Duet. Johan Ferreira

Duet - Johan Ferreira


Скачать книгу
gebid.

      Ons pragtige vriendin, met die sagte hart vir afvlerkvoëls en mense wat swaarkry, is ’n paar jaar gelede met die liefde van haar lewe getroud. Die plan was om nie te lank te wag voor hulle met ’n gesin sou begin nie, aangesien albei van hulle reeds in hul middeldertigerjare was. Sonder dat ons daarvan geweet het, het die paartjie die een baba ná die ander sommer vroeg in die swangerskap verloor. Die gedagte van aanneming het selfs ter sprake begin kom.

      Einde verlede jaar neem ons talentvolle vriendin die besluit om haar werk te bedank om te kyk of ’n rustiger leefstyl nie dalk sou bydra tot ’n suksesvolle swangerskap nie. Soos die Here wil, was sy kort daarna weer swanger. Dié keer het sy swanger gebly.

      En nou, ná alles wat hulle deurgemaak het, is die kleinding, ’n dogtertjie uit God se hand, gisteraand gebore. My hart sing vir my vriendin. Ek eer haar diep geloof en hoe sy blý vashou het aan God te belofte, ten spyte van die seer.

      Voel dit of julle tevergeefs vir die koms van ’n baba wag? Lees weer die verhaal van Abraham en Sarah, en van Jakob. Hou goeie moed. God is getrou.

      Here, dankie vir die wonder van nuwe lewe en beloftes wat tot vervulling kom. Amen

      20 Februarie

      Koester jou kinders

      Psalm 37:3 – Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort.

      Francois, ons oudste, moet klas draf en kan dus nie saam met Ma en Pa tussen die twee langnaweke wegbreek see toe nie. Hy studeer vanuit die huis en geniet dit wanneer ons so nou en dan die pad vat en hy die huis vir homself kan hê. Dan word daar gekook en gekuier en wéét ek sommer die twee honde wat gewoonlik by die huis agterbly, lê permanent by hom op die bed.

      Vir die tweede deel van ons kort vakansie bederf ons hom met ’n goedkoop vliegkaartjie Oos-Londen toe. Dis winderig en koud toe ons hom op die lughawe oplaai. Almal is ewe bly om mekaar te sien. Tinder, die bruin Labrador, kan nie glo haar basie is ook nou hier nie. Ons ry al geselsend met die kronkelende kuspad tot by ons blyplek. Soos ’n opgewonde kind, lys Francois alles wat hy graag die naweek by die see wil doen. Die lysie is lank. So min tyd, so baie dinge om te doen! Die weervooruitsigte vir die naweek word in detail bespreek. Môre gaan die son skyn!

      Toe ons by die huis kom, is dit al stikdonker. Net die maan verlig die klipperige paadjie na die agterdeur. Terwyl ek aandete maak, gaan lê ons kind met ’n boek op die rusbank teen die venster soos sy gewoonte hier is by die strandhuis. Ek glimlag en bekyk die prentjie van rustigheid vanuit die oop kombuis. Dis lekker om tussen jou mense te wees.

      Jou gesin is jou skans teen die wêreld daarbuite. Moet nooit die koestering hiervan as vanselfsprekend aanvaar nie. Gee mekaar jul liefde en ondersteuning.

      Here, dankie vir die koestering wat my gesin my bied. Amen

      21 Februarie

      ’n Paradys van kennis!

      Spreuke 13:16 – Alles wat ’n verstandige mens doen, word met kennis gedoen.

      Die kennisgewing van die uitverkoping kom per e-pos. Ek word deur ’n bekende boekwinkel na hul jaarlikse pakhuis-uitverkoping genooi. Die tydsberekening is perfek, die uitverkoping begin dieselfde dag as wat die skole vir die lang wintervakansie sluit. Ek laai summier die seuns by die skool op om saam te kom. Albei is ontsettend lief vir lees en sonder ’n boek in die hand betrap jy hulle nie sommer nie. Veral nie in die vakansie nie!

      Die pakhuis waar die boeke uitgestal word, is massief. Daar is rak op rak en ry op ry boeke. Stapels boeke staan oral in die gangetjies tussen die rakke rond. Nie een van ons het al ooit soveel boeke op een slag te koop gesien nie. En die prys! Ons kan koop teen R50 per kilo. Voornemende kopers kry elk ’n groot leë kartonboks wat op ’n plat trollie gelaai word wat maklik tussen die rakke rondgestoot kan word.

      Dis ’n boekeparadys. Ons kuier sommer ’n hele paar uur tussen die rakke. Daar is boeke te kies en te keur, van fiksie tot niefiksie, romans tot resepteboeke. En ons laai in!

