Hanna. Maretha Maartens
God soms ’n dood van genade oor iemand vir wie die lewe te wreed sou gewees het?
Laat die Here soms iemand soos Nemuel sterf, sodat hy nie die lewe waarin mense hom sou kon dompel, hoef te leef nie?
“Ek droom nog partykeer van my broers wat optrek teen die Ammoniete,” het sy vir Elkana gesê.
Maar hy het sy kop geskud: “Dit was nie die Ammoniete wat my oupa se huis aan die brand gesteek het nie, Hanna. Dit was ons volksgenote, die Gileadiete. In die tyd van die burgeroorloog tussen die Efraimiete en Gileadiete onder die rigter Jefta, het broer teen broer geveg.
Die burgeroorlog. Die stormagtige geluide van haar ouerhuis het lank reeds in haar en Elkana se huweliksgeluk vervaag. Sy het net af en toe nog daarvan gedroom, wakker geskrik en dan in die donker digter teen Elkana aangekruip.
Haar pa en broers het nie ooghare vir die rigter Jefta gehad nie. ’n Lafhartige droster, het hulle Jefta genoem, wat nie kans gesien het vir die stryd wat die stamme van Efraim en Manasse nog moes stry nie; ’n dwaas wat sy eie dogter as brandoffer aan die God van Israel beloof het, net vir ’n oorwinning oor die Ammoniete. Net skuim doen so iets. Jefta is skuim, ’n vuilgoed.
Wanneer sy van daardie tyd in haar ouerhuis gedroom het, staan haar ma altyd teen die agterste muur van die eenvertrekhuis met haar hare onbedek en die punt van haar bokleed teen haar gesig gedruk. Ná al die jare het haar hande nooit ophou bewe nie. In elke droom bewe hulle net so sigbaar soos daar teen die agterste muur.
Haar ma, radeloos en onbegrypend soos sy was, het die Here gevrees – soos haar ouma Jeriot aan vaders- en ouma Seruja aan moederskant.
Nooit moes Elkana weet hoe dit in haar ouerhuis gegaan het en hoe haar ma teen die muur gestaan en bewe het nie.
“Die burgeroorlog was ’n tyd van skande, Hanna. My oupa Elihu, die Efraimiet, het by die Jordaandriwwe by die Gileadiete verbygekom. Hy het die woord sjibbolet soos een van hulle uitgespreek. Maar toe hy by die huis kom waaraan hy so lank gebou het, was dit afgebrand – die werk van Jefta se Gileadiete. My pa sê my oupa het as van die afgebrande huis op sy kop gegooi en soos ’n dier gekerm. Drie dae later het hy pale gaan kap en sy bokvelle van vroeër daaroor gespan. My oupa het ’n eed afgelê om nie weer ’n huis in die Efraimsberge te bou wat ’n murasie kon word nie. Nie voordat die Here ’n rigter wat vrede kon bewerkstellig, aan Israel gegee het nie.”
HOOFSTUK 5
Hoe volmaak was die negende jaar van haar en Elkana se huwelik nie! Dit was die jaar voor sy besluit.
Wanneer die son saans sak, het Elkana die vordering wat hy dié dag gemaak het, stil en hande-agter-die-rug gestaan en betrag. Uiteindelik was ’n klip-en-kleihuis op ’n vaste fondament van ongekapte klippe besig om vorm aan te neem. Die mure was dik en die vensterbanke breed genoeg vir kruike en lampe. Akkedisse en skerpioene het voortydig, terwyl Elkana nog aan die bou was, by die ruitlose vensteropeninge ingekom, die vertrek van hoek tot kant besigtig en hulle spoedig in dié beskutte ruimte tuisgemaak.
Elkana het die huis volgens sy plan gebou. Daar was twee ewe groot reghoekige vertrekke. Die een was vir sy pa, die ander een vir hom en haar. Albei vertrekke het vier vensteropeninge sonder traliewerk naby die dak gekry en elke vertrek sy eie deur, wat op houtpenne in die gate in die latei en drumpel skarnier.
“Die vyeboom by Pa se deur is vir Pa,” het Elkana die digte skaduwee aan Jerogam, sy pa, toegeken. “Dit is vir Pa en Pa se kuiergaste.”
Hy het aan die blinde man se skouer gevat en sagter gepraat: “Binnekort sit Pa dalk hier met Pa se kleinseun op Pa se skoot.”
Amen, het sy gedink, want sy het hom gehoor. Alles vind nou sy regte plek, selfs die skaduwee van die vyeboom.
Haar skoonpa was nie maklik oortuigbaar nie. Hy het hom vir maande teen die idee bly verset om in die kamer onder hulle in te trek. Wat is verkeerd met sy tent? Lyk hy vir hulle soos iemand wat langs ’n ander se tafel moet aanlê of soos ’n hulpbehoewende?
