Ena Murray Keur 9. Ena Murray

Ena Murray Keur 9 - Ena Murray


Скачать книгу
het dit. Jy moet onthou, ek het nog nooit soveel geld gehad nie. Dis net menslik dat ek dit wil gebruik.”

      Sy hande gryp haar skouers vas. “Petra, kyk na my. Nee, kyk my vas in die oë. Ek vra jou weer om met my te trou – volgende week, as jy wil. Asseblief!”

      Haar oë rus stil, kalm in syne. “Dankie vir die eer, Eugene, maar … nee, ek wil nie met jou trou nie. Asseblief, aanvaar dit so.”

      Toe Petra enkele minute later in die gang afstap, kom sy tot stilstand toe sy haar suster deur die oop slaapkamerdeur gewaar. Soos sy verwag het, lyk Paula asemrowend in haar nuwe geskenk.

      “Ek kon dit nie verhelp nie. Ek móés dit weer aanpas.”

      “Dit pas jou uitstekend.”

      “Mams sê ek mag dit nie neem nie. Jy het dit vir jouself gekoop.”

      “Ja, maar ek het geweet dis nie my soort rok nie. Dit pas nie by my nie. Neem dit gerus. Ek gaan môre vir my weer een koop – sommer ’n paar.”

      “O? Hoekom?”

      “Vir my vakansie.”

      Haar ma het stil agter haar verskyn en vra verbaas: “Gaan jy met vakansie? Wanneer begin jou verlof?”

      “Die einde van die week. Dis eintlik nie verlof nie. Ek het bedank.”

      “Bedank?”

      “Ja. Ek het gedink: waarom sakke vol geld hê en dit nie gebruik nie?”

      Sy verdwyn in haar kamer en ma en dogter se oë ontmoet. Daar is ligte afguns in Paula se stem te bespeur. “Gelukkige meisie!”

      “Is sy? Ek wonder.” Die ouer vrou stap weg, druk sonder seremonie die kamerdeur oop, sien haar dogter voor die venster staan en uitstaar.

      “Petra, wanneer het hierdie planne begin? Ek bedoel, jy en Eugene … Of wil jy eers gaan vakansie hou voordat …?”

      “Daar is niks tussen my en Eugene nie.”

      “Hoe nou? Jy het dan gesê …”

      “Ek weet, maar ek het die saak oordink.” Wonderlik hoe ongeërg haar eie stem in haar eie ore klink. “Dit sal verspot van my wees om nou te gaan trou, noudat ek skielik ’n skatryk meisie is en ook die lewe kan geniet, of hoe?”

      Toe Paula die volgende dag terug universiteit toe vertrek, neem die twee susters heel vriendelik van mekaar afskeid.

      “Dink aan my wat sit en swoeg met eksamenvraestelle wanneer jy so heerlik rinkink.”

      “Ek sal. Dink jy jy sal vanjaar die paal haal?”

      Paula trek ’n gesig. “Ek hoop so. Ek gaan in elk geval nie terug nie. Ek is nou moeg van die universiteit. Wanneer is jy van plan om op jou wêreldreis te vertrek?”

      “Jy vergroot weer. Ek het niks van ’n wêreldreis gepraat nie. Ek sal dié week my planne agtermekaar kry.”

      “Gaaf. Geniet die tyd, sus.”

      Petra het die rooi sportmotortjie agterna gekyk en toe na haar eie gestap.

      In die middestad parkeer sy, klim uit en stap ’n gebou binne. Sy kyk soekend om haar rond terwyl sy in die lang gang afstap. Dan val haar blik op een van die deure en sy stap nader.

      Dr. K. P. Wagner. Plastiese chirurg. Onderaan staan ’n aantal grade indrukwekkend in swart letters op die koperplaat gedruk.

      Sy aarsel. Is sy nie nou belaglik nie? Om tot sulke uiterstes te wil gaan … Dan verdring die kille vasberadenheid weer die twyfel in haar. Die jare van minderwaardigheid was nie belaglik nie. Wat haar oë moes aanskou en haar ore moes hoor toe sy gistermiddag tuisgekom het, was nie ’n grap nie. Dit was die wrede werklikheid.

      Sy druk die deur oop, stap na die ontvangsdame. “Kan ek dokter Wagner spreek, asseblief?”

      4

      Hy sit agter die lessenaar en skryf toe sy binnestap, kyk vlugtig op, en Petra is bewus van ’n paar deurdringende ligblou oë wat ’n oomblik hare vaspen.

