Schalkie van Wyk Keur 13. Schalkie van Wyk
’n bietjie befoeterd, dink tant Engela, behalwe wanneer ’n mens na sy mond kyk. Selfs wanneer hy ernstig is, krul sy mondhoeke boontoe, asof hy heimlik oor iets lag. ’n Aantreklike man, ten spyte van die letsel op sy linkerwang, met ’n bankrekening wat hom volkome onweerstaanbaar sal maak vir menige vrou, som tant Engela hom op en probeer aan ’n rede dink om Yvette haar huis te belet.
“Ek is op die oomblik ’n bietjie besig op die plaas, Yvette,” kom dit ontwykend van Roland terwyl hy vlugtig na tant Engela kyk en die goedkeuring in haar oë lees.
“Maar jy móét saamkom, Roland!” pleit Yvette desperaat. “Ek het nog nooit my stiefsuster ontmoet nie, maar as Lelani Wessels my dalk probleme gee … Ek twyfel of sy Huis Winterrus sonder meer gaan verlaat, want my pa het haar heel waarskynlik nooit ingelig dat die huis my erfenis is nie.”
“Lelani Wessels? Hoekom klink die naam vir my so bekend?” kom dit ingedagte van tant Engela. Sy kyk Yvette skerp aan. “Jy weet nie dalk wie haar ma was nie?”
“Nee, tannie. Ek het nooit genoeg belang gestel om uit te vind wie my stiefma is nie,” antwoord Yvette koel.
“H’m,” kom dit niksseggend van tant Engela, maar sy frons aanhoudend. “Dis nou al te laat, maar miskien moet jy môre saam met Yvette ry, Roland. Jy werk te hard. ’n Daggie weg van die plaas af is net wat jy nodig het. En nou moet julle my verskoon, want ek moet ’n paar dringende oproepe gaan maak. Tot siens, Yvette.”
“Tot siens, tant Engela,” groet Yvette stralend. “Sien jy nou, Roland? Selfs tant Engela is ten gunste daarvan dat jy saam met my Sekelbaai toe ry. Jy durf nie nou weier nie.” Roland antwoord nie. Hy kyk tant Engela met ’n vraende frons tussen sy wenkbroue agterna. Vanwaar die skielike frontverandering? wonder hy. ’n Paar minute gelede het tant Engela hom nog teen Yvette gewaarsku, maar nou dwing sy hom as ’t ware om Yvette na Sekelbaai toe te neem. Wat voer tant Engela in die skild? Hy ken haar te goed om sonder meer te aanvaar dat sy hom uit die goedheid van haar hart aangesê het om Sekelbaai toe te gaan. Hy moet haar ondervra, maar dan moet hy so spoedig moontlik van Yvette ontslae raak. Gelukkig is Yvette nie seker van hom nie. Sy val oor haar eie voete om sy geringste wens uit te voer, selfs al is dit om hom met rus te laat.
“Dan is dit afgespreek, Yvette. Ek het môre ’n bedrywige dag, maar as ons teen sesuur kan ry, sal ek jou Sekelbaai toe neem. Of is dit te vroeg vir jou?” vra hy saaklik.
“Ek sal sesuur hier wees. En vreeslik, vrééslik dankie, Roland,” sê sy en kyk diep in sy oë.
“Ek sal jou na jou motor toe vergesel. Kom,” beveel hy bruusk en stap saam met haar na die voordeur toe, maar raak nie aan haar nie.
’n Bliktrommel … ’n vervlakste swaar bliktrommel! dink Lelani en sleep die trommel oor die sypaadjie. Sy haat tant Helena Greyvenstein, en sy haat Arno Greyvenstein met ’n wrewelrige haat. Sy is as privaat verpleegster gehuur om oom Jaco Greyvenstein te verpleeg, maar vanuit die staanspoor het Arno besluit dat sy ter wille van hom in diens geneem is.
En nou sit sy sonder werk. En sonder ’n huis. Binnekort sit sy en oom Giepie op straat, want Huis Winterrus sal binnekort ontruim moet word. Dis nie regverdig nie, dink sy. Sy voel trane van opstand en onmag agter haar ooglede brand en knip haar oë vinnig. Nee, sy kan nie nou so naby Huis Winterrus in trane uitbars nie. Haar woede het haar gehelp om tot hier te loop sonder om haar aan selfbejammering oor te gee. Sy sal onthou om kwaad te wees, om almal en alles te verwens, maar sy sal nie huil nie, want dit sal net al haar loseerders ontstel. Sy vee met haar linkerhand oor haar oë en loop met die bliktrommel in ’n lamppaal vas. Die trommel val uit haar hande, sy struikel daaroor en val plat op haar maag op die sypaadjie neer.
“Kan ek help, juffroutjie?” Die manstem is diep, welluidend en oortuigend simpatiek.
Sy kyk op in Roland se gesig. “Nóg ’n man! Vloek-… vloek- … vloeksteen!” skel sy en bars in trane uit.
