Ena Murray Keur 9. Ena Murray
Dis net wanneer ’n gesig werklik vermink is, ’n liggaam krom getrek is of ’n ledemaat verwronge is dat dit sy aandag trek.
Sy lig weer haar kop op en kyk in die skerp blou oë. “Ek is lelik en vet.”
Baie vlugtig dwaal sy blik oor haar gesig, skiet vlugtig af oor haar liggaam en dan pen sy oë weer hare vas. ’n Siniese trek speel om die mondhoeke.
“Ek begryp. Een van dáárdie.” Sy sien hom weer agter die lessenaar plaasneem, sy hand reik na ’n pen, sy stem bly totaal onpersoonlik. “Ek sal jou die adres en telefoonnommer van ’n dokter gee wat jy kan gaan spreek.”
“Maar …”
Sy oë rus op die stukkie papier voor hom. “Ek doen nie sulke operasies nie.”
“Maar jy is ’n plastiese chirurg!”
“Ja. Ek is.” Hy kyk op, hou die papiertjie na haar uit. “Maar ek doen nie die soort operasie wat jy verlang nie.”
Sy neem nie die papiertjie by hom nie, kyk hom net verslae aan. “Hoekom nie?” hoor sy haarself vra.
Weer speel die siniese trek om die mondhoeke. “Ek is gans te besig om mense te help wat werklik hulp nodig het om …”
“Ja?”
“Ek het nie tyd vir vroulike ydelheid nie.”
“Ydelheid!”
“Ja.” Hy kom weer om die lessenaar gestap en druk byna die papiertjie in haar hand. “Die dokter na wie ek jou verwys, sal jou maar te graag help. Goeiedag, juffrou Prinsloo.” Hy draai om en sy hoor hom sê: “Stuur maar die volgende pasiënt in, suster.”
By die deur staan sy opsy om die volgende pasiënt binne te laat – ’n mooi, jong meisie … sonder een arm. Vlugtig, voordat die deur agter haar toegaan, sien sy hoe dokter Wagner nader stap en breed vir die meisie glimlag. “A, Charlene! Dis gaaf om jou weer te sien. Hoe gaan dit nou?”
Eers toe sy agter die stuurwiel sit, kyk sy na die papiertjie in haar hand. Sy herken die naam dadelik. Dié dokter is baie bekend in die stad, veral onder die lede van die vroulike geslag. Almal weet waaruit sy bloeiende praktyk bestaan, seker al kort duskant ’n fortuin, bloot te danke aan vroulike ydelheid, soos dokter Klaus Wagner dit so onomwonde gestel het.
Sy frommel die papiertjie op, kyk strak voor haar. Maar hierdie keer is dokter Wagner verkeerd. Hierdie keer is dit nie bloot vroulike ydelheid nie. Dis ’n vereiste, ’n dringende noodsaaklikheid. Haar hele toekoms is op die spel. Noudat sy finaal daarop besluit het, sien sy nie meer kans om te bly lewe as dit nie gedoen kan word nie. En net die beste man moet dit kan doen, want net die knapste vingers in die land sal hierdie wonderwerk kan bewerkstellig. Want ’n wonderwerk sal dit moet wees … ’n fantastiese, ongelooflike wonderwerk. En die knapste vingers in die land op hierdie gebied behoort aan net één man – Klaus Wagner.
“Hoe vorder jou planne vir die vakansie?” hoor sy haar ma aan tafel vra. “Jy het ons nog niks daarvan vertel nie.”
Sy kyk op, glimlag stram. “O, ek sal sodra ek alles gereël het. Dis ’n verrassing.”
“O?” Mara Prinsloo kyk haar groot dogter onseker aan. Sy kan maar net nie van die gevoel ontslae raak dat daar iets … ongekends, iets vreemds in hierdie dogter van haar aan ’t broei is nie. Sy kan nie die vae onrus in haar afskud nie. Hoekom so geheimsinnig oor die voorgenome vakansie?
Sy probeer wal gooi. “Jy moet net onthou jy het nog nie tant Petronella se geld ontvang nie, kind. Dit duur ’n tydjie vir ’n boedel om afgehandel te word.”
“Die prokureur het my gesê ek kan solank vooruit kry soveel ek wil hê. Die sekuriteit is daar.”
“Maar jy sal rente moet betaal …”
“Wat maak dit saak?”
Mara sien haar dogter uitstap en kyk haar fronsend agterna. Daar het ’n verandering in Petra plaasgevind. Sy het nooit in die verlede so ’n traak-my-nieagtige houding gehad nie. Maar die afgelope dae …
Sy sug, begin die leë borde inmekaarskuif. Al wat sy kan doen, is om vir haar kinders te bid. Wanneer hulle hierdie ouderdom bereik het, kan ’n ouer kwalik meer doen.
