Susanna M Lingua Gunstelinge 5. Susanna M. Lingua
elke aand baie om haar te vertel, en dit is vir haar duidelik dat hy van die bewaarskool en die kinders begin hou.
Elmarie hoor die res van die week niks van Herman of sy ma nie, en wonder of hulle miskien tot inkeer gekom en besluit het om Mark te aanvaar.
Sy werk een Saterdag per maand, en vandag was dit haar beurt. Sy is vol aangename gedagtes toe sy na werk in haar motor klim en huis toe ry. Sy gaan ry gewoonlik elke Saterdagmiddag perd by die ryskool waar sy geleer het om te ry, en waar Mark ook nou leer perdry. Sy sal hom gou by die bewaarskool gaan haal, en sommer vir hulle wegneemkos by ’n restaurant vir middagete kry. Dan kan hulle dadelik met hulle tuiskoms eet en na die ryskool vertrek. Sy sien altyd uit na hierdie afleiding, want die plaas bied ’n rustige stilte wat ’n mens nêrens anders vind nie.
Terwyl Mark opgewonde gesels oor die swart ponie waarop hy leer perdry, hou Elmarie langs ’n duur, silwergrys sportmotor met ’n Johannesburgse registrasienommer stil. Bepaald ’n besoeker vir Wynand de Jager, haar prokureur-buurman, dink sy, want net Wynand se besoekers ry met duur motors.
Met Mark aan die hand, loop Elmarie na die trappe, want sy sien dat die hysbak besig is om boontoe te gaan. Gelukkig is haar woonstel op die eerste vlak en neem dit hulle nie lank om die paar trappe te klim nie.
Elmarie is verbaas toe sy vind dat haar woonstel se voordeur nie gesluit is nie, en sy is nog meer verbaas toe sy Herman in die geselskap van ’n vreemde man in haar woonstel aantref.
“Mag ek vra hoe julle in my woonstel gekom het, Herman?” wil sy met ’n geslote gesig weet sonder om die twee mans eens te groet.
“Ek het die opsigter gevra om die deur vir ons oop te sluit, wat hy natuurlik baie onwillig gedoen het,” verduidelik Herman terwyl hy en die vreemde man beleef orent kom. “Maar laat my toe om dokter Schalk Dekker aan jou voor te stel, Elmarie … Elmarie Keyser, dokter.”
’n Ligte frons verskyn tussen Elmarie se wenkbroue toe sy paslik op die bekendstelling antwoord. Die lang, aantreklike, blonde man se van laat haar kriewelrig voel en dit stel haar op haar hoede.
Voordat sy iets kan sê, hoor sy Herman ingenome verduidelik: “Dokter Dekker is glo familie van Mark. Oubaas Carl Dekker is sy oom –”
“Ek vrees daar is ’n paar dinge wat ek glad nie verstaan nie,” val sy Herman vererg in die rede, terwyl sy nog in die middel van die vertrek staan met Mark se handjie in hare. “Vertel my asseblief net dit: Hoe weet dokter Dekker van my en Mark se bestaan, en hoe het hy geweet waar ek en Mark bly?” Elmarie se gelaatskleur is altyd baie lig, maar op die oomblik is sy bleek van woede, ofskoon sy dit nie laat blyk nie. Sy sien hoe die blonde kêrel se blou oë op Mark vasgenael bly.
Dan hoor sy Herman met ’n ingenome laggie sê: “Ek het met die kind se mense in verbinding getree sodat hulle van sy bestaan kan weet en ook die verantwoordelikheid van sy opvoeding op hulle kan neem –”
“So … en as ek mag vra: Waar kry jy die reg vandaan om met my sake in te meng?” wil sy bitter ontstoke weet, en nou blits haar donker oë gevaarlik.
“Ek het natuurlik eie reg gebruik, Elmarie. Ons is immers verloof …”
“Nie meer nie,” maak sy hom woedend stil. “Ek het nou heeltemal genoeg gehad van jou en jou ma se vermetele inmenging in my sake. Julle twee het nog altyd gemaak of Mar … my pleegseun iets is wat selfs die kat sy neus voor sou optrek. Maar ek gaan dit nie langer duld nie. Mark is my ontslape suster se kind wat sy op haar sterfbed in my sorg geplaas het, en hy sal by my bly totdat hy meerderjarig en selfstandig is.”
“Mark se grootouers is op die oomblik ook hier in Pretoria, juffrou Keyser,” hoor sy Schalk Dekker bedaard sê. “En ek vrees volgens wet het hulle alleenreg op die seun. Ek sal hulle môremiddag na u toe bring, sodat julle die saak rustig kan bespreek –”
“Julle kan almal na die hoenders gaan,” maak Elmarie die man verontwaardig stil. “Ek het alleenreg op Mark, en daar is hoegenaamd niks te bespreek nie. En as julle nie daarvan hou nie, kan jy en jou oom en jou tante julle al drie in jou oom se eendedam gaan verdrink. Verstaan jy? En nou moet jy en Herman asseblief my woonstel onmiddellik verlaat … Toe, trap uit my woonstel uit voor ek my maniere vergeet en julle laat uitsmyt!”
