Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman
jy het darem nie die televisiestel afgeskakel toe daar ’n program oor kuns was nie, en jy het sy naam onthou. En jy sê jy hou van ’n mooi skildery …”
“En ’n mooi man!” terg Janie hom voordat sy haarself kan keer. Sy bloos bloedrooi en kyk verleë anderpad.
Walt lag gemaklik. “Jy is ’n aster so reg na my hart, mevrou Vermaak. Nog koffie?”
“Dankie. Maar wat van jou?”
“In my hut is kanne koffie. As hierdie gedaan is, gaan haal ons nog. Ek vind koffie baie stimulerend. Wanneer ek werk en, e … ook by ander geleenthede …” Hy lag toe Janie weer haastig anderpad kyk.
“Het iemand al vir jou gesê jy lyk onweerstaanbaar as jy bloos, Janie?”
“Nee …”
“Nie eers Theo nie? Sy tegniek moet taamlik verroes wees as hy jou nog nie so ’n welverdiende kompliment gemaak het nie. Ek is teleurgesteld in my familielid. Waardeer hy jou dan nie, astertjie?”
“Ja, maar ek glo nie ek lyk mooi met sulke pienk wange nie en Theo is nie die tipe man wat mooi goed vir ’n meisie sê nie.”
“O ja?” Walt se wenkbroue lig vraend. “Dan het hy baie verander …”
“Hoekom sê jy so?” Janie kyk ondersoekend na Walt.
“Nee, netnou praat ek my mond verby en sê dinge wat ek nie moet sê nie. Ek kan dit nie bekostig om Theo die harnas in te jaag nie. Ek kuier op sy koste hier. My vorige uitstalling het nie na wense verloop nie en ek is … effe platsak. Ek kruip hier weg sodat ons opsigster nie my woonstelhuur kan vra nie. Ek hoop net my besittings is nie op die sypaadjie uitgesmyt wanneer ek weer in Pretoria my gesig wys nie …”
“Jy oordryf seker?”
“Ja, dis wat Theo ook gesê het toe ek hom van my benarde finansiële posisie in kennis gestel het.” Walt se stem was lig, maar daar was ’n verbitterde ondertoon en Janie wonder of dit die rede was waarom Walt gesê het hy is nie Theo se gunstelingneef nie. Te oordeel aan Katinka, is Walt dikwels platsak en dis te verstane dat Theo vies word as sy neef gereeld by hom wil geld leen. Miskien wou hy hierdie keer nie help nie en dis hoekom Walt so half snaaks was gisteraand toe hy van Theo gepraat het.
Janie is verlig dat dit nie ’n ernstiger moeilikheid tussen die twee neefs is nie, want sy hou van Walt en wil graag met hom vriende wees, en Theo is heeltemal kapabel en verbied haar om met arme Walt te gesels. Sy is bly dis sommer net ’n kwessie van geld. Maar daar is iets anders wat Walt genoem het wat Janie se belangstelling prikkel en wat haar bekommerd stem. Sy wil baie graag ’n antwoord op haar volgende vraag hê.
“Het Theo baie nooiens gehad voordat hy met my getroud is?” vra sy en probeer om nie gespanne te lyk terwyl sy op die antwoord wag nie.
“Nie báie nie. Eintlik net een …”
Janie is dadelik bekommerd. Sy sou dit verkies het as daar rye ander nooiens was – soos sy in ’n grap vir Marina van Wyk gesê het. As daar slegs die een nooi was, sal sy altyd bang wees Theo het daardie ander meisie steeds lief, dat hy na haar verlang en sy vrou met haar vergelyk, dat hy spyt is hy het met háár getrou. Soms het sy juis agterdogtig gevoel omdat Theo so oorhaastig met haar wou trou, so asof hy iemand wou vermaak …
“Wie was sy?”
“Nee …” Walt hou sy hande, palms na Janie gekeer, in die lug. “Nee, ek praat vandag weer veels te veel. Kom ons verander die onderwerp.”
“Nee, asseblief …” Janie se stem is pleitend. “Kom ons praat nog ’n rukkie oor daardie een nooi van Theo, en dan belowe ek om jou nooit weer uit te vra nie. Was Theo aan die meisie … verloof?”
“Janie, Theo slag my lewendig af as ek sy privaatsake aan jou uitblaker. Dis baie beter as jy hom self na die meisie uitvra. Ek glo nie hy het iets om te verberg nie. Hy en die nooi het uitgemaak, hy het jou ontmoet, halsoorkop verlief geraak en met jou getrou. Nie dat dit onverstaanbaar is nie … ek self sou ’n ring aan jou vinger geplaas het as ek jou eerste gesien het. Theo en my smaak kom baie ooreen.”
