Schalkie van Wyk Keur 13. Schalkie van Wyk
van Jaarsveld? ’n Nuwe rok, nè? Maria vertel my jy is vyf dae gelede hier weg sonder ’n draad klere – behalwe die kleertjies wat jy aangehad het. Jou rok is te lank, Engela. Jy moet dat ek vir jou ’n soom insit. ’n Vrou met jou bene behoort –”
“Breggie, byt jou bolip vas!” snou tant Engela en stap vinnig nader. “As jy so graag oor rokke wil praat, vertel my dan: waar is die res van jou rok?”
Tant Breggie se gesig vertrek asof sy pyn verduur. “Jy is nou beledigend, Engela,” verwyt sy. “’n Vrou met my postuur …” Sy bly stil toe haar blik op die glimlaggende Lelani val. “Ek is tant Huibrecht Stapelberg, liefie. En wie is jy?” vra sy nuuskierig en steek haar hand na Lelani uit.
“Huibrecht – ga!” snuif tant Engela neerhalend. “Sy is Breggie Bek, die grootste skindertong in die kontrei. Wees gewaarsku, Lelani: moenie eens dink met haar in die nabyheid nie, want sy is kapabel en luister jou gedagtes af.”
“Goed, Tannie, ek sal nie dink nie,” antwoord Lelani geamuseerd en skud tant Breggie se hand. “Lelani Wessels. Bly te kenne, Tannie.”
“My plesier, Lelani,” sê tant Breggie en rek haar dun nek lank uit om Lelani se linkerhand beter te beskou. “G’n verloofring nie. Maar noudat jy hier is, sal jy seker binnekort Roland se ring dra, nè, liefie?”
“Jy soek na ’n klap, Breggie,” dreig tant Engela en pluk die mandjie uit tant Breggie se hand uit.
“Los, Engela, los! Ag, siesa, mens, ek het net ’n halfdosyn eiertjies by Maria kom leen. Met jou henne wat so gereeld lê … e … e …” Tant Breggie word stil toe tant Engela die rooi-en-wit geruite vadoek van die mandjie afpluk.
“Eiers, botter, kaas, vleis, ’n halwe melktert …” noem tant Engela die inhoud van die mandjie op. Sy stoot haar ken uit en gluur tant Breggie toornig aan. “Skelmagtige ou siel! Jy het natuurlik weer vir Maria gevra om vir jou tee te maak en toe my yskas leeg gesteel. Maar dis die laaste maal, Breggie Stapelberg: vannag slaap jy agter tralies!”
“Agge, siesa, Engela,” verwyt tant Breggie bewoë. “Was ek en jy nie saam op die skoolbanke nie? Is ons nie in dieselfde kerk gedoop nie? Het ons nie saam-saam oujongnooiens geword omdat ek te kieskeurig en jy te sleg was om ’n man te kry nie?”
Tant Engela se asem fluit hortend in haar keel terwyl haar hand wat die mandjie vashou, met ’n swaaibeweging in die rigting van tant Breggie se kop beweeg.
“Hier is oom Giepie nou, tannie! En Roland!” roep Lelani onnodig hard uit en hang letterlik aan tant Engela se arm.
Die twee motors hou agter mekaar stil en Roland klim eerste uit. Hy gewaar tant Breggie en ’n glimlag verhelder sy stroewe gelaat. “Tant Breggie! Probeer tannie my verlei met daardie rooi-en-pers rok? En die blou strik in tannie se hare … My liewe tantetjie, tannie word jonger by die dag,” skerts hy. Hy draai na tant Engela wat tant Breggie nog onverpoos aangluur. “Dink tannie nie ook so nie?” tart hy.
“Ja, boet, ja. Ek hoop net sy word baie vinnig jonger, want sodra sy weer ’n baba is, versuip ek haar in ’n watervoor,” antwoord tant Engela wraaklustig.
“Dat jy nog Sondae kerk toe …” begin tant Breggie en versluk haar aan haar eie woorde toe oom Giepie uit sy motor klim en nader stap. “Haai,” sê sy, haar stem yl, haar oë rond van bewonderig op oom Giepie. “Haai, reken …”
“Oom Giepie, dis my gunstelingtante, tant Breggie Stapelberg. Meneer Giepie Taljaard, tant Breggie,” stel Roland hulle aan mekaar bekend.
“Bly te kenne,” sê oom Giepie, sy oë effens geskreef asof hy probeer onthou.
“Wie se meneer?” vra tant Breggie en glimlag breed. “Ek ken jou mos, Giepie Taljaard. Jy is die man wat Engeland toe gevlug het om van ou Engela af weg te kom.”
