Brandwaterkom. Alexander Strachan
die bekoring van ’n roofdier ingehou het. Sarah se arm lê oor haar kop en haar nek is effens natgesweet. Hy bly steeds vir haar kyk. Onder die dun nagrok druk haar borste en heup saggies teen die materiaal. Sy beweeg haar arm. Haar asemhaling is nou vlakker en haar oë gaan oop.
“Môre,” groet sy.
Hy knik. “Ek het jou nog ’n rukkie laat slaap.”
In die straat klap daar weer ’n sweep. Deur die venster kom die osse rukkerig in beweging. Dit was hierdie waens wat die saadjie van hoop in die Senekallers se koppe kom plant het. Die ossewa het meer as ’n vervoermiddel geword, dit was ’n gedagte aan rykdom.
By aanskoue van die waens bly die dorp op ander dinge hoop. Hulle gedagtes draai ver. Nie by boerdery nie; dié is hulle tog gewoond.
Hulle soek iets anders, ’n rykdom van elders waarmee hulle nog nie vertroud was nie. Soos die res van die Vrystaat is hulle eerste gedagte natuurlik goud. Heelparty boere vind dan ook sommer van meet af aan dié edelmetaal op hul plase – die belowendste rif op die plaas Witkop, net drie uur te perd van die dorp.
Soos dit nou die gier geword het, hou die Senekallers juis daarvan om dinge name te gee. Die Senekal Gold Company Limited word dadelik gestig. Al die opgewondenheid haal die hoofberigte van The Friend, maar die goudriwwe is nie naastenby lonend genoeg nie.
Tog weier hulle om op te gee. Solank die waens deur die dorp trek, so lank sal hulle bly hoop.
“As die Rand goud het, dan het ons diamante!”
Groot gewag word hiervan gemaak en ene mijnheer Siebrit word aangestel om binne die bestek van vier maande negentig gate te boor tot op ’n diepte van veertig voet. Hy vind ystersteen, sandsteen, blougrond en ook geelgrond, wat vir hulle belofte inhou, maar kry in totaal ’n enkele diamant.
“Is steenkool dalk ’n beter opsie?”
’n Steenkoolsindikaat word onmiddellik in die lewe geroep. Die opbrengs is egter hopeloos te min. Boonop begin die runderpes die beestroppe uitdun; Sarel Breedt, Kiewiet Jonkers en Rooi Sarel boer uit en moet met vrou en kind as bywoners op ander se plase inval.
Van die spul trek Breedt hom die kwessie van armoede die swaarste aan. As jy nou eenmaal in die wieg gelê is vir ’n tiekie, moet jy maar vergeet van ’n pond. Hy staan op die plaasgrens by oom Mooi Piet. Van een ding kan sy oë nie wegkyk nie. Die houtpaal se knoetse waaroor hy so vryf, behoort nie meer aan hom nie. Hy kan maar vryf so lank as wat hy wil. Dis nou die eiendom van oom Lelik Piet, vir wie hy voortaan sal moet boer.
Breedt was by die familie al veels te diep in sorge en dié kon hom nie meer ’n pennie voorskiet om sy plaas te red nie. ’n Dak oor sy kop, dié het hy wel. Maar hoe dun kan jy nou ook ’n riem sny? So bekla hy sy lot vir ieder om te hoor. Asof hy hom daarin begin verlustig, soos wanneer groot droogte die kos uit die vee se bekke bly vat totdat jou kwelling in opstandigheid omsit.
“In huisdraklere, oom Mooi Piet, hoor my nou mooi, dis hoe ek Gertruida voortaan dorp toe sal vat – maar om wat te gaan koop?”
“Dis nie maklik nie, Sarel,” gee oom Mooi Piet toe. Sy vee het ook erg onder die runderpes deurgeloop.
Sarel Breedt se hand bly oor die knoetse van die hoekpaal vryf. Min of meer soos jy jou werfhond se kop vryf ná dié ’n muishond tussen jou hoenders doodgebyt het. Sonder die minste kraginspanning bult die spiere op sy voorarms. Iets, iemand, wil hy vermorsel.
Oom Mooi Piet ruik Sarel Breedt se sweet. Dis die eerste keer dat hy dit só ruik. Vir ’n lang ruk praat hulle niks nie.
Breedt weeg die woorde ’n ruk in sy kop voor hy dit uiteindelik sê. “Oom Lelik Piet se juk lê swaar op ’n man se nek.”
“Dit weet ek, Sarel.”
Daar is niks meer te praat nie. Hulle groet in stilte by die hoekpaal. Die voetpad waarmee Breedt terugstap, is bekend en terselfdertyd glad nie meer bekend nie. Sy voetstappe val in ’n ander man se stof.
