Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach
vir my alles. Ek dink ek verstaan waarom jy so leepoog lyk as dokter Derek Reynders ter sprake is, maar ek wil dit uit jou eie mond hoor. Toe, uit daarmee!”
Mila neem klein teugies van haar warm tee en begin stadig, met rukke en stote, vir Lise-Marie vertel wat alles gebeur het, van die oomblik toe Derek die eerste keer aan haar deur geklop het. Lise-Marie luister sonder om haar ’n enkele keer te onderbreek. Toe Mila uitgepraat is, som sy op.
“So, Mila dear, jy het drie probleme, drie hengse probleme. En die goue draad wat deur al drie loop, is die gorgeous dokter Reynders.”
Lise-Marie tel op haar vingers af: “Een, Sunet se man dreig jou met regsaksie.Twee, die hospitaal gaan jou eenheid sluit. En drie, jy’s smoorverlief op Derek Reynders, wat ongetwyfeld die vark in hierdie verhaal is.”
Mila knik. “Kolskoot.”
“Oukei,” gaan Lise-Marie rustig voort. “Probleem nommer een: Marius en regsaksie. Kom ons dink nou mooi logies. Het jy Sunet informed consent laat teken vir die VBAC?”
“Natuurlik, jy weet mos ek doen dit altyd. Ek sien die ma en pa saam en maak seker dat albei die risiko van uterusruptuur verstaan, asook die risiko’s van ’n herhaalde keiser. Dan laat ek die ma ’n vorm teken om te sê ek het haar ingelig oor potensiële gevare en dat sy nietemin daarmee wil voortgaan.”
“Great, so jy is gecover wat dit betref. Dan het jy en Peet natuurlik met haar psigiater en sielkundige en met haar ongebore baba se pediater ontmoet om die geboorte te bespreek. Ek hoop iemand het ’n notule van die vergadering gehou?”
“Ek het, Lise-Marie, hoewel dit eintlik maar ’n kort, informele ontmoeting by die eenheid was.”
Lise-Marie skud haar kop beslis. “Aikôna, Mila, van nou af noem jy dit ’n amptelike vergadering. Wat staan in jou notule?”
Mila dink ’n oomblik na. “Maar net dat ons bymekaargekom het om die bevalling te bespreek. Ons het gepraat oor die risiko’s: nie soseer die gewone risiko’s wat maar met elke bevalling saamgaan nie, eerder oor die risiko’s wat eie aan Sunet se geboorte sou wees.”
“En watter risiko’s is dit?”
Mila verkyk haar aan Lise-Marie wat so saaklik soos ’n wafferse prokureur met haar sit en praat. Sy’s bly dat sy kom kuier het. Hoewel haar probleme nog net so monsteragtig lyk, begin sy hulle darem beter verstaan.
“Daar was eintlik net twee risiko’s: die gevaar dat Sunet nie die stres van ’n normale bevalling sou kon hanteer nie, en die bekommernis dat haar baba by geboorte flat sou wees as gevolg van haar ma se meds. Ons het saam besluit dat ek die baba net so goed in die eenheid sou kon resussiteer indien nodig, en haar daarna vinnig genoeg kon oorplaas neonataal toe. Die pediater het in elk geval nie gedink dit sou gebeur nie.”
Lise-Marie knik tevrede en skink vir hulle nog tee. “Wat het julle nog alles besluit?”
“Dat die keiser laaskeer vir haar vrek traumaties was en dat sy waarskynlik beter sou cope in die eenheid. Natuurlik het Peet reggestaan om ’n keiser te doen die oomblik dat Sunet van plan verander of as ek besluit dat dit nie werk vir haar in die ABU nie.”
“En wie se besluit was dit? Het almal saamgestem daaroor?”
Mila gee ’n flou glimlaggie.“Jinne, Lise, jy laat my voel of ek onder kruisverhoor is! Dit was ’n eenparige besluit, ons het almal saamgestem.”
“Wonderlik! Dis wat ek wil hoor! Klink vir my jy het ’n waterdigte verdediging. Ek glo nie enige prokureur sal met ’n tang daaraan raak nie. Marius het nie ’n saak nie, man.”
“Sjoe,” sug Mila, “jy laat dit beter klink as die koerant.”
“Ja, my darling, ons weet mos almal daar’s nie so ’n ding soos ’n honest koerant nie. Dis sensasie wat koerante verkoop, nie die boring waarheid nie. Maar kom ons sê nou maar net die ergste gebeur en jy word wel hof toe gesleep. Wat sal gebeur as jy skuldig bevind word? Onthou nou, niemand het die emmer geskop of eens rêrig seergekry nie.”
