Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach
op hul ma’s se heupe, in drasakke teen hul lywe, in stootkarretjies, in karstoeltjies. ’n Paar van die volwassenes het peuters of ouer kinders aan die hand. Die meeste gesigte is wit, maar daar is ’n groep swart vroue ook.
Mila tel vier van haar Indiërpasiënte en sy herken Hiromi se dierbare ronde Japannese gesiggie in die skare.
En die plakkate! Waar sou die vroue aan soveel slim slagspreuke kom? Mila wens sy kon ’n pen en notaboek gryp en van die sêgoed neerskryf; sy’s bang sy vergeet dit later. ’n Hele paar plakkate verkondig die bekende tong-in-die-kies slagspreuk: Babies are born, pizzas are delivered, maar die meeste van die boodskappe fokus op die idee dat geboorte ’n normale proses is en nie ’n siekte nie. Een plakkaat lui: Hou hospitaalbeddens vir siekes – gee geboorte in die ABU. Mila glimlag oor hierdie Amerikaanse afkorting wat talle van die plakkate gebruik: ABU vir Active Birth Unit. Salomien, ’n lang donkerkop wat ál vier haar babas by Mila gehad het, se plakkaat gil in netjiese rooi letters: MIDWIVES FOR BIRTH! DOCTORS FOR DISEASE!
Trots besef Mila dat heelwat van die plakkate daarop gemik is om die diens wat vroedvroue lewer te prys. Melanie, ’n Duitse vrou wie se baba Mila in Januarie by haar huis gevang het, swaai ’n plakkaat wat lui: Savety first: choose a midwive birth. Die spelfoute in haar opreg bedoelde boodskap vermurwe Mila se hart net verder. Tania en haar suster, Larissa, hou onderskeidelik plakkate vas wat lui: Midwives empower women en Midwives help people out.
Tania se tweede baba en Larissa se eersteling is amper ewe oud; Mila het die tweetjies in dieselfde week gevang. Sy glimlag toe sy sien hoe groot albei pienkvoete intussen geword het.
Die slagspreuke wat Mila die diepste tref, is die eenvoudiges. ’n Hele paar pasiënte se plakkate verkondig: We love the ABU. Op sommige pronk foto’s van die klein mensies wat Mila in haar geboorte-eenheid verwelkom het. Liesel – klaarblyklik die voorbok van hierdie vreemde protesoptog – staan half eenkant met haar stertswaaiende swart labrador-gidshond. Haar slagspreuk is kort en kragtig: Save our ABU.
Toe Mila bewoë naderstap, word ’n see van liefdevolle vrouehande na haar uitgestrek. Binne sekondes verswelg die groep haar heeltemal. Sy laat haarself willoos van die een omhelsing na die volgende stuur. Deur haar trane plant sy soentjies op die kwylbekkies wat vir haar uitgehou word, streel sy oor die een sysagte wangetjie na die ander. Sy is vaagweg bewus daarvan dat talle briefies in haar hande gestop word. Die vroue fluister bemoedigende woorde in haar oor en hul mans klop haar vriendelik op die skouer.
Dit word vir Mila die hoogtepunt van haar loopbaan, hierdie huldeblyk wat soveel van haar ou pasiënte aan haar betoon. Die liefde waarmee die groep haar omvou, is soos salf vir Mila se stukkende hart, en terselfdertyd steek dit ’n flou vlammetjie van hoop in haar binneste aan. Haar werk sal voortgaan, besef sy effe weemoedig. As sy dan die geboorte-eenheid moet verloor, sal dit nie die einde wees nie.Teleurstellend, ja; frustrerend, beslis. Maar nogtans nie die einde nie. Solank as wat vroue babas in die wêreld bring, sal daar altyd behoefte aan vroedvroue wees. Haar beroep is honderde eeue oud en sal nie sommerso verdwyn nie. Terwyl haar hart nog klop en haar hande sterk genoeg is om babas te vang, sal sy aanhou om haar verskil te maak – een baba op ’n slag. Miskien is dit ’n nederige verskil in vergelyking met die dramatiese reddingspogings wat Derek met sy trauma-eenheid beoog, maar sy weier om verskoning daarvoor te maak, weier om dit ondergeskik te stel aan enigiets. Wie weet watter verreikende gevolge dit vir ’n samelewing kan hê as meer babas in ’n liefdevolle omgewing met hierdie aardse werklikheid kennis maak? Natuurlik is trauma-eenhede broodnodig, maar dit beteken nie dat haar werk “window dressing” is nie. Nee, besluit Mila beslis, en sy lig haar ken trots op, wat sy doen, het ewigheidswaarde. En as Derek dan nou die deur by PMK in haar gesig toeklap, soos haar ma dit stel, dan sal sy soek vir daardie venster.Vaderland, sy is ’n vroedvrou! Sy sal hom wys van watter stoffasie sy gemaak is. Hy moenie verwag sy gaan net omrol en dood speel nie. Dis nog lank nie verby nie …
Derek Reynders staan armsgevou by die venster van die hospitaalbestuurder se kantoor en uitkyk. Leon Swiegers het hom dadelik na sy kantoor ontbied toe die PR-beampte die nuus van die protesoptog gebring het. Blykbaar beplan die spulletjie om twaalfuur ’n petisie met meer as vyfhonderd handtekeninge aan die hospitaalbestuurder te kom oorhandig. Wie sou kon raai dat daar soveel mense is wat so sterk oor die saak voel?