Daar is ’n geamuseerde trek om Schalk se mond en ’n blinkheid van ondeunde pret in sy blou oë toe hy Elmarie aankyk waar sy met haar skamele lengte van 1,57 meter voor hom en Herman staan.
“Ons gaan nou dadelik, juffrou,” sê hy beleef.
Herman is rooi in sy gesig en diep ontstoke. “Jy kan nie ons verlowing na vier jaar so goedsmoeds beëindig nie …”
Elmarie gee hom nie kans om meer te sê nie. “Ek het gesê jy moet nou dadelik uit my woonstel uit padgee, Herman,” herinner sy hom met oë wat vuur spat van woede. “Na jou verfoeilike agterbaksheid behoort ek nie net ons verlowing te beëindig nie, ek behoort jou ook te klap dat jou ore tuit. Toe, maak dat julle wegkom voordat ek die polisie ontbied om julle hier uit te smyt.”
Elmarie los Mark se handjie en volg die twee mans totdat hulle by die voordeur uit is. Dan klap sy dit ferm agter hulle toe. Die volgende oomblik val haar oog op die verloofring wat nog steeds aan haar vinger pryk. Sy ruk die deur oop en pluk die ring van haar vinger af.
“Dè, vat jou ring,” sê sy met veragting in haar stem en gooi die ring dat dit vlak voor Herman se voete land, waar hy nog verslae langs die balkonmuurtjie ’n meter of wat van Schalk af staan.
Elmarie is so kwaad dat sy nie eens die man met die ligbruin hare voor haar buurman se woonstel opmerk nie. Sy hoor ook nie eens toe Schalk uitbars van die lag toe sy die deur die tweede maal toeklap nie.
“Op die aarde, ek het nog nooit so ’n klein vuurvreter soos daardie swartkop gesien nie,” sê Schalk met ’n breë glimlag nadat sy lagbui bedaar het. “Sy is so klein en betowerend, maar vol vuur en durf. Ek dink ons moet liewer loop, meneer Van Coller. Netnou vlieg die deur weer oop, en dan waai jou kop. Jy het gehoor sy raai ons Dekkers aan om ons in my oom se eendedam te gaan verdrink. Netnou sê sy jy en jou ma moet van hierdie gebou af spring en julle nekke breek.”
“Verbeel jou, na vier jaar verbreek sy ons verlowing … net so, sonder om ’n oog te knip,” mompel Herman, nog steeds verslae.
“Sy was gans te kwaad om ’n oog te knip,” help Schalk die jonger man reg. “Ek sal jou ook nie aanraai om die saak hier voor haar woonstel te staan en uitpluis waar sy jou kan hoor nie, meneer Van Coller. Kom, laat ons liewer gaan.”
Die jong miljoenêr, Lafras Zeeman, is bly toe die twee mans voor Elmarie se woonstel eindelik besluit om te loop. Sy vriend, Wynand de Jager, se huishulp het hom verseker dat die juffrou langsaan vir hom sal kan sê waar Wynand elke Saterdagmiddag perdry.
Elmarie het reeds in haar rydrag verklee en wag net dat Mark sy bekertjie melk ledig, toe die voordeurklokkie lui.
As dit weer Herman en daardie Dekker-vent is, dink sy wrewelrig, gaan ek sowaar iets onverantwoordeliks aanvang. Hulle het my siel nou lank genoeg versondig. Sy maak die deur oop en kyk stadig op, vas in die bekommerde grys oë van ’n vreemde man.
“Goeiemiddag, juffrou! Ek is Lafras Zeeman en ek is jammer om u te pla,” hoor sy die welgeklede man beleef sê. “Ek is op soek na my vriend, Wynand de Jager, en die huishulp meen u sal my kan sê waar hy gewoonlik Saterdae perdry.”
“Ek is Elmarie Keyser, meneer Zeeman. As u net ’n oomblikkie wag, kan u saam met my en my vyfjarige nefie ry; ons vertrek netnou na die ryskool waar u Wynand sal vind. Kom solank binne, ons sal nie lank versuim nie,” nooi sy vriendelik en neem die man na haar woonkamer toe.
“Ek is klaar, tannie Elrie,” sê Mark opgewonde en kom die woonkamer binne. “Wanneer kry ek ryklere? Hè, tannie Elrie?” vra hy terwyl hy haar netjiese, swart rydrag vir die soveelste keer bewonder.
“Sodra jy goed kan ry, grootman,” sê sy en verduidelik laggend aan Lafras Zeeman: “Mark wil elke Saterdagmiddag weet of dit nie al tyd is dat hy ryklere kan kry nie.”
“Ek dink jou