Ena Murray Keur 9. Ena Murray
ek hou nie van die manier waarop jy van jou oorlede tante praat nie!” sê Kerneels Prinsloo ook streng, bewus daarvan dat daar ’n onverklaarbare spanning in die lug is.
“Ag, Paps, jy weet tog ek bedoel dit nie neerhalend of so nie. Maar die ou mens het nooit veel ooghare vir my gehad nie en die gevoel was wedersyds. Dit het altyd gelyk asof sy my vreeslik verkwalik oor iets – waaroor, sal ek nie kan sê nie. Ek het haar nooit iets aangedoen sover ek kan onthou nie. Nou toe. Wie erf wat?”
Mara Prinsloo sug. Wel, sy kan dit net sowel nou hoor. “Petra is haar enigste erfgenaam.”
“Wat!” Die oë draai groot en rond na haar tweelingsuster. “Jy was altyd haar witbroodjie, maar ek het darem gedink …” Die skouers word traak-my-nieagtig opgetrek: “Ek is nie regtig verbaas nie. Ek het dit vermoed.” Sy lag hardop, haar oë skertsend. “Mag, Eugene, ek wonder of jy weet met hoe ’n ryk vrou jy gaan trou. Geluk, ou maat! Dis min mans wat só in die botter val!”
“Paula!” Mara kan haar skok en ontevredenheid nie verberg nie. “Jy is nou vulgêr, om die minste daarvan te sê!”
“Wat waar is, is waar, Mams.”
“Dis nou genoeg, Paula!” klink haar pa se streng stem op.
Haar onderlip pruil ontevrede, maar sy swyg.
Dis Petra wat die ietwat ongemaklike stiltetjie verbreek. “Julle moet my asseblief verskoon,” sê sy sag. “Ek voel moeg. Ek het pas twee ure gelede voor ’n oop graf gestaan en …”
Hulle kan die snik in haar stem hoor toe sy vinnig omdraai en die gang af verdwyn, en Eugene laat verskonend met ’n ontwykende blik hoor: “Ek … ek sal ook nou eers moet gaan. O ja, ek wil ook my opregte meegevoel aan u en mevrou oordra.”
Kerneels knik en kyk Eugene agterna toe hy die huis verlaat. Vlugtig ontmoet sy blik dié van sy vrou en keer dan terug na sy ander dogter, sy stem ontdaan van die gewone warmte waarmee hy sy kinders altyd aanspreek.
“Hoe het dit gebeur dat jy en Petra se vriend rinkink terwyl ons ander begrafnis hou?”
Iets in haar pa se stem waarsku die meisie op die rusbank dat sy nie in haar pa se goeie boekies is nie, maar sy glimlag onbesorg, wetend dat sy dit nog altyd in die verlede reggekry het om die bordjies te verhang.
“Paps, u is nou onredelik. Wat het ek en Eugene gesondig? Hy het hier verbygery, gesien die huis is oop, gedink julle is miskien al terug van die begrafnis en aangekom. Toe tref hy mý hier aan. Ons het ontmoet, begin gesels en …” Sy glimlag breër. “Slaan my dood, ek het geen benul hoe dit gebeur het dat ons begin dans het nie! Ek dink ons het, onder meer, oor musiek gesels en toe het ek my jongste plaat gespeel wat ek saamgebring het, en toe … wel, dit het net vanself so gebeur dat ek hom wys hoe ’n mens dit dans en dis hoe … julle ons só hier aangetref het. Daar was geen kwade bedoelings, nog minder dat ons geen respek vir tant Petronella se afsterwe het nie. Dit het net … gebeur!”
Kerneels sug en sy vrou neem oor. “Ai, my kind, ons weet jy het niks kwaads bedoel nie, maar ek wens jy wil soms net ’n bietjie verder dink. Daar was darem dood in die familie en … Eugene is jou suster se vriend. Haar spesiale vriend.”
Paula gooi haar hande in die lug. “O, goed. Ek is jammer. Jammer oor die rinkinkery, soos Paps dit noem. Maar wat moes ek met Eugene doen? Moes ek hom wegjaag toe hy aan die voordeur klop?”
Met diepe kommer in die moederhart sien Mara haar dogter opspring en uitstap, en haar blik volg die pragtig geboude lyfie deur die sitkamervenster toe Paula na haar rooi motortjie hardloop en wegry. Sy sug diep. Dis voorwaar nie maklik om die ma van Paula en Petra te wees nie.
