Schalkie van Wyk Keur 13. Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 13 - Schalkie van Wyk


Скачать книгу
nuus het my in die buiteland bereik. Nouliks twee maande ná my vertrek is jou ma dood. Tweede maande. Jy het twee lewens vernietig ter wille van twee maande, Engela.”

      Sy aarsel, haar oë pleitend op sy gelaat. “Ek vra nie dat jy my moet vergewe nie, Gerhard, maar nadat jy destyds weg is … My ma het soos ’n kind gehuil. Nie oor jou of my nie, maar omdat ek besluit het om by haar te bly. Sy het geweet sy sou sterf, maar sy was net ’n mens – bang soos enige mens vir die onbekendheid van die dood. En dis wat ek in haar oë gesien het toe sy die dag aan jou gesê het dat sy nie sal omgee as ons trou nie. Dis waarom ek tot aan die einde by haar moes bly.”

      Oom Giepie stop sy pyp in stilte, steek dit aan en teug ’n paar maal. “Jy kon ná haar dood na my toe gekom het,” sê hy, sy blik op die westelike venster, sy oë starend na die deinende see.

      Tant Engela maak haar mond oop asof sy hom wil antwoord, maar hy merk dit nie en sy swyg.

      Hy draai sy kop stadig na haar toe. “Dit was Wernich wat jou hier gehou het,” sê hy, sy stem sonder verwyt.

      Asof sy genoeg verduur het, skuif tant Engela haar stoel met ’n ongeduldige gebaar agteruit en staan op. “Dis verby, Gerhard. Ons gisters is vergete spore in die sand. Maar jy het ’n belofte aan Lelani gemaak. Jy kom saam met haar na Huis Daeraad toe. Ter wille van haar vra ek jou om te vergeet dat ons mekaar in ons jeug geken het.”

      Oom Giepie kyk haar in stilte aan, sy oë effens geskreef teen die blou rookdampe. “Lente, somer, herfs … Die winter het ons ingehaal, Engela. Ek weet nie vir hoe lank nie, maar ons sal saam kuier in die winter. Onthou net om my Giepie te noem.”

      “Jy lyk nie soos ’n Giepie nie,” sê sy koppig.

      “Glo my, ek voel soos een.” Hy glimlag onverwags. “Maar dalk verstaan ek tog. Want kyk ek na jou, sien ek ons lente saam. Dis jou oë, Engela. Jy het die winter gekul, want daar is lente in jou oë.”

      In ’n winter van hartseer en verlange in my hart, dink tant Engela en pak die teegerei metodies terug op die skinkbord.

      Lelani steek in die sitkamerdeur vas en staar verwonderd na tant Engela, wat met ’n geleende voorskoot van Abigail aan, besig is om die inhoud van die vertoonkas sorgvuldig in ’n houtkrat te pak.

      Sy tree haastig nader en sê skuldig: “Dis nie nodig dat tannie die pakwerk doen nie. Ek en oom Giepie sal vir alles sorg.”

      Tant Engela kom uit ’n gebukkende houding orent en glimlag met haar. “Bog met jou, ou kindjie. Kosbare porseleinware soos dié laat ek nie aan meubelvervoerders oor nie. Giepie het vir my die kratte gebring. Hy is besig om die boeke in die studeerkamer in te pak.”

      “Maar dis nie reg nie! Ek lê heerlik en slaap terwyl –” protesteer Lelani.

      “Ons het nie nagdiens gewerk nie,” val tant Engela haar in die rede. “Voel jy darem uitgerus? Ek glo mos ’n mens kan nie in die dag slaap nie, daarom moet jy vanaand weer vroeg gaan inkruip.”

      Lelani lag spontaan. “Ek kan sien tannie was nooit ’n verpleegster nie. Slaap is slaap, maak nie saak wanneer of waar nie.” Sy swyg en vra huiwerig. “Gaan tannie hier bly totdat ons gereed is om na Huis Daeraad toe te gaan?”

      “As jy nie omgee nie, Lelani. Sien, ons twee het tyd nodig om mekaar te leer ken. Ek wil nie hê jy moet soos ’n vreemdeling voel wanneer ons Stadlerheim toe gaan nie.”

      Lelani byt aan haar onderlip, ’n frons tussen haar wenkbroue. “Dis iets waaroor ek …” begin sy en swyg misnoeg toe die voordeurklokkie lui. “Verskoon my, tant Engela. Dis seker weer iemand wat met my kom simpatiseer na my stiefpa se dood.”

      Sy stap deur die voorportaal en maak die voordeur oop. “Nee!” adem sy, reeds besig om die deur weer toe te maak.

      “Asseblief, Lelani,” pleit Arno Greyvenstein en steek sy voet tussen die deur en die deurkosyn in. “Asseblief, gee my net die kans om te verduidelik.”