“Moet asseblief nie die onderwerp verander en my aandag probeer aflei nie, Walt.”
Hy lyk seergemaak. “Dis nie slegs om jou aandag af te lei dat ek sê ek sou self graag met jou wou getrou het nie, astertjie. Dis omdat ek dit bedoel. Eerlikwaar, ek sou dolverlief op jou geraak het as jy nie Theo se vrou was nie.”
“Walt, het Theo met my getrou om daardie meisie te wys hy is nie oor haar verleë nie?”
“Ek glo nie. Theo het baie foute, maar vermakerigheid was nog nooit ’n eienskap van sy karakter nie.”
Janie kry die indruk dat Walt nie eerlik is nie.
“Hoekom is hy so oorhaastig met my getroud?” hou sy dringend vol.
“Omdat jy onweerstaanbaar is en hy jou so gou moontlik aan sy sy in Pafuri wou hê. Ek kan glo ’n man raak bra eensaam in hierdie verlate boswêreld. Kom ons gaan haal nog koffie, aster.”
Janie weet sy sal niks meer uit Walt kry nie. Hy is óf baie lojaal teenoor sy neef óf bang vir hom … miskien dat Theo sy finansiële hulp sal terugtrek.
Sy sal vir Katinka vra, besluit Janie. Katinka sal weet wie die meisie was en wat tussen haar en Theo verkeerd geloop het, en ook wat sy gevoel nog teenoor die meisie is. Katinka sal begryp waarom dit so belangrik is om vas te stel of daardie ou nooi nie dalk die oorsaak is van die gespanne atmosfeer tussen háár en Theo nie. Hy tree beslis nie teenoor sy vrou op soos ’n mens van ’n man kan verwag wat verlief is en nog maar net twee dae lank getroud is nie.
Walt se rondawel is een van die gewone toerisrondawels en baie kleiner as Theo s’n.
“Verskoon die chaos, asseblief. Ek is pas terug van ’n week in die veld en het nog nie aan die kant gemaak nie.”
“Dis in die haak.” Janie glimlag oor die formele foto van ’n resiesperd wat teen die muur hang en baie onvanpas in ’n wildreservaat lyk.
“Golden Sunset,” grinnik Walt. “Hy het my ’n fortuin uit die sak gejaag. My pa het gesê hy kán nie verloor nie en ek het al my geld op hom gesit, maar hy hardloop seker nou nog …”
Janie haal ’n kamera en ’n paar skoene van ’n stoel af en verneem of sy nie kan help om die koffie te maak nie.
“Nee, sit jy gerus as jy iewers ’n oop stoel kan vind. Ek sal die koffie maak. Jy lyk nie vir my na die huishoudelike tipe nie.”
“Jy is reg. Maar noudat ek getroud is, sal ek baie vinnig moet leer om die bedrywige-huisvroutjie-tipe te word. Of dalk is dit nie die moeite werd nie. Ek weet nie hoe lank ek nog getroud gaan bly nie …”
“Het jy gesê Theo sal eers laat vanmiddag van Messina af terug wees?” wil Walt weet.
Janie knik afgetrokke, haar gedagtes steeds by Theo. Sy wonder wat sy houding teenoor haar gaan wees wanneer hy tuiskom, en sy voel weemoedig. Alles het so goed gegaan en sy was so opgewonde oor die vooruitsig om met Theo getroud te wees!
Hy self was so uitgelate soos ’n kind. Eergistermiddag het hy vir haar wit rose gekoop en eergisteraand ’n enorme ruiker bloedrooi roosknoppe. “Sommer omdat ek dolverlief is, en om dankie te sê dat jy met my getrou het, my liefste,” het Theo gesê. En toe het hy haar styf vasgehou en gesoen en gesê hy is die gelukkigste man op aarde. Hy sal haar altyd liefhê en vir haar ’n goeie man wees.
Waar het dinge dan verkeerd begin loop? Het hy meer van sy vrou verwag? Het sy nie aan sy verwagtinge voldoen nie? Of het hy begin besef hy het haar nie werklik lief nie, dat hy liewer met die ander meisie moes getrou het? Was hy spyt dat hy met haar opgesaal sit en is dit die rede vir sy onverdraagsaamheid? Vergelyk hy dalk sy vrou met sy vorige nooi en vind dat hy ’n fout gemaak het?
“Haai, ou dromer!” roep Walt. “Ek vra of jy ’n toebroodjie en ’n stukkie koue vleis – die oorblyfsels van my ete gisteraand – sal eet?”