Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman
is ook weg.
Janie voel onrustig en stap vinniger, maar sy is steeds teen die skuinste en haar voet haak aan ’n boomwortel vas. Sy probeer nie eers vir haar gesig keer nie. Sy bly net so lê en hortende snikke laat haar skouers ruk. Sy weet sy gaan nooit weer by mense uitkom nie! Sy gaan die hele nag hier ronddwaal en môre, wanneer die son weer begin bak, gaan haar kragte ingee en sal sy nie meer kan loop nie. Sy sal in ’n bondeltjie bly lê, sonder dat sy die spruit gekry het …
’n Visioen van ’n groot bottel yskoue melk in haar yskas by die woonstel flits deur haar gedagtes, en dan onthou sy die eerste keer toe sy ’n limonadebier gedrink het. Dit was ’n groot glas en daar was nat druppeltjies aan die buitekant. Okkie het gesê daar is niks wat naby ’n bier kom om ’n mens se dors te les nie: nie eers water nie en beslis nie koeldrank nie. ’n Bier les ’n mens se dors die heel beste …
Janie voel hoe ’n traan teen haar wang afloop en sien hoe dit eers met die swart as meng en dan vinnig in die grond wegsak. Sy weet dit sal niks help nie, maar sy laat rus haar kop op haar arms en laat toe dat die trane haar oorweldig.
Sy moes nie met Theo getrou het nie. Dit was slegs ’n mate van verliefdheid wat sou oorgegaan het as sy hom nooit weer gesien het nie. Theo is ’n moeilike mens. Hy stel té hoë eise aan sy vrou en reeds op die eerste dag van hulle getroude lewe het hy met haar rusie gemaak. Boonop laat hy haar daarna ure lank sonder kos of water in die motor sit. Hy het haar nie lief nie en sy moes nooit met hom getrou het nie. Okkie was reg: sy ís ’n dwaas. Theo was ook reg toe hy gevra het of sy dan onnosel is. Sy moes liewer in daardie motor bly sit het en van hitte vergaan het as om hier in die veld in te kom. ’n Ligte windjie roer Janie se hare en sy kom effens tot verhaal. Haar neus is so aan die brandreuk gewoond dat sy dit eers nie besef nie, maar dan dring die feit tot haar deur dat daardie briesie ’n skoon reuk gebring het. Of miskien nie skoon nie, maar ten minste iets anders as die reuk van brand. Dit het na ’n vlei of ’n moeras of so iets geruik …
Sy kom moeisaam regop en probeer vasstel uit watter rigting die wind gekom het. Eers maak sy haar vinger nat en probeer so die windrigting peil, maar dit werk nie. Sy tel ’n handvol as op en laat dit stadig val.
Lê die spruit aan my régterkant? wonder Janie. Dit beteken dat sy die hele tyd naby was, maar dat sy elke keer weggedraai het net voordat sy by die spruit gekom het.
Dis reeds skemerdonker en sy kan nie meer mooi sien nie. Sy strompel teen die helling af en die laaste entjie kruip sy half op haar knieë.
Die sanderige ou loop met die groot plat klippe en hier en daar ’n donker poel water is die mooiste gesig wat Janie in haar hele lewe nog gesien het. Sy gril nie eers vir die paddavissies en ’n dooie slak wat bo-op die water dryf nie. Sy is te dors en proe nie dat die water louwarm is en brak smaak nie. Sy drink handevol daarvan en gooi dit ook oor haar nek en gesig. Dan skop sy haar sandale uit en baai haar seer voete in die water. Hierdie water is lekkerder as wat enige bier kan smaak …
Noudat haar dors geles is, kan sy weer logies dink en nou eers dring dit ten volle tot haar deur dat sy hopeloos verdwaal het en dat dit binne hoogstens ’n halfuur pikdonker sal wees. Sy draai haar kop skuins om beter te luister, maar daar is geen geluid wat vir haar sê in watter rigting die motor en ander mense is nie.
Die beste ding sal wees om weer by die grondpad uit te kom, besluit Janie. Sy weet nie of Theo vir haar sou wag nie, maar dalk kom daar ’n ander motor verby.
Sy begin bang word as sy aan haar man dink. Theo se uitdruklike bevel was dat sy in die motor moes bly, en sy ken daardie humeur van hom. Hy gaan baie, baie kwaad wees. In sy woede sou hy dalk sommer gery en haar aan haar lot oorgelaat het, of dalk die ander mense aangesê het om sy kinderagtige vrou te soek.
Dieselfde windjie van netnou dwarrel skielik om Janie en sy ril. Die hele dag was dit drukkend warm, maar nou is dit skielik koud. Sy droog haar hande en arms af, neem ’n laaste mondvol water en begin dan aanstap.
