Hanna. Maretha Maartens
Dit was Nemuel se laaste jaar by sy ma. ’n Jaar later het hy sy plek langs hul groot broers ingeneem en gerwe dorsvloer toe help bring. Hul ma wou vir hom kos in sy herdersak pak, maar hul pa het sy voet dwars gesit. As jy met gars of koring werk, dan is dít wat jy doen. Niemand ly honger nie. Almal span etenstye saam uit.
Nou, ’n leeftyd later, het niks verander nie en tog het alles verander. Die gesigte is dié van ’n ander geslag en Nemuel is nêrens saam met die manne op die oesland of op die dorsvloer te sien nie.
Die uitwanners is nog skaars met hul vurke en skopgrawe van die vloer af, of Peninna sê haar kinders aan om van die kaf vir die bakoond te gaan bymekaarmaak. En om die hooi wat hul pa toekom, stoorkamer toe te vat.
“Waarvoor hét ek julle immers?” korswel sy gewoonlik met haar spannetjie. “Moenie draai nie. Wanneer julle by die huis kom, kan ons dadelik eet.”
Hoe gemaklik is Peninna in haar eie lenige lyf. So gemaklik is sy ook by die bakoond, by die kospotte, wanneer sy ’n rietfluit vir Mirjampie sny en haar wys hoe om haar lippies te trek om net reg oor die skerp kant te blaas. So gemaklik soos in haar rats en lenige lyf, so gemaklik is Peninna in haar rol as moeder. So tuis is sy in Elkana se arms, teen sý lyf. Sy houding wanneer hy van haar af kom, laat haar glad nie daaraan twyfel nie. Liefde en hartstog is vloedwaters wat niemand kan stuit nie.
Peninna is lief vir Elkana, té lief. Gevaarlik lief.
“Here, ek wil nie aan hulle dink nie,” bid sy. “Nie hier by die dorsvloer nie. Nêrens nie, want op enige plek is die gedagte aan die plesier wat hulle aan mekaar het, ondraaglik.”
Wees versigtig met wat jy dink, het Ouma altyd gesê. Soos bokke die voorbok volg, so kom elke mens se dade agter sy gedagtes aan. Wat jy dink, is wat jy uiteindelik doen.
“Maar, Adonai,” bid sy weer, “wanneer ’n mens jaar ná jaar alleen hier by die dorsvloer rondstaan en rondsit, geen stowwerige koppie teen jou bors, geen kinderstem wat in jou nek en ore neul en geen seuntjie wat enigiets wat eetbaar is, op jou skoot sit en verorber nie … Dan haat ek Peninna, die indringer in wie my man die een perfek geboetseerde kind ná die ander verwek.”
HOOFSTUK 3
Daar is min tye so eensaam soos die aande en nagte in die oestyd wanneer Elkana saam met die ander boere by die dorsvloer teen graandiewe en brandstigters waak en, soos die meeste van die ander manne, in sy takskuiling skuins bokant die dorsvloer slaap. Buite in die vuur se lig en dieper in die donker rumoer Peninna se kinders. Dis Heman, Gesron en hul maats wat mekaar jaag, iets op hul eie vuurtjie gaarmaak en oral skuil en inkruip terwyl hulle wegkruipertjie speel. In die aangeboude deel van die huis huil Peninna se jongstes omdat hulle uit hul roetine is, nie gou genoeg kos kry nie, hul monde met warm kos brand of wat ook al.
Sy, Hanna, moet help voete skrop en gesiggies afvee, voer, sus, aandgebede bid en kleingoed in die bed sit. Só wil Elkana dit hê – eenheid en samehorigheid voor die aangesig van die Here. So hoort dit.
Wanneer die kleintjies slaap, kan sy opklim dak toe. Soms sing die mans en seuns wat oor die koring op die dorsvloer waak en daar oornag, tot laataand daar onder die sterre en die maan. As die wind van die dorsvloer se kant af waai, dryf die geluid van hul lofliedere hoër en hoër tot bo in die dorp. As sy, Hanna, dan alleen opgaan dak toe, kan sy die gesing van die eerste plato onder die stadsmuur hoor. As die opgeskote kinders op die dak kom wegkruip of speel, gaan sy maar kamer toe.
Die uitsig deur die vensteropening is ’n lus vir die oog. Oral is die onmiskenbare ligspikkels van olielampies wat in ander dorpies op die heuweltoppe brand.
“Snags is die ligspikkeltjies maar klein en die donkerte vol bedreigings,” het Elkana een wintersaand by hierdie selfde venster vir haar gesê. “Môreoggend skyn die son weer. Dan weet ’n mens weer – die Here verhoor gebede. Kom ons sit ’n plank voor die gat, dan verkluim ons nie vannag nie.”
