Lokstem van die liefde. Schalkie van Wyk
“Maar tant Ragie het dan altyd daarheen geloop en sy was amper negentig toe sy dood is!” bars Dawie ongeduldig uit. “Annemarié sê mos vir tannie die werf is net anderkant die muur! Gerhard sê ons dorpsgrens is tant Ragie se ringmuur, want anderkant die muur is die … die dustrie …”
“Industriële gebied,” help Annemarié hom en beklemtoon elke lettergreep. “Tant Ragie se man, oom Josef, het die hoë muur laat bou, want tant Ragie het gesê die lawaai van die stootskrapers en padskrapers en vragmotors maak haar stapelgek en doof. Maar tannie weet seker daarvan, want sy het mos die huis vir tannie gegee.”
“Nee … my ma het die huis geërf en ek kom … kom kuier sommer net ’n rukkie hier. Dan het julle tant Ragie goed geken?” vra Louise, merk uit die hoek van haar oog dat Oom Lafras weer begin krap het, en dadelik is daar ’n jeukerigheid aan haar skouer.
“Baie goed, want sy kon lekker koekies bak,” antwoord Dawie, staan op en drentel na die oop dubbeldeur. “Ek dink ons moet nou eers weer loop, tannie. Dis seker al amper tyd vir middagete, en ons stiefma laat ons sommer sonder kos bly as ons nie betyds vir ete is nie.”
“Dis waar, tannie,” beaam Annemarié terwyl sy ook orent kom. “Tant Ragie het altyd gesê my stiefma is ’n jesebel, en my stiefpa het nie ’n greintjie verstand in sy kop nie. Maar tannie sal self sien hoe naar hulle met my en arme Dawie is. Tannie …” Sy swyg onseker, kyk Louise oorwegend aan en vervolg vinnig: “As tannie wil, kan tannie maar die venster van die spens oop los, want dis waar ek en Dawie altyd inklim. Tannie moet net nie vir my stiefpa sê ons klim by die venster in nie.”
“Ek sal nie,” beloof Louise ernstig. “En dankie vir julle kuiertjie. Julle moet weer kom.”
“O, ons sal baie kom kuier, want my stiefma laat ons net ons vingers deurwerk as ons by die huis is,” verseker Annemarié haar, roep saam met Dawie ’n sorgelose “tot siens” en verdwyn saam met hulle voetstappe in die gang.
Louise kyk na Oom Lafras wat sy krappery staak en met stywe pote onseker op haar afstap terwyl hy sy kort stertjie hoopvol swaai.
“Alles reg, Oom Lafras. Jy is vir tyd en wyl ’n permanente inwoner van tant Ragie se huis. Maar ek en jy kort albei ’n bad, want ’n trein laat my altyd vuil voel. Ek wonder …” gesels Louise met die hond, swyg en byt ingedagte op haar onderlip voordat sy vervolg: “Rheedershoop is darem baie kleiner as Johannesburg, Oom Lafras. Dalk moet ek probeer om my bestuurderslisensie hier te kry … dalk.”
“Waf?” vra Oom Lafras toe sy ophou praat.
Louise lag en staan op, besef met opwellende bitterheid dat dit haar eerste lag is sedert haar en Eben se besoek aan die woonstelgebou.
Nee, sy gaan van gister vergeet en op die hede konsentreer, neem sy haar voor. Heel eerste gaan sy haar tasse uitpak, ’n slenterbroek aantrek en Oom Lafras ’n behoorlike bad gee. Hopelik het haar ma onthou om vroegoggend haar prokureur te bel sodat hy kon toesien dat die elektrisiteit in tant Ragie se huis weer aangesluit word. Anders sal sy en Oom Lafras met ’n koue bad tevrede moet wees.
Louise spoel die steekhaarbrakkie in ’n sinkbad met louwarm water en dennegeurige ontsmetmiddel af, druk-druk die meeste water uit sy nat pels en lig hom dan op ’n groot verbleikte, pienk handdoek wat aan tant Ragie behoort het.
“Staan stil, Oom Lafras!” beveel sy en tel die naaste twee handdoekpunte op om die hond in die handdoek toe te wikkel.
Asof sy hondewaardigheid lank genoeg deur die goedbedoelende Louise geïgnoreer is, skud Oom Lafras die water van hom af en kyk haar verwonderd aan wanneer sy met ’n onderdrukte gilletjie agteruit deins.
“Oom Lafras, nee!” baklei sy en kyk na haar papnat klere en arms. “Kom hier, Oom Lafras. Ek moet jou afdroog.”
As antwoord skud die hond homself ’n tweede en ’n derde keer, loop na ’n sonkol voor die kombuiskas en strek hom op die vloer uit. Hy sug, werp haar ’n verwytende blik toe en loer met niksseggende oë deur die nat donse na die oorkantste kombuismuur.
