Schalkie van Wyk Keur 13. Schalkie van Wyk
vang jy met die dogter aan?” roep oom Giepie uitasem uit en kom nader gedraf.
“Saggies, oom!” sê hy berispend. “Sy slaap … e … ek bedoel, sy is flou,” verduidelik hy beteuterd.
“Nou doen dan iets, kêrel! Jý is verantwoordelik vir haar toestand,” snou oom Giepie, stap by die een hek uit en maak die hek van die perdekamp oop.
“Ek het nie besef Lelani is so bang vir perde nie,” sê Roland skuldig terwyl hy deur die hek stap.
“Jy lieg, knaap!” snerp oom Giepie. “Selfs waar ek was, kon ek sien die arme kind is so wit soos ’n laken. Maar wat doen jy toe? Jy lag jou ’n ertjie!” Hy klap die hek agter hulle toe en gluur Roland met blitsende oë aan. “Jy is ’n gevoellose bullebak en ’n gewetenlose skurk, Stadler. Ek weet nie watter vrou jou siel vernietig het nie, maar wat ook al jou verskoning is: Lelani verdien nie jou wraak nie.”
Hulle gluur mekaar aan, maar dis Roland wat eerste sy blik laat sak. “Dit was nie my bedoeling om my op Lelani te wreek nie.”
“So sê jy, maar ek het vyf dae van jou onaangename geselskap verduur. Ek is nie blind nie; ek is bewus van jou buffelagtige gedrag teenoor die dogter. En ek weet waarom jy so optree: jy het gehoop jy sal Lelani laat afsien van haar voorneme om na Huis Daeraad te kom. Jy was suksesvol, want gisteraand het die kind by my gepleit dat ons elders ’n heenkome moet probeer vind. Maar ek het geweier, want ek is hier ter wille van Engela.”
“Dan het tant Breggie –” begin Roland, maar oom Giepie laat hom nie toe om sy sin te voltooi nie.
“Jy is nie my vertroue werd nie, vent. Dra die dogter terug huis toe. Engela sal weet wat om te doen.”
Gevoelloos … gewetenloos … buffelagtig … Die woorde herhaal hulleself in Roland se gedagtes met elke tree wat hy gee. Is dít hoe Lelani hom ook sien? Sonder twyfel, erken hy teenoor homself. Want dis die soort man wat hy wou wees nadat Adéle Erasmus … Hy knyp sy oë styf toe, asof hy daardeur die verlede wil uitwis, maar hy slaag nie daarin nie.
Hy het ’n ringmuur van blou graniet om sy siel gebou en van homself ’n gevangene gemaak. Maar hy was nooit alleen nie, want Adéle en die verlede was sy metgeselle.
’n Sagte suggie ontsnap aan Lelani se lippe en ruk hom terug tot die hede. Haar wimpers fladder oop en hy kyk af in die swartgrys dieptes van haar oë. Dan voel hy haar liggaam in sy arms verstyf, voel hoe sy hom krampagtig vasgryp.
“Die perd …?” adem sy en spartel in sy arms.
“Is veilig in sy kamp. Ontspan, Lelani. Jy het ’n groot skok opgedoen. Tant Engela sal weet wat om te doen,” sê hy paaiend en stap die kombuis binne.
“Nee, sit my neer! Ek vertrou jou nie. Los my, Roland!” krys sy, haar oë wildstarend van vrees.
“Voel jy sterk genoeg om sonder my hulp …?” begin hy en swyg toe tant Engela die kombuis uit die gang binnekom.
“Ag, liewentjies, boet, wat het Lelani oorgekom?” vra tant Engela onsteld.
“Sy het vir ou Poena geskrik, tannie. Sy het flou geword en ek het haar huis toe gedra. Sal ek haar na haar slaapkamer toe neem?”
“Ek kan loop. Sit my neer,” protesteer Lelani halfhartig, bewus van ’n verblindende hoofpyn wat agter haar oë pols.
“Maak soos die dogter sê, Roland,” beveel tant Engela, besorg oor die strak bleekheid van Lelani se gelaat.
Roland gehoorsaam, maar Lelani se bene vou onder haar in en hy gryp haar net betyds. Hy lig haar gemaklik in sy arms op. “Jy het nie ’n keuse nie, Lelani: ek dra jou na jou kamer toe. Daarna sal ek uit jou pad bly,” sê hy saaklik en stap die gang vinnig binne.
Haar kop is te seer om rusie te maak, dink Lelani en sluit haar oë. Vreemd, sy kan nie onthou dat sy al ooit tevore flou geword het nie. Maar sedert haar stiefpa dood is … Dit het vir haar gevoel asof sy saam met hom gesterf het. Huis Winterrus en al die dinge wat soveel jare lank die patroon van haar lewe gevorm het, is deur sy dood uitgewis. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie.
