Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman
onregverdig. Kyk na my.”
Sy is egter te verleë en skud haar kop.
“Janie …!” Theo plaas sy wysvinger onder haar ken en dwing die blosende gesiggie op. “Is dit dan so moeilik om daardie woordjies te sê?”
“Ek is skaam …”
Theo lag en skakel die motor aan, skielik haastig om die ete afgehandel te kry en hierdie pragtige meisie sy eie te maak en saam te neem Pafuri toe.
“Het ek al vir jou gesê jy lyk soos ’n droom in daardie ligroos rok? Soos ’n droom wat waar geword het … As jy nie so moedswillig was nie en vir my gesê het watter kleur jou trourok gaan wees, sou ek vir jou ligroos rose gekoop het.”
“Wit rose is beter. Hierdie rose se naam is Vrede.”
“Dis ’n baie gepaste naam.”
By die volgende rooi verkeerslig neem Theo haar hand in albei syne en druk ’n teer soentjie op haar gewrig. Hy het hierdie skraal ou meisietjie met die verleë glimlaggie lief en hy hoop om haar gelukkig te kan maak. Hy hoop om haar so goed moontlik te kan beskerm, maar skielik wonder hy of dit werklik gepas was om vir klein Janie wit rose te gee. Daar gaan nie vrede wees wanneer hy met ’n bruid aan sy arm in Pafuri aankom nie …
Die motoris agter hulle blaas ergerlik sy toeter toe die lig groen word en Theo nie dadelik wegtrek nie. Theo brom iets onderlangs en grinnik dan vir die geskokte uitdrukking op Janie se gesig.
“Jammer. Oor een uur en vyftig minute sal ek ’n nuwe blaadjie omslaan en ’n uiters voorbeeldige man vir my vrou wees,” lag hy en skud die vae gevoel van onheil van hom af. Die verlede behoort tot die verlede en hy skuld niemand iets nie … “Sien jy nog kans om met my te trou?”
“O ja …”
“En in ’n wildreservaat te woon?”
“Ek kan nie wag om in Pafuri te kom en huisvrou te speel nie.”
“Binne ’n paar maande – sodra ons op daardie wilddiewe se spoor kom en hulle almal agter tralies het en my werk minder is – neem ek jou met vakansie.”
“Dis nie nodig nie. Ons hele lewe saam gaan soos een lang wittebroodsvakansie wees.”
Theo sit sy arm om Janie en druk haar styf teen hom vas, ongeag of die verkeerslig dalk reeds weer na groen oorgeslaan het en of daardie ongeduldige motoris nog agter hulle is. Dis nie elke dag dat ’n man na sy eie troue op pad is nie …
2
Theo verminder spoed toe hulle by die ingangshek kom en draai na Janie.
“Amper by die huis, my liefste!”
“Ja.”
“Ja, wie?”
“Ja, Theo,” terg Janie.
“Nee, dis nog nie goed genoeg nie.”
“Ja, my … man. My liefste man …”
Theo lag ingenome en druk ’n soentjie op die twee blinknuwe ringe aan sy vrou se linkerhand.
Hulle loop na die kantoortjie, waar hy die hekwagter en die beampte groet en verneem of daar enige boodskappe vir hom is.
“Middag, Theo. En … e … middag, mevroutjie,” groet die ouerige man en loer nuuskierig oor sy bril na die mooi donkerkopmeisietjie. So, dis nou die stadsnooientjie wat Theo vir hom in Johannesburg gaan haal het! Jare lank al word Theo Vermaak as die mees gesogte vrygesel in die Laeveld beskou en het Katinka tevergeefs haar flikkers vir hom gegooi. Maar nee, hulle eie meisies was nie vir hom goed genoeg nie. Hy het vir hom ’n stadsjapie gaan haal. Hierdie enetjie is mooi en Theo lyk baie lief vir haar, maar sy is nog baie jonk en hy wonder of sy hier sal kan aanpas … en of sy opgewasse is vir die stryd wat op haar wag. Katinka is sy eie kind en hy ken haar ongelukkig te goed. Sy is nie ’n mens wat maklik tou opgooi nie. Sy is baie lief vir Theo Vermaak en sy gaan die lewe vir hierdie donkerkoppie moeilik maak.
“Enige boodskappe, oom Gawie?” herhaal Theo.
Oom Gawie Labuschagne knik.
