Hanna. Maretha Maartens
gebedsmat daarin nie.”
Sy het hom verbaas aangekyk. Ou Elihu het nog geleef. In daardie tyd was sy tent reg in die middel van die staning wat lankal nie meer die tydelike kamp van ’n paar familiegroepe was nie. Die granaat- en vyebome, die wingerdstokke en huistuintjies van hul heuwelkruindorp was lank reeds gevestig, soos die klein saailandjies en wingerde teen die berghelling en in die vallei onder die dorp.
Die granaatboom langs Elihu se tent het in die jaar van haar en Elkana se troue só geil gedra dat oud en jonk, die voëls van die hemel en die insekte gelyk het asof hulle van granate, granaatpitte en granaatsap leef. Sy, die inkommer in die buurt van die Suffiete van Ramatajim, het nog heimlik gedink: As jy kinders sien granate eet, kan jy maar weet hulle is Suffiete, familie van my bruidegom. Die granaateters, het die woord in die tyd van die granate by haar opgekom.
Haar skoonpa het eenkant geleef, al was hy nie melaats nie. Sy tent was op die rand van die tentedorp en hy het dit gereeld verskuif.
Hanna het van taal en woorde gehou. Iewers in haar was daar woorde vir enigiets – pyn, haat, meegevoel, verwondering, lofprysing, elke soort belewenis. Daaroor het Elkana maar net die kop geskud. “Gelukkig het ek vir my ’n vink as vrou gevat,” het hy soms gekorswel. “Dit woel en dit werskaf, dit weef en pluk uitmekaar, dit tjirp en kwetter en sing. As ek nie vir my ’n vrou gaan kry het nie, het ek doof geword van my eie stilte.”
Sy was as bloedjong bruid half skrikkerig vir ou Elihu, die patriarg van die familie. My oupa Elihu, het Elkana hom genoem. Maar toe sy hom die eerste keer ontmoet, het die ou man homself as Eliël aan haar bekendgestel. My God is God.
“Hoekom wil jou oupa hê ons moet hom eerder Eliël noem?” wou sy agterna van Elkana weet.
“Om mense voor ’n keuse te stel soos wat Josua gedoen het,” het Elkana gesê. “My God is God, wil my oupa met sy naam sê. Ek en my familie dien die lewende God. Wie of wat dien jy?”
So plegtig as wat die kinders van Israel in die tyd van Moses en Aäron na die tabernakel in die middel van die laer gegaan het, so plegtig was haar besoeke aan die ou man se tent altyd. Só het Aäron seker na mense gekyk en met hulle gepraat, het sy daardie eerste dag gedink toe Elkana haar aan hom gaan voorstel het.
Maar dit is nie al nie. Die eggo’s van Josua se woorde op die grens van Kanaän is in sy naam. Sy andersheid is die andersheid wat Simson se ouers vir hul seun gekies het. Daar was net een verskil. Simson het nie ’n keuse gehad nie. Die engel van die Here het voor sy geboorte al vir sy ouers gesê dat die seun aan wie Manoag se eens onvrugbare vrou die lewe sou skenk, lewenslank en onafgebroke ’n nasireër moes wees. Sy ma moes selfs as nasireër lewe terwyl die kind in haar groei. Sy mog niks wat vir nasireërs verbode is, eet of drink nie. Selfs deur die naelstringverbintenis tussen haar en die kind het sy nie die toewyding aan El Yisra’el durf ontwy nie.
Selfs toe sy die ou man beter leer ken, het dit niks aan haar eerste indrukke verander nie. So streng en wit bebaard soos Moses se broer seker was, so was ou Elihu vir haar. Van al die mense van die gebied was dié ou man die enigste wat die nasireërsgelofte op 30-jarige ouderdom afgelê en dit daarna nooit opgegee het nie, selfs nie vir ’n week of ’n maand nie.
Toe sy een oggend kort ná hul troue vir hom brood en rosyntjies neem, het hy die skottel rosyne met ’n diep frons eenkant toe gestoot en sy nasireërsgelofte aan haar uitgespel: Geen produk van die wingerstok as voedsel of drank nie, die hare en baard kan nooit geskeer word nie en hy mag geen lyk aanraak nie. Ja – mag die Here dit verhoed – selfs nie die oorskot van ’n doodgebore baba of die lyk van ’n eie seun of kleinseun sou hy ooit aanraak nie.
Sy het hom aangestaar. Die rosyne is soet en lekker, my vader, wou sy vir hom sê, maar sy het dit nie gewaag nie. Die ou man vir wie die Here tot op die been gestroop het, die Leviet wat nie eens sy binnekamer se mat oorgehou het nie, het volkome toewyding aan die Here bo die vreugdes van die tafel, die grond, die aarde en aande ná die dag se werk gekies. Om sy nasireërsgelofte te laat verstryk, het klaarblyklik nie eens by hom opgekom nie.
