Hanna. Maretha Maartens
die dorstyd deurgebring het, jou met smeulende woede oor die vorige aand se rusie aankyk, is dit asof daar ’n brand anderkant die berg woed. Dis asof daar hitte-opgeefsels in plaas van kafstof in die lug is.
Dan is dit asof jy willens en wetens by bergbrandrook instap.
Peninna het ’n doek voor haar oopgesprei waar sy saam met ’n paar van die ander vroue en die klomp kleintjies voor Elkana se skuiling sit en wag. Hanna kan die roosterkoeke, gedroogte vye, rosyne en die velsak wat sy op die grof geweefde lap voor haar uitgepak het, van die hoogte af sien.
“Tannie Hanna!”
Mirjampie van Peninna het die roepe, die stewige beentjies en die raaksien-oë van ’n kôrei. Sy klink soos ’n patrysie wanneer sy roep en sy hardloop soos een. Wanneer Peninna haar hele span kinders bymekaar wil kry, stuur sy vir Mirjam om hulle te gaan roep. Soos wat die patryshaan die jong patryse saans van die graanlande af met sy geroep by die nes terugkry, so kry Mirjampie haar broers en susters vir Peninna bymekaar.
“Daar’s tannie Hanna!”
Peninna se twee oudstes, Heman en Gesron, wat Elkana van vroegdag af help gars sny en die gerwe telkens met sy kleinneef se pakdonkies al met die kronkelpad langs dorsvloer toe bring, staan by haar. Hulle is ywerig besig om die vye en rosyne in die voue van hul gordels te druk. Albei se kakebene beweeg. Hulle kou soos net groeiende seuns tydens ’n blaaskans kan kou.
Kort voor die oestyd het Elkana dié twee sy kaalvretersprinkane begin noem. Die ooreenkoms is onbetwisbaar tussen Heman-hulle en die vlerklose klein voetgangersprinkane wat ’n gars- en koringland, prei-, boontjieplante en elke ander spriet of blaar in die weke voordat hul vlerke uitkom, tot teen die grond afvreet.
Hanna het gedink Peninna sou haar oor dié benaming vererg. Raak met ’n woord of ’n kyk aan haar kinders, en jy raak aan haar. Sy het Elkana se woord egter nou deel van haar woordeskat gemaak. Deesdae, wanneer sy die seuns vermaan om hul kos ten minste net behoorlik te kou, praat sy Elkana agterna: “Watse kaalvretergedrag is dit nou dié? Komaan, ek wil niemand vir die tweede keer by die kospotte sien voordat Mirjam-hulle ook kos op hul borde het nie.”
Heman en Gesron kyk op, grinnik met wit tande en waai vir haar. Gesron praat-beduie sommer ook vir haar. Sy hoor genoeg om ook te kan weet wat aangaan.
“Pappa is op die land aan die agterkant van die Steenbokrotse. Hy kom nie boontoe nie. As sy werksmense daar klaar is, gaan hulle met die koring aan die ander kant van die heuwel begin.”
Soos gewoonlik lyk die twee min gepla met wat ook al tussen haar en Peninna aangaan of gebeur het. Met sy boodskap oorgedra, fluit Gesron die donkie nader en beduie met die kop terwyl hy roep: “Lande toe!”
Hulle is vlytige seuns, dink Hanna. Dit kan nie anders wees nie. Elkana is ’n streng pa. Hy is ’n Leviet wat geen ongehoorsaamheid en rebelsheid duld nie, maar wat nooit sonder een of meer van Penina se kinders op sy hakke is nie. Peninna se klomp sterk kinders met hul oplettende oë streep net eenvoudig al kwetterend agter hom aan. In die jurke met vertikale lyne wat Peninna op die groot weefraam vir hulle weef, is hulle ’n toonbeeld van lewenslus en goeie sorg.
Soos jong olyfboomplante wat sonder belemmering groei, so is die kinders van my man en die leerlooier se dogter, dink Hanna.
Sy stap teen die helling af. Haar lyf is moeg soos wanneer haar maandelikse bloedvloeiing vir drie, vier maande weggebly het en eindelik terugkom om dan net vir twee weke of soms langer aan te hou. So stap sy, want soos elke ander jaar moet en sal sy saam met Peninna graan sif.
Ons kan tog nie in koue stilswye op dieselfde dorsvloer wees nie, dink sy by haarself. Só leef die goddelose. So iets duld die Here nie. Ek sal die minste moet wees. Ek sal na Peninna moet uitreik en haar vanaand, wanneer die vroue huis toe gaan, met haar goed en haar kinders moet help. Ek sal die saak tussen ons moet regstel. Elkana slaap vannag weer langs die dorsvloer. Hy kom nie vanaand huis toe nie.