      Die besef dat tant Engela binne roepafstand is, laat Lelani aan Arno se versoek voldoen. Sy maak die deur oop, maar haar oë rus koud op hom. Pragtige klein Arno’tjie, dink sy venynig. Glo hy werklik sy vind sy blonde krulle en fraai, groen ogies onweerstaanbaar? Nee, nou is sy kleinlik en katterig. Arno is ’n aantreklike man, maar sy mening dat hy onweerstaanbaar is vir alle vroue, maak van hom ’n gek in haar oë.

      “Praat en praat vinnig, Arno. Jou ma betaal my nie meer vir my tyd nie,” sê sy kil.

      “Ek … ek het jou om verskoning kom vra, Lelani. Ek besef ek het my soos ’n buffel gedra …” Hy sluk en lyk seunsagtig jonk. “Nadat jy weg is, het ek en my ma ’n hewige rusie gehad. Ek het my verlowing met Estelle Havenga verbreek. Kyk,” sê hy en steek sy hand in sy hempsak, “sy het my verloofring aan my teruggegee.”

      “En?” vra Lelani bruusk.

      “Verstaan jy nie?” vra hy verwytend. “Ek het jou lief, Lelani. Ek gee nie om wat my ma sê nie, maar ek gaan met jou trou. Ek bedoel, as jy my dalk ook kan liefhê …”

      Lelani kyk op toe die tuinhekkie oopgaan, sien Roland die tuinhekkie agter hom toemaak en sê vinnig: “Ek kan nie. Hier kom my verloofde juis nou aangestap.”

      4

      Arno swaai om, sien Roland groot en donker by die tuinhekkie staan en draai terug na Lelani. “Onsin, Lelani! Ek weet nie wie die man is nie, maar ek is seker dat hy nie jou verloofde is nie. Het jy nie gehoor wat ek gesê het nie? Ek het jou lief en ek is van plan om met jou te trou. Ek wéét daar is nie ’n man in jou lewe nie – ek het gesorg dat ek weet,” sê hy, sy stemtoon beurtelings selfversekerd en pleitend.

      Lelani betrag hom met kille hooghartigheid. “Jy weet niks van my privaat lewe nie, Arno. Jy vergeet: ek was in diens van jou ma, maar ek en jy het nooit in dieselfde sosiale kringe beweeg nie.”

      “En wie se skuld is dit? Sedert ons saam op skool was, het ek probeer om jou uit te neem. Maar ek was nooit goed genoeg vir jou nie omdat jy die skindertonge se stories geglo het.” Hy gryp haar hande vas en vervolg dringend: “Ek ontken nie dat daar talle meisies in my lewe was nie, maar weet jy waarom? Omdat jý my nie wou gehad het nie. Hoe kan ek aan enige meisie lojaal bly as daar net een meisie is wat ek waaragtig liefhet? Asseblief, my liefling, sê dat jy ook ’n klein bietjie vir my omgee?”

      Ellendige Roland Stadler, skel Lelani in haar gedagtes. Hy staan soos ’n soutpilaar by die tuinhekkie terwyl Arno haar beklou. Kan hy nie sien sy het sy hulp nodig nie?

      “Moenie skaam wees om te erken dat jy vir my omgee nie, Lelani,” vertolk Arno haar stilswye verkeerd. “Ek het gesien hoe jy na my kyk wanneer ons mekaar toevallig in my ouerhuis raak geloop het. Jy was altyd bly wanneer ek my pa besoek het, al kon ons nie gesels nie. Ek erken ek was ’n lafaard, want tot vanoggend het ek my ma gevrees. Maar noudat sy die waarheid weet, sal sy nie langer in ons pad staan nie. Ons kan trou, my liefste, en jy kan op die datum besluit.”

      “Jy het gesien hoe ek na jou kyk?” vra Lelani oorbluf.

      “Ja.” Hy glimlag in haar oë. “Jy het jou bes gedoen, maar jy kon nie jou ware gevoel vir my verberg nie, my Lelani.”

      “Arme Arno. Jy is nie net dom nie, maar jy is boonop skeel,” sê sy met ’n byna tasbare weersin in haar stem en probeer om haar hande uit sy klouende greep te bevry.

      Hy skud sy kop asof hy ’n vuishou tussen die oë gekry het. “Jy ontken dat jy my liefhet?” vra hy ongelowig.

      “Ten sterkste. Los my hande, Arno. Ek is besig om in te pak.”

      “Ek het op die dorp gehoor jy het niks van jou stiefpa geërf nie. Jy besit nie eens ’n huis nie. Maar jou armoede pla my nie, Lelani. Ek sal jou alles gee wat geld kan koop. Asseblief, my liefste, moenie dat jou trots verhoed dat ons trou nie,” pleit hy.

      “Verstaan my mooi, Arno: al was jy die enigste man op aarde, sou ek nie met jou getrou het nie, want ek het jou nie lief nie. Het jy mooi geluister: ek het jou nie lief nie. Tot siens, Arno,”


Скачать книгу