      Hy staan beleef op. “Goeiemôre. U is …?”

      “Prinsloo. Petra Prinsloo.”

      “Sit gerus. Verskoon my net ’n oomblik, asseblief.”

      Sy neem plaas, en sy het tyd om vlugtig om haar rond te kyk. Soos sy verwag het, lyk hierdie spreekkamer maar nes enige ander dokter s’n. Dan gaan haar blik na die dokter self.

      ’n Lang man, het sy opgemerk toe hy netnou vlugtig opgestaan het. Soos sy ook verwag het, is die vingers wat die pen hanteer lank en skraal, die fyn hande van ’n chirurg. Hulle is kunstenaarshande wat dit wat lelik en vermink, gebreklik en verwronge is, tot iets moois omskep.

      Sy kyk teen sy voorkop vas: ’n hoë voorkop met streng agteroor gekamde hare. Tog is daar op hierdie oomblik ’n moedswillige haar of twee wat dwing om oor sy voorkop te val. ’n Effens krom, langerige neus met ’n besliste, vol mond daaronder. ’n Skraal gesig en nek op ’n paar breë skouers.

      Sy oë is ligblou, baie lig … ’n eienaardige kleur. Dan fladder haar ooglede wanneer sy besef sy kyk al ’n hele rukkie in die vreemde ligblou oë vas. Dis ’n reguit blik; opsommend, maar sonder veel belangstelling. Onpersoonlik.

      “Is daar iets waarmee ek kan help … e … juffrou Prinsloo? Dit is ‘juffrou’, nie waar nie?”

      “Ja.” Sy sluk, lek oor haar droë lippe, maar die woorde wil nie kom nie.

      Sy sien daar kom meer belangstelling in die oë.

      “Ek veronderstel jy het my oor iemand kom spreek?” sêvra hy, sy stem kalm, diep, gerusstellend, soos ’n dokter s’n behoort te klink wanneer hy met ’n duidelik senuweeagtige persoon te doen kry. “U moes die persoon sommer saamgebring het. Hoe gouer ’n mens die pasiënt self onder oë kry, hoe gouer weet jy wat om te doen. Is dit een van u familie?”

      Sy kyk hulpeloos op. Is die man dan blind? Kan hy nie self sien hoekom sy hier voor hom sit nie? Dat dit nie om iemand anders gaan nie?

      “Ek … e … ek het oor myself gekom.”

      ’n Ligte, verwarde fronsie plooi tussen sy wenkbroue. “Is daar dan iets verkeerd? Ek het niks opgemerk toe jy netnou ingekom het nie. Staan op dat ek kan sien, asseblief.”

      Sy sluk weer, klou haar handsak vas met albei hande en staan dan stadig gehoorsaam op. Sy is bewus van ’n paar oë wat ondersoekend oor haar gaan en dit voel vir haar asof hy met daardie blik haar klere van haar lyf stroop. ’n Pynlike blos vlek haar gesig, spoel oor haar hals. Maar sy oë is nie op haar gesig gerig nie. Dit dwaal oor haar liggaam, sak laer.

      “Stap asseblief tot by die oorkantste muur en kom terug.” Weer gehoorsaam sy, draai om en gaan staan dan voor die lessenaar. Hy staan op, kom om die lessenaar en nou is daar werklike belangstelling in die oë wat in hare kyk. “Dan moet dit die een of ander litteken wees wat normaalweg nie sigbaar is nie, nè?”

      Hy wag nie op haar antwoord nie, maar sê terwyl hy terugdraai na sy stoel: “Daar is die ondersoekkamer. Ontbloot asseblief die betrokke deel.”

      “Dokter …”

      “Ja?”

      “Dis nie … Daar is geen litteken nie. Ek het gekom …”

      Sy frons verdiep. “Jy het gesê dis oor jouself, nie waar nie? Jy is heeltemal normaal sover ek kan sien en jy sê daar is geen verborge litteken nie. Waarvoor het jy dan gekom?”

      “Maar … maar, dokter, kan jy dan nie self sien nie?” vra sy skor en weer vra sy haarself af: Is die man dan blind?

      “Ek is bevrees ek sien niks wat nie heeltemal normaal is nie, juffrou.”

      Haar kop sak en ’n vreemde laggie borrel skielik van binne af in haar op en ontsnap deur haar bewende lippe. Natuurlik, ja. Sy kan dit tog begryp.


Скачать книгу