Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman
ligte ’n figuur uitmaak en dan neem iemand haar aan die arm.
“Janie?”
“Ja, dis ek. Dankie tog dat jy gekom het. Ek was … baie bang.”
“Ek sou so dink.” Die stem is besorgd. “’n Meisiekind alleen in die veld … Waar was jy die hele tyd? Ons het ons mal gesoek na jou.”
“Ek was by die spruit. En in die veld. Ek weet nie waar ek was nie. Ek het … . verdwaal.”
“Kom klim in die motor,” sê hy en neem haar aan die arm.
Maar hy lei haar eers na die ligte toe en hou haar ’n armlengte van hom af.
“Ek wil eers kyk hoe Theo se vrou lyk.”
“My hare hang seker in toutjies en ek is smerig vuil. Ek lyk seker sleg.” Janie probeer haar hare uit haar gesig vee.
“Redelik sleg,” antwoord hy geamuseerd. “Jy lyk of jy in die oorlog was, meisiekind. Maar onder die laag stof raai ek dat jy ’n mooi entjie vroumens is. Theo het nog altyd ’n oog vir ’n mooi nooi gehad.”
“E … wie is jy? Flip Venter, die ander veldwagter?”
Hy lag saggies. “Nee, ek is nie ou Flip nie. Het Theo jou al van sy geliefkoosde neef vertel?”
Janie is nog effens deurmekaar en kan nie helder dink nie.
“’n Walt of ’n Walther of iemand?”
Weer lag hy saggies. “Ek kan sien Theo het nie te veel oor my uitgewei nie, anders sou jy darem my naam geken het.”
“Ek is jammer. My kop draai en … en ek kan nie reguit dink nie.”
“Moenie om verskoning vra nie, Janie. Eintlik het ek nie eers gedink Theo sou my naam teenoor jou genoem het nie. Hy verkies om van my aanwesigheid op hierdie ou aarde van ons te vergeet.”
“Hoekom?”
“Theo is nie die tipe persoon vir wie ’n mens die hoekoms en die waaroms vra nie. Jy het seker al teen hierdie tyd met daardie man van jou se haastige humeur kennis gemaak.”
Janie wens hulle kan in die motor klim en dat hy nie op so ’n snaakse manier praat nie. Hy en Theo sit klaarblyklik nie langs dieselfde vuur nie en sy kan onthou dat Theo taamlik kortaf was toe hy vir haar vertel het dat hy ’n skilderneef het, maar sy is te moeg om daaroor te wonder.
“Het jy nie dalk ’n bietjie water in die motor nie, Walther?” aarsel sy.
Onmiddellik is hy die ene sorgsaamheid. “Waar is my maniere tog! Jy is seker doodmoeg en dors en koud. Ja, ek het ’n bottel water in die motor, en ’n reisdeken. En noem my maar Walt. Ek het ’n gevoel ons twee gaan nog goeie vriende word.”
Janie trek ’n gesig nadat sy ’n sluk uit die bottel geneem het.
“Dis nie water nie.”
“Daar’s brandewyn by. Drink dit. Dit sal jou goed doen. Arme ou meisietjie … Dit was seker ’n nare ondervinding om alleen in die veld rond te dwaal, nè?”
“Eers was ek byna mal van die dors en toe … toe het ek bang geword,” erken Janie verleë. “Ek kom van die stad af. Ek ken nie die veld nie en ek het kop verloor toe ek besef ek is besig om te verdwaal.”
Walt dring daarop aan dat sy die reisdeken om haar vou. “Dit maak nie saak as dit vuil word nie. Dis effens koel en jy ly seker nog aan skok. Maak jou warm toe sodat Theo nie met my kan raas en sê ek het jou verwaarloos nie.”
“Waar is T-Theo?” vra Janie in ’n klein stemmetjie. “Is hy baie … woedend?”
Walt lag gemaklik en skakel die rooi sportmotor aan.
“Jy ken hom seker net so goed soos ek. Of is hy teenoor sy bruidjie sagmoedig en lieftallig?”
Janie voel dis nie baie lojaal om Theo met Walt te bespreek nie en sê liewer niks nie.
“Bang vir hom?” spot Walt.