Elkana het ál sy dae met sy pa gehad en elke argument aangevoor.
Die enigste een wat gewerk het, het soos weerlig deur Hanna gegaan. “Kinders het oupas nodig, Pa. Pa moet by ons intrek, want …”
“Elkana! Wat vertel jy my? Is Hanna al in haar sesde maand? Jy kon dit vir my gesê het! Ek is jou pa.”
O, die teleurstelling op haar skoonpa se gesig toe Elkana vir hom sê dat hy besig was om die plek vir sy pa in die geloof gereed te kry.
“Hoe bedoel jy – in die geloof?”
“Pa weet mos wat dit beteken. Met vertroue op die Here.”
“Jy sê dus sy is nog nie …”
Elkana het sy kop byna nie beweeg nie. “Maar dit sal gebeur, Pa. Trek by ons in. Pa glo dit tog ook.”
Haar skoonpa het ingetrek.
“My liewe Hanna, hoekom doen jy alles self?” wou Elkana weet toe sy later, nadat die mure al gestaan het, die mis-en-kleivloere van die twee groot vertrekke self begin smeer het.
“Oor die patrone wat ek in die vloere wil hê,” het sy geglimlag. Dit was vir haar heerlik om die granaatmosaïek in die middel van die vloer met gladde klippies in te lê.
“Mooi,” het Elkana verwonderd gesê. “Kom die klippertjies uit die spruit? En hoe kry jy dit reg dat klippe soos vrugte en blomme begin lyk? Ek kan nie eens ’n palmboom se stam uitpak dat dit soos ’n palmboomstam lyk nie.”
Hoe koel in die hoogsomer en droog in die reënseisoen was haar voltooide huis ná die nege jaar in tente! Hoe privaat was dit! Hoe salig privaat was sy en Elkana nou. Familielede van Elkana – tantes en kinders, sy neefs en ander stamgenote – kon nie langer ’n blote groet van buite af gee en die tentflap dan sonder waarskuwing oplig nie. In die tyd toe Elkana se oom sy harem se tente vlak agter hulle s’n opgeslaan gehad het en haar skoonpa se groot balke-en-bokvelhuis skaars ses el van haar en Elkana se tentopening af was, het selfs die wind haar moedeloos gemaak. Die wind het die tentflap gereeld brutaal en ontydig oopgeruk.
Hier tussen die baie tente van my skoonpa, Jerogam, se neefs, veral sy brutale neef Sagaria se kwetterende harem, het sy dikwels half in trane gedink, sal ek bly opspring uit Elkana se omhelsing. Hier bied selfs die nagdonker geen privaatheid nie. Sagaria se vroue, dogters en dié se kinders is soos geitjies in die dag en skerpioene in die nag. Probeer jy hulle met woorde van jou tent af wegkry, weet jy by voorbaat jy mors jou asem.
Toe die kliphuis ingewy was en hulle saam met haar skoonpa ingetrek het, het sy elke dag soos ’n jong bruid na Elkana se tuiskoms uitgesien. Hy het die deur agter hulle toegemaak en dié wat nou oor verlore bokke, slange, voorvalle by die waterput, miet in die meel, die onbehoorlike gedrag van die priesterseuns, Hofni en Pinehas, of oor die geel blaas van ’n spinnekopbyt wou kom praat, moes klop en wag totdat sy of Elkana oopmaak.
Die buitetrappe aan die noordekant en die plat dak bo was haar en Elkana s’n. Sy het spoedig ontdek dat daar gras-, gars-, koring-, duwweltjie-, veldblom- en draboksaad op die dak ontkiem elke keer nadat dit gereën het. Wanneer dit snags te warm in hul vertrek was, het sy en hy soms diep in die nag in die lig van die maan en die sterre teen die buitetrap opgegaan en op die kliphuisie se dak onder die sterrehemel gaan slaap. Daar het hy sy mantel en onderkleed saam met haar eie vir haar oopgesprei en gemeenskap met haar gehad. Nege, ja, byna tien jaar ná hul troue was dit nog met dieselfde oorgawe en teerheid as die nag toe hul huwelik amptelik voltrek is en die bruilofsgaste buite musiek gemaak en feesgevier het.
Elkana het die binnemure van die kliphuis later afgekalk. ’n Tiende van die bovertrekmure was van klip. Die res is steen vir steen opgebou met die gebakte modderstene wat sy hom gehelp maak het.
“Buite moet ons huis die kleur van die rotse hê,” het hy gesê. “Ons vyande moet dit nie van ver af kan raaksien nie. Maar binne moet jy elke ding wat op die mure loop, dadelik kan sien – perdebye, skerpioene en spinnekoppe. G’n spinnekop gaan ons kinders byt nie.”