Schalkie van Wyk Keur 13. Schalkie van Wyk
my amuseer. Maar moenie begin uitvis nie. Ek het die reg op privaatheid,” waarsku hy.
“O, wel …” Sy haal haar skouers met gedwonge sorgeloosheid op. “Ons was in elk geval besig om oor tant Engela te praat. Wat het haar besiel om ons na Sekelbaai toe te volg?”
“Lelani Wessels.”
Yvette ervaar ’n prikkie vrees in haar binneste. “Maar … ken sy my stiefsuster?”
“Sy ken haar nou. Maar jare gelede het sy Lelani se moeder baie goed geken. Hulle het saam grootgeword en hulle was boesemvriendinne. Nadat Lelani se ma getroud is, het sy en tant Engela nog gereeld gekorrespondeer. Toe jy gister Lelani se naam noem, het tant Engela dadelik aan haar ou vriendin gedink. Sy het die prokureur op Sekelbaai gebel en vasgestel dat Lelani haar ou vriendin se dogter is.”
“As ek liewer my mond gehou het …” Yvette frons en byt spytig op haar onderlip. “Wat nou, Roland? Jy het seker nie ingestem dat die meisiemens haar intrek in Huis Daeraad neem nie?”
“Ek het nie ’n keuse gehad nie.”
Sy snak hoorbaar na haar asem en haar gelaat word onnatuurlik bleek. “Nee! Huis Daeraad is jou erfenis. Om liefdeswil, Roland, wat gaan die dorpenaars sê as ’n jong meisie saam met jou onder dieselfde dak woon?”
Hy lag weer, maar dié keer is sy lag sag, spottend. “Jy kan tog so skokkend kuis wees, Yvette. Jy, van alles mense!”
“Wat bedoel jy daarmee?” vra sy skerp.
“Ek ken jou. Ek glo ek ken ook reeds Lelani Wessels. Sy hoef nie voor te gee nie; sy ís preuts.”
“Dan kom sy definitief na Stadlerheim toe?” vra Yvette en vrees maak haar kortasem.
“Ek weet nie. Dis ’n saak tussen haar en tant Engela. Dit raak my in elk geval nie, want ek het oorgenoeg om myself vier-en-twintig uur per dag besig te hou. Onthou, Gunterland is nie my enigste plaas nie,” antwoord hy onverskillig.
“Maar jy kon jou tante belet het om …”
“Ek kon nie,” sê hy voordat sy haar sin kan voltooi. “Volgens my pa se testament het tant Engela lewenslange reg om in Huis Daeraad te woon. Ek kan haar beslis nie verbied om ’n vriendin huisvesting te bied nie. Om die waarheid te sê, ek glo dit sal vir tant Engela aangenaam wees om geselskap te hê. Sy is ’n regte huishen en sy gaan kuier nie graag elders nie. Met Lelani en oom Giepie daar sal sy nie meer eensaam wees nie.”
“Oom Giepie? Daardie ou man met die onwelriekende kromsteelpyp?” skril Yvette.
“Ek glo ons verwys na dieselfde man,” antwoord hy droog.
“Ek hou nie daarvan nie. Ek hou beslis nie daarvan nie,” kom dit nydig van Yvette. Roland swyg en sy staar broeiend deur die voorruit. Sy het haarself wysgemaak dat Roland die afgelope paar maande teenoor haar ontdooi het, maar nou … ’n Meisie wat dag en nag saam met hom onder dieselfde dak woon, het ’n onregverdige voorsprong op haar. Op die een of ander wyse moet sy van Lelani Wessels ontslae raak – maar hoe?
Tant Engela lê haar hand op die silwerteepot en vra met kille hoflikheid: “Nog ’n koppie tee, meneer Taljaard?”
Oom Giepie kyk op, ’n tikkie uitdaging in sy besondere blou oë. Hy wag totdat tant Engela onwillig in sy oë kyk en sê nadruklik: “Nee, dankie, Engela.”
Die teepot ruk in tant Engela se hand en sy sit dit haastig op die skinkbord neer. Haar blik fladder soos skoenlappers deur die ruim vertrek en haar asemhaling is vlak. Dan bring sy haar emosies met ’n byna merkbare poging onder beheer, sit meer regop en kyk oom Giepie reg in die oë. “Dan het jy tog nie vergeet nie, Gerhard?” vra sy gedemp.
’n Skaduglimlag flits om sy mondhoeke. “Net so min as wat jy vergeet het. Jy het my altyd Gerhard genoem, omdat Giepie jou aan ’n mankoliekige ou man herinner het. Maar dit was veertig jaar gelede. Ek is nou ’n mankoliekige ou man.”