“’n Bietjie. Hy het gesê ek moet in die motor bly sit, maar ek het dors geword en water gaan soek. Waar is hy?”
“Nog steeds daar in die brandarea. Ons het afgespreek om almal in verskillende rigtings te soek en mekaar oor ’n halfuur daar te ontmoet. Weet jy hoeveel kilometer jy geloop het, meisiekind?”
Dan het hulle al na haar begin soek, besef Janie met ’n sinkende gevoel. Theo gaan baie kwaad wees en sy weet nie of sy die moed het om aan hom te verduidelik wat gebeur het nie. Sy wens sy kon nou reguit in ’n kokende bad klim en dan tussen sagte lakens inkruip en slaap en slaap …
“Nagenoeg elf kilometer,” onderbreek Walt haar gedagtes.
“Dit was meer. Ek het in sirkels geloop. Een keer, toe ek rus, sien ek dat ek onder dieselfde boom staan. Dieselfde dooie skilpad wat ek ure tevore gesien het, was … w-weer daar …”
Alles borrel oor en Janie begin onsamehangend vir hom vertel wat sy alles deurgemaak het.
“Arme ou meisietjie,” sê Walt sag. Hy plaas sy hand oor hare. “Hulle het jou nie gewaarsku dat dít die soort lewe is waarvoor jy die stadslewe verruil nie.”
Janie kom nie agter dat Walt stilgehou het nie en skrik toe hy die motor se deur oopmaak. Hy help haar uitklim en hou haar dan beskermend terug.
“Theo is hier,” sê hy onderlangs. “Hy het so pas stilgehou. Moenie toelaat dat hy jou boelie nie, astertjie. Jy het baie deurgemaak en die minste wat hy kan doen, is om jou in sy arms te neem en dankie te sê dat ek jou gevind het.”
Hy praat harder en daar is ’n uitdagende klank in sy stem: “Theo! Ek het jou vrou vir jou gebring!”
Theo antwoord nie dadelik nie. Hy het die Land Rover se ligte aan gelos en Janie sien dat hy stadig aangestap kom. Sy wens sy kon sy gesig sien.
“Is dit so?” vra Theo koud.
Geen woord van verwelkoming teenoor mý nie, dink Janie. Sy voel lus om om te draai en weg te hardloop. Dit lyk nie asof Theo oor haar bekommerd was of bly is sy is veilig nie.
“Waar het jy haar gekry, Walt?”
“Omtrent elf kilometer van hier af, in die middel van die pad.”
Theo trek Janie aan die arm nader en bekyk haar in die ligte van die Land Rover.
“Makeer jy iets?” vra hy skerp.
Meteens is alles vir Janie te veel. Dit was ’n nagmerrie-ondervinding om in die donker in die veld te verdwaal en sy kan hoor Theo maak gereed om met haar rusie te maak en haar voor al hierdie vreemde mense te verneder. Haar kop draai en sy praat voordat sy dink.
“Ja, ek makeer baie!” spring sy Theo voor. “Ek is onnosel en gedra my soos ’n kind. Ek is mal in my kop. Stapelgek. Dit sou my verdiende loon gewees het as julle my in die veld gelos het. Jy het beveel ek moet in die motor bly en ek kan nie verwag dat jy bly moet wees om my te sien nie. Ek het jou baie ergernis veroorsaak. Toe maar, ek sal teruggaan Johannesburg toe en … en …”
Sy begin hygend huil en kan geen woord verder uitkry nie.
“Is jy klaar, Janie?” vra Theo koel. “Of was daar nog iets wat jy wou byvoeg?”
Walt plaas ’n beskermende arm om Janie se rukkende skouers.
“Dit was baie taktloos van jou, ou neef. Sy was byna histeries toe ek haar gevind het en ek het gesukkel om haar in die motor gekalmeer te kry. Nou het jy haar van nuuts af omgekrap. Hierdie meisietjie het baie deurgemaak en sy is so moeg dat sy amper nie op haar voete kan staan nie.”
“Dis nie ’n meisietjie nie. Dis my vrou.”
“’n M-mens sou dit nooit … raai nie,” beskuldig Janie hom.
Eers lyk dit asof Theo haar gaan antwoord, maar dan draai hy om en praat kortaf met iemand.
“Kyk