Toe hy by die bywonershuis opdaag, gewaar hy ’n perd onder die seringboom. Dis waarlik sy neef, Rooi Sarel, se ros. Nou van waar Gehasi? Op die stoep sit dié met Gertruida en tee drink. Kan ’n man nou nie eens meer jou rug draai nie of jy word van alle kante af beleër? Watse teedrinkery is dit dié tyd van die dag terwyl hy in die veld na ’n indringer se vee moet omsien?
Breedt stap vererg teen die stoeptrap op. “Is dit dan nou Nuwejaarsdag?” groet hy.
Gertruida slaan haar oë neer en Rooi Sarel staan op. Maar hy antwoord nie vir Breedt nie. Die runderpes het die woorde uit Rooi Sarel se mond geneem. Hy staar sy neef aan sonder om ’n woord te sê.
Al dié terugslae dryf die boere terug na die veiligheid van hul voorstoepe. Hulle besluit om eerder op hul gesaaides te konsentreer. Op die lande gaan dit ook bars, want die runderpes maai ook onder die ploegdiere. Maar daar is ander dinge om oor te praat – die lastige verbod om nie meer as vyf gesinne werksvolk op een plaas te mag aanhou nie.
Wat gaan gebeur as die families begin ondertrou? Verder is daar met die aanwas van manlike en vroulike kinders ’n som te maak. Almal weet tog dat die toelaatbare elf swart manlike knegte heeltemal onvoldoende gaan wees om ’n gemiddelde plaas van 1 053 morg te bewerk.
En Vilonel se kantoor bly bedrywig.
Onverwags ontvang hy ’n besoek van ’n groothandelaar op die dorp. Hy wil weet wat die bevolkingsamestelling van Senekal is. Dit neem Vilonel ’n rukkie om die dokument op te spoor terwyl mister Marcus geduldig wag.
“Vir 1890 wys die opname 263 wittes en 253 swartes vir Senekal. Daar was nege-en-veertig huise vir wittes en sewe-en-dertig hutte vir swartes.”
“Dis nou nege jaar later, mister Vilonel. Hoe lyk dit vandag?” wil mister Marcus weet.
“Nou hoe wil mister Marcus so iets by my weet? Mister Marcus bly dan langer as ek hier. Jode, Engelse, Duitsers, Nederlanders en Afrikaners … winkeliers, hoteliers, smede, messelaars, karweiers, timmermans, klerke en twee artse.”
Nein, dis hoe mister Marcus self ook die saak sien. Hy wou net ’n tweede, betroubare opinie kry. Dis konfidensieel, maar eintlik wil hy sy business uitbrei. Nou maak die praatjies oor die oorlog hom steeks. Hy bedank mister Vilonel en groet hom met die hand. Maak gerus ’n draaitjie by die shop, altemits wag daar ’n Hochzeitsgeschenk op hom, knipoog mister Marcus.
“Hoe nou, mister Marcus?”
“’n Present vir die troue, mister Vilonel; al is dit bietjie ná die tyd.”
Hy kan reeds die volgende klant se voetstappe op die plankvloer hoor. Ongeduldig op en af.
Dit is weer oom Lelik Piet. Sy bure bodder hom steeds. Hierdie keer steel hulle sy weiding.
“Op my verste plase ja hulle die skaap snags deur die driwwe om my gras te kom vreet. As ek nie in die nabyheid is nie, hou dit tot ’n week lank op ’n slag aan. Hulle vreet my plase onder my uit!”
“Nee wat,” lag Vilonel, “skiet sal Oom niks baat nie. Skut eerder die skape en bring hulle dorpsgronde toe. Dan moet die boere hul eie vee by die munisipaliteit kom loskoop. Ná die eerste betaling sal hulle allemintig skrik.”
Hy stap saam met oom Lelik Piet deur toe. “Tot wederom, Oom. Dis nou maar die irritasies van grondeienaarskap.”
By die deur steek oom Lelik Piet vas. “Daar was iets oor ’n goeie koop wat ek jou in die oor wou fluister.” Hy vat ingedagte aan sy oor. “My magtag, nou het dit my helemal ontgaan. Miskien was dit nie so belangrik nie.”
Terwyl oom Lelik Piet wegstap, kyk Vilonel die op die oog af verhongerde gestalte agterna. Daardie wallet laat sy sak nie verniet so onfatsoenlik bult nie, dis gelaai met eikeblare. Die ewig verslete hoed met die donker sweetvlek om die bol ten spyt. Vir wie nie weet nie, kan hy geredelik vir ’n skaapwagter of huurling deurgaan. Moet hom net nie op sy baadjie gaan takseer nie. Dit sal jou duur te staan kom. Verslons kom hy wel in dorp toe gery, só sien menige onbedagte sakeman hom voor die kop maar nie in die krop nie.
Weinig