Lokstem van die liefde. Schalkie van Wyk
nie, reken sy en voel ’n kooltjie opstand diep in haar binneste vonk.
“Dalk kan ek met ’n paar helderkleurige kussings die somberheid van die vertrek ophelder,” stel sy taktvol voor.
“As jy dit regtig nodig vind, maar ek is nie iemand wat my aan onnodige tierlantyntjies steur nie,” sê Eben skouerophalend en beduie na ’n alkoof wat ’n ronde eetkamertafel en ses stoele huisves. “Ek sou ’n aparte eetkamer verkies het, maar ons sal beslis nie tuis onthaal nie, behalwe in uitsonderlike gevalle. Die deur regs lei na die slaap- en badkamer.”
“Net een slaapkamer?” vra sy verwonderd terwyl sy hom na ’n kort gangetjie volg.
Eben lag sag. Hy laat sy blik geamuseer op haar rus toe hulle die slaapkamer binnestap en sy met ’n hoorbare asemteug in die deur vassteek.
“Jy bloos … en jy woon nog nie eens hier nie,” terg hy, trek haar met sy linkerarm teen hom aan en lig haar ken met sy regterhand sodat sy teësinnig opkyk in sy oë.
“Dis … ’n vreemde gevoel om te dink ons gaan saam hier woon,” merk sy verleë op, intens bewus van sy arm om haar, van die kloppende gehamer van haar hart.
Sy geniet elke oomblik in Eben se arms, maar tog is sy bang vir hom – bang vir haar eie emosies wanneer hy haar soen. Sy weet intuïtief dat Eben sal neem wat hy wil hê sonder om haar toestemming te vra, en omdat sy hom liefhet, weet dat hulle binnekort sal trou, vrees sy haar eie swakheid.
“Jy sal daaraan gewoond raak,” meen hy, sy stemtoon ineens weer koel, byna saaklik, en neem sy hande weg van haar. Hy kyk haar nie aan wanneer hy weer praat nie, maar beweeg na die venster wat ’n beperkte uitsig op ’n besige straat bied. “Die skool het vandag gesluit en jy is seker tog nou vry om te kom en gaan soos jy wil. Ek het gemeen jy kan solank jou intrek hier neem.”
Sy frons, haar lippe effens oop.
“In Desember? Met Kersfees voor die deur?” Sy wil bitter graag vra of hulle voor Kersfees reeds getroud sal wees, maar kan die woorde nie oor haar lippe dwing nie.
“Genugtig, Louise, moenie vir my sê jy glo nog aan Kersvader en Kerskabouters nie. Ek wed die goeie ou man met die wit baard en rooi klere sal wel vir jou ’n geskenkie bring, al verander jy ook so kort voor Kersfees van adres.” Sy hoor ’n tikkie sarkasme in sy bolangs goedige gespot.
Iets skort, besef sy, kyk hom skerp aan, maar hy wend weer sy gesig af en tuur na die straat onder hom. Iets skort lankal, maar tot dusver kon sy nog nooit haar vinger op die seerplek lê nie. Sedert die einde van Junie kuier Eben minstens twee keer per week by haar, neem haar uit na die duurste restaurante, die beste vertonings, en maak haar die hof soos ’n ware ridder.
Hy het van die begin af haar loopbaan as grade-onderwyseres as ’n swakkerige grap beskou – so asof geen mens met gesonde verstand se erns kan wees om haar tyd te bestee deur ander mense se dom kinders te leer nie. En omdat sy volkome voor sy bekoring geswig het, het sy self so begin dink. Sy, Louise Barnard, reeds vier-en-twintig jaar oud, het te veel verstand om die res van haar lewe voor ’n klas vol onnosel kinders te staan.
Maar dis nie soos sy vanoggend in haar klaskamer gevoel het toe sy ’n laaste maal na haar dertigtal graadtweetjies gekyk het nie. Een en elkeen van hulle is vir haar oneindig kosbaar, selfs klein Gideon wat na ’n hele jaar nog nie ’n “b” van ’n “d” kan onderskei nie.
’n See van kindergesiggies swem voor haar oë en sy besef eers dat sy huil wanneer ’n enkele traan ’n warm paadjie oor haar linkerwang loop. Skrik trek haar oë wyd oop en sy vee vinnig met haar handrug oor haar wang, dankbaar dat Eben steeds met sy rug na haar staan. Sy het nog nooit voor hom gehuil nie, maar sy het ’n gevoel dat hy nie die soort man is wat graag sy sakdoek aan snikkende meisies leen nie.
“Jy het tog jou ma voorberei oor jou besluit om ’n eie woonplek te kry? Ek het jou mos ’n maand of ses weke gelede al van die woonstel vertel,” kom dit ergerlik van Eben terwyl hy sy gesig net effens in haar rigting draai voordat hy weer deur die venster kyk.
