Schalkie van Wyk Keur 13. Schalkie van Wyk
is ’n moderne hospitaal op Stadlerheim. As jy werklik wil, kan jy met jou loopbaan voortgaan,” por tant Engela.
“Wel, ja … dit klink aanloklik. Maar wat van oom Giepie?”
Tant Engela pers haar lippe hard saam en slaan haar blik neer. “Daar is ’n woonstelletjie bo-op die ou stal. As hy kans sien …”
“Blikskottels!” ontplof oom Giepie, maar sluk sy verontwaardiging in toe Yvette, gevolg deur Roland, die eetkamer binnekom.
“Tant Engela! Wat op aarde soek tannie hier?” vra Roland verras.
“Ek het ’n besoekie aan Lelani gebring, boet, en ek is dankbaar om jou te kan inlig dat sy voortaan saam met ons in Huis Daeraad sal woon,” vertel sy ingenome, oënskynlik onbewus van die skok op Lelani en Roland se gesigte.
3
Die uitdrukking van skok op Roland se gelaat maak plek vir ’n granietharde masker wat selfs die lig in sy oë uitdoof. ’n Man met ’n gesig uit koue rots gebeitel, dink Lelani en vergeet van haar eie skok. Is hy werklik dieselfde man wat vroeër die oggend langs haar op tant Helena Greyvenstein se bliktrommel op die sypaadjie gesit het? wonder sy verdwaas. Maar selfs toe, onthou sy, het sy die indruk gekry dat sy vir hom ’n verleentheid was, dat hy haar teen sy sin getroos het. Roland Stadler hou nie van haar nie; nee, dis erger: hy is haar vyand, hoewel sy tot nouliks twee uur gelede onbewus van sy bestaan was.
“Dit pas my nie, tant Engela,” sê hy met koue nadruk. “Huis Daeraad is my ouerhuis. Ek sal besluit wie daar woon.”
“Presies!” beaam Yvette, ’n triomfantelike lig in haar oë. “Dis werklikwaar voorbarig van tante om vreemdelinge na Roland se huis toe te nooi.”
“Hou jou mond, merrie!” snou tant Engela en rig ’n grimmige blik op Roland. “En jy, knaap, vergeet te maklik met wie jy praat.”
“Is dit nie andersom nie, tante?” vra Yvette smalend. “Die hele Stadlerheim besef dat jy jou lewe lank net die ryk Stadlers se betaalde huishoudster was. Dat jy die vermetelheid kan hê om sonder Roland se toestemming –”
Oom Giepie se regtervuis tref die tafelblad met ’n oorverdowende slag wat Yvette haar asem laat wegskrik. Hulle oë draai werktuiglik na hom en hy kom stadig orent, sy diepblou oë soos glimmende kristalle. “Ek glo, juffrou Boonzaaier,” begin hy, sy stem donker en dreigend, “dat die prokureur aan jou verduidelik het dat jy slegs Huis Winterrus van jou wyle vader geërf het?”
Yvette soek vinnig hulp met haar oë by Roland, maar hy kyk weg. Sy sluk, merkbaar ongemaklik. “Ja … ja, hy het.”
“In daardie geval: ons sal die huis binne ’n week ontruim. Intussen is jou teenwoordigheid hier vir ons almal ’n verleentheid. Wat daar verder hier bespreek moet word, is uiters persoonlik van aard. Jy is verskoon.”
“Maar … maar …” Yvette kyk weer na Roland, maar hy wend geen poging aan om haar te help nie. Sy frons vererg en gryp hom aan die arm. “Kom ons ry, my skat. Daar is niks meer vir my om hier te doen nie.”
“Jy kan in die motor wag. Soos oom Giepie reeds gesê het: ons het persoonlike sake om te bespreek,” antwoord Roland grimmig.
“Tot siens, juffrou Boonzaaier,” sê oom Giepie en laat sy groet soos ’n bevel klink.
Yvette ruk haar ken op, gluur beurtelings na tant Engela en Lelani en stap kop omhoog die vertrek uit.
Lelani staar oom Giepie aan met bewondering in haar blik. Sy het nog nooit oom Giepie so kwaad gesien of met soveel gesag sien optree nie. Uit sy gesprekke met haar het sy lankal besef dat hy ’n geleerde man is, maar hy praat nooit oor homself nie. Sy weet hy het jare lank in Johannesburg gewerk, maar wanneer sy hom gevra het wat presies hy gedoen het, het hy altyd ontwykend geantwoord. In ’n stadium het sy besluit hy is skaam om oor sy verlede te praat, moontlik omdat hy nie ’n suksesvolle sakeman soos oom Barend Stoltz was nie. Maar nou sê iets vir haar dat oom Giepie nie ’n niksbeduidende klerkie of onsuksesvolle verkoopsman was nie.