Met Elkana se arm oor haar het sy dikwels tot laatnag wakker gelê. Nasireërskap, het sy half deurmekaar in die donker gedink, is soos ’n heilige melaatsheid. Dit veroorsaak dat die een wat só volkome aan die God van Israel behoort, eenkant, mensalleen weeklaag wanneer een van sy kinders of kleinkinders deur ’n roofdier verskeur is. So ook wanneer ’n kind uiteindelik, ná die gevreesde dors en hoofpyn, die vlak asemhaling, die sweetlose koors en – mag die Here dit verhoed – die stuipe van sonsteek, sy laaste asempie uitblaas.
Soos my broertjie Nemuel, het sy gedink. Die een wat op die dag van die Here gebore is, die een wie se naam dag van die Here, rusdag, beteken. Die een vir wie my pa laat werk het terwyl die ander in die skaduwee kon eet en rus.
“Vir jou straf sal jy nie rus nie,” het haar pa daardie verskriklike dag van die takbondels gesê. “Jy sal werk totdat ek sê jy mag ophou.”
Soos my speelmaat Nemuel, die een wat in stuipe, ja, tot in die graf, getugtig is. So is ons ma ook in onderdanigheid, tot diep agter haar sluier in, getugtig. So is sy, wat vir Nemuel opgekom en voorspraak gedoen het, tot in smart en stilswye getugtig.
Om stil te bly was vir haar ma beter as om te praat, beter as verwyte, beter as dreigemente. Sy was bang vir ’n skeibrief en is nog altyd bang daarvoor.
“Jy staan my teë. Jy ken nie jou plek nie,” het sy haar pa te dikwels hoor sê. “Waarom sou enige Israeliet by so ’n vrou wou bly? Dit is onbetaamlik. My huis is nie my huis nie, want jy, ’n vroumens, wil hier baas wees. Dit is onbetaamlik.”
Voordat Nemuel aan sonsteek beswyk het, was die Wet die hele lug vol. Die Wet, soos haar pa dit by sy pa leer verstaan het, het ’n opgeskorte vonnis oor haar ma uitgespreek: As ’n man sy vrou nie meer liefhet nie omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het, mag hy ’n skeibrief skryf en dit vir haar gee en haar uit sy huis wegstuur.
Hulle verdraai die Wet, het haar ouma gesê. Maar haar ma en haar ouma het nie toegang tot die boekrolle gehad nie. In hul ongeleerdheid het hulle maar net oor die God van Israel gepeins en gepraat. Só was die Here tog seker nie? Het Hy hom dan nie ook oor vroue ontferm nie? Sal die God wat vir Hagar raakgesien en aan haar en haar seun uitkoms gegee het, verbanning en ongenade teenoor vroue deel van sy Wet maak?
Haar ma en ouma was radeloos oor baie dinge. Sy, Hanna, ook oor die ding waarvan hulle nie geweet het nie. Gedagtes het verbode woorde in haar geword, soos spinnekoppe wat uit spinnekopkokonne kom en oral in haar krioel. Sy moes die woorde van woede en haat in haar doodslaan en dooddruk voordat hulle uit haar keel en oor haar lippe kom, soos wanneer sy in die rante in die skaduwee van ’n groot rots oor Nemuel gaan huil het.
“Jou familie woon lankal in huise van klip en gebakte stene,” het Elkana niksvermoedend met haar gepraat. “Vir jou was dit nie iets besonders om huise om jou te sien opgaan nie. Maar by ons … Van al die Leviete in die Efraimsberge was my oupa die eerste een wat in ’n huis met ’n houtdeur, ’n vaste fondament en ’n klipmuurkraal teenaan die woonhuis gewoon het. Kan jy jou dit indink? Toe die huis klaar was, het sy bokke saans huis toe gekom. En my pa, wat toe nog nie agt jaar oud was nie, kon die hek tussen my oupa se bokke en die roofdiere van die nag elke aand gaan grendel.”
“En nou woon jou oupa in tente, soos al die ander hier.”
Elkana het half by haar verbygekyk. “My oupa se huis is deur Israeliete uit Gilead afgebrand.”
“Jy bedoel seker die Ammoniete?” Sy het gedink hy het hom verspreek. Voor haar en Elkana se troue was haar broers altyd aan die uitgaan of inkom. Vir die uitgaan het sy vir hulle kos in hul velsakke gepak – rosyne, dadels, brood en lensies. By hul terugkeer het hulle soos diere geruik en was hulle vol skrape en gevegswonde. Daar was geen einde aan die skermutselinge met die Ammoniete aan die oostekant van die Jordaan nie.
As