Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman
’n koppie voor haar mond hou en neem dankbaar ’n slukkie daarvan.
“Oppas dat jy nie stik nie, Janie,” keer Walt. “En moenie jou aan Theo steur nie. Ons ken almal daardie haastige humeur van hom en in die motor het ek jou gewaarsku hy gaan baie kwaad wees.”
“Hier’s toebroodjies ook, mevrou Vermaak,” praat ’n ander stem.
Janie besef nie dadelik dis met haar wat die man praat nie. Sy is nog nie aan die nuwe naam gewoond nie.
“Wil jy nie ’n toebroodjie hê nie, mevroutjie?” herhaal Flip.
Janie skud haar kop. “Ek kan niks eet nie, d-dankie.”
“Nou ja …” sê Theo kortaf. “Noudat my verlore vrou gevind is en blykbaar niks makeer nie, kan ons seker vertrek. Baie dankie vir al die moeite. Ek is jammer oor die onnodige ergernis. Kom, Janie …”
Janie weet dis verkeerd van haar en dit sal Theo nog meer woedend maak, maar sy voel nie op hierdie tydstip baie braaf nie. Sy weet haar man het nog lank nie klaar geraas nie. In die motor, waar daar nie ander mense by is nie, gaan sy dit deeglik ontgeld. En Walt gaan nie daar wees om vir haar in die bresse te tree nie.
Sy skud haar kop en sonder dat sy dit besef, staan sy effens nader aan Theo se neef.
“Ek s-sal sommer … saam met Walt ry,” hakkel sy. Sy skrik vir die uitdrukking op Theo se gesig en gaan deurmekaar voort: “Ek wil jou nie verder moeite aandoen nie. Walt het ’n reisdeken en … en al my goed is daar in sy motor en –”
“Jy ry saam met my,” val Theo haar kortaf in die rede. Hy wag nie dat sy verder teëpraat nie, maar neem haar aan die arm en stryk met haar aan na sy eie motor toe.
Tot Janie se verligting sien sy dat Katinka ook saam met Theo gaan ry. Die groot rusie word darem nog ’n bietjie langer uitgestel …
“Sal ons vir haar agter in die motor ’n bed opmaak, Theo?” vra Katinka. Sy wag nie op ’n antwoord nie en sprei ’n kombers op die agterste sitplek van die Mercedes oop. “Ons het reeds van jou bagasie in een van die Land Rovers gelaai, Janie. Theo se motor was te swaar gelaai en hy was bang die vere breek toe hy deur die veld gery het.”
Janie is dankbaar om haar kop neer te lê en met niemand te praat nie. Sy hoor vaagweg dat Katinka en Theo gesels, maar dan oorval die lomerigheid haar.
“Foei tog, Theo, dit was seker ’n lang wag in die motor,” hoor sy Katinka sê. “Jy kan Janie nie kwalik neem dat sy ’n entjie gaan stap het om bene te rek nie. Onthou, sy is ’n stadsjapie en ken nie die gevare van die veld nie.”
Janie hou dadelik van die meisie. Hier is darem iemand wat met haar simpatie het …
“Stadsjapies lees darem seker hulle koerante en weet van die terroris-gevaar vanuit Mosambiek en Rhodesië. Sy kon in die veld vermoor gewees het sonder dat ons ooit haar lyk sou gevind het.”
“Jy is nou baie melodramaties, Theo,” sê Katinka. “Jou vrou is veilig en dis glad nie nodig om so morbied te wees nie. Dis vreemd … Ek kan nie daaraan gewoond raak dat jy getroud is nie. Dit was vir my ’n … verrassing.”
Theo lê sy hand ’n oomblik op Katinka s’n.
“Ek is jammer,” sê hy sag.
“Hoekom? Jy het geen rede om te sê jy is jammer nie,” antwoord Katinka liggies. “Jy het ’n pragtige vrou en die brand is geblus en dit gaan goed met die renosters en dit lyk of julle patrollies geslaagd is. Jy het geen rede om sleg te voel nie.”
“Nee, ek het seker nie, nè,” antwoord Theo. Sy stem is net so lig soos Katinka s’n en hy glimlag effens, maar hulle is albei daarvan bewus dat die atmosfeer in die motor gespanne is en daar daal ’n ongemaklike stilte tussen hulle neer.
3
Toe Janie haar oë oopmaak, het hulle reeds voor Theo se rondawel met die toegegaasde stoep stilgehou. Daar is dieselfde manjifieke ou blinkblaar-wag-’n-bietjieboom waaroor sy twee weke gelede so in vervoering geraak het, en in die lamplig sien sy oral op die grond die groengeel stervormige blommetjies lê wat sy laas opgetel en huis toe geneem het om in ’n boek te pars en te bewaar.
