Schalkie van Wyk Keur 13. Schalkie van Wyk
merk oom Giepie op met ’n droë laggie.
“Herinner my altyd aan ’n dubbeldoor,” mompel oom Barend en skuif sy stoel steunend agteruit. Hy staan op. “Ek stap gou kafee toe om ’n pakkie suiglekkers te koop. Het jy iets nodig, Lelani?”
“Niks nie, dankie, oom Barend,” antwoord sy werktuiglik.
“Ek sal betyds terug wees vir oggendtee. Abigail het weer appeltert gebak,” sê oom Barend en skuifel met kort treetjies die eetkamer uit.
“En hy lýk soos ’n dubbeldoor,” sê oom Giepie misnoeg. “Jou wyle pa was te vrygewig, Lelani. Barend Stoltz eet genoeg vir drie mense, maar hy het dieselfde losiesgeld as die res van ons betaal.”
“Op sy ouderdom kan ’n mens seker maar doen wat jou gelukkig maak, oom Giepie,” antwoord Lelani toonloos en neem met ’n sagte suggie aan die hoof van die tafel plaas. Sy strengel haar vingers senuweeagtig ineen, onbewus van oom Giepie se deurdringende blik op haar.
Hy het Werner Boonzaaier al die jare sy mooi dogter beny, dink oom Giepie. Nee, Lelani is nie net mooi nie. Haar raafswart, effens krullerige hare omraam ’n hartvormige gesiggie met fyn, egalige gelaatstrekke. Maar haar grootste bate is haar besondere oë. Sy het groot oë wat met die eerste oogopslag donkerbruin lyk, maar kyk ’n mens weer, sien jy dat haar oë donkergrys is, met ’n tikkie verdwaalde silwer naas die groot pupille.
“En oom Giepie? Het oom al ander reëlings getref?” vra sy, kyk op en ontspan toe sy die glimlag in sy oë sien.
Op vyf-en-sestig is oom Giepie slegs vier jaar ouer as haar oorlede stiefpa, maar sedert hy sy intrek in Huis Winterrus geneem het, het sy hom as haar aangenome oupa beskou. Haar stiefpa, ’n afgetrede bankbestuurder, het sy dae in sy studeerkamer met finansiële tydskrifte deurgebring. Hy kon oor beleggings en aandele gesels, maar selde of nooit oor iets anders nie. Dit was oom Giepie wat haar gereeld dorp toe geneem het wanneer sy inkopies wou doen, of haar saans na ’n rolprentvertoning toe vergesel het, al was dit nie die soort rolprent wat in sy smaak geval het nie. Dit was ook oom Giepie wat haar aangemoedig het om ’n graad in Verpleegkunde te verwerf en gereeld mandjies eetgoed by haar koshuis afgelaai het. Haar studentemaats het geglo oom Giepie is haar oupa en sy het dit nie ontken nie.
Die afgelope sewe jaar, sedert sy vyftien was, het sy geweet haar pa is ’n kankerlyer. As verpleegkundige het sy ’n intieme kennis van die gevreesde siekte opgedoen, maar in haar hart kon sy nooit aanvaar dat haar stiefpa op geleende tyd leef nie. Hulle sou vir altyd gelukkig saamwoon in Huis Winterrus, het sy haarself wysgemaak. Selfs haar pa se dwase beleggings wat op ’n groot finansiële verlies uitgeloop het, kon haar nie werklik raak nie. Huis Winterrus was nog daar. Hulle kon kamers verhuur, loseerders inneem, en sodoende hulle finansiële verpligtinge nakom.
Tot vier dae gelede. Haar stiefpa het in sy slaap gesterf. Die son het helder oor die see opgekom toe sy kort ná seweuur by sy kamer ingeloer het. En toe het sy geweet: die son het finaal vir haar ondergegaan. Vir haar sal daar nooit weer ’n nuwe môre of ’n nuwe daeraad wees nie, want sy sal moet padgee uit Huis Winterrus en afskeid neem van die mense wat ongemerk deel van haar geword het.
Sy dwing haarself om na oom Giepie te kyk. Hy het intussen sy kromsteelpyp gestop en aangesteek en sit nou effens skuins gedraai op sy stoel en rook. Haar oë streel oor sy digte, grys hare, die hoë, intelligente voorkop, reguit neus en ferm mond. Sy sterk ken gee ’n uitdrukking van krag en selfversekerdheid aan sy gesig, maar kyk sy in die helder blou dieptes van sy oë, lees sy ’n goedige mensliewendheid daar. Oom Giepie is ’n man van teenstellings, besef sy. Hy skep die indruk van ’n streng, hooghartige man, maar wanneer hy glimlag, word hy ’n man van deernis en begrip.
“Oom het elders verblyf gekry?” vra sy, ’n ligte frons van kommer tussen haar wenkbroue toe hy haar ’n antwoord skuldig bly.
