Lokstem van die liefde. Schalkie van Wyk

Lokstem van die liefde - Schalkie van Wyk


Скачать книгу
om jou eie besluite te neem. Dan het jy geweier om sy woonstel met hom te deel?”

      Haar ma se koel, professionele stemtoon skok Louise byna net soveel as Eben se koelbloedige voorstel vroeër die middag.

      “Dan het Mamma alles geweet? En Mamma het my nie gewaarsku nie? Mamma het niks gesê nie? Ek het gedink … Hoe moes ek weet? Mamma kon my darem gewaarsku het!” verwyt sy, hoor die huilklank in haar stem en pers haar lippe saam.

      Sy gedra haar soos ’n kind, want op vier-en-twintig behoort ’n meisie seker al aan alles gewoond te wees. Sy behoort nie te voel soos ’n rondloperbrakkie wat ’n onverdiende skop gekry het nie. Maar sy het Eben liefgehad en geglo dat hy haar liefhet. Hoe kon sy so blind, so absoluut dwaas gewees het? Selfs haar ma kon sien waarop hulle verhouding afgestuur het, maar sy wat die nouste betrokke was, het laaste uitgevind dat liefde nie altyd huweliksklokke en ’n gelukkige einde beteken nie.

      “Dalk het ek ter wille van jou gehoop dat Eben dié keer ’n meisie werklik liefgekry het,” antwoord tant Heleen met ’n kort suggie, swyg ’n oomblik lank, en vervolg: “Hy is reeds twee-en-dertig en sy ouers hoop dat hy ’n meisie sal liefkry en trou, want soos alle ander ouers wil hulle graag kleinkinders hê. Maar Eben geniet sy vryheid en die geselskap van meisies wat klaarblyklik net soveel van sý geselskap hou.”

      “As Mamma my net gesê het …” sê Louise, ’n aanklag in haar stem en oë.

      “Ek kon sien jy is verlief op hom, daarom wou ek jou nie ontstel met stories oor sy vorige liefdes nie. Hy was vanmiddag ’n rukkie daar by my op kantoor, en toe het hy iets genoem van die moontlikheid dat hy vir jou ’n woonstel gaan kry. Ek neem aan hy wou my pols om te hoor hoe ek daaroor voel,” vertel tant Heleen.

      “En intussen het ek nog nie eens vir Mamma vertel dat ons al na ’n woonstel soek nie.” Louise swyg, ’n wrang glimlag om haar lippe. “Ek het vas geglo Eben sou my vra om met hom te trou, daarom het ek niks gesê nie. Ek wou Mamma met ’n verloofring verras, maar pleks daarvan …” Sy lag hakkelrig en trane loop haar oë vol. “Dis wat so aaklig is, Mamma. Ek voel so … so goedkoop!” Sy laat sak haar kop op haar hande en snik gesmoord.

      Tant Heleen staan op en loop tot by haar, laat haar regterhand op Louise se skouer rus en gee haar ’n begrypende drukkie.

      “Sal dit help as ek sê ek weet hoe jy voel, my meisiekind?” vra sy gedemp.

      Louise kyk op, verwondering in haar oë.

      “Maar Mamma is tog al …” begin sy en swyg. Haar ma is reeds sewe-en-veertig, maar sy is steeds ’n aantreklike vrou met haar ligblou oë en donkerblonde hare wat lank nog nie grys is nie. Haar figuur is goed versorg, en sy het dieselfde fyn gelaatstrekke as haar dogter.

      “Oud?” terg tant Heleen. “Dalk klink sewe-en-veertig oud vir jou, maar ouderdom vrywaar ’n vrou nie teen die voorstelle van verwaande mans nie. Ek is byna drie jaar lank ’n weduwee, daarom weet ek, Louise, maar ek voel só daaroor – dis maklik om te weier.”

      “Ja, maar Mamma het Pappa liefgehad en vandat hy dood is … Mamma sê self dit sal nie maklik wees om iemand anders lief te kry nie,” redeneer Louise, oortuig daarvan dat haar situasie uniek moet wees.

      “Is jy nog lief vir Eben?” vra tant Heleen, haar stemtoon sag van begrip.

      “Nooit!” ontken sy skerp, haar gevoel wisselend tussen pyn en walging. “Ek dink hy is ’n … ’n … Ek wil hom nooit weer sien nie, Mamma, want na vandag … Ek haat hom, maar ek kan nie ophou huil nie.” Sy huil geluidloos, laat die trane oor haar wange loop en vee werktuiglik met die handdoekpapier oor haar oë.

      “Jy sal vergeet van jou liefde vir hom, my skat, maar dit gaan nie oornag gebeur nie. Solank hy kom kuier, solank julle in dieselfde stad woon –” sê tant Heleen.

      “Ek sal hom nooit weer sien nie! Ek gaan nie langer by hom werk nie. O, ek wens ek het hom nooit ontmoet nie!”