Maar hierdie keer is dit anders as daardie heerlike naweek toe sy so halsoorkop op die aantreklike jong veldwagter verlief geraak het. Toe was alles wonderlik en opwindend. Nou is sy nie lus om uit die motor te klim en die hut binne te gaan nie. Sy is bang.
“Jy moet wakker word, Janie!” terg Katinka speels en raak liggies aan haar skouer. “Ons is by die huis. Terloops – my naam is Katinka …”
Janie kom vaak-vaak regop en maak die deur oop.
“Hoe voel jy?” vra Katinka besorg. “Is jy baie styf en lyfseer?”
“Die styfheid sal seker môre eers kom.”
Theo staan in die woonvertrek, besig om die groot gaslamp aan te steek, en kyk ondersoekend op toe Janie en Katinka binnekom.
Janie se hart klop in haar keel en sy is bang Theo hoor dit. In haar eie ore klink dit soos hamerslae.
“Ek wil graag dadelik gaan bad,” sê sy senuweeagtig. “Waar is my tasse?”
Theo beduie na die ander helfte van die rondawel wat as ’n slaapvertrek ingerig is.
“In die slaapkamer. Maar kom staan eers hier in die lig sodat ek na daardie skrape en kneusplekke kan kyk.”
Janie is onwillig. “Ek is smerig vuil. Ek wil eers gaan bad.”
Dit lyk asof Theo daarop gaan aandring om eers na die kneusplekke aan haar kop en die skrape aan haar arms te kyk, maar Katinka spring hom voor. “Dis beter dat sy eers gaan bad, Theo. Die roet en as moet afkom voordat ons kan sien hoeveel skade daar aangerig is. En die salf en ontsmettingsmiddel sal in elk geval afwas as sy later gaan bad. Sit ’n oomblik, Janie, dan bring ek jou slaapklere, ’n handdoek en ’n flitslig. Arme kind, jy is seker doodmoeg en ly nog aan skok na jou nare ervaring. Na die bad sal ek vir jou iets lekkers maak om te eet.”
Janie glimlag dankbaar vir die ouer meisie, verlig dat Katinka hier is om ’n buffer tussen haar en Theo te vorm, anders sou dit baie ongemaklik gewees het en sou hy seker weer met haar rusie gemaak het. Sy hou van Katinka. Die meisie is lief en bedagsaam en Janie hoop hulle twee gaan goeie vriende word. Sy het nie geweet dat die reservaat ’n laerskool vir die personeel se kinders het nie en dis goeie nuus dat die onderwyseres ’n persoon van omtrent haar eie ouderdom is.
Janie let vir die eerste keer op hoe Katinka lyk. Die meisie is mooi: lank en skraal gebou, met skouerlengte blonde hare. Selfs in die stowwerige ou seilbroek lyk sy aantreklik en selfversekerd en laat sy Janie selfbewus voel oor haar gehawende voorkoms.
Dis heerlik ontspannend om in die kokende water te lê en Janie voel nie lus om uit die bad te klim nie. Die warm water brand egter die skrape en stukkende plekke en arme Katinka sit op ’n bankie by die wasbak vir haar en wag. Katinka lyk self bleek en moeg en sy wil haar nie onnodig lank laat wag nie,
“Jammer ek het so lank gedraai,” maak Janie verskoning toe sy die badkamerdeur oopmaak, “maar hierdie was ’n bad waarna ek baie uitgesien het.”
Katinka was besig om haar hare voor die primitiewe spieël reg te druk, en sy draai om toe Janie uitkom. Sy kyk Janie ondersoekend op en af.
“Jy is mooier as wat ek gedink het,” sê sy. Haar stem klink effens ontevrede en sy dwing ’n laggie om haar mond. “Dis darem wonderlik wat ’n bietjie seep en water aan ’n mens kan doen. Jy is ’n pragtige mens, Janie, maar jy is nog baie jonk. Hoe oud is jy?”
“Negentien.”
Katinka lyk baie simpatiek. “Dis baie jonk om nou al gebonde te wees en die verantwoordelikhede van die getroude lewe te aanvaar. As jy vyf-en-twintig is, gaan jy stokoud voel; voel dat die lewe by jou verbygegaan het, dat jy nooit die sorgvrye dae geniet het waarop elke jongmeisie geregtig is nie – toe jy kon maak wat jý wou en jou geld jou eie was