Wat is onder in die straat wat sy aandag so boei? wonder sy, oorweeg dit om langs hom te gaan staan en self te kyk, maar sy besluit daarteen.
Sy soek net na ’n ompaadjie sodat sy nie die werklikheid dadelik hoef te konfronteer nie, besef sy met ’n gevoel van verslaentheid. Eben praat reeds byna ses weke lank van ’n woonstel vir hulle twee, van hulle groot liefde vir mekaar, van die onbetwisbare feit dat hulle saam hoort. Maar Eben het nog nooit in soveel woorde oor ’n huwelik tussen hulle gepraat nie.
Die gedagte sleur moeiteloos deur haar bewussyn, maar die besef van wat dit presies beteken, tref haar soos ’n vuishou op die krop van haar maag. Sy sluit haar oë werktuiglik en byt ’n sagte kreuntjie op haar onderlip weg.
Sy het voorwaar haar rol van goedgelowige grade-onderwyseres met volkome oortuiging vertolk, want sy het geglo dat as ’n man sê hy het jou lief, as hy daarop aandring dat jy sy private sekretaresse word, en as hy ten slotte van julle woonstel praat, hy sonder die geringste twyfel reeds ’n verloof- en trouring in sy besit het. Huweliksklokke het harder as kanonskote in haar ore weergalm terwyl Eben met ’n deeglikheid wat van ervaring spreek, voortgegaan en vir hulle ’n woonstel gehuur het.
“En as ek nou eers in ons woonstel woon?” wil Louise weet met onskuld in haar stem, wat selfs klein Gideon haar nie sal kan nadoen nie.
Eben draai om na haar. ’n Frons keep tussen sy wenkbroue en sy hande is in sy broeksakke.
“Ek het gemeen ek sal tot aan die einde van Januarie wag voordat ek hier intrek, net ingeval daar mense op kantoor is wat twee en twee kan bymekaar tel. Jy weet mos hoe gaan dit – as die baas se seun hard hoes, praat die hele personeel daaroor. Vanselfsprekend wil ek nie enige verleentheid vir my pa veroorsaak nie,” sê hy prakties.
“Dis werklik bedagsaam van jou,” sê sy waarderend, lees ’n tikkie agterdog in sy oë, en vervolg met dieselfde erns: “Ek weet natuurlik van ’n eenvoudige oplossing as jy ’n meisie liefhet. Jy trou met haar.”
Eben frons donker en sy lag met valse hartlikheid.
“Maar … wie wil nou trou? O, goeistetjie, het ek vergeet om jou te sê van my afspraak met die tandarts? Ons sal nou dadelik moet ry,” voeg sy by en stap in die kort gang af na die voorportaal, sonder om op ’n antwoord te wag.
Eben haal haar halfpad op pad hyser toe in, en ’n flitsende kyk na sy profiel verseker haar dat hy persoonlik nie ’n besoek aan die tandarts op sy program vir die middag gehad het nie.
“Is die besoek aan die tandarts werklik so dringend?” vra hy bot.
“Absoluut. As ek my asem deur my tande intrek, kan ek sterf van pyn,” verseker sy hom en sy voel nie in die minste skuldig nie.
“Ek veronderstel ek kan jou nie vra om nie jou asem in te trek nie,” terg hy halfhartig.
“Nee, dis hoe ek asemhaal,” antwoord sy, haar oë op hom. “En wie wil nou doodgaan?”
Hy antwoord nie, want die hyser hou op die agtste verdieping stil en hulle stap binne.
Sy wil doodgaan, dink sy en ril onwillekeurig. Sy wens sy was dood omdat sy nou weet hoe dit voel om … Nee, sy gaan nie daaraan dink nie, want dan breek die damwal van onderdrukte emosies in haar, en sy huil soos sy vanoggend wou huil toe sy die laaste maal na haar graadtweetjies se gesiggies gekyk het.
Tant Heleen Barnard skuif die braaipan met die olie vinnig van die warm stoofplaat af, bereik Louise met enkele treë en neem die ui en groentemessie uit haar hande.
“My goeiste genade, Louise, is dit nodig om jouself so te martel?” vra sy ongeduldig. “Ek het gesê ek sal die uie skil en kerf, want jy huil jouself gedaan as jy dit doen.”
Louise draai weg, skeur ’n reep handdoekpapier van die rol teen die kombuismuur af, en snik met oorgawe daarin.
Tant Heleen knip haar oë vinnig, ongelowig, draai weg na die stoof en skakel die plaat af. Dan neem sy op ’n hoë kombuisstoel plaas, vat haar hande op haar skoot saam en wag