      Die volgende oggend keer ons terug na die pakhuis vir ’n volgende rondte kopies, dié keer kom Johan ook saam. Nog nooit kon ons soveel boeke op een slag koop of bekostig nie.

      By die huis aangekom, is die boeke eers ’n paar dae lank op die eetkamertafel uitgestal om te bewonder voor ons dit op die boekrak wegpak.

      Ons leef in ’n elektroniese era. Moenie toelaat dat videospeletjies en selfone jul en jul kinders se lewe beheer nie.

      Here, dankie vir die wysheid en kennis waarmee U ons ook deur u Woord seën en lei. Amen

      22 Februarie

      Werk saam, staan saam

      Prediker 3:5 – … ’n tyd om klippe weg te gooi, ’n tyd om hulle bymekaar te maak …

      Die tweede keer dat ons by ons nuwe strandhuis gaan vakansie hou, besluit Johan dis tyd om ’n paadjie van klip te lê na die houttrap wat na die agterdeur lei. Die huis is gebou van hout op ’n stuk grond vol melkhoutbome. Dis ’n ongerepte omgewing. Ons besluit saam met ons mede-eienaars om nie ’n fyntuin aan te lê nie, maar eerder net die natuurlike bos en inheemse plantegroei tot natuurlike tuin te omskep. ’n Paadjie van spoelklippe sou dus ideaal wees.

      Min het ons besef hoeveel harde werk so ’n paadjie, wat met eie hande geskep word, sou wees. Vir die duur van die vakansie is daar elke dag klippe bymekaar gemaak en aangedra. Emmers vol, sakke vol, hande vol. Die klippe moes veral plat genoeg wees om op te kan loop. Groot en klein klippe is in die “ontwerp” gebruik.

      Soggens vroeg en smiddae as dit koeler was, is daar gewerk. Die hele gesin was noodgedwonge deel van die projek. ’n Net wat keer dat die onkruid op die stukkie aarde groei, was ons basis. Maar eers moes ons die grond gelyk maak en bossies gras en onkruid uittrek. Met growwe hande is ons saans bed toe. Soms wou ons moed opgee en het summier die klippakkery vir ’n dag of twee gestaak. Maar toe ons handewerk aan die einde van die vakansie uiteindelik klaar was, kon jy nie ’n trotser groepie werkers kry nie!

      Pak ’n projek in en om die huis of tuin saam as gesin aan. Dit toets soms die geduld, maar skep ook nouer gesinsbande as die taak eers voltooi is.

      Here, dankie vir spanwerk wat help om moeilike take draagbaar en doenbaar te maak. Amen

      23 Februarie

      Sit en staan, is niks gedaan

      Spreuke 14:23 – Harde werk bring beloning; om net te praat, bring gebrek.

      Ná die lang somervakansie is dit tyd om terug te keer huis toe. Die nuwe jaar het begin en allerlei verpligtinge wag. Ons pak die lang pad Noorde toe aan met ’n sleepwa vol wasgoed. Daar is die beddegoed wat saamgery is, handdoeke, klere, swembroeke en meer. Bondels vol wasgoed!

      By die seehuis was ons sommer met die hand. Hier is die eenvoud van alles self doen terapeuties. By die huis is dit ’n ander saak. Nou word die tasse leeggemaak en staan daar hope wasgoed die kombuis vol. Ma sorteer solank die wit, donker en gekleurde bondels. Die klam gebruikte handdoeke word opgestapel teen die oorkantste muur en die beddegoed gebêre vir heel laaste.

      Ons liewe huishoudster is self nog met vakansie. Dit neem ’n paar dae om deur die wasgoed te worstel. Ons maak beurte om die masjien te laai en die wasgoed aan die styfgespande lyn in die agtertuin te hang. Dit voel of ons nooit deur die berge wasgoed gaan kom nie. Maar soos met alles wat geduld en deursettingsvermoë verg, wapper die laaste bondel spierwit beddegoed einde ten laaste in die warm Januarieson en gee ons ons aan die plesier van niksdoen en die reuk van skoon wasgoed oor.

      “Was Doratjie jou wasgoed by die koshuis, Seun?” vra ek ons jongste nadat hy ’n paar weke vir die eerste keer op universiteit is. “Ag nee wat, Ma, ek doen dit sommer self!” kom sy antwoord.

      Maak kinders van jongs af deel van die uitvoer van take in die huis. Moenie daarvan wegskram om hulle te laat saamwerk nie. Stel ’n voorbeeld wat hulle lewenslank sal bybly.

      Here,


Скачать книгу