Oom Giepie betrag haar met oë wat effens geskreef is deur ’n sluier tabakrook en lê sy pyp dan tydsaam in die asbak neer. “Nog niks definitiefs nie, ounooi, want dis iets waaroor ons saam moet besluit.”
Sy staar hom verwonderd aan. “Oom het my hulp nodig?”
Daar is ’n vonkeling in sy oë. “Nee, Lelani, jy het my nodig. Ek besef jy is reeds twee-en-twintig, ’n meisie met ’n graad en volkome selfstandig. Maar tot vier dae gelede het jy ’n stiefpa gehad. Tot op hierdie oomblik woon jy in jou ouerhuis. Jy was vanoggend by jou stiefpa se prokureur. Ek glo hy het jou ingelig dat Huis Winterrus jou stiefsuster se erfenis is.”
Lelani knik stom. “Yvette Boonzaaier. Ek was nie eens bewus van haar bestaan nie. Meneer Kritzinger het aan my verduidelik dat Huis Winterrus aan Yvette se moeder behoort het.”
“Juis.” Oom Giepie lig sy regterwenkbrou vraend. “Jou pa het nooit oor sy eerste vrou of sy eie dogter gepraat nie?”
“Nee, oom. Meneer Kritzinger het my vertel dat Yvette se ma dood is toe Yvette ’n dogtertjie van vyf was. My stiefpa was altyd … e … onbeholpe met kinders, daarom het hy ingestem dat sy vrou se suster Yvette grootmaak, want sy en haar man is kinderloos.”
“Jy was twaalf toe jou moeder dood is?”
Sy knik, haar gelaat onnatuurlik bleek en gespanne. “Dis ironies, maar noudat ek daaraan terugdink … Ná my ma se begrafnis het my stiefpa my lank uitgevra oor my familie. Maar ek het nie enige familie nie, want my eie pa en my ma was albei enigste kinders. My ma was reeds veertig toe ek gehore is, en haar ouers was toe reeds dood.”
“En jy ken nie jou eie pa se mense nie?”
“Nee, oom Giepie. Ek het aanvaar hulle is ook dood, want my ma het nooit oor hulle gepraat nie.” ’n Halfhartige glimlaggie pluk aan haar mondhoeke. “Was dit nie vir Abigail nie … Ek was sewe toe Mamma met Werner Boonzaaier getroud is, en Mamma het Abigail saam met ons na Huis Winterrus toe gebring. Mamma en Abigail het as ’t ware saam grootgeword, daarom het dit vir my altyd gevoel asof Abigail eie familie is. Dit was Abigail wat my getroos het na Mamma se dood, wat vir my ’n tweede ma geword het toe Mamma nie meer daar was nie.”
“Abigail is ’n voortreflike kok en huishoudster, maar sy is ook al in die sestig,” sê oom Giepie nadenkend.
“Ek besef dit, oom, maar wat gaan van háár word? Ek sal haar nie meer kan bekostig nie. Sy kry ’n goeie salaris, maar as ek nie meer ’n huis besit nie …”
Oom Giepie lê haar met ’n beweging van sy hand die swye op. “Abigail kon drie jaar gelede reeds afgetree het. Jou ma het in haar testament voorsorg vir ’n pensioen vir haar gemaak.”
Sy staar hom verras aan. “Hoe weet oom?”
Hy kom orent – ’n lang, breedgeskouerde man met lenige liggaamsbou – en loop na die westelike venster. “Jou stiefpa het besef sy tydjie raak kort,” begin hy praat, maar kyk nie na haar nie. “Jy weet self: Werner Boonzaaier kon nie maklik met vroue kommunikeer nie. Ek glo dis waarom hy met my gepraat het. Hy het my vertel dat Huis Winterrus Yvette se erfenis is. Hy het my ook versoek om sy loseerders te waarsku om solank elders verblyf te vind.”
“En hy het oom vertel dat Abigail finansieel versorg is?” vra sy met ’n stem waarin die seer deurslaan.
Hy kyk vinnig na haar. “Moenie jou stiefpa verkwalik omdat hy jou nie in sy vertroue kon neem nie, Lelani. Hy was een van daardie mans wat geglo het dat ’n vrou net ’n versiering is, nie ’n persoon wat met probleme opgesaal moet word nie.”
“Hy was altyd vir my ’n vreemdeling,” erken sy en die seer verf haar oë swart. “Ek weet hy het my net in Huis Winterrus verdra omdat Abigail hier was om my te versorg. Dis waarom ek bly was toe ons skielik arm geword het. Hy moes loseerders inneem. Toe julle kom, het ek skielik ’n eie familie gehad, eie mense. Oom Barend het altyd vir my lekkers aangedra; tant Charity en tant Patience kon my ure lank met hulle stories oor hulle lewe in Engeland vermaak; en oom …” Sy swyg en daar is ’n ligte blos van verleentheid op haar wange.
“Ek was jou oupa,” glimlag hy. “Onthou jy nie die dag op die rotse toe ek jou leer visvang het nie? Toe jy jou eerste vis uitpluk, het jy my vasgegryp en gesê ek is die