Schalkie van Wyk Keur 13. Schalkie van Wyk
Hy vryf nadenkend met sy hand oor sy mond en ken, sy blou oë deurvorsend in hare. “Ek het net een aangenome kleindogter: Lelani Wessels,” antwoord hy ernstig …
’n Glimlag kruip soos die eerste oggendsonstrale oor die grou oppervlakte van die see in haar oë. “Ek is so bly, oom Giepie! Ek verdien heelwat met privaat verpleging. Ek weet nie hoe groot oom se pensioen is nie, maar ons behoort saam iewers ’n woonstelletjie of ’n paar kamers te kan huur – dalk ’n plek met genoeg ruimte vir Abigail. Dit sal nie Huis Winterrus wees nie, maar solank ons saam kan wees…”
“Abigail het besluit dis hoog tyd dat sy teruggaan na haar eie mense toe. Maar ons sal iewers ’n huishoudster kry. En gebeur dit nie: ek hou van bak en brou. Wat ’n blyplekkie betref: ek kyk al ’n geruime tyd rond, maar ons sal later finaal daaroor besluit,” sê hy saaklik. Hy kom nader en lê sy hand op haar skouer. “Gaan slaap nou, ounooi. Ek glo Helena Greyvenstein is ’n heks om te verwag dat jy haar man so kort na jou stiefpa se dood snags moet verpleeg. Maar soos jy self sê: jy het die geld nodig.”
“Nodiger as ooit, want ek moet my oupa Giepie help versorg,” terg sy en loop uit die eetkamer uit met die klank van sy warm, gedempte lag in haar ore.
Tant Engela van Jaarsveld vorm met ervare behendigheid die laaste stuk deeg in ’n brood en snak na haar asem toe ’n groot, songebruinde hand skielik oor haar skouer verskyn en ’n stuk deeg afknyp.
“Duiwelskind!” raas tant Engela en klap na die hand. Maar die hand verdwyn vinnig en sy klap die stuk deeg raak.
“Mis!” koggel Roland Stadler agter haar stoel, glimlag breed in haar toornige gesig en eet die deeg smaaklik op.
“Jy gaan jou ingewande verstop, Roland! As die deeg in jou maag begin rys, kry jy ’n breuk … of ’n ding,” maak tant Engela ’n donker voorspelling, maar sy gaan onverpoos voort om die deeg in ’n broodpan te sit.
“Ek weet, tant Engeltjie,” tart hy. “Kom ons dink … Ek is reeds vyf-en-dertig. Vandat ek vier jaar oud is, woon tannie hier op Gunterland. Een-en-dertig jaar lank eet ek al rou deeg en ek is nog uitspattig gesond. Wanneer kry ek daardie breuk of ding, my liewe tantetjie?”
“Uitspattig gesond – gmf! Jy is doodgewoon uitspattig, knaap,” maak sy rusie terwyl sy die broodpan na die broodkombers toe dra. “Waarom ek my tyd mors om spesiaal vir jou vars brood te bak … Ons huis staan as ’t ware in die middel van Stadlerheim. Van nou af kan jy vir ons brood in die kafee gaan koop.”
“Dis nie ’n huis nie, tannie. Huis Daeraad is ’n opstal. Ons het net die grense van Gunterland so effens verskuif toe my oor-oorgrootjie met ’n dorpstigting begin het. Hoe gaan tannie dit oor tannie se hart kry om winkelbrood in ’n plaasopstal te eet?” vra hy verwytend, maar sy oë lag haar goedig uit.
“Winkelbrood!” Tant Engela se lippe krul minagtend. “Gansdons en winkelbrood proe dieselfde: dis soos om ’n mond vol wind te eet. Ek hoop net jou liewe Yvette weet hoe om brood te bak.”
Die uitdrukking op Roland se gelaat verhard. Tant Engela trek haar asem spytig in toe sy na hom kyk. Sy gesig is songebruin, maar vererg hy hom, lê die letsel op sy wang soos ’n polsende, oop wond wat die pyn van ’n half vergete verlede uitskree.
“As tannie die dag nie meer daar is nie, sal ek winkelbrood koop,” sê hy met strakke sekerheid.
“Moenie, Roland,” pleit tant Engela. Sy loop na hom toe en plaas haar hand op sy arm. Sy wens sy was nie so kort nie, dink sy geïrriteerd. Maar aan die ander kant: hoekom moet Roland byna twee meter lank wees? Toe hy klein was, kon sy haar arm om sy skouers sit en hom ’n vertroostende drukkie gee, maar vandat hy ’n man geword het… Sy kan net sowel probeer om een van die stoeppilare oor die kop te streel.
Hy is bewus van die troebel uitdrukking in haar oë en glimlag gerusstellend. “Tannie ken die reëls: ek soek nie vir tannie ’n man nie en tannie aanvaar dat ek ’n oujongkêrel is. Reg?”