“Dankie, meneer … Giepie,” verbreek tant Engela die stilte wat op Yvette se vertrek gevolg het, ’n raaiselagtige uitdrukking in haar oë terwyl sy na oom Giepie kyk.
“Gmf,” lewer hy niksseggend kommentaar en neem weer by die tafel plaas.
“Oom Giepie Taljaard, tannie,” help Lelani haar. Sy glimlag senuweeagtig, intens bewus van Roland wat groot en donker ’n paar treë van tant Engela af staan. “Ek waardeer tannie se uitnodiging opreg, maar aangesien Huis Daeraad meneer Stadler se eiendom is … Ek en oom Giepie sal wel oor die weg kom.”
“Menéér Stadler verbeel hom graag dat hy my kan hiet en gebied omdat ek hom van jongs af bederf het, maar hy is nie die baas van Huis Daeraad nie. Sy oorlede pa en my stiefbroer, Wernich Stadler, het my lewenslange reg op Huis Daeraad gegee. Dit staan my dus vry om enigiemand te nooi om in my huis te kom woon,” sê tant Engela selfversekerd, haar blik uitdagend op die stroewe Roland.
“Waarom, tant Engela?” vra Roland met ’n ondertoon van verwyt in sy stem. “Wat soek tannie in elk geval hier? Hoe raak Yvette se erfenis tannie? Ek besef tannie hou nie van haar nie, maar is dit nodig om ’n wildvreemde meisie in ons huis in te neem bloot om Yvette te vermaak?”
“Jy glo ek het al die moeite gedoen om hierheen te kom bloot om daardie jakkalsgevreetjie te vermaak?” vra tant Engela onthuts.
“Wat anders moet ek dink?” vra hy bruusk.
“’n Man met jou intelligensie moet liewer nie probeer dink nie, boet. Maar laat ek jou uit jou ellende verlos. Ek en Lelani se moeder, Amanda Scheepers, het saam grootgeword. Ons was van jongs af boesemvriendinne en toe Amanda later met Herman Wessels getroud is, het ek en sy gereeld gekorrespondeer. Ná Herman se dood het sy verhuis en ons het kontak verloor, maar ek het ons jeugvriendskap nooit vergeet nie.”
“Dan het tannie geweet Lelani is Yvette se stiefsuster?”
“Nee, maar toe Yvette ons gister van Lelani vertel, het ek ’n paar oproepe gemaak. Dit was nie te moeilik om vas te stel dat Lelani my ou vriendin se dogter is nie. En dis waarom ek hier is: om vir Lelani te doen wat Amanda ongetwyfeld ook vir my kind sou gedoen het, as ek ooit ’n eie kind gehad het,” antwoord tant Engela rustig, ’n ondertoon van finaliteit in haar stem.
Roland kyk na Lelani en sy lees die vyandigheid op sy gelaat.
Wat ’n onaangename man, dink sy afgehaal. Sy het nogal van hom gehou toe hulle saam op die bliktrommel gesit het; sy het selfs gedink hy is ’n redelik aantreklike man op ’n duiwelse manier. Maar hy lyk nie meer aantreklik nie, net doodgewoon duiwels.
“Wie het tannie gebel?” vra Roland asof hy tant Engela se storie in twyfel trek.
Tant Engela sug ongeduldig. “Daar is slegs twee prokureurs op Sekelbaai. My tweede oproep was suksesvol: ek het met meneer Kritzinger gepraat en al die nodige inligting gekry.”
“O.” Hy sluit sy lippe in ’n harde lyn en staar Lelani fronsend aan. “Jy het klaar besluit om my tante se uitnodiging te aanvaar, juffrou Wessels?” vra hy misnoeg.
Lelani kyk hom met ’n tikkie minagting aan. “Ek het, ja, maar dit was voordat ek geweet het dat jy ook in Huis Daeraad woon.” Sy wend haar na tant Engela. “Ek is bly ek kon tannie leer ken en ek is dankbaar vir tannie se uitnodiging, maar in die omstandighede verkies ek om saam met oom Giepie elders ’n heenkome te vind.”
“Snert!” rasper oom Giepie se stem. “Juffrou van Jaarsveld het reeds gesê daar is ’n moderne hospitaal op Stadlerheim. Jy sal maklik ’n betrekking as hospitaalsuster kry, Lelani.” Hy kyk na tant Engela, ’n woordelose uitdaging in sy oë. “Is die woonstel bo-op die stal darem ruim en gerieflik, juffrou Van Jaarsveld?”
“Oom Giepie, nee!” protesteer Lelani verwytend.
“Ruim, gerieflik en modem. En ek is ’n uitstekende kok. Jy kan jou etes saam met my en Lelani en Roland in die groot huis eet, meneer Taljaard,”