“Daar is ’n veldbrand twintig kilometer anderkant Dzata-kamp.”
“Wanneer het die brand uitgebreek?” vra Theo skerp.
“Laat gistermiddag. Een van die toeriste by Njelele het die rook opgemerk en die kantoor in kennis gestel. Flip en Johan Weideman en ’n paar ander beamptes is dadelik soontoe, maar daar was nie ’n voorbrand naby nie en hulle sukkel om die brand onder beheer te kry. Katinka en die kinders het ook gaan kyk of hulle kan help.”
“Ek ry dadelik. Twintig kilometer anderkant Dzata? Op die seekoeigatpad?”
“Dis reg, Theo. Ek wonder, wil mevroutjie nie liewer hier bly en ’n bietjie rus nie? Die pad was seker lank en warm.”
“Dankie, oom Gawie, maar daar sal nie vanaand tyd wees om haar weer te kom haal nie,” sê Theo, onwillig om Janie by Katinka se ma en pa te laat. “Sy sal maar saam met my moet ry.”
Theo gee vet toe die motor deur die hek gaan. ’n Brand in die Dzata-gebied is gevaarlik. Twee jaar gelede was daardie deel ’n droogtegeteisterde gebied en hierdie seisoen is die veld steeds droog en uitgetrap. Gelukkig is dit nou somer, maar vir die soveelste keer wens hy daar was genoeg tyd om voldoende voorbrande te maak.
Vier jaar lank was hy die enigste veldwagter in Pafuri en toe het Flip Venter hom darem kom help, maar hy het meer hulp nodig en saans wanneer die son sak, voel hy die magtelose frustrasie in hom opstoot. Daar is te min tyd en te veel dinge wat gedoen moet word om die veld en die diere te beveilig. Die brand is natuurlik weer veroorsaak deur ’n dom toeris wat onnadenkend ’n sigaretstompie uit sy motor gegooi het … of dalk die wilddiewe wat die patrollie in ’n ander rigting wou stuur …
“Ons ry te vinnig,” keer Janie. “Ons sal geen diere sien nie.”
“Daar’s nie nou tyd om diere te soek nie. Ek wil so gou moontlik by daardie brand kom!”
“En jou arme motor?”
Theo onderdruk ’n ongeduldige uitroep toe die motor se veerstelsel op ’n slaggat deurstamp en hy spook om weer beheer te kry.
“Dink jy ’n motor is vir my belangriker as die lewens van duisende hulpelose diere wat deur die vuur bedreig word? Waar dink jy gaan die bokke die komende winter wei as die hele veld afbrand? Aan die noordelike grens, waar die terroriste sit en wag om hulle af te maai en te verorber? Verbrande onnosele toeris …! Soms weet ek nie wie die gevaarlikste is nie – die toeriste of die terroriste.”
Theo spaar nie sy motor óf sy passasier nie en Janie kan net hier en daar ’n woord uitmaak wat hy sê.
“Wat sê jy? Het ’n toeris verbrand? In daardie veldvuur?”
Theo mompel onderlangs iets ergerliks en Janie waag dit nie om weer te vra wat hy sê nie. Sy verstaan nie mooi wat gebeur het of wat die rede vir hierdie vreeslike jaagtog is nie, maar sy sê liewer niks nie. Sy het Theo nog nooit in so ’n omgekrapte bui gesien nie en besluit om voorlopig maar stil te bly. Later kan sy gegrief voel omdat hy so kortaf met haar was, nou moet sy eers vir lewe en dood aan die sitplek vasklou. In hierdie luim sal Theo seker nie eers stilhou as sy uitval nie.
“Olifant! Hou vas!” roep Theo uit en die volgende oomblik swaai die motor heeltemal dwars in die sand soos hy moet rem trap om nie die yslike kolos te tref nie. Hy steek ’n hand uit om Janie te keer, maar hy is te laat; sy is net van ’n donker massa amper so groot soos ’n berg reg bokant die motor bewus voordat haar kop die paneelbord met ’n verblindende slag tref. Sy hoor dat Theo iets uitroep, maar sy sien sterretjies en is nie in staat om te antwoord nie.
Die ratte kras toe Theo ’n paar treë agteruit ry en sommer deur die veld koers kies om agter om die olifant te kom.
Janie het op haar knieë tussen die sitplek en die paneelbord geval. Sy is deurmekaar van die harde stamp teen haar kop en voel benoud toe sy