“Wel, dis jou besluit. Moet net nie dink ek gaan vir jou hoesklontjies voer as jy verkoue kry nie,” gesels sy en glimlag tevrede.
Sy is bly oor haar impulsiewe besluit om na tant Ragie se huis te kom. Gisteraand, toe sy haar tasse gepak het, het sy haar die aankoms en verblyf hier veel anders voorgestel, maar Annemarié en Dawie en veral Oom Lafras se teenwoordigheid het van haar toevlugsoord ’n vakansieoord gemaak. Pleks daarvan om tyd te hê om haar wonde te lek en te treur oor ’n liefde wat nooit was nie, het haar nuwe vriende haar nog nie die tyd gegun om aan haarself te dink nie.
Hoe gaan sy die sinkbad met water by die agterdeur uitkry? Die eerste badvol water het sy met ’n emmer leeg geskep, maar om dit weer ’n keer te doen …
Die harde geklop aan haar voordeur verdring haar soeke na ’n moontlike oplossing om van die water ontslae te raak, en sy kom orent en stap vinnig in die gang af na die klein ontvangsportaaltjie.
’n Vlugtige kykie in die antieke spieël in die swaar houtraam teen die muur vertel haar dat haar voorkoms veel te wense oorlaat, want sy het nie ’n tikkie grimering aan haar gesig nie en haar hare is plek-plek nat en deurmekaar. Haar klere is druipnat, maar aangesien haar besoekers net Annemarié en Dawie kan wees, ontstel dit haar nie.
Sy maak die voordeur oop, wil vra waarom hulle nie sommer deur die spensvenster geklouter het nie, maar haar woorde stol op haar lippe wanneer sy die groot, tronende gestalte van ’n vreemdeling voor haar op die voorstoep sien staan.
Sy hare is donker, sy gelaat brons, asof hy ’n man is wat ’n lewe in die buitelug verkies. Sy wenkbroue vorm skerp, donker boë bokant oë wat ’n verrassende grysblou is en skerp teen sy donker gelaatskleur afsteek. Die Romeinse boog van sy neus gee ’n valkagtige uitdrukking aan sy gesig, en sy mond sluit in ’n ferm lyn bokant ’n ken wat hoekig uitstaan en van ’n onbuigbare wil spreek.
Sy skat hom in sy laat dertigerjare, wonder wat hy kom soek het, en kyk vraend op na hom. Eers dan besef sy dat hy haar met openlike belangstelling aanstaar en ’n warm blos van verleentheid vlek haar wange.
“Ek … is jammer, maar ek het Oom Lafras gebad,” maak sy verskoning vir haar uiterlike en vat-vat aan haar hare.
“So?” Die man klink geamuseer.
Sy waag ’n ongemaklike kykie na sy gesig en wonder of sy haar verbeel dat sy oë haar uitlag.
“Ja! Sommer in die sinkbad in die kombuis. Hy het my papnat gespat,” babbel sy en wens sy kan liewer stilbly, maar die man laat haar pynlik ongemaklik voel. Sy wag dat hy moet reageer, maar toe hy aanhou swyg, spring haar praatveertjie weer los. “Dit was eintlik ’n stoeigeveg, want Oom Lafras hou nie baie van water nie.”
“Dalk hou Oom Lafras nie daarvan dat ’n mooi meisiekind soos jy hom bad nie,” bespiegel die vreemdeling.
Net ’n man sal so ’n onsmaaklike opmerking maak, dink Louise gegrief en neem nog ’n tree agteruit. Waarom sal ’n hond omgee dat …
“O …” sê sy begrypend en weet sy bloos weer. “Jy dink Oom Lafras … Hy is ’n hond.”
Die man se regterwenkbrou lig vraend.
“Jy sê dit sonder om te blik of te bloos, daarom sal ek jou glo, meisie.” Hy snuif ’n paar keer en vra belangstellend: “Hou Oom Lafras van die dennegeur?”
Louise besnuif die lug onwillekeurig.
“Ek is jammer. Ek ruik seker ook na die ontsmettingsmiddel. Maar … wou u iets gehad het?” vra sy, neem ’n derde tree agteruit sodat haar besoeker haar nie kan ruik nie, en rek haar oë wanneer hy die huis binnekom.
“Ja, ek sal graag met jou ma wil gesels – as sy dié keer gaan instem om met my te praat.” Hy steek sy hand na haar uit. “Dawie en Annemarié het jou seker van my vertel. Ek is hulle oom Lafras de la Rey.”
“Hulle oom … wie?” vra Louise met ’n yl stemmetjie en sy kan