Hoe ironies dat sy nou in Huis Daeraad woon, dink sy wrang. Dit maak nie saak hoeveel nuwe dae in die ooste breek nie, want hier diep in haar het die son van haar jeug vir altyd ondergegaan. Oom Barend, tant Charity en tant Patience – hulle was deel van die son van haar jeug. Nou is sy soos ’n warrelende blaar wat deur ’n swart wind van onsekerheid meegesleur word na ’n plek waar sy nie welkom is nie; sy is teen haar sin deel van die duisternis waarin Roland Stadler wandel.
“Lê haar hier neer, Roland,” sê tant Engela en die warmte in haar stem is soos die sagte gloed van ’n sterwende kaggelvuur.
Lelani maak haar oë oop en strek haar hand uit na tant Engela, asof sy hoop dat sy haar sal help om die koudheid in haar binneste te verdryf.
Roland lê haar op die bed neer, talm ’n oomblik lank gebukkend oor haar en kom dan orent. “As tannie iets nodig het …”
“Niks op die oomblik nie, boet. Jy kan maar gaan,” antwoord tant Engela en neem Lelani se hand in albei hare.
Lelani hoor die kamerdeur agter Roland toegaan en vra verwytend: “Hoekom moet ek hier bly, tannie? Roland haat my. Ek en oom Giepie sal maklik elders verblyf kan kry.”
Tant Engela sak met ’n suggie op die kant van die bed neer. “Ek besef dit, hartjie. Glo my, daar is meer as een rede waarom jy hier moet bly, maar ek kan nie nou alles verduidelik nie. Op die oomblik het ek net een selfsugtige rede, Lelani: bly hier ter wille van my.”
Tant Breggie het gesê daar was veertig jaar gelede ’n verhouding tussen oom Giepie en tant Engela, onthou Lelani. Sy kyk krities na tant Engela. Sy weet tant Engela is drie-en-sestig, maar haar vel is vlekloos met weinig plooie. Haar gelaatstrekke is fyn en in haar groot, grysblou oë leef die lente van ’n immerjeug. Haar hare is nou silwer, maar in haar jeug moes sy ’n beeldskone, blonde meisie gewees het. Oom Giepie het haar liefgehad en oom Giepie is nooit getroud nie. Is dit moontlik dat ’n man nooit sy jeugliefde kan vergeet nie?
“Is tannie bly oom Giepie is terug in tannie se lewe?” vra sy reguit.
’n Blos wat van die jeug geleen is, sprei met rosige vingers oor tant Engela se gelaat. “Ja, Lelani, ek is bly,” antwoord sy met eerlike eenvoud. “Maar ons gaan nie nou oor my en Giepie praat nie. Jy het nie vanoggend ontbyt gehad nie. Ek gaan vir jou iets te ete bring en jy gaan intussen jou nagklere aantrek en in die bed klim. Jy weet dit dalk nie, maar jy is koorsig en daar is donker kringe onder jou oë. Jy het rus nodig en ek gaan sorg dat jy dit kry.”
“Goed, tannie,” antwoord Lelani lomerig, haar oë reeds toe. Sy sluimer in voordat tant Engela die kamerdeur agter haar toemaak.
Tant Melinda Kleynhans spring ontsteld op uit haar stoel toe Yvette met arms vol pakkies die sitkamer binnekom en die pakkies op ’n rusbank laat val.
“Wat ’n fees!” sê Yvette stralend. “Ek het die winkels in Port Elizabeth leeg gekoop!”
“Yvette, nee!” kom dit handewringend van tant Melinda. “Jou laaste oorsese vakansie het my elke sent gekos wat ek besit het. Ek durf nie jou oom Nathan vra om my meer geld te gee nie – nie voor ná die volgende oes nie.”
Yvette staar die skraal, klein tant Melinda met ergerlike misnoeë aan. Dat so ’n bang, bedeesde mensie ’n naam soos Melinda kan hê, is iets wat haar beurtelings irriteer en amuseer. Sy het jare gelede reeds tant Melinda die bynaam “tannie Muis” gegee, want vroeër jare het sy met haar muisvaal hare, klein, bruin ogies en spits gesiggie soos ’n muis gelyk. En sy tree nog al die jare soos een op: bang en sku, veral wanneer oom Nathan ter sprake kom. Die ouderdom het met genadige vingers tant Melinda se muisvaal hare silwergrys geverf, maar dit het beslis niks aan haar geaardheid verander nie, dink Yvette sinies.
“My liewe tantetjie, oom Nathan kon tannie nog nooit iets weier nie. Het tannie se erfenis hom nie gehelp om ’n skatryk man te word nie? Hy was nog altyd vrygewig teenoor my. Waarom sal hy nou skielik weier om my klererekenings te betaal?”