      Die klank van onmag in Louise se stem laat die uitdrukking op tant Heleen se gesig verhard en sy draai vinnig weg stoof toe.

      “Jy gaan hom nie weer sien nie – nie gou nie, in elk geval. Ek hou van my werk en Ben Griesel is ’n goeie baas, maar as Eben nie my kind kan uitlos nie …” Tant Heleen swyg en Louise kyk op na haar, glimlag deur haar trane.

      Dis goed om ’n ma te hê, veral ’n goeie ma soos hierdie een, dink sy en die besef steek ’n warm vuurtjie in haar binneste aan wat die koue uitdryf en haar veilig en tevrede laat voel.

      “Sal Mamma hom vra om hier weg te bly?” vra sy dankbaar.

      “Nee, dit sal in elk geval geen oplossing wees nie,” kom haar ma se verrassende antwoord. “Dalk het ek jou tog te veel beskerm, Louise. As jy liewer ’n rukkie kan weggaan, êrens kan gaan kuier of selfs elders werk kan kry … Maar natuurlik! Daar is tant Ragie se huis op Rheedershoop.” Tant Heleen glimlag ingenome en skuif die braaipan terug op die warm plaat, asof tant Ragie se erflating op die dorpie digby Johannesburg ’n antwoord op al Louise se hartseer en ontnugtering is.

      “Hoe bedoel Mamma nou?” vra Louise oorbluf.

      “Hartjie, ek wonder al die afgelope drie maande, vandat ek van die erfporsie verneem het, wat om daarmee te doen, maar nou weet ek. Jy kan dit kry. Rheedershoop is naby genoeg aan die stad dat ek jou gereeld kan besoek, maar ver genoeg dat niemand hoef te weet waar jy is as jy dit so verkies nie. Ek sal jou die naweek met my motor soontoe neem,” besluit haar ma.

      “Nee, Mamma, ek gaan sommer môreoggend … en ek gaan nou begin inpak. As ek dan moet vlug, doen ek dit liewer nou voordat my moed my begewe,” sê Louise vasbeslote, staan op en mik kombuisdeur toe. Sy talm ’n oomblik en vra huiwerig: “Mamma sal nie vir Eben van my wegkruipplek vertel nie?”

      “Nee, Louise, selfs al sal jy in die dae wat kom moontlik wens ek moet dit doen,” antwoord tant Heleen ernstig en draai weg om met die bereiding van die aandete voort te gaan.

      Die taxibestuurder plaas haar twee groot tasse op die stowwerige voorstoep van die netjiese, witgeverfde huis, loer wantrouig na die toe vensters en die drie meter hoë ringmuur.

      “Ekskuus, juffroutjie, maar is jy seker dis die regte adres?” vra die middeljarige man verwonderd. “Ek meen nou maar, verwag die mense jou?”

      “Moenie jou daaroor kwel nie, dankie, meneer,” antwoord sy en haal die voordeursleutel van oorlede tant Ragie se huis uit haar handsak. “Ek het selfs die sleutel saamgebring. Dankie dat u my tasse gedra het.”

      “O …” sê die man asof ’n lig so helder soos die son vir hom opgaan. “Ek wou mos sê niemand het na ou mevrou De la Rey hier gewoon nie. Hulle sê haar testament was skoon deurmekaar, maar as ’n mens dink sy was al naby die honderd …” Sy woorde droog op wanneer hy die ysige uitdrukking op Louise se gesig sien en hy draai vinnig weg. “Nou, dan groet ek maar. Tot siens, juffroutjie. Darem snaaks, want hulle het gesê die huis en grond is aan …” praat hy met homself terwyl hy wegstap, totdat sy woorde ’n onverstaanbare gemompel in Louise se ore is.

      Louise slaak ’n hoorbare sug van verligting wanneer die voortuinhekkie van gegote yster agter die taxibestuurder toeklingel, en sy besef met iets soos skok dat die man se teenwoordigheid haar ontstel het.

      Wat het Eben haar aangedoen? wonder sy wrang. Haar vir altyd afgeskrik van ’n normale verhouding met al wat man is?

      Sy sluit die voordeur met ’n ongeduldige gebaar oop en drafstap die klein ontvangsportaaltjie binne, asof sy hoop om van haar gedagtes te kan weghardloop. Die groot dubbeldeur na die sitkamer staan oop en sy storm die vertrek binne en steek in haar spore vas toe sy twee kinders langs mekaar op die swaar rusbank sien sit, ’n jeukende, krappende, bebaarde brakkie voor hulle op die stowwerige mat.

      “Wat op aarde soek julle hier?” stamel sy oorbluf, wonder of dit in die ou huis spook, maar word deur ’n geniepsige vlooibyt aan haar enkel ontnugter. “Vervlaks! Kry daardie brak hier uit. Die ding is vol vlooie!” vervolg sy onthuts.

      “Dis wat ons stiefpa ook gesê


Скачать книгу