Schalkie van Wyk Keur 13. Schalkie van Wyk
studeerkamer toe. Giepie Taljaard sal jou gou genoeg in die werk steek,” sê tant Engela ongeduldig.
Hy staan op, kyk na Lelani asof hy haar nog iets wil toevoeg, maar bedink homself en stap die vertrek met lang hale uit.
“Ek gaan liewer weeshuis toe as om één dag onder dieselfde dak as daardie man te woon!” bars Lelani beheers uit. “Hy is onbeskof, beledigend en ’n buffel. Hoe kan tannie van my verwag om ’n huis met hom te deel?”
“Jy gaan my huis met my deel.” Tant Engela glimlag. “Eintlik ’n ou opstal, want Huis Daeraad was oorspronklik die opstal van die plaas, Gunterland. Huis Daeraad is ’n pragtige ou woning op die noordelike grens van Stadlerheim. Dis ’n bietjie afgesonderd, want die opstal staan op vier hektaar grond, maar die tuin is pragtig … Ek hou my eie hoenders en eende aan en daar is selfs ’n paar ryperde. Ry jy perd, Lelani?”
“Nee, tannie. Ek hou net van die perde wat ek op die televisie sien. Ek glo nie ek hou van hoenders of eende nie, behalwe wanneer hulle in plastieksakkies in die koelkaste van ’n supermark lê. Ek weet ek sal nie van Huis Daeraad hou nie, want Roland –”
“Ek het Roland soos ’n eie seun lief, Lelani,” val tant Engela haar gedemp in die rede.
“Ek glo tannie en ek is seker daarvan hy is ook lief vir tannie, daarom het hy spesiaal teruggekom om vas te stel of tannie veilig is. Maar ek is nie tannie nie.” Sy leun nader aan tant Engela, haar stemtoon pleitend toe sy vervolg: “Verstaan mooi, tant Engela, ek waardeer dit opreg dat tannie spesiaal hierheen gekom het om vir my ’n nuwe tuiste aan te bied. As tannie alleen gewoon het – al was dit ook in ’n tweeslaapkamerhuisie – sou ek maar te gretig gewees het om by tannie te gaan woon. Maar Huis Daeraad is Roland se erfenis, selfs al het tannie lewensreg om daar te woon.”
“Nee, hartjie. Roland erf Huis Daeraad eers oor drie jaar.” Lelani staar haar verwonderd aan. “Hoekom?”
“As gevolg van ’n bepaling in wyle Wernich Stadler se testament. Intussen is ek as ’t ware baas van die ou opstal. Ek is lief vir die plek, maar ek sal jok as ek sê ek is nie soms eensaam nie. Sê my, Lelani, wanneer laas het jy ’n behoorlike vakansie gehad?”
Lelani frons nadenkend. “Ek weet nie. Huis Winterrus is tog ’n strandhuis. Wanneer ’n mens by die see woon, het jy nie behoefte aan ’n vakansie nie.”
“Veral as jy vir ’n salaris moet werk, ’n siek pa moet verpleeg en terselfdertyd ’n duisend takies in die huis moet verrig omdat jy vier loseerders het om gelukkig te maak,” sê tant Engela en kyk na Lelani asof sy haar uitdaag om haar te weerspreek.
“Oom Giepie het oor my geskinder,” sê sy geraak.
“Die waarheid is nie skinder nie, kind. Ek het Giepie uitgevra en ek glo hy het my eerlike antwoorde gegee. En al het hy my nie vertel nie, het ek oë in my kop. Jy woon langs die see, maar wanneer laas was jy op die strand? Jy is bleker as ek en veels te maer. Die lewe bestaan nie net uit werk nie, Lelani.”
“Ek weet, maar… my stiefpa was altyd bang dat ons ons loseerders sou verloor en dat hy dan geen inkomste sou hê nie. Dis waarom ek Abigail gehelp het om hulle verblyf hier so aangenaam moontlik te maak. Tant Charity en tant Patience was so lief vir vars blomme in hulle kamers en spesiale tee en koek waarvoor Abigail nie tyd gehad het nie. Die liewe oom Barend kon nie genoeg van soetgoed kry nie. Vanselfsprekend het ek Abigail gehelp waar ek kon,” vertel Lelani onwillig.
“En nou het jy ’n sorgelose vakansie nodig,” sê tant Engela met finaliteit.
“Ek is daaraan gewoond om besig te bly, tannie,” maak Lelani halfhartig beswaar.
“Jy sal nie ’n mens wees as jy nie ook ’n slaggie bederf wil word nie, Lelani. Kom saam met my Stadlerheim toe en hou net ’n rukkie lank vakansie. As Roland werklik vir jou so ’n doring in die vlees is, kan ek en jy saam elders gaan vakansie hou.”