Soos so dikwels in die verlede, besef sy dat sy teen onregverdigheid sal moet waak. Deur die een te beskerm, kan sy so maklik die ander een te na kom. Maar dis so moeilik om altyd te weet wat die regte optrede is, die regte woorde – hoe om die een te beskerm sonder om die ander een seer te maak. Sy weet Paula was net vriendelik teenoor Eugene. Haar gemaklike spontaneïteit is een van haar aantreklikste eienskappe. Natuurlik het sy nie enige bybedoelings gehad toe sy haar suster se vriend die allerjongste danspassies geleer het nie. Paula het meer kêrels as wat sy op haar vingers kan tel. En tog …
Sy weet Paula voel ook nou seergemaak soos Petra op hierdie oomblik in haar kamer. Wat doen ’n ma in so ’n situasie? Paula kom juis deesdae heelwat minder huis toe. Om die waarheid te sê, sy was baie lank laas hier. Sy moet versigtig wees om dié kind van haar nie vir altyd van die ouerhuis te vervreem deur Petra se belange te beskerm nie. Want Paula – dié mooi kind van haar – gaan haar ouers in die toekoms nog baie nodig kry … miskien nodiger as Petra. Die pad van ’n mooi meisie is vol duwweltjies en slaggate – en dan moet haar kind die pad terug huis toe ken en met vrymoedigheid hierheen haar toevlug kan neem.
En Petra? Hierdie goeie, liewe, stil, onaantreklike dogter van haar? Daar is pyn in Mara se hart. Gaan haar lewe dieselfde eensame paadjie volg as dié van haar tante wat haar ’n klomp geld nagelaat het om te probeer vergoed vir die baie ander dinge in die lewe wat sy nie gaan kry nie? Gaan Petra ’n tweede Petronella word?
Daar is mans wat verby die uiterlike kyk. Sy glo dit. Maar is Eugene Minnaar een van hulle? Sy draai die gang in, en gaan staan voor ’n deur. Ter wille van Petra móét sy dit glo, moet sy bid dat dit so is.
Dis met huiwering dat Mara nader stap, die trane teer van haar dogter se wange afvee. “Ag nee, my kind. Hoekom dan opnuut trane?”
Albei weet die trane vir tant Petronella is langs die graf gestort. Hierdie is ander … trane van vrees en magteloosheid.
“Wat het sy nóú hier kom soek?”
Die woorde val hard tussen hulle, skok die ma. Sy het nooit kon dink sy sou so iets uit dié dogter van haar se mond hoor nie. Haar hart trek saam. Dis nie die gewone vrees en magteloosheid wat sy vandag hier voor haar sien nie. Daar het iets bygekom … iets wat die moederhart ’n oomblik yskoud laat word. Dis die eerste tree op ’n lang, eensame pad van bitterheid. Nee, Petra! Nee, my kind!
“Dis haar ouerhuis ook, my kind. Sy is net so deel van ons soos jy. Sy is jou suster, Petratjie.”
“Weet ek dit nie teen dié tyd nie!”
“Petra …”
“Asseblief, Ma, ek sien nie kans om vandag na verskonings vir haar te luister nie. Ek ken dit alles al teen dié tyd. Ek kan alles self opnoem as dit nodig is.”
“Petra!”
“Sy bedoel niks daarby nie. Sy het hope kêrels van haar eie. Sy was net vriendelik. Dis haar geaardheid. Sy sal my nooit doelbewus seermaak nie. Sy …”
“Kind …”
“Maar daar is een verskil dié keer, Mamma. Die vorige kere het dit nie seergemaak nie. Ek het verneder gevoel, maar nie seer met ’n diep pyn nie. Maar hierdie keer maak dit saak, geweldig baie saak … want hy het my gevra om met hom te trou.” Twee paar oë kyk diep in mekaar. “As sy dit nou weer gaan doen …”
“Petra, my skat, moenie voorgee Paula het elke keer doelbewus jou vriend afgevat nie. Sy hét nie.”
“Ek weet.” Daar is magteloosheid, ’n radeloosheid in die oë wat stadig met trane vul. “Dis die ergste van alles. Ek wéét dit! As sy dit maar liewer doelbewus doen, kan ek haar beveg, sal ek haar dié keer beveg met alles in my. Maar dit is nie háár skuld nie, net so min as wat dit mý skuld is. ’n Man kyk net een keer na haar, is net twee minute in haar geselskap en … hy is haar slaaf, blind vir enige ander meisie totdat hy op ’n dag besef sy is ’n vlinder: pragtig, begeerlik, maar tot dusver ongebonde.” Weer trek die lippe wrang, kerf ’n kepie van verbittering in die mondhoeke wat Mara nog nie tevore daar gesien het nie. “Moet ek op daardie dag wag, Mamma? Moet ek die man wat ek liefhet op die terugtog gryp, tevrede om naasbeste te wees soos ek maar nog altyd was?”
Ag, Here! Gee my wysheid en die regte woorde! bid Mara Prinsloo byna hardop. “Doen jy Eugene nie nou ’n groot onreg aan nie? Hy het jou gevra om met hom te trou. Hy het jóú lief. Dink jy so