Sy kyk in stilte na sy breë skouers, sy lenige liggaamsbou en die bekende, sterk gelaatstrekke. “Soek jy ’n kompliment?” vra sy koel.
“Nee. Ek kan die ouderdom aanvaar, maar ek kan net die jeug bewonder. Jy is ouer, Engela. Ons jeug was nie ’n immerlente nie.”
“Nee,” sê sy en slaan haar blik neer.
“Ek het in die somer van my lewe gedroom – oor jou, oor my, oor ons twee. Ek het die kinders gesien wat ons nooit gehad het nie. Ek het na jou hand gesoek, maar dit was nie daar nie. Dit was ’n leë somer, afgesien van my drome.”
Sy kyk op en staar hom in stilte aan, die skerfstukke van haar eie droom soos stukkies pyn in haar oë. “Moenie, Gerhard,” pleit sy, die stilte van ’n gebed in haar woorde.
“En toe kom die herfs. Jy onthou die najaar op die plaas? Die blare verkleur en val af. Drome verkleur ook, Engela. As ’n mens lank genoeg wag, word drome soos droë blare in die wind …”
“Jy … jy kon nooit verstaan nie,” sê sy, haar stem skor van ongestorte trane. Waarom wil sy huil? vra sy haarself af. Drome sterf. Haar droom het gesterf. Waarom kon die pyn nie saam met haar droom sterf nie?
“Nee, Engela, ek het maar alte goed verstaan. Jy het gesê jy het my lief, maar dit was net leë woorde. Liefde gee alles … álles. Maar jy kon nie gee nie.”
“Nee!” krys sy, haar stem bewend. “Nee, Gerhard, nee. Ek was die enigste dogter en my ma het my nodig gehad. Ek kon haar nie in die steek laat nie – ek kón nie! As jy net ’n paar maande geduldig kon wees …”
“Ek het ’n beurs gekry om in Engeland te gaan studeer. As ek om uitstel gevra het, het ek die beurs verbeur. Jy het dit geweet; jou ma het dit geweet en jou aangemoedig om met my te trou. Sy het besef my verdere studie was belangrik vir ons toekoms, maar jy … Jy moes kies tussen die weelde en gerief van Huis Daeraad en die armoedige bestaan van ’n student se vrou in die vreemde. En daar was jou stiefbroer, Wernich Stadler. Jy het –”
“Dis genoeg, Gerhard! Jy weet nie waarvan jy praat nie!” val tant Engela hom ontsteld in die rede. “Daar was nooit sprake van ’n verhouding tussen my en Wernich nie. Ons het saam grootgeword. Vir my was hy soos ’n eie broer.”
Oom Giepie lag sonder humor. “Jy verwag dat ek jou moet glo, Engela?”
“Nee, maar ek weet wat die waarheid is. Ná my ma se dood het ek op Worcester gaan skoolhou. Wernich is met Alana Prinsloo getroud. Jy weet van haar, want jy het haar ook geken.”
“Het ek haar nie geken nie,” antwoord hy met ’n bitterheid wat tant Engela hom vreemd laat aanstaar.
Hy hou aan swyg en sy vervolg: “Alana was nooit sterk nie, maar totdat Roland gebore is, het ons nie besef sy het hartprobleme nie. Sy is dood toe Roland vier jaar oud was.”
“En jy het teruggedraf na Wernich toe?” vra hy en sy eie pyn maak sy woorde brutaal.
“Alana het in my arms gesterf. Sy het met haar laaste asem gepleit dat ek Roland moet grootmaak. Ek kon nie my belofte aan ’n sterwende vrou verbreek nie.”
“Die vrou van beloftes.” Oom Giepie se lippe probeer glimlag, maar sy glimlag word ’n pyntrek van bitterheid. “Hoe goed onthou ek nie ons laaste gesprek nie. Ek het gepleit, letterlik op my knieë gestaan, maar jy het ’n belofte aan jou oorlede ma gemaak: jy sou nooit toelaat dat sy deur vreemdelinge verpleeg word nie.”
“Sy was ’n invalide … so hulpeloos,” bied tant Engela halfhartig verweer.
“En wie se skuld was dit? Het jy haar gevra om ’n wilde perd op te saal en soos ’n besetene op die plaas rond te jaag? Nee, jy het nie. Die perd het haar afgesmyt en sy het gekry waarna sy gesoek het.”
“Gerhard, nee! My moeder was volkome verlam. Sy kon net haar oë beweeg en praat – sy, ’n aktiewe, lewenslustige vrou wat nooit ’n halfuur lank stil kon sit nie. Toe sy haar bewussyn in die hospitaal herwin, het ek gevrees die skok van haar beserings sou haar verstand aantas. Dis