Onwillekeurig dwaal sy blik na Mila waar sy half eenkant tussen ’n kleiner groepie vroue staan. Sy gesels geanimeerd, haar fyn hande beduie entoesiasties. Sy is in haar element tussen hierdie groep oudpasiënte en geniet dit om die middelpunt van aandag te wees. Derek neem haar dit glad nie kwalik nie. Sy’t ’n indrukwekkende gevolg. Toe sy oorlog verklaar het, het hy geen idee gehad dat sy soveel gewillige troepe tot haar beskikking het nie!
Hy wens hy kon kwaad wees oor die verleentheid waarin Mila hom en die res van die bestuur stel. Hy sukkel egter vanoggend om sy vuurtjie van verontregting hoog genoeg aan te blaas. Hoe meer hy van die vroumens sien, dink Derek wrang, hoe meer bewonder – erger nog – begeer hy haar. Hy was nog altyd aangetrokke tot sterk vroue, en Mila is ongetwyfeld die sterkste, mees onafhanklike een wat hy nog teëgekom het. Tog is sy geen hardegat feminis nie. Sy is ’n toonbeeld van vroulikheid. Hy het immers haar weerlose sy gesien ná die drama met haar bipolêre pasiënt. Sy het hom naby haar toegelaat, daardie dag, haar wapenrusting tydelik laat sak sodat hy die warm en ruimhartige vrou daaronder beter kon leer ken.Vanoggend se optog bevestig sy vermoede: Mila is so gewild en geliefd onder haar pasiënte as wat sy bekwaam is. Hy is by verre nie die enigste een wat deur haar bekoor is nie …
Natuurlik maak sy die wêreld vir hom vuurwarm vandat hy in Wilgekloof is. Tog kan hy homself nie so ver kry om dit teen haar te hou nie. Eintlik gee dit hom net meer respek vir haar. Hy verstaan dat sy soos ’n wafferse wraakgodin optree uit pure passie vir haar werk. Vir haar roeping, soos Heleen dit gestel het. En hy wat Derek is, is geen vreemdeling vir passie nie. Hy was nog nooit een van die dokters wat dit kon regkry om onaangeraak deur sy pasiënte te bly nie. Selfs toe hy nog ’n mediese student was, was dit sy grootste swakheid: Hy raak hopeloos te betrokke by mense se lief en leed. As pediater kom hierdie onvermoë om hom los te maak van sy pasiëntjies en hul ouers hom dikwels duur te staan. Tog sou hy dit nie anders wou hê nie; vir hom is sy grootste swakheid tegelykertyd sy heel beste eienskap …
Nee, dis juis hierdie vurige streep van Mila wat hy so onweerstaanbaar vind. Dit maak haar uniek en opwindend, laat haar kop en skouers uitstaan bo al die vroue met wie hy al te doen gehad het. Sou sy so driftig tussen die lakens optree soos wanneer sy haar kind of haar geboorte-eenheid probeer beskerm, wonder Derek skuldig.
Leon Swiegers onderbreek sy mymering grimmig.
“Jy kan nie sê ek het jou nie gewaarsku nie, Derek. Ek het van die begin af geweet jy soek moeilikheid met daardie geboorte-eenheid. Heeltemal te veel estrogeen in die omtrek …”
“Jy hét gewaarsku dat ek op tone gaan trap, Leon, maar ek glo nie een van ons het besef hoe hard die eienares van daardie kleinserige toontjies gaan terugskop nie.”
“Dit kan jy weer sê, Reynders! Ons sal vanmiddag hierdie kaboedel vroumense met handskoene moet aanpak. Hoe meer diplomaties ons hulle benader, hoe beter. Ek weet en jy weet dat jou trauma-eenheid ’n voldonge feit is, dat die hospitaal dwaas sou wees om dit nie te implementeer nie, maar ons mag nie uit die oog verloor dat dit ons pasiënte is wat daar buite betoog nie. Dis belangrik dat ons hulle nie met ons optrede verder van PMK vervreem nie. Hulle is ons brood en botter. Ons aandeelhouers se wins – my en jou wins, Derek – hang van hulle af.”
Al weer die verdomde w-woord, dink Derek geïrriteerd. Hoe is dit dat alles in sy lewe skielik in terme van wins en verlies uitgedruk moet word? Verbeel hy hom of is die grense tussen sy persoonlike en professionele lewe skielik besig om te vervaag? Hy is immers die een wat Mila gewaarsku het dat sy dinge nie so persoonlik moet opneem nie. Is hy nie miskien besig om dieselfde fout te maak nie? Meer nog: Gaan hy gedwing word om ’n verpletterende persoonlike verlies te ly bloot ter wille van professionele gewin?
9
Die protesoptog voor die ABU is die volgende oggend voorbladnuus, hierdie keer nie in die kleiner Wilgeklower nie, maar in die Wilgekloof Dagblad. Aanvanklik word Mila se hart warm toe sy die foto’s van haar oudpasiënte