Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach
Liesel sou mos nooit so iets skryf nie? Nes sy gedink het – die berig is deur iemand wat sy nie ken nie, ene Wynand Diederiks.
Die eerste paragraaf is ’n taamlik droë feitelike relaas van die redes vir en die verloop van die protesaksie. Die joernalis probeer kleur aan die vertelling gee deur ’n paar aanhalings van ma’s en die hospitaalbestuur in te strooi. Mila wonder waarom dié Wynand Diederiks dan nie die moeite gedoen het om haar kommentaar ook te kry nie. In die tweede paragraaf word dit duidelik waarom hy nie in haar kant van die storie belanggestel het nie:
Daar is beslis ook diegene wat voel dat dit geen verlies sal wees as die ABU sluit nie. Volgens ’n dokter wat graag anoniem wil bly, loop suster Mila Mouton onnodige risiko’s in haar eenheid. Vroeër die week het ’n tragedie byna op PMK se vyfde verdieping afgespeel. Dit was so hittete of een van Mouton se pasiënte het haar pasgebore baba by die balkon afgegooi. Die agt-en-dertig jarige vrou het ’n lang geskiedenis van bipolêre versteuring en het boonop ’n keisersnit met die geboorte van haar vorige kind gehad. Volgens die arts van PMK sou ’n beplande keisersnit veel veiliger vir hierdie moeder en haar baba gewees het. Dit lyk asof die pyn en stres van ’n natuurlike bevalling by Mouton vir die vrou net te veel geword het. Boonop moes sy net ná die geboorte na die teater gehaas word vir ’n noodoperasie om die nageboorte te verwyder. Weens ernstige bloedverlies moes sy verskeie bloedoortappings kry. Wilgekloof Dagblad het gaan uitvind wat die pasiënt se eggenoot oor die saak te sê het: “Niemand het ons gewaarsku oor hoe stresvol ’n natuurlike geboorte sou wees nie. Ek’s nie verbaas dat die pyn en spanning my vrou oorweldig het nie. Ek verstaan nou dat keisersnitte hul plek het en dat ’n natuurlike geboorte nie die alfa en die omega is nie. Ons moes op die harde manier leer dat ’n watergeboorte ten alle koste nie die moeite werd is nie. Nou sit ek alleen met ’n pasgebore baba. My vrou gaan waarskynlik maande neem om volkome te herstel. Eers het sy byna haar baarmoeder met die operasie verloor, nou haar sanity. Die ergste van alles is dat ons albei amper ons dogtertjie op die verskriklikste manier verloor het. My vrou sou nooit daarmee kon saamleef as sy ons baba by daardie balkon afgegooi het nie. Op hierdie stadium weet ek nie of ons regsaksie teen PMK gaan bring nie, maar ons oorweeg dit sterk.”
Marius se beskuldigings sny soos ’n lem deur Mila se hart. Is dit werklik hoe hy voel? Hou hy haar verantwoordelik vir die feit dat dinge so skeefgeloop het? Sunet wou dolgraag ’n natuurlike geboorte hê en Mila het gevoel dat dit vir haar ’n helende ervaring kon wees. Sy het gehoop dat dit vir Sunet die selfvertroue sou gee wat iemand met haar geestestoestand so broodnodig het … Met ’n loodswaar hart lees Mila verder.
Volgens Leon Swiegers, hospitaalbestuurder van PMK, is die oorgrote meerderheid van Mouton se bevallings watergeboortes. Swiegers wou geen kommentaar lewer oor die veiligheid hiervan nie. Wilgekloof Dagblad se anonieme informant, ’n gerespekteerde arts in obstetriese kringe, voel egter dat watergeboortes “hoogs onnatuurlik” en “sommer lawwigheid” is. Hy redeneer dat selfs sekere seediere na die land beweeg sodra dit tyd word om geboorte te skenk weens die risiko’s in die water.
“Waarom sou suster Mouton haar pasiënte dan nou juis in die bad stop wanneer hulle in kraam is? Dit kan nie veilig wees nie. Moet die hospitaal wag tot ’n baba verdrink of breinskade opdoen voordat die praktyk stopgesit word? Nee wat, ginekoloë is opgelei om bevallings te hanteer, vroedvroue nie. Hoe gouer die geboorte-eenheid sluit, hoe beter vir PMK as ’n geheel.”
Bewend van woede smyt Mila die koerant neer. Die vermetelheid! Sy kan nie glo hoe Derek Reynders die feite van Sunet se geboorte verdraai het nie. En dan is hy nog ’n papbroek ook! Sy het wraggies nie verwag dat hy agter anonimiteit sou wegkruip terwyl hy haar beswadder nie. Sy’t gedink hy’s heeltemal mans genoeg – heeltemal arrogant genoeg – om verantwoordelikheid vir sy eie aanvalle te neem. O, sy’t lus om sommer nou na sy spreekkamer te ry en hom te gaan vertel presies wat sy van hom dink! Vir wie dink hy miskien draai hy ’n rat voor die oë met sy kastige anonimiteit? Beslis nie vir haar nie! Hoe anoniem dink hy kan hy wees as hy heeltyd praat van wat kastig die beste vir die hospitaal “as geheel” is?