Tant Engela aarsel, gretig om vrede te maak, maar skud dan haar kop. “Dis wat ek wil glo, Roland, maar Yvette trap my drumpel deur sedert sy drie maande gelede teruggekeer het uit die buiteland.”
“Verkwalik tannie haar? Yvette is ’n meisie van dertig. Hoeveel ongetroude mans van haar ouderdom is daar op Stadlerheim?” vra hy onbesorg.
“Twee wewenaars en drie geskeides,” tel tant Engela op haar vingers. “Maar hulle is mense wat vir salarisse werk. Jy, Roland, is ’n skatryk boer met meer plase as wat jy kan hanteer. Yvette Boonzaaier en haar kruiperige tant Melinda weet dit.”
“Kruiperig?” Hy staar haar onthuts aan. “Ek dag tannie beskou tant Melinda as ’n aanstellerige, hooghartige ou pruimgesig.”
“En dit is sy ook wanneer jy nie in die nabyheid is nie. Want wie is ek nou eintlik? Net die skatryk, oorlede Wernich Stadler se stiefsuster wat al die jare sy huishoudster was en jou grootgemaak het. ’n Betaalde bediende – dis ek, Engela van Jaarsveld. Ek kan behoorlik sien hoe kry ou Melinda ’n steek in haar nek elke maal wanneer sy my met ’n stywe kopknikkie op die dorp moet groet.”
“Groet tannie haar darem?” korswel hy.
“Nee, kind, want ek soek nie na ’n steek in my nek nie. Ek hoop net jy het Yvette duidelik …” Sy breek haar sin af en frons strydlustig toe die voordeur oop- en toegaan. “Net één jakkalsgevreetjie het die liederlike gewoonte om nie aan my voordeur te klop nie,” grom sy en gluur in die rigting van die gangdeur.
“Hallo, hallo, al die mense!” groet Yvette Boonzaaier gul en kom die ruim kombuis binne. Haar oë flits nikssiende oor tant Engela se vyandige gesig en soek dié van Roland. “Ek het wonderlike nuus, Roland! My pa is dood en –”
“Sondige merrie!” val tant Engela haar verpletterend in die rede. “Jou pa is dood, Yvette, en jy sê dis wonderlike nuus? Wat meen jy om te doen? ’n Polka op sy graf te dans?”
Yvette frons geraak. “Tannie ken die storie so goed soos ek: my pa het my weggesmyt ná my ma se dood. As tant Melinda en oom Nathan hulle nie oor my ontferm het nie, het ek seker in ’n weeshuis beland.”
“En dan was jy moontlik vandag ’n beter kind,” sê tant Engela onsimpatiek.
“Wag nou, tannie,” kom dit paaiend van Roland. “Vertel ons wat jou goeie nuus is, Yvette. Het jy ’n fortuin geërf?”
“Wel, nie ’n fortuin nie, maar ’n reusestrandhuis wat aanvanklik aan my eie ma behoort het. Die plek se naam is Huis Winterrus en dis op Sekelbaai. Ek besef ek is oom Nathan en tant Melinda se enigste erfgenaam, maar die gedagte dat ek my eie strandhuis besit, laat my skielik ryk voel.”
“Was jy darem by jou pa se begrafnis?” vra tant Engela streng.
Yvette frons ergerlik. “Hoe kon ek gaan as ek eers vanoggend by my prokureur gehoor het dat ek Huis Winterrus geërf het?” vra sy vies.
“Koop dan ’n krans en gaan sit dit op sy graf. Sekelbaai is nie so ver nie,” antwoord tant Engela bruusk.
“Dalk sal ek,” sê Yvette. Sy draai na Roland en versoek met ’n pruilmondjie: “Wat sê jy, my skat? Ry ek en jy saam Sekelbaai toe?”
My skat … Ga! dink tant Engela en blaas haarself soos ’n vertoornde verkleurmannetjie op. Sy kan haar voorstel hoeveel “skatte” daar reeds in Yvette se lewe was, want ’n meisie wat soos Yvette lyk, sal in ’n klooster moet gaan wegkruip om nie ’n reputasie te hê nie. Haar hare is lank en blond – maar eers sedert haar agtiende jaar, want vóór dit was dit muisvaal – en haar gelaatstrekke is egalig. Sy veronderstel mans sal Yvette se mond onweerstaanbaar vind, want sy het vol, sensuele lippe en ’n maklike glimlag wat kuiltjies in haar wange keep. Haar groot, ligblou oë verhoed dat enigiemand sal raai dat sy nie ’n natuurlike blondine is nie. En dan is daar haar figuur … en sy het sulke lang, slanke bene, so asof die ou duiwel self wou sorg dat Roland die meisiemens ten prooi sal val, dink tant Engela bitter.
Langs ’n man van gemiddelde lengte sal Yvette