral die daaropvolgende Saterdagaand toe die herinneringe nog lewendiger word. Vilonel kan haar hare en die eau-de-cologne ruik. Hy bly haar styf ingebinde borsies voel waarvan hy heelaand gemaak onbewus was. Helaas, die saal wat daardie aand so vol belofte en afwagting was, is nou onherkenbaar leeg.

      Ná werk sit hy langsaan in die hotelkroeg. Die grootste deel van die geselskap hoor hy nouliks. “Dis hoe jy jou pond verdubbel!” Elkeen het ’n sakeplan op die hart. Lê wysheid dan nie in die fles nie! Selfs al kan nie een behoorlik koerant lees nie. Ondernemingsgees is nie in skrif opgesluit nie. ’n Boer maak mos ’n plan.

      Soos die wet vereis, is daar nie vroue in die kroeg nie. Senekal is immers nie een van die myngehugte waar besope flerries hoog skop om mans te behaag nie. In die loop van die aand ontstaan daar op vreemde wyse ’n broederskap tussen die manne. “Kom kry maar gerus jou sit, neef. Hier sal die son vanaand nie oor jou allenig ondergaan nie!” Inderdaad is daar ander saam met jou in die skaduwee van die kroeglig. Die drinkplek word ’n ontvlugting vir dié wat voel dat hulle op die een of ander manier daarbuite uitgesluit is.

      Daar is nie veel om van te kies nie. Vodka, jenewer, brandewyn of whisky. Vilonel het nou ’n nuwe gier ontwikkel. ’n Mode of ’n nuk sedert die Charity Ball? Hy drink net Skotse mout en die bestuur hou spesiaal vir hom ’n bottel aan wat hulle dan uit die mooi, gekleurde blik haal. Glenfiddich, lig van kleur en sag op die verhemelte. Hy drink sy sopie met ’n klein bietjie water uit die erdebeker.

      Soms dwaal sy gedagtes, maar dan bring die mout se geur hom terug na die werklikheid. Skotland het hy nog nooit gesien nie. Op die kaart lê dit nog verder noord as Engeland. Dit is waarskynlik kouer.

      Sy kroegmaters stamp aan mekaar en lag soos mense wat iets deel. “Het onse Vilonel se oë darem nie nou die aand uitgehang by die dans nie! Wat ’n mooi nooi nie ’n bedaarde man kan laat aanvang nie. Skoon kaatjie van die baan gewees, onse eige prokureur wat nog nooit ’n voet verkeerd gesit het nie.”

      Ja-nee, die masurka het hulle nog nie met soveel oorgawe beleef nie. Dit was iets uit ’n ander wêreld om te aanskou, nie soos hulle hier op Senekal se meelvloere gewoond is nie.

      Hulle sit in ’n halfmaan om Vilonel en hy gedoog die gekorswil – hy ís immers ’n sportman wat al vernederings op die tennisbaan en krieketveld moes sluk. Dié aand was hy seker maar bietjie uit sy vel. Kroegtaal? Ja, van voor op die wa wees, skyt die agteros op jou kop.

      “Die Skotse water is die regte ding om muisneste uit ’n man se kop te dryf,” vervat hulle. “Dis net daardie ou madam met haar neus in die lug. Is sy dan die probleem?”

      Dit lyk vir hulle alte veel of sy die leisels van die Sutty-huishouding vashou. Hoe sal mens nou weet, miskien hou sy selwers van haar Skotse voggie, saans wanneer sy allenig in haar huis is. Altemits hier en daar ook ’n stewige pond op die resiesperde, alles onderdeur die tafel van die Joodse winkel. Annerman se boeke is mos duister. Jy sal haar nooit as te nimmer self op ’n perd sien wed nie. Boonop weet sy darem seker iets van pligpleging in die huweliksbed ook, anders waar kom die fraaie dogter vandaan?

      Vilonel wil hom losmaak van die gesprek en draai die amper deurskynende mout in sy bolglas gevaarlik rond onderwyl hy opstaan. “Sutty is darem ’n Skotse van.” Hulle lag saam, maar het hulle verstaan waarna hy verwys?

      Dan verval hy skielik weer in stilte. Wat was so besonders aan daardie aand? Dit is die vraag wat hy hom al oor en oor afgevra het.

      Die geleerde grappies en siniese sêgoed wat so deel van hom is, wil maar net nie vanself kom nie. Eintlik moet hy hom dwing om aan die gesprek deel te neem. “Môre is nog ’n dag!” Hy het nie veel vir die mans te sê nie. Daarom maak hy of hy saamluister. Niemand het hom gedwing


Скачать книгу