“En Roland dan? Tannie het gesê hy is ’n hanslam. Hy sal agter ons aankom,” sê Lelani vies.
Tant Engela lag hartlik. “Dis waarom die knaap in sy spoor sal trap, want hy is verlore sonder my.” Haar uitdrukking versomber. “Moenie Roland te kras oordeel nie, Lelani. Hy het eenkeer liefgehad en bitter seergekry. Maar selfs die diepste wond genees die een of ander tyd.”
“Maar die letsels bly,” sê Lelani en tant Engela bly haar ’n antwoord skuldig.
Oom Giepie kyk gesteurd op toe Roland die studeerkamer binnekom en onseker bly staan. “Wat is dit nou weer, vent? Het Engela vir my gelieg? Is jy nie ’n bedrywige boer met meer as een plaas om jou uit die kwaad te hou nie?” vra hy vyandig.
“Ek is, ja, maar tant Engela het vir mý gelieg. Toe ek vroeër vandag gebel het, het sy my laat verstaan sy is op pad terug huis toe. Maar sy het nooit opgedaag nie. Ek het besef sy het óf besluit om hier te bly, óf ’n ongeluk met haar motor gehad. Dis waarom ek teruggekom het. Skort daar iets met haar motor, oom Giepie? Ek merk dit staan nie meer voor die deur nie.”
“Dis omdat ek dit in die motorhuis geparkeer het toe Engela laat blyk het dat sy hier gaan bly totdat ons saam na Stadlerheim toe kan gaan,” antwoord oom Giepie kortaf. Hy haal ’n boek uit die boekrak en lees die titel voordat hy dit in ’n krat pak.
“Dan is oom vasbeslote om na Stadlerheim toe te kom?” vra Roland bot.
Oom Giepie haal sy pyp, wat onaangesteek in die regterhoek van sy mond vasgebyt is, uit sy mond, rig homself tot sy volle lengte op en betrag Roland deur geskreefde oë. “Kyk, mannetjie, ek is volkome bewus daarvan dat een van jou voorouers die stigter van Stadlerheim is. Maar as ek die politiek reg verstaan, is ons land ’n demokrasie. Elke man is vry om te kom of te gaan soos hy wil, selfs om die dwase besluit te neem om hom op Stadlerheim te gaan vestig. Moontlik beskou jy jouself as die ongekroonde koning van Stadlerheim, maar ek twyfel of jy kan verhoed dat ek en Lelani daar gaan woon.”
“Doen dit dan, maar kry elders verblyf. Die Stadlerheimhotel behoort aan my. Ek is bereid om julle gratis inwoning te gee as julle besluit om daar tuis te gaan,” sê Roland koud.
“En as ons ’n privaat woning sou verkies?” vra oom Giepie, sy blik skerp op Roland.
“Ek besit heelwat huise wat ek verhuur. Ek het op die oomblik huurders in al die huise, maar as julle een van die huise wil hê … Julle kan in my hotel woon totdat die huidige huurders die huis kan ontruim.”
“Kry ons die huis present?”
“Ja. Julle kan daarin woon so lank as wat julle op Stadlerheim bly.”
Lag steek ’n vuurtjie in oom Giepie se oë aan, maar sy gesigsuitdrukking bly ernstig. “Dis uiters groothartig van jou, kêrel. En onnosel. Hoe verwag jy om elke jaar ryker te word as jy gratis losies aan hulpbehoewendes soos ek en Lelani gee?”
“Ek weet nie wat oom se finansiële posisie is nie, maar Lelani is beslis nie hulpbehoewend nie.”
“Nou waarom probeer jy die rol van die welsyn oorneem, knaap?”
“Omdat ek my privaatheid hoog op prys stel,” snou Roland, bewus van die vonkeling in oom Giepie se oë.
“En dis jou enigste rede?” vra oom Giepie met bedrieglike vriendelikheid.
“Is daar ’n ander rede?”
“Ja, Roland. Jy is bang – vrekbang. Bang vir ’n meisie wat langs jou op ’n bliktrommel gesit en huil het; bang om te lewe.”
“Lelani het oor die trommel geval. Ek het haar gehelp, dis al,” sê Roland verontskuldigend, maar ’n donker gloed kruip oor sy nek en gesig.
“Dis nie in jou aard om enige meisie te help nie. Miskien toe jy jonger was, maar nie vandat jy die letsel op jou wang gekry het nie.”
“Wat weet oom van die letsel? Wat het tant Engela vir oom en Lelani van my verlede vertel?” vra Roland skerp.
“Net vir my, want Lelani het geslaap. Ek het oor die letsel uitgevra. Dis ’n lelike letsel.