Mila se kop draai effens, maar sy forseer haarself om so helder en logies as moontlik te dink. “Wel, ek veronderstel dat Marius geld sal eis. Geld vir pyn en lyding, en miskien vir Sunet se psigiatriese hospitalisasie ook … Miskien vir die evakuasie wat Peet moes doen vir die plasenta? Dit sal nie ’n groot bedrag kan wees nie, en ek hét goeie versekering. Mens kan nie in die bababedryf wees daarsonder nie …”
“Presies!” roep Lise-Marie uit.“Sien jy wat ek bedoel? Worst-case scenario is dat jou versekering ’n paar duisend moet opdok en dat die Raad jou oor die vingers tik. Natuurlik dink ek nie vir een oomblik dit gaan prettig wees nie, maar jy sal oorleef. Sien, jou eerste probleem is glad nie so erg nie!”
“Jy’s reg, Lisetjie, soos altyd. Die hele ding het soos ’n berg gevoel omdat dit in die koerant was en omdat die bestuur reeds die ABU wil toemaak. My hart voel al klaar ’n bietjie ligter. Los nou net gou-gou vir my die ander probleme ook so pynloos op, toe!”
Lise-Marie lyk skielik ernstiger. “Ek’s bevrees probleem nommer twee is nie so eenvoudig nie, Mila.” Sy dink ’n oomblik.“Het jou pa ooit na Alcoholics Anonymous toe gegaan vir sy drankprobleem?”
“My pá?” Nou is Mila skoon van stryk gebring. “Wat het my pa met die prys van eiers uit te waai?”
“Ag, orraait, man, ek vergeet lateral thinking is bo jou vuurmaakplek. Wat ek eintlik wil weet, is of jy die Serenity Prayer ken wat AA gebruik? Die een van ‘God, grant me the serenity …’”
Mila voltooi haar sin: “‘ … to accept the things I cannot change, the courage to change the things I can, and the wisdom to tell the difference.’ Ek’t al van daardie gebed vergeet. Die ding het vir jare teen my pa en ma se kamermuur gehang. Nou verstaan ek hoekom dit daar was.”
“Daar het jy dit. My punt is, Milatjie, dat Probleem Nommer 2 een van daardie goed is wat jy nie kan verander nie, die goed wat maar aanvaar moet word. Ag, moenie my met sulke droewige oë aankyk nie, man, dis waar. Die ABU se doppie is geklink by Protea Moeder-en-Kind. Jy weet so goed soos ek dat ’n hospitaal ’n besigheid is en dat ’n besigheid net oor geld gaan. Daardie koerantberig was ’n lae hou, maar dis mosterd na die maal. Ou Leon en jou dokter Reynders het klaar besluit wat vir hulle die meeste wins gaan maak, en niemand se tantrums gaan ’n verskil daaraan maak nie. Nie myne nie, nie joune nie, nie al die vroue wat in die ABU gekraam het s’n nie. Ek is jammer, vriendin, maar hierdie is een van die terugslae in die lewe wat jy maar net met grasie moet aanvaar – en dan aanbeweeg.”
Dit is beslis nie wat Mila wou hoor nie. Sy het teen haar beterwete begin glo dat Lise-Marie ’n plan sou hê om haar eenheid te red nadat sy so koelkop was oor Marius se hofdreigemente. Lise-Marie sien haar teleurstelling en kom sit langs haar op die rusbank. Sy sit haar hand ’n oomblik vertroostend op haar vriendin se knie.
“Jy het voor die bestaan van hierdie eenheid bybies gevang, Mila, en jy sal dit daarna steeds doen. Jy’s die beste vroedvrou in Wilgekloof, die beste van ’n klein ou handjie vol.” Lise-Marie glimlag bemoedigend. “Vat jou tyd om te rou oor wat jy verloor het, maar moenie té lank op ’n hopie sit en kroes voel nie. Ons moet ’n plan maak oor waar jy voortaan gaan bybies vang, nie net vir jou gemoedsrus nie, maar vir jou pasiënte s’n ook.”
“Daar is nêrens om heen te gaan nie, Lise! Ek het nou al gesoek en ek kry nie een verdomde venster wat oop is nie. Die enigste alternatief is om weer uitsluitlik tuisgeboortes te doen en die ma’s oor te plaas Protea toe as daar komplikasies is.”
Maar Lise-Marie skud haar kop ontkennend.“Dit kan ek nie glo nie, Mila. Jy kan nie sommerso op moedverloor se vlakte wil gaan afpak nie, só ken ek jou nie. Daar moet ’n ander alternatief wees. Daar’s mos baie visse in die see! Protea is nie die enigste hospitaal met ’n kraamsaal nie. Miskien het een van die ander spasie wat hulle aan jou kan verhuur. Jy moet onthou, van hierdie hospitale is finansieel heelwat sterker as PMK. Hulle is dalk nie so verleë oor elke ou kamertjie nie.”
Ten spyte van Lise-Marie se positiewe