Die donker veld is doodstil om haar en Janie begin bang voel. ’n Krieweling trek teen haar rug af en sy vlieg om, maar daar is niks nie. Was dit haar verbeelding, of het sy werklik ’n sagte voetval agter haar gehoor? Wie sê ’n leeu of ’n luiperd is nie op hierdie oomblik besig om haar te bekruip nie?
Janie hardloop ’n ent en toe haar asem begin jaag, gaan sy met haar rug teen ’n boomstam staan om die wêreld om haar te bespied. Nêrens is ’n roering nie.
Theo het gesê leeus jag nie in die nag nie, probeer Janie haarself moed inpraat. En die ander diere het vir die vuur gevlug. Hier is geen roofdiere naby nie.
En slange? vra ’n bang stemmetjie in haar binneste.
“Slange slaap in die nag,” antwoord Janie hardop. “Dié wat nie gevlug het nie, het doodgebrand. Hier sal nie …”
Haar kop ruk om. Wat was dit? Die wind of … of iets anders? Sy hoor egter nie weer die geluid nie en begin vinnig aanstap. Sy val oor ’n klip en die takke krap haar arms en gesig, maar sy voel dit nie. Haar enigste gedagte is om weg te kom van daardie geritsel af.
Janie het geen idee in watter rigting sy loop nie en ook geen benul hoe laat dit is nie. Dit voel vir haar of sy ure lank aanmekaar geloop het en sy weet nie hoeveel keer sy geval en weer opgestaan het nie, toe sy skielik die dreuning van ’n motor hoor.
“Stop!” skree sy en begin hardloop.
Byna onmiddellik hardloop sy haar in die donker teen ’n boomstomp vas. Sy is ’n oomblik lank duiselig, maar die dreuning is nou heelwat nader en dit spoor haar aan om regop te kom. Sy begin weer hardloop, maar versigtiger, en sy hou haar arms voor haar gesig.
“Stop, ag, stop, asseblief,” vra sy. “Moenie verbyry en my hier alleen in die veld laat nie. Asseblief …”
Janie bly hardloop, maar dan sien sy motorligte skuins agter haar verbygaan. Sy het in die verkeerde rigting gehardloop. Sy het wég van die pad af beweeg …
Sy vlieg om, net betyds om die rooi liggies van die motor deur die bosse te sien verdwyn.
Dis meer as wat sy kan verduur. Sy bly teen ’n groot miershoop leun en begin hygend huil. So naby en tog so ver …
Dis die louwarm hitte van die miershoop wat Janie weer moed gee. As die miershoop nog effens warm is, beteken dit dat sy nie te ver afgedwaal het nie. Sy is nog steeds in die omgewing waar die brand was en die grondpad behoort nie te ver te wees nie.
Sy begin weer strompelend aanstap en kom agter dat sy in ’n oop stuk veld is. Sy val nie meer oor klippe en bosse nie en loop haar nie meer teen bome vas nie. Sy val op haar knieë en voel met haar hande om haar. Dis alles net sand. Daar is geen gras of bosse nie.
“Dis die … pad,” prewel Janie. “Ek het by die grondpad uitgekom!”
Nou maak dit nie meer saak in watter rigting sy loop nie en Janie besluit om net daar te bly sit in die hoop dat daar nog ’n motor sal verbykom. Sy is bang sy raak weer die pad byster as sy in die donker begin aanstap.
Na ’n ruk begin Janie weer dors word en sy voel ook lomerig. Maar sy is te bang om in te sluimer; bang ’n luiperd of ’n hiëna is besig om haar te bekruip, en dat ’n motor sal kom en verbyry sonder dat sy dit kon stop.
Eers dink Janie dis weer die geritsel van die wind, en dan klink dit ’n oomblik lank na die dreuning van ’n vliegtuig, maar dan besef sy dis weer ’n motor: ’n vragmotor of ’n Land Rover, en dit kom vinnig aan.
Sy spring op en gaan in die middel van die pad staan, sodat die bestuurder haar nie kan miskyk nie. Die dreuning word geleidelik harder en Janie begin bekommerd wonder hoekom sy nie ligte sien nie. Dit klink of die voertuig báie naby is. Sy hoop nie hier is ’n ander pad naby en dat die vragmotor haar gaan misry nie. Dit sal net mooi die laaste strooi wees!
Skielik is daar ’n paar verblindende ligte amper reg op haar. Sy gooi haar arms op en probeer desperaat uit die pad kom. Sy is van die geskree van remme bewus, en van ’n stofwolk en ’n stem wat iets uitroep. Iemand spring uit en ’n motordeur klap toe en Janie kom pynlik van haar knieë af orent.
“Het