Terwyl sy aan diens is, is Petra bewus daarvan dat Eugene se oë dikwels op haar rus wanneer hy in die operasiesaal is. Maar dit ontsenu haar nie so erg soos wat sy verwag het nie. Sy het hierdie laaste week gevrees waarin hulle twee noodgedwonge nog baie moet saamwerk. Sy het gewonder hoe sy daarin gaan slaag om beheers en kalm te bly en haar gevoelens nie te verraai nie. Maar dikwels is sy kwalik bewus daarvan dat dit Eugene is saam met wie sy werk.
Haar gedagtes word te besig gehou deur ’n persoon … ’n ander dokter. Hoe maklik en ongeërg het hy haar nie die pad gewys nie! Wat weet hy? Hoe kan hy so maklik oordeel en haar ook as ’n geval van vroulike ydelheid klassifiseer? Hoe kan hy net ná ’n paar woorde so ’n besliste diagnose lewer?
Wat weet hy van al die smart en verydeling en frustrasie wat agter daardie enkele paar woorde geskuil het … nog skuil? “Ek is lelik en vet.” Hy kon nie die patos, die hunkering, die hartverskeurdheid agter daardie woorde lees nie. Hoekom sou hy ook? Hy is ’n aantreklike man, eintlik baie aantreklik, noudat sy terugdink. Hoe sal hy weet hoe dit voel om altyd skaam te wees om jou gesig op te lig, om pynlik selfbewus te wees oor jou liggaamlike voorkoms? Hoe sal hý weet hoe dit voel om die lewe maar net altyd by jou te sien verbygaan sonder om ooit werklik deel daarvan te wees?
Nee, hy sal nie weet nie, en daarom het hy haar geval onder “vroulike ydelheid” geklassifiseer en haar verwerp.
“Petra …”
“Ja?”
“Hoe vorder die vakansieplanne? Het jy al begin …?”
“O ja. Ek is besig daarmee.” Sy glimlag onpersoonlik vriendelik na hom op, net soos daardie ander man met haar gedoen het. “Verskoon my. Ek is nou van diens af en wil nog gou ’n draai by die winkels maak.”
Sy stap by die operasiesaal uit en weet dat Eugene haar agterna kyk, maar, vreemd genoeg, daardie ergste brandpyn, daardie doringsteek in die hart, is nie meer so seer nie, want haar gedagtes is weer met ander dinge besig.
Sy sal weer na die chirurg gaan, hierdie keer vooraf ’n afspraak reël. Daar is darem seker meer as een juffrou Prinsloo in die stad. Hy sal nie weet dis sy voordat sy reeds in sy spreekkamer is nie. En dan sal sy hom nie kans gee om haar weer summier uit te stuur nie, nie voordat sy hom vertel het hoekom dit so dringend noodsaaklik vir haar is dat sy daardie operasie of operasies ondergaan en dat juis hý die een moet wees wat dit moet doen nie. Sy is seker hy sal dan begryp en instem …
Die volgende dag ruil sy dienstye met ’n ander suster en daardie middag stap sy weer by die deur in waarop sy naam pryk. Die vriendelike dametjie agter die ontvangstoonbank vind dit glad nie vreemd dat sy weer gekom het nie. Dokter Wagner se pasiënte raak later soos ou bekendes, want in sy soort werk is tyd een van die belangrikste faktore. ’n Dokter kry nie ’n verwronge liggaam of ’n geskende gesig in ’n week of twee reg nie. Dikwels duur dit maande, selfs soms jare voordat hulle hier uitstap soos normale mense, of dan so na aan normaal as wat Klaus Wagner dit kan kry, want selfs hý het beperkinge, hoewel so baie kan getuig dat hy soms wonderwerke verrig.
Haar knieë voel bewerig toe die ontvangsdametjie aan haar beduie sy kan maar deurstap.
Hy staan met sy rug na haar, besig om na iets in ’n kas te soek, toe sy binnestap. Sy bly stokstyf en gespanne in die middel van die vertrek staan en toe hy omdraai, kyk hy in ’n paar groot, bang oë vas.
Sy verbasing is opreg. So ook die ergerlike frons wat blitsig tussen die oë verskyn toe hy haar herken.
Dan pleit die groot oë. “Dokter, ek is jammer, maar ek moes …”
“En ek is jammer, juffrou Prinsloo, maar ek kan jou nie help nie. Het ek my standpunt gister nie duidelik genoeg gestel nie?”
“Ja, maar …”
“Jy