Roland kyk verwilderd rond, besef dat hy alleen in die straat is, en tree dan vinnig op. Hy help Lelani om op die trommel te sit en neem langs haar plaas.
“Huil net sag, juffroutjie. En as iemand op ons afkom, sê maar ons wag op die bus,” stel hy senuweeagtig voor en druk sy sakdoek teen haar neus om haar snikke te smoor.
2
Hy haat dit om ’n spektakel van homself in die openbaar te maak, dink Roland en blik afkeurend na Lelani wat sy sakdoek by hom geneem het en hartverskeurend daarin huil. Dis erg genoeg dat die meisiemens huil asof sy haar hele familie in ’n ramp verloor het, maar waarom moet hy langs haar op haar ellendige bliktrommel op die sypaadjie sit? Maar staan hy op, sal verbygangers moontlik glo dat hy met haar rusie gemaak het. Dit lyk darem asof hy haar probeer troos terwyl hy langs haar sit, selfs al raak hy nie aan haar nie, dink hy gefrustreerd en gluur haar aan toe sy harder begin huil.
“Kan jy nie sagter huil nie, meisiemens?” grom hy diep uit sy keel en verwens homself oor sy brutaliteit. Niemand sal sonder ’n baie goeie rede so verskriklik huil nie, besef hy. As hy net taktvoller kan wees …
Lelani se snikke word skielik stil. Sy neem die sakdoek voor haar gesig weg en kyk op na die vreemde man langs haar.
Roland kyk in haar oë en voel asof iemand hom ’n onverwagte vuishou in sy maag gegee het. Lang, digte, swart wimpers omraam oë wat lyk soos ’n silwergrys, donker meer waarop die maanlig val …
“Ek is nie ’n waterpistooltjie nie. Wanneer ek huil, huil ek met byklanke,” snou sy, druk haar gesig in sy sakdoek en begin opnuut huil.
“Om liefdeswil …!” Roland maak ’n wilde, senuweeagtige gebaar met sy hande en klap haar byna bo van die trommel af. Hy gryp haar vinnig aan die arm en klou haar vas, asof hy bang is sy gaan omval. “Asseblief, juffroutjie … e … verpleegster …” Hy knip sy oë vinnig – vir die eerste maal werklik bewus daarvan dat sy ’n verpleegstersuniform dra. “Is een van jou pasiënte dood? As jy my daarvan wil vertel, help –”
“Haal jou kloue van my arm af!” krys sy en ruk met geweld haar arm uit sy greep los. Sy verloor haar balans en land op die sypaadjie langs die trommel.
Roland bereik haar voordat sy na haar asem kan snak, tel haar op en plak haar ru op die trommel neer. Hy neem langs haar plaas en plaas sy arm om haar skouers. “Sit stil!” sis hy. “Daar woon honderde mense in hierdie straat en op die oomblik staan hulle almal voor hulle vensters en loer ons deur hulle kantgordyne af.”
Hy lyk soos die ou duiwel met sy swart hare, swart wenkbroue en swart oë. Sy vel is ook amper swart – eintlik net songebruin, maar dit kom op dieselfde neer, dink Lelani met weersin. En hy klou haar vas. Vanoggend het Arno Greyvenstein haar vasgeklou en sy het fisiek naar gevoel. Op die oomblik is sy nie naar nie, maar haar hart klop onreëlmatig en dit voel asof sy gloede kry. Dalk gaan sy tog naar word …
“Jy verwurg my. Haal jou kloue van my af en skuif eenkant toe,” sê sy nydig.
“Glo my, Juffrou, ek geniet nie die rol van vertrooster nie. Ek sal dit nie ontken nie: ek sal jou met graagte wil verwurg, bloot om jou stil te kry. Maar aangesien ons verplig is om hier op jou bliktrommel te sit, sal ek jou vashou om te verhoed dat jy weer afval,” antwoord hy, sy stemtoon koud.
“Dis mý bliktrommel. Nee, dis ou Helena Greyvenstein se … se … ” Trane reën haar woorde weg en sy snik hulpeloos in sy sakdoek.
“Hoekom vertel jy my nie wat Helena Greyvenstein gedoen het nie?” vra hy vinnig. As die meisiemens praat, sal sy ophou huil. Aangesien hy verplig is om saam met haar op ’n trommel te sit, sal ’n gedempte geselsie hopelik minder aandag trek as ’n snuiwende, snikkende meisiemens, dink hy en betrag haar met kille afkeer.
Hoekom nie? vra Lelani haarself af. Sy ken nie die man nie en dit is makliker om ’n mens se probleme met ’n vreemdeling te bespreek. Vertel sy oom Giepie wat vanoggend in die Greyvenstein-huis gebeur het, word hy dalk so kwaad dat hy ’n beroerte kry. As oom Giepie iets moet oorkom … Sy voel die trane agter haar ooglede brand en byt hard op haar tande. Sy kan nie bekostig om meer te huil nie, want die man se sakdoek is reeds deurnat, besluit