Dalk wóú hy hê sy moet hom herken, sy en niemand anders nie. Dis natuurlik presies hoe dit is! Hy wou sy beeld as sensitiewe ou by sy pasiëntjies se ouers en sy medewerkers ongeskonde laat, maar hy wou vir haar wat Mila is die boodskap stuur dat hy besig is met ’n genadelose guerrilla-oorlog van sy eie. ’n Oorlog waarin sy pas ’n sleutelveldslag verloor het. Sy kan nie gló dat Marius met regsaksie dreig nie …
Moedeloos sak Mila op die rusbank neer, haar fut skielik uit. Derek Reynders maak haar woedend, maar hy maak haar bitter seer ook. Sy wrede woorde sny selfs nog dieper as Marius s’n. Nie net omdat hy ’n kollega is wat eties nie veronderstel is om haar in die pers te beswadder nie. Ook omdat daar van die begin af iets tussen hulle twee was. Sy is seker hy het dit ook gevoel, sy kon dit sien in daai come-hither-oë van hom …
Of het sy haar gruwelik misgis? Sy probeer haar wysmaak dat hy nie gevoelloos teenoor haar staan nie, dat hy haar seermaak omdat sy werk dit vereis. Almal weet immers hoe mans voel oor hul werk … Maar miskien lieg sy vir haarself. Miskien is haar arme brein so benewel deur sy skitterende glimlag en sy begeerlike lyf dat sy nie eens kan raaksien dat hy haar verag nie.Vir al wat sy weet, sien hy haar as ’n onverantwoordelike waaghals wat pasiënte met haar fanatiese geboorte-idees in gevaar stel. Hoe kon sy haarself so voor hom verneder? Hoe kon sy so blind wees om te dink dat hy belangstel in wat sy by die geboorte-eenheid doen, dat hy jammer is omdat hy dit moet sluit? Al die tyd was hy net besig om skietgoed te versamel … skietgoed wat hy nou in ’n kwetsende aanval teen haar gebruik het.
’n Uur later hou Mila onder die afdak voor Lise-Marie se pienk huis stil. Haar vriendin se vier husky-honde hardloop die kar tegemoet. Mila klim moeisaam uit en begin die sagte swart-en-wit koppe voor haar streel. Hulle lek haar hande vertroostend, asof hulle bewus is van die tornado wat binne haar woed.
Lise-Marie kom kaalvoet by die agterdeur uitgestap. Sy lyk gemaklik aards in ’n oranjebruin slooprok. Die kleur laat rooibruin liggies in haar lang los hare dans.“Ja, julle vrotsige waghonde,” raas sy kamma met die huskies. “Vreet haar maar op van liefde, toe! Vir al wat julle weet, is sy ’n gevaarlike krimineel!”
Dan sien sy Mila se gesig en laat vaar onmiddellik alle grappies. “Jy lyk asof jy ’n druk nodig het,” som sy akkuraat op. Sy slaan haar arms om Mila en hou haar styf vas. Mila het haar dit al soveel keer met pasiënte in kraam sien doen, en sy verstaan dadelik waarom dit so goed werk. Daar is iets moederlik-vertroostends aan Lise-Marie se sterk maar sagte arms en aan haar milddadige boesem. Die twee vroue staan lank so onder die afdak. Dan neem Lise-Marie Mila se hand en trek haar by die huis in.
“Wat gaan jy drink?” vra sy toe Mila op die swart leersofa gaan sit. “Iets uit die ketel of iets uit die bottel?”
Mila glimlag effens.“Dis ’n bietjie vroeg vir iets uit die bottel, of hoe?”
“Iewers in die wêreld is dit vyfuur,” korswel Lise-Marie. Maar die glimlag styg nie tot in haar groen oë nie. Hulle bly bekommerd op Mila gerig.
“Gaan sit gou vir ons die ketel aan, dan kom sit jy by my. Ek’t vir jou iets saamgebring om te lees.” Mila se stem klink vir haarself vreemderig: moeg en doods.
Lise-Marie kyk nuuskierig na die koerant wat Mila uit haar sak te voorskyn bring, maar gehoorsaam tog. ’n Paar minute later kom sy terug met ’n skinkbord waarop ’n delikate porselein-teeservies keurig gerangskik is. Daar is pers viooltjies op die koppies geverf en die borande is verguld. Fyn goue teelepeltjies rond die prentjie af.
“Dis pragtig,” glimlag Mila, verras om ’n fyner kant van haar pragmatiese kollega te ontdek.
“Nou toe,” sê Lise-Marie toe sy vir Mila haar tee aangee en oorkant haar gaan sit.“Spit it out. Ek weet jy’s nie hier om jou te vergaap aan my Royal Albert-erfgoed nie. Hoekom lyk jy só, hmm?”
Mila draai die lepel soveel keer om en om in haar rooibostee dat haar vriendin haar eindelik weer ongeduldig moet aanpor. “Jy gaan g’n jou fortuin in die koppie sien nie, Mila, ek maak die tee met sakkies. Gee bietjie aan daai koerant dat ek sien of ek kan uitmaak hoekom jy vanmôre met sulke droopy honde-ogies rondloop.”
Mila gee die koerant