HOOFSTUK 2
Dit is ’n geil oesjaar. Dis só oorvloedig dat die mans nou byna elke dag teen laatmiddag, wanneer die beeste gaan suip en voer kry, voor die uitwanning vir oulaas self met hul dorsvleëls inspring om die laaste gerwe van die dag met die hand te dors. Die lang, buigsame stokke styg omhoog en klap ritmies. Die koringkorrels spat uit die are.
Wanneer Elkana met sy dorsstok op die vloer is, is dit hy wat ’n lofpsalm aanhef. Dan val die ander in en verander alles. Dis asof elke boer wie se graan gedors word, weer saam met sy gesin begin het om die Here alleen te dien en te aanbid.
Ná die laaste dorssessie van die dag stroom die kinders altyd dorsvloer toe om hand by te sit met die aandra van die koring en die strooi na die middel van die dorsvloer. Die heel kleintjies rol en tuimel op die geelbruin heuwel, word weggesleep en hardloop jillend terug om opnuut ’n oorlas van hulself te maak totdat die uitwanners met hul vyftandvurke opdaag om die koring, die kaf en die hooi saam in die aandwind in die lug op te gooi. Dié met kinders dra die kleintjies na veiligheid.
Die groot seuns maak hul stemme dik: “Weg is julle! Ma … kan iémand Jislia (of Abihud of wie ook al jonger as vyf is) hier kom wegvat? En jy ook, Sikri! Gaan sit daar by jou susters.”
Die vroue en jong meisies bly dan met die kleintjies op die skoot, by hul voete en oral om hulle sit. Niemand gaan voor laatskemer huis toe nie. Daar is immers méér as net koring en gars op die spel.
Maar partykeer ruik jy dit net. Partykeer dring dit onverwags tot jou deur dat die lug bo ’n dorsvloer ’n geur van sy eie het. Die geur van grond en plante en broodmeel begin reeds van die vloer af opstyg wanneer die gerwe op die dorsvloer gegooi word. Jy ruik dit wanneer die gespierde jong mans met hul kaal bolywe en ’n lendedoek om die onderlyf die spesiaal beslaande beeste in die rondte begin jaag. Jy kry die geur van Kanaän bo die warm reuk van gras en bossies in die beeste se asems en bo hul diep gebulk uit. Wat jy daar by die dorsvloer ruik, is die wierook van die saailand.
Tydens die uitwanning in die aandwind, die heerlike boontoe gooi en skoongooi van die graan in die lug, is daar altyd ’n waaghals of twee wat soos gulsige spreeus koringkorrels van die vloer af gaan opraap om dit net so rou uit hul hande te kan eet. So was dit toe sy en Nemuel nog die waaghalse van ’n ander dorsvloer was. So sal dit vir altyd wees, want die koring wat uit die wind op die rotsbank val terwyl die kaf wegwaai, smaak anders as koring wat in sakke en kruike bewaar word.
Natuurlik gaan haal die ma’s die kleintjies daar weg. As net één van die kinders onverskillig afbuk, kan ’n oog in die slag bly – veral as dit opgeskote seuns is wat die graan uitwan, lendedoek om die onderlyf, hare wapperend in die wind of in sweetnat slierte oor hul oë sodat hulle die klein lyfies en handjies beswaarlik kan sien.
“Nou-nou,” paai die ma’s terwyl hulle die kleintjies terugdra of wegsleep na waar hulle hoort. “Hulle is amper klaar daar op die dorsvloer. Dan begin ons sif.”
“In hierdie lewe, Hanna,” het haar ma eendag in die oestyd vir haar gesê, “is daar eintlik min dinge wat lekkerder is as om die pitte so van die dorsvloer af op te skep en elke stukkie gruis of droë klei of doring wat van die dorsvloer af kom, uit te sif.”
“Dit is lekker, Mamma, maar gebraaide vleis is baie lekkerder,” het Nemuel gegrinnik.
Sy aan sy het hulle gesif – ouma Seruja, ma Ada, sy en Nemuel. Met die beeste en uitwanners van die dorsvloer af, het hul jonger nefies en niggies gillend en jillend in die strooi gespeel.
Ouma Seruja het Nemuel getroef: “Om die giftige drabok2 tussen die koringkorrels uit te haal is hope lekkerder as braaivleis, my seun.”
Hy het sy kop gedraai – haar boetie met sy bos krulhare, haar speelmaat met sy blink oë en skurfgespeelde hande en voete. “Hanna is nes Ouma. Ouma hou daarvan om drabok tussen die koring uit te haal. En Hanna … sy is op haar gelukkigste wanneer sy dorings uit my voete grawe. En sy probeer mens nie seermaak nie.”
Hul ma het soos ’n nuwe mens gelyk in die goue lig van die ondergaande son. “Só, Hanna,” het sy gesê, “so is die Kanaän