Sy en Elkana was tien jaar getroud toe alles skielik vir altyd verander het. Elkana het een oggend vroeg – die lig van die môrester het nog by die venster ingeskyn – met haar oor sy besluit begin praat. Hy het nie oor ’n gedagte, ’n oorweging of een van baie moontlikhede begin fluister nie. Wat hy haar meegedeel het, was sy besluit.
Sy het orentgekom in die bed. Haar hart wou gaan staan. “Nie dít nie, Here, my God!” het sy in haar hart uitgeroep.
In daardie tyd, die drumpeltyd voordat hulle ’n lewe ingegaan het wat sy nooit vir haarself sou kies nie, het die huis wat Elkana in die negende jaar van hul huwelik begin bou het, nog net uit twee vertrekke bestaan. Maar hoe ruim het die huis waarvan Elkana die plan uitgedink het, nie gevoel nie. Dit het ’n reghoekige vertrek op die grondvloer vir sy swaksiende pa gehad met die stal langsaan. Haar en Elkana se kamer was bo die stal en die dakstoep was bo-op Jerogam se klipmuurkamer.
Die huis het net twee vertrekke gehad, maar snags het die maan en die sterre dit verlig. Snags, op die plat dak, het die hele uitspansel, die silwerwit vlekke van verre hemelliggame – die Beer, Sewester en Orion – ook aan Elkana behoort. Snags is daar nie grenslyne en klipbakens en stamgebiede nie. Snags is daar net die blydskap van die geringes aan wie Elohim so baie gegee het.
“Jy was ’n huis en ’n deur met ’n grendel gewoond, Hanna,” het Elkana gesê voordat hy begin bou het. “Dit is tyd dat jy uit die tent kom. Ek gaan vir jou ’n huis bou.”
“Ek is gelukkig in jou tent, Elkana. Baie gelukkig. Ek begeer niks meer nie.”
Hy het haar stil aangekyk. “Daar ís iets wat jy begeer, Hanna.”
Sy het weggekyk. “Dit is iets heeltemal anders, my man. Miskien sal die Here Hom eendag oor my ontferm.”
Terwyl Elkana die huis gebou het – háár huis, het hy dit genoem – het iets in hom gebeur. Dit was soos ontbossing, soos die oopmaak van ’n ruigte. So bedaard en deeglik soos wat hy bosse uit en ruigtes oop kap, het hy die klippe vir die grondverdiepingmure van haar huis gekap, die stene van klei en strooi vir die boonste mure gevorm en gebak.
Soos wat hy lappies bewerkbare aarde vir homself en ander teen die berghelling onder die dorp en teen die rante in die heuwels aan die ander kant van die vallei ontbos het, so het Elkana gebou. Soos wat die doringagtige struike voor sy pik en byl platgeval het en daar dag vir dag anderkant die rugbreekwerk iets nuuts, iets beters vir homself of ander was, so was dit daar by die rotsagtige plek wat hy vir die fondasie van háár kliphuis afgemeet het. Anderkant die gestoei van die dag het daar elke aand méér as die vorige dag gestaan – vir hulle albei.
En anderkant elke dag se geduldige volharding was daar nou soms onthougoed wat hy in ál die jare van hul saamwees nog nie met haar gedeel het nie. Daar was stukkies familiegeskiedenis, talle óú voorvalle uit sy kinderdae. Dit was amper asof hy sy kop en gedagtes ook ontbos het. Asof hy dele van sy familiegeskiedenis – gebeurtenisse wat Jerogam, sy pa, terloops genoem het, eie herinneringe, verliese en die baie dinge waaroor hy as jong seun gelag het – een vir een soos klippe gevat en daaruit ook iets opgebou het.
Dit het haar verwonderd gelaat, dié dinge uit haar man se familiegeskiedenis, dié andermanstragedies, waaroor sy haar ouers en broers lank gelede hoor praat het.
Hy het dit ná al die jare met háár gedeel omdat hulle met mekaar verweef geraak het. Voordat hy sy besluit aangekondig het, was sý die een met wie hy verweef was. Ná sy besluit kon die weefwerk van hul lewe as man en vrou – net een man en een vrou – nie behoue bly nie.
HOOFSTUK 4
“Die eerste huis van klip en steen in hierdie gebied is deur ’n Suffiet gebou. Dit was die huis waaraan my oupa Elihu byna vier jaar lank gebou het,” het Elkana een middag in die lig van die ondergaande son vir haar gesê. “Daardie huis het ses vertrekke gehad. Daar was ’n eie kamer vir my oupa- en oumagrootjie, ’n slaapkamer vir hom en my ouma, ’n slaapkamer vir die seuns wat wat hy nog sou hê, ’n vertrek vir sy