“Krismiskat!” krys tant Engela en prop die mandjie in die oorblufte tant Breggie se arms. “Vat jou gesteelde goedere, Breggie Stapelberg, en trap van my grond af voordat ek ’n moord pleeg. Nee, maak toe jou mond, vrou, of jy gaan slaap vanaand sonder voortande.”
“Ek dink jy verwar my met iemand anders, Breggie,” sê oom Giepie vinnig, bewus van die onnatuurlike bleekheid van tant Engela se gelaat.
“Nie ekke nie,” kom dit selfversekerd van tant Breggie terwyl sy in ’n wye halfmaan om tant Engela beweeg. “Ek het ’n goeie oog vir ’n man, Giepie. My brein werk soos ’n kamera. Ek kyk net een maal na ’n man en ek vergeet hom nooit weer nie.”
“Kom neem dan foto’s van my, tant Breggie,” sê Roland taktvol en stap saam met tant Breggie weg in die rigting van die rylaan.
Lelani kyk in stilte na tant Engela en oom Giepie. Sy merk die besorgdheid in sy blik en sy haak by tant Engela in. “Ek kan nie wag om die huis te sien nie, tannie,” sê sy gretig.
Dit lyk asof tant Engela terugkeer van ’n ver plek af, want sy glimlag met haar lippe lank voordat die glimlag haar oë bereik. “Kom dan, my kind. Ek het Maria aangesê om die ligroos slaapkamer langs myne vir jou gereed te maak. In Huis Daeraad sal jy nooit in ’n pakkamertjie gedruk word nie.”
Oom Giepie skraap sy keel. “Sal ek solank omstap na my woonstel toe, Engela?” vra hy gelykmatig.
“Maak so, Giepie,” antwoord sy, maar hou haar gesig afgewend.
Asof afgespreek, bly hulle voor die deur staan totdat oom Giepie se voetstappe wegsterf.
“Wat het tant Breggie …?” begin Lelani nuuskierig.
“Breggie Bek is ’n skinderbek,” sê tant Engela met finaliteit en stoot die voordeur oop.
Tant Breggie blik verwytend na Roland wat langs haar loop en haar mandjie dra. “Dis so ’n ver ompad na my ou huisie toe, so al met die rylaan langs, Roland. Ek het hoeka ’n gat in die ringmuur …” Sy stik, hoes skuldig en vra vinnig: “Het jy en die swartkoppie trouplanne, liefie?”
“Kom ons gaan ’n ooreenkoms aan, tant Breggie: ek hou my blind vir die gat in die ringmuur, en tannie hou tannie se neus uit my privaat sake,” sê hy, sy gesigsuitdrukking ernstig, maar sy stemtoon gemoedelik.
“Dis my neus,” sê tant Breggie verskonend en vat aan haar lang, spits neus. “My oorle ma het altoos gesê dat met ’n neus soos myne, ek gebore is om ’n skinderbek te wees. Maar jy moet mooi verstaan, Roland: ek skinder nie oor die mense vir wie ek lief is nie. Ek dra net hulle belange op my ou hart.”
“As tannie my belange op die hart dra, sal tannie nie allerlei belaglike afleidings maak nie. Lelani is die dogter van een van tant Engela se ou skoolvriendinne, ene Amanda Scheepers, wat toe met Herman Wessels getroud is.”
Tant Breggie steek in haar spore vas, haar oë koeëlrond. “Nou wil jy nou meer …! Oorle Amanda het ook saam met my op die skoolbanke gesit – net vir een jaar, want daar was elf van ons klein Stapelbergies en tussen die doeke en die kospotte deur kon ek nie byhou nie. Toe ek sestien was, het ek maar die skoolganery gelos en die kleintjies voltyds opgepas.”
“Tannie het my al vertel. Maar daar is iets anders wat ek graag wil weet,” erken hy onwillig.
“Jy wil skinder, Roland?” vra tant Breggie met ’n ingenome glimlaggie.
Hy frons en glimlag onwillig. “Miskien. Tannie het gesê tannie ken oom Giepie Taljaard. Is dit die waarheid?”
Tant Breggie druk haar hand op haar hart en staar plegtig hemelwaarts. “Sowaar as wat ek hier staan, liefie. Ek kan verstaan dat Giepie my nie onthou nie, maar ek is ’n vrou en wanneer ek ’n man sien, dan kyk ek behoorlik. Hy is een en dieselfde Giepie wat veertig jaar gelede met Engela wou trou … of dalk wou sy met hom trou. Jy ken Engela: wanneer sy haar mond toemaak asof sy iets afbyt, kry niemand haar weer aan die praat nie.”
“Tannie het gesê oom Giepie is destyds Engeland toe?” por hy.
“Net so. Sien, jou stiefouma was tot sterwens toe siek en Engela het haar versorg. Giepie het knaend kom kuier; hy het